Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 81

Оглавление

11 Maart

Jou lewe is jou getuigskrif

LEES Handelinge 4:8–15

Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense … – Handelinge 4:13

Vir mense wat die impak van die opofferende liefde van die Heilige Gees beleef, kan liefdadigheid die opwindendste en bevredigendste ervaring van hul ganse lewe wees.

Mense wat jou hulp nodig het, is dikwels nie bewus van hul behoefte nie. Hul gees kan dalk gesluit wees vir elke invloed. Hulle kan sinies wees oor alles wat jy as heilig beskou en jou hulp met minagting bejeën. As jy toegewy is aan jou barmhartigheidstaak, kan jy maklik ontmoedig word deur hul gesindheid. Onthou egter dat daar onder die ontoeganklike uiterlike ’n gees is wat hunker na bevryding.

Hierdie geestelike en verstandelike bevryding word nie bereik deur prediking en voorskrifte nie, maar deur só te leef dat jou optrede bo kritiek verhewe is. Dit skep by ander die begeerte om ook te besit wat jy geestelik besit.

Die heel beste manier om iemand te “help” is deur ’n gehalte in jou lewe te hê wat hulle sal besiel om ook te word wat Christus bedoel het dat hulle sal wees. Dán vertoon jy ’n lewende getuigskrif tot eer van jou Meester.

GEBED

Here, dankie dat u Heilige Gees my leer dat die gehalte van my lewe belangriker is as al die woorde wat ek kwytraak.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх