Читать книгу Harry Griesel 1: Operasie spookredding - Sonja Kaiblinger - Страница 4
Agurkieverrassing in die donker
ОглавлениеAlles het begin die aand toe meneer Olsen oorlede is.
Nie een van die Radysstraat-inwoners sou eintlik verbaas wees dat hy die tydelike met die ewige verwissel het nie … hy was immers al honderd-en-twee jaar oud. Meneer Olsen was vergeetagtig, het aan ’n swak blaas gely en het nooit ’n kans laat verbygaan om sy ellendes tot in die fynste besonderhede te beskryf nie. Al het niemand daarvoor gevra nie.
Behalwe vir al sy siektes, het meneer Olsen nog ’n ander stokperdjie gehad … sy radystuin. Asof hy die naam van die straat waarin hy gebly het tot sy reg wou laat kom, het hy elke dag die tuin omgespit, saadjies geplant en die ryp radyse geoes. Na sononder het hy ook altyd die gieter gegryp om sy plantjies nat te gooi. Eers dan het hy die voordeur gesluit, die lig afgesit en in die bed geklim.
Dit was meneer Olsen se ritueel. Otto hou hom nog elke dag van sy dakkamer se vensterbank af dop. In die aande gryp hy gewoonlik ’n kussing en sit by die vensterbank met ’n lekker dik boek.
Terwyl ander elfjariges televisie kyk of videospeletjies speel, verkies Otto om rillers te lees. As hy daarna nie kan slaap nie, vat hy gewoonlik sy verkyker om op meneer Olsen se tuin te spioeneer.
Die meeste inwoners van Radysstraat dink meneer Olsen is ’n snaakse ou oom, maar Otto hou van hom. Die ou man en sy radyse help hom baie keer om behoorlik vaak te word.
Maar vanaand besef Otto iets is verkeerd. Meneer Olsen se ritueel is anders as gewoonlik. Nadat hy die plante natgegooi het, sit hy die gieter neer en kyk reguit boontoe na die nagtelike hemel. Hy staan ’n rukkie so en toe, so vinnig dat Otto dit amper nie sien nie, val meneer Olsen agteroor in sy radysbedding. Hy bly roerloos lê en boontoe kyk met so ’n klein glimlaggie op sy lippe. Amper asof hy sy heengaan presies so voorgestel het.
Otto het nog nooit iemand sien doodgaan nie. En as hy ’n sê in die saak kon hê, sou hy met liefde verkies het om dit nooit te sien nie. Sy lewe in Radysstraat is al klaar vreemd genoeg.
Otto dink vinnig … Miskien het hy ’n fout gemaak en is meneer Olsen glad nie dood nie? Van dit wat hy in boeke gelees het, het hy net so ’n vae idee hoe ’n dooie persoon nou eintlik lyk. Hy het nog nie eens een op televisie gesien nie, want tannie Sharon laat hom nie toe om misdaad-flieks te kyk nie. Hy moet dringend ’n tweede opinie kry.
“Vincent?” skree Otto terwyl hy van die vensterbank afgly. Hy klop vinnig aan die deur van die eikehoutkas wat in die hoek van sy kamer staan. “Kom gou! Jy móét hierdie sien! Ek dink daar is fout met meneer Olsen.”
Uit Otto se kas kom daar ’n hengse lawaai. Die linkerkantse deur gaan met ’n kraak oop en ’n donkergrys vlermuis glip deur die opening.
Selfs in die halfdonker kan Otto sien hoe die vlermuis se ogies soos goud blink. Behalwe daarvoor lyk Vincent soos enige ander vlermuis. Wel, hy lyk miskien ’n bietjie oor die muur. Sy pels het ’n paar gate in en die deurgeskaafde velletjies op sy vlerke bol soos ’n ou seerowerskip se seile as hy vlieg.
“Daar is fout met meneer Olsen,” na-aap Vincent. Nog half deur die slaap vlieg die vlermuis op en land op die voetstuk van Otto se bed. “Asof dit nou nuus is! Wat is dit dié keer? Het hy die radyse te veel natgegooi?” Hy dink ’n bietjie na. “Of is dit weer sy swak blaas? Het hy ’n glipsie gehad? Nee, ek het dit! Het hy op sy radyse ’n glipsie gehad?”
Otto skud sy kop. “Nee, dis nie dit nie.”
“Gmf,” brom Vincent teleurgesteld. Stadig laat sak hy sy wollerige kop. “Nou vir wat maak jy my wakker? Ek was in die middel van ’n fantastiese droom.”
“Het jy geslaap?” Otto draai sy oë weg van die stokstywe meneer Olsen en kyk betekenisvol na sy troeteldier. “Is vlermuise nie veronderstel om in die nag aktief te wees nie?”
Vincent lig sy ken op. “Miskien die klomp in jóú wêreld, ou grootbek!”
Otto sug. Partykeer wonder hy rêrig hoekom hy Vincent nog toelaat om in sy kas te bly. Hy kan erg op ’n mens se senuwees werk en is boonop nie ’n normale vlermuis nie. Vincent is nie eens ’n normale dier nie. Hy kom nie van hierdie land af nie, ook nie van hierdie vasteland nie en ook nie van hierdie planeet nie. Vincent kom van ’n wêreld waarvan Otto wel weet, maar waar hy nog nooit was nie. En daar geld ander reëls vir vlermuise.
“Aangesien jy nou wakker is, kan jy netsowel vir my sê wat fout is met meneer Olsen,” kap Otto terug terwyl hy na die venster wys. “Ek dink hy het …”
Nog voordat hy sy sin kan klaarmaak, span Vincent sy vlerke en gaan sit op die vensterbank. “. . . die tranedal verlaat,” voltooi hy Otto se sin. “Die ou grootgees is dood. Morsdood! Lyk asof hy sy groente van nou af van onder af gaan beloer …”
Otto sluk. So, sy eerste vermoede was toe reg. Dood. Morsdood, weerklink dit in Otto se kop en hy kan behoorlik voel hoe hy bleek word. Vannag gaan hy sonder twyfel nie ’n oog toemaak nie. En dit nou juis op die aand voor sy biologietoets. Meneer Willemse sal elke velletjie van sy lyf af trek as hy gedurende die toets slaap. Om nie eens van die waarskuwingsbrief te praat nie. En om alles te kroon, is biologie sy gunstelingvak.
“Moenie so verskrik lyk nie, Otto. Jy’s so wit soos tannie Sharon se brekfis-doppie-eier.” Vincent skud sy kop. “Nee, maggies man, jy moet leer om dinge beter te vat. Ek dog jy het teen dié tyd gewoond geraak aan die huis en sy inwoners.”
Otto antwoord nie. Hy is seker veronderstel om alles van die “Oorkant” en al daai dinge af te weet. Kort nadat hy in tannie Sharon se villa ingetrek het, het hy kennis gemaak met die drie huisspoke wat hier bly. En hy het nogal van hulle begin hou. Tannie Sharon het nie ’n idee hulle bestaan nie. Niemand weet van hulle nie, behalwe Otto se beste vriendin, Emily. Sy kan nie tannie Sharon se spoke sien nie, maar bonatuurlike wesens is een van haar stokperdjies en daarom glo sy elke woord wat Otto haar vertel.
“Spoke ofte nie! Hierdie is ’n ander storie. Meneer Olsen is dood,” fluister Otto benoud. “Of hy sal binnekort wees, as iemand hom nie help nie.” Hy vryf oor sy voorkop en probeer onthou wat hulle op skool geleer het om in ’n noodgeval te doen.
“Waarheen gaan jy?” skree Vincent agter hom aan, maar Otto is al halfpad by die kamer uit. Hy hol deur die stikdonker gang en af met die trap na die eerste vloer, waar tannie Sharon se stokou telefoon staan. Soos gewoonlik is die kabel in ’n knoop en moet hy eers ’n paar keer hard daaraan trek, voordat hy die gehoorstuk by sy oor kan kry. Hy bel die noodnommer en hou asem op tot iemand aan die ander kant antwoord.
“Ons het ’n krisis!” Otto praat so vinnig dat hy behoorlik oor sy eie woorde struikel. “Radysstraat nommer tien. Ons buurman, meneer Olsen, lê in die groentebedding. En hy het nog nie weer vir …” Otto kyk na die muurhorlosie aan die einde van die vertrek, “. . . vir amper vyf minute geroer nie.”
Hy wag ongeduldig dat hulle moet antwoord. Die vrou aan die ander kant belowe om dadelik ’n ambulans na Radysstraat te stuur. Otto gooi die gehoorstuk op die mikkie terug, hardloop die trap op en neem weer sy pos by die venster in. Skaars ’n minuut later kan ’n mens ’n hortende gebrom en gepiep tot in Otto se kamer hoor. ’n Voertuig kom met ’n hengse spoed aangery.
“Die ambulans!” roep Otto uit en hy is nogal trots daarop dat hy so nugter en vinnig gereageer het. Die gehoes en geproes kom al nader en toe kom ’n ou gehawende wit skedonk om die draai. Toe dit met skreeuende bande voor die omheining van meneer Olsen se tuin stilhou, borrel ’n vuil rookwolk by die uitlaatpyp uit. Dit lyk asof die gevaarte dit nie nog ’n meter verder gaan maak nie en eerder uitsien na ’n rustige oudag by die wrakwerf.
Vincent druk sy neus plat teen die vensterruit. “Is ek mal of … ry die ouens nie gewoonlik iets met ’n blou lig bo-op nie? En met vier wiele?”
Otto kyk weer na die voertuig. Vincent is reg.
Die rammelkas voor meneer Olsen se huis het net drie wiele; buitendien is die bestuurder se plek so klein dat ’n volwasse mens skaars daarin sal pas. En om alles te kroon het die gevaarte ’n groot bak wat met ’n dekseil toegespan is.
“En kyk hoe snaaks lyk die ou wat die tjor bestuur. Ek dog dokters in julle wêreld dra wit jasse,” babbel Vincent aanmekaar, terwyl hy na die bestuurder wys wat homself met moeite uit die voertuig wurm. Hy dra ’n swart mantel met ’n kap en lyk amper soos ’n skaduwee in die dowwe lig. “Miskien is dit Darth Vadar? Of ’n inbreker,” wonder Vincent hardop toe die gedaante met lang treë oor meneer Olsen se grasperk loop.
“Sien jy nou! Noudat die ou man lepel in die dak gesteek het, word hy rot en kaal besteel. Hy het seker ’n hoop geld bymekaargemaak. Knorrige oumense soos hy doen dit altyd. Hulle het aandele onder die matras, goudstawe in die klerekas …”
Otto hoor nie eens Vincent se gebabbel nie. Bokant meneer Olsen se lewelose liggaam sien hy iets wat hy nog nooit in sy lewe gesien het nie. ’n Rooi bal gloeiende lig sweef bokant die ou man se kop. Dit laat Otto dink aan die tekens in die rekenaarspeletjies wat wys of iemand dood is of nie; sy klasmaats praat aanmekaar daaroor.
“Geraamtes in die kas! Jaag ek nou spoke op of …”
“Sjuut,” sê Otto saggies en gee sy troeteldier ’n stamp met sy elmboog. “Kyk wat sweef bokant meneer Olsen se kop. Daardie klein dingetjie met die liggie. Dit lyk soos …”
“ ’n Vuurbal? ’n UFO? ’n Mini-komeet?” raai Vincent.
“Dis moontlik,” mompel Otto en sien dat die donker kuiergas ook deur die gloeiende ligbal betower word. Stadig loop hy deur die dounat gras na meneer Olsen se liggaam en die vuurbal toe, terwyl hy sy hand onder sy mantel indruk asof hy ’n wapen wil uithaal.
Otto sluk. Wat is hier aan die gang? Hy is taamlik seker dat dit nie iets met die stad se nooddienste te doen het nie. Ambulansmanne loop beslis nie in outydse mantels rond nie. En nog minder sal hulle onder hulle klere …
“. . . ’n Skoenlappernet dra?” Otto is skoon verward.
“Hoe nou?” Vincent is duidelik nie by nie.
“Daardie ou het ’n skoenlappernet by hom,” sê Otto verbaas.
“Jy’s reg,” stem Vincent oopmond saam. “Kyk daar – die ou jakkals is besig om dit na die gloeiende tennisbal te mik.”
Die grieselrige gedaante in die mantel het nie ’n wapen uitgeruk nie, maar ’n doodgewone skoenlappernet gegryp. Hy swaai dit heen en weer deur meneer Olsen se voortuin en maak jag op die gloeiende vuurbal wat skielik erg begin ruk. Keer op keer ontglip die rooi ding die vreemdeling terwyl dit in die lug opstyg en dan weer afsak, asof dit die grieselrige besoeker wil kwaad maak.
Otto kan nie help om te giggel nie. Dis net te snaaks vir woorde hoe die mal ou deur meneer Olsen se tuin rondspring. En toe beland sy groot voete ’n paar keer in die radysbedding. As meneer Olsen nog geleef het, sou die verwoeste radyse vir hom een te veel gewees het.
“Die ding is in sy net!” juig Vincent en hy klink nes Otto se klasmaat Stian as sy sokkerklub ’n doel skop. “Hy het dit reggekry! Die mal ding het die vuurbal gevang!”
“Wat gaan hy nou daarmee doen?” wonder Otto huiwerig.
“Hy vat dit na sy tjor toe,” antwoord Vincent. Otto gryp weer die verkyker en sien hoe die vreemdeling na sy voertuig toe stap; hy het sy mou oor die net gevou sodat die vuurbal nie kan ontsnap nie. Die volgende oomblik trek hy die swart dekseil rukkerig van die bak af en Otto en Vincent kan vir die eerste keer mooi sien wat daar aangaan.
Otto verstel die verkyker om beter te kan sien. Vir ’n oomblik dink hy sy oë bedrieg hom. In sy verbeelding het hy hom ’n hele klomp grillerige goed onder die dekseil voorgestel. ’n Geheime bêreplek vir wapens. Miskien ’n lyk. Maar beslis nie …
“Agurkiebottels?” Otto knip sy oë verbaas. “Hoekom ry die snaakse vent met agurkiebottels rond?”
“Miskien verkoop hy agurkies,” blaf Vincent asof dit ’n logiese antwoord is.
“Sonder agurkies?” wonder Otto fronsend. “Die bottels is leeg.” Hy kyk weer stip daarna. “Alhoewel … nie heeltemal leeg nie. Daar is nog meer van die vuurballe in die bottels.”
Otto en Vincent sien hoe die nagtelike kuiergas sy skoenlappernet oor ’n leë agurkiebottel vou en meneer Olsen se gloeiende rooi vuurbal daarin afskud. Toe skroef hy ’n deksel daarop vas.
“Hy gaan ry,” mompel Otto. Hy hoor glad nie hoe ’n sirene al nader kom nie. Sekondes later hou ’n ambulans in meneer Olsen se oprit stil. ’n Paar ambulansmanne haal ’n draagbaar uit en hardloop daarmee na die lewelose meneer Olsen.
Die kamstige agurkieverkoper laat hom nie van stryk bring nie. Asof hy die wêreld se tyd het, sit hy die nuwe vuurbal heel bo-op die wankelrige toring van agurkiebottels neer en span die dekseil daaroor.
Intussen ondersoek ’n dokter meneer Olsen. Ná ’n paar sekondes skud hy meewarig sy kop in die rigting van sy kollegas.
“Dood,” bevestig Vincent dit.
“Hm,” mompel Otto ingedagte. Hy dink skielik aan iets wat hom behoorlik koue rillings gee. “Vincent,” fluister hy, sonder om weg te kyk van die rammelkas en die snaakse gedaante in sy swart mantel. “Die agurkiebottel-ryding is nog steeds hier.”
“Nou wat daarvan?”
“Kyk bietjie mooi. Die ou met die mantel het nou net sy sakdoek in die voortjie laat val. En nou is hy erg omgekrap en probeer om die water aan sy mantel af te vee. Maar wat so snaaks is, is dat niemand hom sien nie. Amper asof hy glad nie hier is nie!”
Vincent krap bietjie kop voordat hy antwoord. “Dink jy dis net óns wat hom kan sien? Beteken dit dat die vent ’n spook is?”
Otto skud sy kop. “Spoke lyk anders. Hulle sweef. En hulle sluip nie gewoonlik in meneer Olsen se radysbedding rond nie. Hy moet iets anders wees. Iets tussenins.”
Dit het Otto twee jaar gevat om te aanvaar dat daar iets soos spoke is. En nou het iets nuuts opgeduik – nie ’n spook nie en ook nie ’n mens nie. Iemand wat boonop gevaarlik kan wees. Iemand wat dalk meneer Olsen se dood op sy gewete het.
Otto kry skoon hoendervleis. Sy hart klop in sy keel, terwyl hy kyk hoe die snaakse gedaante in sy kar klim en wegry.
Selfs ’n uur later, toe die ambulans ook al weg is en alles weer kalm is, kan Otto nog steeds nie die nagtelike besoeker vergeet nie. Met ’n kloppende hart lê hy in sy bed, terwyl Vincent se reëlmatige gesnork uit die kas gehoor kan word.
Een ding is seker: Tannie Sharon sal more allesbehalwe in haar noppies wees met Otto se punte vir sy biologietoets.