Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 74

Оглавление

4 Maart

Ruil vrees vir vrede

LEES 1 Johannes 4:7–21

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees … – 1 Johannes 4:18

Jy kan God nie ten volle vertrou en tog in vrees lewe nie. As jy toelaat dat vrees jou lewe beheers, sal jou vertroue in God geheel en al verdwyn. Die keuse is joune. God wil dat jy sal kan sê: “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon” (Ps 4:9).

Om volkome vertroue in God te kan hê vereis van jou ’n sékere kennis van die teenwoordigheid van die lewende God in jou hele lewe. Dan sal jy vrees die finale nekslag toedien.

Wanneer jy dit doen, sal ’n onbeskryflike vrede jou lewe vul. Hierdie vrede is nie selfsugtig nie, maar sal van jou lewe af uitkring om seën te bring aan almal met wie jy in aanraking kom. God se volmaakte vrede kan déúr jou na ander vloei om die vrees in hierdie wêreld te bestry en te oorwin.

Ons toerusting hiervoor is die liefde. Die volmaakte liefde dryf die vrees uit, sodat dit nooit weer oor jou lewe heerskappy voer nie. Dan eis ons uiteindelik ons erfporsie op wat Christus aan ons toegesê het: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle” (Joh 14:27).

GEBED

God van liefde en genade, dankie dat u Seun ook ons vrees weggeneem het. Laat ons liefde vir U alle vrees uit ons lewe verdryf omdat ons volkome op U vertrou.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх