Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 82

Оглавление

12 Maart

Ons sal vertroos word

LEES Jesaja 61:1–11

Hy het my gestuur … om aan te kondig dat die tyd gekom het … waarop ons God … almal wat treur, vertroos. – Jesaja 61:1–2

Smart is ’n werklikheid in ons bestaan. Daarom is dit vertroostend om te verneem van ons Heiland wat Self gely het: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt 5:4).

Is daar nood en gebrek in jou huis? Hy het nie ’n plek gehad om sy hoof neer te lê nie (Luk 9:58). Het jou vriend jou teleurgestel? Sy vriende het Hom verraai en verloën (Luk 22:48, 58). Worstel jy met smart? Hy het in Getsemane geworstel oor die lydensbeker wat vir Hom voorlê (Matt 26:36–46). Ween jy oor die dood van ’n dierbare? Hy het geween by die graf van sy vriend Lasarus (Joh 11:35). Voel jy verlate, selfs van God? Hy moes aan die kruis sy Godverlatenheid uitsnik (Matt 27:46).

In hierdie lewe is daar baie teenspoed, gebrek en sorge. Maar Christus kom met sy troos na ons toe: “Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel” (Jes 66:13). Nie ver van Mara af nie lê Elim met sy twaalf fonteine en baie palmbome. Daar sal jy weer in vrede jou tent opslaan. Vertrou net op die God wat jou sál vertroos.

GEBED

Dankie, Here, dat U vir ons die Trooster gestuur het om vir ewig by ons te bly. Dankie dat my smart my leer dat dít wat ek verloor, nie tel nie, maar wel dít wat ek deur genade behou.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх