Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 68

Оглавление

29 Februarie

Hemelse vertroosting

LEES 1 Korintiërs 2:6–16

Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. – 1 Korintiërs 2:9

As ons maar ’n vae beeld kon hê van die hemelse heerlikheid, sou ons nie treur oor ontslape dierbares nie. So onbeskryflik is God se volmaakte voorsiening vir hulle wat in Hom glo, dat daar in sy teenwoordigheid net blydskap en vervulling is.

Openbaring bied telkens flitse van hierdie hemelse heerlikheid: Dié wat daar woon, is verhef bo aardse pyn en word liefdevol vertroos deur Hom wat op die troon sit. Hul honger word gestil in groen weivelde en hul dors geles by die fonteine van lewende water. God self vee die laaste trane van hul oë af weg (vgl Op 7:16–17).

Die wete dat ons ontslape dierbares die besitters is van hierdie hemel, dring ons om ons te verheug in God se ryke genade. Dit gee ons moed om ons ontwrigte lewens in die geloof te hervat. Wie hierdie troos nie het nie, is aan wanhoop blootgestel. Met God se vertroosting in ons harte kan ons egter onder die grootste droefheid staande bly.

GEBED

Hemelse Vader, vertroos in genade deur u Heilige Gees almal wat treur en sterk hulle om die uitdagings van ’n nuwe lewensfase te aanvaar.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх