Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 73

Оглавление

3 Maart

Vredemakers vir God

LEES Matteus 5:3–10

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. – Matteus 5:9

Baie mense soek vrede in besittings of deur oorlog te maak. Hulle vind dit nie, want vrede het te doen met mense en geregtigheid, nie met besittings of oorlog nie.

Die taak van ’n vredemaker is ’n Godopgelegde sending. Dit verg positiewe en dinamiese aksie. Die vredemakers ontduik nie verantwoordelikhede nie. Hulle worstel met probleme totdat hulle dit oorwin.

Soek jy vrede? Soek dit in God. Dan sal jy selfs vir jou vyande kan bid. Vrede met God is die begin van jou taak en roeping as vredemaker. Dis nooit genoeg om net vir jouself vrede te verwerf nie; jy moet dit deel met ander. Die seën word tog beloof aan dié wat vrede maak, nie aan dié wat vrede besit nie.

Wanneer daar nie vrede tussen mense is nie, is dit omdat hul verhouding met God nie reg is nie. Christus het gekom om die wêreld met God te versoen en daardeur vrede te skep. As sy getuie moet jy die wêreld oorreed om God se vrede te aanvaar. Dan bereik jy jou hoogste vervulling deur by te dra tot die skep van vrede in hierdie wêreld.

GEBED

O Here, openbaar u liefde in ons sodat ons mekaar sal liefhê en u vrede kan ken.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх