Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 79

Оглавление

9 Maart

Wat gee jy aan God?

LEES Efesiërs 5:1–5

Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. – Efesiërs 5:2

Het jy jou al ernstig en eerlik afgevra: Wat gee ek aan God? Ons sing so dikwels in die kerk sonder om te besef wat die woorde beteken: “Neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer”. Dan gaan ons uit in die lewe om ons gewaande toewyding by ons selfsugtige gerief te laat aanpas. Wanneer ons eerlik na ons lewe kyk, is dit ontstellend om te ontdek dat die somtotaal van wat ons aan God gee, dikwels bitter klein is.

Dit is onmoontlik om jou besittings aan God te wy sonder om eers jouself aan Hom te gee. Al bely jy dat alles wat jy besit tog maar aan God behoort, is daar een ding wat joune is om te gee of vir jouself te hou: die gawe van die liefde.

Wat jy ook al aan God gee, dit is nie van enige waarde as dit nie gepaardgaan met jou suiwer liefde nie. Dit is die gawe van die liefde wat alle ander offers aan God aanneemlik maak vir Hom, want die liefde hou niks terug nie. Soos God sy kosbare Seun uit liefde vir jou gegee het, so moet jy in liefde álles vir Hom skenk. Meer as jou liefde en jou lewe verwag Hy nie, maar ook nie minder nie!

GEBED

Here, my totale lewe wy ek aan U – saam met al my liefde. Heilig my gawe deur die liefde wat daar in Jesus Christus is.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх