Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 67

Оглавление

28 Februarie

Hy is met ons al die dae

LEES Johannes 14:15–31

Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle wees ... – Johannes 14:16

Onder die talle dinge wat mense vrees, is vereensaming een van die ergste. Vereensaming kan vele oorsake hê: verwydering uit ’n bekende omgewing na ’n nuwe lewensituasie waar ons sukkel om aan te pas; probleme wat ons met niemand kan deel nie en wat dag en nag aan ons gemoedsrus knaag; skeiding van vriende en dierbares weens die eise van die lewe; en dan ook die wrede skeiding wat die dood meebring. Sulke ervarings kan veroorsaak dat ons selfs tussen ’n skare mense troosteloos eensaam voel. Wat moet ’n mens dan doen?

In elke probleemsituasie kan ons na die Woord van die Here gaan vir leiding. Al sou ons van die hele wêreld verlate wees, ons is nooit van God verlate nie. Omdat sy Seun eenmaal sy Godverlatenheid aan die kruis moes uitsnik, sal God altyd deur sy Heilige Gees met ons wees. Daarom is ons eensaamheid nooit alleenheid nie, want ons hoor Hom sê: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).

GEBED

Hemelse Vader, dankie dat U in u liefde ook voorsiening maak vir my eensaamheid. Dankie dat u Gees my vertroos en gedurig verseker van u teenwoordigheid in Jesus Christus.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх