Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 80

Оглавление

10 Maart

Glo vandag vir môre en oormôre

LEES Psalm 43

Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God! – Psalm 43:5

Moet nooit vertroue verloor in die toekoms nie. Moet nooit die toekoms aan vandag meet nie. Wat jy vandag is, is grotendeels die resultaat van gister se denke en dade. Wat jy môre sal wees, word reeds vandag bepaal.

Moenie tyd verkwis met nuttelose klaagliedere oor wat kon gewees het nie. Gaan met geloof en vertroue die toekoms tegemoet omdat jy jou allerbeste in “vandag” geplaas het.

Moenie negatiewe gedagtes koester nie. Die grootste struikelblokke vir ’n toekoms vol beloftes is bitterheid, haat en jaloesie. Dit verlam jou optrede, verblind jou uitsig, belemmer jou denke en verhoed geestelike groei. Jy is die een wat moet besluit watter magte jou denke en optrede gaan bepaal. Gaan jy die uitdagings aanvaar met ’n positiewe geloof en vertroue, of gaan jy die eensame pad van negatiewe denke volg?

Op die pad van geloofsvertroue hou môre en oormôre geen gevaar in nie, want God is by jou. In sy hande is jy veilig. Die opdraandes en steiltes sal nog daar wees, maar dit sal nie meer struikelblokke wees nie, eerder uitdagings.

GEBED

Vader, hervorm my denke sodat ek elke dag die stryd kan aanknoop met geloof in my hart en in die Naam van Christus.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх