Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 77

Оглавление

7 Maart

Gebed in die donker vallei

LEES Psalm 102:1–23

Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie. – Psalm 102:18

Vir elke kind van God kom daar tye wanneer dit moeilik is om te bid, wanneer hy voel hy is besig om sy greep te verloor op die anker in sy lewe: ’n bewussyn van die teenwoordigheid van God. God, wat altyd vir jou ’n werklikheid was, lyk skielik afsydig en onwerklik.

Baie Christene herken nie die onmeetlike betekenis van hierdie tye nie. Hulle dink verkeerdelik dat God nie meer omgee nie. Hierdie tye vereis van jou om vas te glo aan die teenwoordigheid van God in jou lewe, om in ’n dieper verhouding met God te begin leef. Ons moet leer om in die lig, maar ook in die donker aan God se hand te wandel. Dan word sy teenwoordigheid vir ons ’n lewende en vreugdevolle werklikheid.

Die donker uur sal verbygaan. Moenie teen jou onvermoë om te bid in opstand kom nie, maar probeer bepaal wat jy daaruit kan leer. Klem vas aan die waarheid dat God se liefde vir jou nooit verander nie.

GEBED

Liefdevolle God, help my om weg te kyk van myself en my probleme; om U met meer inspanning te soek en u wil te doen totdat U die donkerheid in lig omskep.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх