Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 89

Оглавление

19 Maart

Vrees ontmasker

LEES Jesaja 12:1–6

God is my redder; ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder. – Jesaja 12:2

Dwarsdeur die Bybel sê God aan sy kinders: Moenie vrees nie!

Aan Israel voor die Rietsee sê Hy: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red” (Eks 14:13). Hy bemoedig Josua met die woorde: “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” (Jos 1:9).

Met Christus se geboorte sê die engele aan die herders: “Moenie bang wees nie …” (Luk 2:10). Toe Hy op die see geloop en sy dissipels bang was, sê Hy: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie” (Matt 14:27). In sy laaste gesprek met hulle gee Jesus hulle die troos: “Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Joh 14:27).

In spanning, droefheid en pyn sê God liefdevol vir jou: “Moenie bang wees nie.” Jy is sy kind. Skuil by Hom. Hou vas aan Hom, want Hy het jou lief. Leef elke oomblik vanuit die sekerheid van hierdie liefde, want die pad tot oorwinning oor vrees is die pad van geloof en liefde.

GEBED

Verheerlikte Here Jesus, begelei my uit die donker land van al my vrees. U weet alles; U weet dat ek U liefhet.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх