Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 75

Оглавление

5 Maart

Jesus – die krag in jou lewe

LEES 1 Korintiërs 15:50–58

Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. – 1 Korintiërs 15:57

Wanneer mislukking in ons lewe kom, moet ons dit positief en skeppend hanteer. As God se kinders mag ons nie deur gevoelens van mislukking oorweldig word nie. Ons moet die lewe tegemoetgaan met Paulus se jubelkreet in 1 Korintiërs 15:57 op ons lippe.

Baie mense leef in ’n gedurige vrees vir mislukking. Daarom wil hulle niks nuuts aanpak nie. So word hul inisiatief vernietig en hul uitsig belemmer. ’n Mens is egter nooit ’n mislukking totdat jy self besluit het jy is een nie. Talle mense het na aanvanklike mislukkings weer probeer en tot heerlike oorwinning gekom.

As jy misluk het, onthou: God skryf niemand af nie. Jesus Christus is die krag in jou lewe wat alles weer nuut kan maak. Hy verstaan jou hart. As jy jou vertroue volkome op Hom stel, sal Hy aan jou die finale oorwinning skenk. Gaan daarom die lewe met sy veelvuldige eise tegemoet, vertrou God onvoorwaardelik en Hy sal jou dra na oorwinning!

GEBED

Hemelse Here, ek het dikwels nie die krag om te stry nie, maar ek dank U dat ek deur u genade tog in die lewe oorwinning kan smaak – veral oor sonde en mislukking.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх