Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 86

Оглавление

16 Maart

Vrede – God se liefdesgeskenk

LEES Lukas 2:8–20

Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het! – Lukas 2:14

Baie mense benader die lewe met die vraag: Wat kan ek uit die lewe kry? Christene vra egter: Wat kan ek aan die lewe gee?

As ons Christenskap vir ons slegs ’n kwessie is van wat ons kan kry en nie van wat ons kan gee nie, verstaan ons nie die betekenis van God se vrede nie. Om te gee is ’n Goddelike beginsel. God gee altyd: lewe en krag; vergifnis; sy Seun, en saam met Hom ook sy vrede. As antwoord op sy liefde moet ons ons lewe aan Hom wy en boodskappers word van sy vrede.

Wanneer ons God se geskenk van liefde aanvaar, word dit ons lewenstaak om sy Naam te verheerlik. Daarby moet ons vredemakers word wat volhard om die wêreld te probeer oortuig dat God alleen die wêreld se hoop op vrede is. Wanneer ons God liefhet en in alles verheerlik, gee dit ons die krag om Hom te dien en ware vredemakers te wees.

Vir hierdie taak sal die Heilige Gees ons toerus; ons leer en lei; ons verstand verlig, ons harte verwarm en ons siele ophef tot aanbidding. So word God se liefdesgeskenk deur die werk van sy Gees ’n werklikheid in ons lewe.

GEBED

Here, ek wil graag u vredesboodskapper in hierdie wêreld wees en die glorie van u liefde en vrede met ander deel. Maak my daartoe geskik deur u Gees.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх