Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 78

Оглавление

8 Maart

Die dood is dood!

LEES Johannes 12:20–36

Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in. – Johannes 12:24

Op Golgota het Jesus Christus die dood oorwin! Daarom is fisieke dood nie meer vir ons ’n tragedie nie. Dit is die kern van ons Christelike geloof.

In die perspektief van die ewigheid gesien, is dit dus nie die dood van die liggaam wat tragies is nie, maar die geestelike dood, wanneer jy die koninkryk van God nie ernstig opneem nie, wanneer jy jou nie oorgee aan Christus nie.

’n Mens se lewe bestaan nie uit wat jy besit nie, maar uit die gehalte van jou sielelewe. Die Christen sterf slegs om weer op te staan. Hy is ’n oorwinnaar, al sterf hy. Ons sal nie weet wat ware lewe is voordat ons gesterf het nie. In Christus wat die dood oorwin het, het ons die ware lewe, want Hy het die dood omskep in die moontlikheid van ewige lewe.

Laat ons dus ophou bang wees vir die magte wat die liggaam aantas. Laat ons eerder waak teen die Bose wat die siel aftakel en laat sterf. Want ons weet immers dat die lewe die finale seggenskap oor ons en ons dierbares het.

GEBED

Heilige God, help my om elke dag te leef met ’n perspektief op die ewigheid. Ek dank U, Jesus, dat U in my plek gesterf en die dood oorwin het.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх