Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 83

Оглавление

13 Maart

Hoe sal ek ooit my droefheid hanteer?

LEES Job 2:1–10

As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie? – Job 2:10

Om te rebelleer teen ons “ongelukkige noodlot” – soos ons dit soms verkeerdelik noem – is om teen God in opstand te kom. Die dood is deel van sy lewensplan vir ons. Daarom is gelowige aanvaarding daarvan ’n teken van geestelike volwassenheid.

Om van God af weg te draai is om ons droefheid alleen te dra en dit lei tot wanhoop. Dit skep ’n verwydering tussen ons en God, want God kan ’n opstandige hart nie vertroos nie.

God plaas nooit sy kinders in ’n vuuroond sonder dat Hy nie Self by hulle is nie. As jy nie iets leer en geestelik groei in tye van beproewing nie, is jou lyding slegs verlies. Die ervaring van duisende van God se kinders bewys dat hierdie juis die optimale groeityd in ’n mens se lewe kan wees – mits jy dit in die regte gesindheid deurworstel. Die enigste manier waarop die Christen sy droefheid kan erken en verwerk, is om die voorbeeld van Christus na te volg: Aanvaar die lewe kalm en moedig en buig met ’n vreeslose hart en ongeknakte rug onder die kruis in. Die bevryding lê in die wete dat die sin van die lewe anderkant Golgota en die graf gevind word.

GEBED

Verlosser, ek het nie al die antwoorde nie, maar ek het vir U en weet dat u liefde my nooit aan wanhoop sal uitlewer nie.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх