Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 72

Оглавление

2 Maart

God is liefde

LEES 1 Johannes 4:7–21

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. – 1 Johannes 4:7–8

Elke mens kan verval in ’n bestaan van absolute selfsugtigheid en selfgesentreerdheid. Jy kan ’n lewe van absolute liefdeloosheid lei; ’n lewe wat bestaan uit kla en eise stel; van ontevredenheid en selfs bitterheid oor beweerde onregte wat jou aangedoen is. Dit kan veral gebeur wanneer die lewe vir jou ’n ondraaglike kruis opgelê het en jy al klaend daaronder inbuk.

Hoe oorwin ’n mens hierdie negatiewe lewenshouding? In Jesus Christus het God vir ons die volmaakte uitweg gedemonstreer: die pad van die Liefde. Dit is die mees gebalanseerde, nugtere, praktiese en genoeglike manier om te leef. As jy God liefhet en daardie liefde laat uitkring na almal rondom jou, word jy ’n nuwe mens in Christus en tot seën vir jou medemens. Deur jou liefde word jy onlosmaaklik aan God verbind, want God is liefde!

GEBED

Hemelse Vader, gee my die genade om weg te kyk van myself en Christus en my naaste te sien. Gee my die genade om my liefde meer oorvloedig en vrylik te gee sodat die gesindheid van Jesus ook in my lewe tot openbaring sal kom.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх