Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 71

Оглавление

1 Maart

Hy onderhou ons

LEES 1 Petrus 5:1–7

Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. – 1 Petrus 5:7

Dit is bemoedigend om te weet dat God nie alleen ons Skepper is nie, maar dat Hy ook die getroue Onderhouer van sy skepping is. God weet nie slegs alles van ons nie, Hy sorg ook van dag tot dag vir ons. Daarom moet ons nooit onder die wanindruk verkeer dat ons alleen staan met ons lewensprobleme nie. Bekommernis los geen probleme op nie. Inteendeel, dit is verlammend en laat ons telkens met verleentheid as eindproduk.

Waarom sou ons ons kwel en bekommerd wees as ons weet dat ons ’n almagtige God het wat sorg vir ons en ons onderhou, wat ons liefhet en belangstel in ons? Kwelling eer God nie, maar toon ’n gebrek aan geloof in Hom: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rom 8:32, 1953-vertaling).

Hy het aan ons sy kosbaarste, sy beste, gegee – sy Seun. Sal Hy ons dan nie ook die dinge gee wat ons op ons lewensreis nodig het nie: genade vir elke beproewing, krag vir elke kruis, voedsel vir elke dag?

GEBED

Ewige Here en Verlosser van my lewe, ek aanbid U vandag as die Leidsman en Voleinder van my geloof. Ek werp my onvoorwaardelik en vertrouend op u liefde en trou.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх