Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 76

Оглавление

6 Maart

Christelike hoop

LEES Romeine 8:18–30

Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. – 1 Tessalonisense 4:13

In die Tate-kunsgalery in Londen hang ’n treffende skildery van George Frederick Watts. Die titel daarvan is “Hoop”. ’n Beeldskone vrou sit op ’n aardbol. Sy is geblinddoek en hou ’n luit in haar hande. Al die snare van die luit is stukkend, behalwe een. Sy raak daardie een snaar met haar vinger aan, haar oor luisterend daarna gebuig. Sy wag in spanning om die klank van daardie een snaar te hoor. Sy het hoop – sy glo die beste in die slegste omstandighede.

Solank die hoop lewe, sal ons nie knak onder ons beproewings en probleme nie. As iets tragies met ons gebeur, is dit ons troos: Waar Christelike hoop bestaan, is die nag nie so donker nie. Hoop is optimisme wat gegrond is in God se vermoë om die beste uit die slegste te voorskyn te bring. Dit is daardie sekere toekomsverwagting wat ons hart met blydskap vul. Hoop is ons onwrikbare vertroue in die ewige goedheid van God. Hoop gee aan ons ’n onoorwinlike gees. Daarom sê Paulus: “Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid” (Kol 1:27).

GEBED

Ewige God, ons loof U vir u Woord wat altyd nuwe hoop bring wanneer wanhoop ons bedreig. Versterk ons daagliks met u onblusbare hoop.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх