Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 84

Оглавление

14 Maart

Om God se stem te hoor

LEES Jeremia 18:1–17

Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. – Jeremia 18:2, 1953-vertaling

Vir baie mense is dit ’n wesenlike probleem om te weet wat die wil van God vir hul lewe is. God maak egter op sy tyd en sy manier sy wil aan ons bekend. Dit gebeur dikwels op die mees onverwagte plekke en op die mees ongewone maniere, soos in die geval van Jeremia.

Ons kan God se wil vir ons lewe soek deur ons van die wêreld te onttrek en al ons energie en denke op Hom te konsentreer. Ons kan die gewyde stilte en afsondering van ’n kerk of die natuur opsoek. Ons kan ons eie besondere plek hê waar God in die verlede dikwels vir ons ’n werklikheid geword het.

Die hoofsaak is egter dat God Homself openbaar aan élkeen wat Hom soek – dit hang nie van ’n spesifieke plek af nie. God kan jou op enige plek en in enige omstandighede ontmoet. Jeremia het by die pottebakkershuis na die stem van die Here gaan luister. Hoe kragtig het God nie in hierdie vreemde omstandighede met hom gepraat nie!

As ons maar net sensitief en gehoorsaam is, sal ons onmiskenbaar die stem van ons God hoor.

GEBED

Ek dank U opnuut, Here, dat dit nie van tyd, plek of omstandighede afhang vir U om met my te praat nie. Maak my sensitief om u stem te hoor en gehoorsaam om u wil te doen.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх