Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 87

Оглавление

17 Maart

Jy het ’n identiteit

LEES Ester 4:1–17

Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het! – Ester 4:14

Die woord “identiteitskrisis” het ’n modewoord geword. “Wie is ek?” is ’n vraag wat op ons lippe bly van ons jeug tot in ons gryse ouderdom. Laat ons dan uit die staanspoor vir mekaar sê: Jy is ’n unieke skepping van God; na sy beeld het Hy jou gemaak. Jy is ’n Koningskind, al is jy deur sonde geskend. Jy word geroep om jou kindskap waardig uit te leef.

God het aan elkeen van sy kinders ’n eie identiteit, aard en persoonlikheid gegee. Geen ander mens op aarde kan jou plek inneem nie. Daarom moet jy jou nooit laat verswelg deur die identiteitlose massa nie. Dat jy ’n kind van God is, is nie ’n vrypas tot hoogmoed nie, maar ’n genadegawe van God en ’n oproep om waardig en met selfvertroue te lewe.

Geloof in Jesus Christus lei tot die ontdekking van jou ware self. Valse hoogmoed; minderwaardigheid wat jou geestelike groei vertraag; onsuiwere waardes wat jou lewensperspektief belemmer – dit alles word oorwin en gesuiwer deur die krag wat Christus jou skenk.

Daar is geen hoër lewensvervulling as om jouself te wees nie en geen groter vreugde nie as om te weet dat jy leef volgens die wil van God.

GEBED

Ek word stil voor U, Here Jesus, sodat U my deur u Heilige Gees kan leer om te word wat U bedoel het dat ek moet wees.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх