Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 66

Оглавление

27 Februarie

Droefheid deur geloof getemper

LEES Openbaring 21:1–8

Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” – Openbaring 21:4–5

Daar is min mense wat nie by tye intense droefheid ken nie. Jy is magteloos om dit te verhoed. En die oomblik dat dit jou tref, verwar dit jou so dat jy eers heelwat later kan bepaal in watter mate dit jou lewe geraak het.

Droefheid kan lei tot selfbejammering wat jou herstel vertraag. Dit kan jou uitkyk op die lewe vertroebel sodat jy bitter word omdat dit juis met jou gebeur. Die pad uit die moeras is die pad na God toe. Deur ’n onwrikbare geloof in sy liefde en goedheid kom daar bevryding. Dan ontdek jy nuwe dimensies van die lewe. ’n Beter kennis van God, wat jy andersins miskien sou misgeloop het, word jou ryke deel. Jy ontwikkel ’n nuwe verhouding met Hom, “want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie” (2 Kor 7:10).

God gee jou die wysheid en die krag om met jou geloof jou droefheid tegemoet te gaan en daaroor te triomfeer, om uit die neerlaag oorwinning te behaal.

GEBED

Vader van vertroosting, dankie dat ek selfs in die nag van my beproewing lofliedere tot U kan sing omdat ek deur Jesus Christus onlosmaaklik aan U verbind is.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх