Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 85

Оглавление

15 Maart

Werp jou kommer op Hom

LEES Matteus 6:25–34

Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie. – Matteus 6:34

Om aanhoudend bekommerd te wees is selfvernietigend. Ons almal ly aan hierdie kwaal omdat ons nog nie die essensie van Christus se woorde begryp toe Hy gesê het nie: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie … Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?” (Matt 6:25, 27).

Hoe dikwels het ons nie al ervaar hoe nutteloos en skadelik dit is om aanhoudend bekommerd te wees nie? Onheile wat ons gevrees het, het ons toe nooit getref nie, terwyl ander waaraan ons nie eens gedink het nie, ons wel oorval het. En ná die tyd kon ons getuig dat ons waarlik die krag ontvang het om ons kruis te dra.

Met al ons kommer en gesug kan ons ons lewe nie eens met een sekonde verleng nie. Kommer en ongegronde vrese verwyder net die geluk en vrede uit ons lewe. Laat ons daarom die woorde van 1 Petrus 5:7 elke dag in ons harte wegbêre en gelowig gebruik wanneer bekommernisse oor ons toesak: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”

GEBED

Here, versterk my geloof. Dankie dat ek niks hoef te vrees as U met my is nie. Help my om my oë op U gevestig te hou.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх