Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 90

Оглавление

20 Maart

Moenie verbaas wees nie

LEES Handelinge 12:6–19

Toe sy Petrus se stem herken, was sy so bly dat sy … binnetoe gehardloop het om te vertel dat Petrus by die deur staan. Maar hulle sê vir haar: “Jy is mal.” – Handelinge 12:14–15

Die vroeë kerk was in ’n krisis. Hul leier was in die tronk, die owerhede het Christene vervolg en die gelowiges was verstrooi oor Klein-Asië. Toe doen hulle die beste ding wat hulle in die omstandighede kon doen: Hulle het gebid (vers 12)!

Toe Petrus aan die deur klop en Rodé sy stem hoor, het sy die wonderlike nuus van gebedsverhoring aan die biddende kerk gaan gee. Hulle was mateloos verbaas. Hoe traag is ons tog nie om beantwoorde gebede sonder meer te aanvaar nie. Ons soek verklarings eerder as om God te loof en te dank vir sy goedheid en almag.

Wanneer ons bid, moet ons van God die vermoë afsmeek om sy antwoorde te herken wanneer hulle kom. Ons hou soms aan om te bid vir dinge wat God reeds aan ons gegee het. Omdat dit nie presies is soos ons dit verwag het nie of wou hê nie, besef ons nie dis God se antwoord op ons gebed nie. God weet altyd wat vir ons die beste is. Ons moet egter ’n sensitiwiteit ontwikkel om verhoorde gebede met blydskap en sonder ongelowige verbasing raak te sien.

GEBED

Here, help my om met opwinding te wag op u antwoorde en om te weet wanneer my gebede verhoor word. Ek dank U opnuut vir die wete dat U altyd hoor en verhoor.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх