Читать книгу Harry Griesel 1: Operasie spookredding - Sonja Kaiblinger - Страница 6
Noodvergadering
ОглавлениеMoenie dat ek alles uit jou moet trek nie,” kla Emily terwyl sy haar rugsak oor haar skouer gooi. “Vertel my meer van hierdie agurkiebottel-ou wat laas nag by meneer Olsen was.”
“Ek sê mos, ek het nie ’n idee wie dit is nie. En ek het nie lus om daaroor te praat nie,” brom Otto terwyl hy aanhoudend na ’n klip skop wat dieselfde aaklige grys kleur as die skoolgebou agter hulle is.
Hy is in ’n baie slegte bui. Tot sover is die dag een groot gemors. Hy kon nie eens die helfte van die biologietoets se vrae beantwoord nie en hy het die vorige nag nie ’n oog toegemaak nie. Hy kon net nie die prentjie van die donker kuiergas in meneer Olsen se tuin uit sy kop kry nie. Toe hy uiteindelik teen die oggend se kant aan die slaap raak, het hy boonop ’n nagmerrie oor gloeiende argukiebottels gehad.
“Maar jy weet mos jy kan my alles vertel,” hou Emily aan neul. “Ek is jou beste vriendin!” Sy vee ’n bruin haarsliert uit haar gesig net om te wys dat sy nogal beledig voel.
Otto gee ’n groot sug. Hy wil nie hê sy moet vir hom kwaad wees nie. Met haar verslonste, slierterige hare en outydse klere, wat sy konstant uit haar ouma se skatkis grawe, hou hy van die eerste skooldag af al van Emily. Mens kan nie juis dieselfde van die ander kinders by die skool sê nie.
“Ag, ek weet nie, Em. Ek het die idee gekry dat daardie wese nie lewendig óf dood is nie. Hy is iets wat ek nog nooit gesien het nie.”
Emily gaan staan botstil. “Nie ’n mens en ook nie ’n spook nie,” fluister sy verwonderd terwyl haar tweekleurige oë vonkel. Haar regteriris is blou en die linker een bruin. “Ek het gewéét dis die keer nie net ’n gewone spook nie. Ek het jou nog nooit so deurmekaar gesien nie! Nie eens toe jy hierheen getrek het en Sir Tony vir die eerste keer ontmoet het nie. Onthou jy nog hoe hy jou in die klerekas voorgelê het, omdat hy gedink het jy is ’n plakker?”
Otto knik sy kop ernstig. Hy weet hoe enigiets wat bonatuurlik is, Emily fassineer. Sy het al baie keer wetenskaplik probeer bewys dat spoke wel bestaan; sover sonder enige sukses.
“Het jy nie gesê Vincent het hierdie kuiergas ook gesien nie?” hou sy aan. “Kon hy nie eens raai watse wese dit is nie?” Sy blok die skerp lig met haar hande uit haar oë en kyk rond of sy nie Otto se troeteldier êrens kan sien nie. Toe sy en Otto uitgekom het uit die skool, het Vincent uit Otto se skooltas geglip en fladder nou van een telefoonpaal na die ander. ’n Klomp kraaie wat op die telefoonpale sit, vlieg elke keer skel-skel op as Vincent soos ’n pyl uit ’n boog op hulle afkom.
Otto gooi sy hande in die lug. “Vincent weet niks van spoke af nie,” verduidelik hy. “Eerstens, is hy net ’n halwe spookvlermuis en dis hoekom gewone mense hom kan sien, alhoewel dit partykeer beter sou wees as hulle nie kon nie,” brom Otto. “En tweedens, is Vincent al driehonderd jaar gelede uit die Oorkant verban; dis hoekom ek nou met hom opgeskeep sit!”
“Is Vincent verban?”
Otto kan nie help om te glimlag nie. “Blykbaar het Vincent se slegte maniere nie goed afgegaan in die spookwêreld nie.”
Otto se troeteldier se gedrag laat ook veel te wense oor in die gewone wêreld. Net nou die dag het hy uit Otto se skooltas geglip omdat hy sy gunstelingkos teen die venster van die natuurwetenskapsklas ontdek het: ’n groot, vet brommer.
Die meisies van die graad 6A klas was histeries en Otto moes bontstaan om te verduidelik. Die onderwyser sal beslis nie die storie vir ’n tweede keer sluk dat Otto ’n vlermuis in sy tas hou vir ’n biologietaak nie.
Hulle het intussen by Radysstraat nommer agt aangekom. Otto gaan staan voor die skerppunt-heining en kyk na die stoep. Die ou Hollywoodswaai kreun onder ’n swaar gewig, alhoewel dit vir enigiemand anders sal lyk asof die swaai leeg is. Vir almal behalwe vir Otto.
“Sir Tony!” Otto maak die geroeste tuinhek oop en loop oor ’n tapyt van ritselende blare na die stoep. Die piepgeluide hou geleidelik op en die swaai kom tot stilstand. “Wag jy dalk vir ons?”
As Otto nie van beter geweet het nie, sou hy tannie Sharon se huisspook as ’n normale, dikkerige, middeljarige oom aangesien het. Tony se gesig is nie bleek nie en hy sleep nie ’n rammelende ketting rond, of het ’n gat in sy maag nie. Die enigste ding wat Sir Tony van ander mense onderskei, is die feit dat niemand hom kan sien nie. Behalwe Otto. Dit beteken dat hy dood is.
“Nie eintlik nie.” Sir Tony hoes. “Ek moes vlug. Jou tannie se skoonmaakgier word by die dag erger. Die lawaai is onuithoudbaar!” Hy steun en vee oor sy voorkop. “Die skoonmaakduiwel stofsuig nou al vir die derde keer hierdie week. Die stof waai gedurig in my ha … ha … tisjoe!”
Sy tannie se skoonmaakobsessie werk ook erg op Otto se senuwees. Maar Tony voel dit gereeld aan sy eie lyf – want hy bly in tannie Sharon se stofsuier.
Sir Tony trek aan die paar hare wat weerskante van sy kaalkop groei. “Nou weet ek hoe dit moet voel om langs ’n snelweg te bly,” hou hy aan kerm.
Tannie Sharon se oudste huisspook is geneig om te oordryf. Toe hy nog geleef het, was hy al baie veeleisend. Hy dink dis nog steeds sy reg om aanhoudend te kla. Die feit dat hy na sy dood per ongeluk in ’n stofsuier beland het, maak die hele storie ook nie juis makliker nie.
Maar na ’n rukkie het Sir Tony die voordele van ’n stofsuiersak begin waardeer. Die plek is nou wel klein, maar niemand pla jou daar nie en selfs in die winter is dit heerlik warm. Ongelukkig ly hy op hierdie stadium erg aan asma as gevolg van al die stof. Blykbaar kan ’n mens selfs na jou dood nog siek word.
“Wat is fout met Tony?” onderbreek Emily die huisspook se gekerm, terwyl sy Otto met haar elmboog in die ribbes pomp. Otto vergeet gereeld dat Emily nie vir Sir Tony kan sien of hoor nie en dat hy moet verduidelik wat aangaan.
“Ek kry al meer die gevoel dat niemand hulle aan my steur nie,” sê Tony liggeraak. “En dit nogal op my grond en in my villa!”
Toe Sir Tony nog geleef het, het die villa aan hom behoort. Hy was baie lief vir die ou huis – die klipmure, die geheimsinnige balkonne, die rankplante en die spits torinkies.
Ná sy dood is die huis op ’n veiling deur tannie Sharon en Otto se oorlede oom Archibald gekoop.
Dat tannie Sharon daarna die portret van Tony, waarin hy lekker aan ’n stuk vleis weglê, summier bokant die kaggel afgehaal het, is vir Tony tot vandag toe ’n teer punt.
“Ek wens jou tannie kon my sien. Dan sou ek in die nag tot by haar bed sluip en hard whaaa skree,” dreig Tony terwyl hy ’n bangmaak-gesig trek. Ongelukkig lyk hy glad nie bangmakerig nie, maar eerder soos iemand wat dringend ’n draai moet loop. As ’n bangmaak-spook is Sir Tony ’n groot grap!
“Vergeet nou eers van my tannie,” maak Otto die huisspook stil. “Ons het jou hulp nodig. Daar was gister ’n snaakse wese in meneer Olsen se tuin. Ek dink dit was nie dood of lewendig nie.”
“Nie dood of lewendig nie?” herhaal Sir Tony. Sy neusvleuels rek al hoe groter van pure ontsteltenis. Hy vergeet net daar en dan van sy giftige aanval op tannie Sharon.
“Hierdie … man het langs meneer Olsen se lyk gestaan en probeer om ’n gloeiende ding te vang. Met ’n skoenlappernet,” sê Emily, terwyl sy stip na die gehekelde kussing met die kat op kyk. Sy weet nog steeds nie waar Sir Tony presies sit nie.
Tony se mond val oop. “ ’n … ’n … Skoe … skoenlappernet?” hakkel hy.
Otto knik ernstig sy kop.
“Noodvergadering. Onmiddellik!” Met ’n amper onhoorbare poefff-geluid los Sir Tony se spooklyf in die lug op en duik weer ewe skielik langs die deurklokkie op.
Otto skrik hom boeglam.
Die alewige rondhoppery laat hom meer as een keer per dag amper ’n hartaanval kry. Sir Tony en die ander spoke het die gewoonte om uit die bloute voor hom op te duik. Verkieslik as Otto uit die stort klim, of as hy in die nag badkamer toe sluip.
“Noodvergadering?” Otto frons diep. Is die hele gedoente rêrig so ernstig? Gewoonlik is Sir Tony die toonbeeld van kalmte, behalwe as dit iets met hom of sy stofsuier te doen het.
Emily is dadelik vuur en vlam. “Noodvergadering? Kom! Geheime biblioteek toe!” beveel sy, gryp Otto se hand en trek hom deur se kant toe. Net toe Otto na die deurknop wil gryp, hou die stofsuier se gebrom op en die voordeur gaan oop. Tannie Sharon stap by die deur uit en loop dwarsdeur Sir Tony.
“Hallo, Otto, hallo, Emily,” groet sy die twee en vryf oor Otto se donker, deurmekaar bos hare. “Ek dog ek hoor julle.”
In die een hand hou sy die stofsuier se pyp vas en met die ander hand vee sy haar grys hare van haar voorkop af weg.
Min mense skat Sharon vyf-en-sestig jaar oud. Met haar parmantige kort haarstyl, geruite hemde en rietskraal lyf lyk sy glad nie oud nie. Otto dink sy tannie is cool – behalwe vir haar alewige skoonmakery en dis nie eens haar snaaksste stokperdjie nie.
“Hallo, tannie Sharon,” sê Otto en soen haar op haar wang. Alhoewel Sharon nie sy regte tannie is nie, is sy deel van die familie vandat Otto kan onthou. Sy het vroeër baie kom kuier en hy het van altyd af van haar gehou.
En toe, van omtrent twee jaar gelede af, is tannie Sharon skielik al familie wat Otto het.
Otto se ouers was argeoloë. Voorverlede winter het hulle met ’n navorsingspan Meksiko toe gegaan om na oorblyfsels van ou kulture te gaan soek. Otto weet nie presies wat toe gebeur het nie. Die koerante het van ’n reusagtige warrelwind geskryf wat die span verras het. Daarna is Otto se ouers as vermis verklaar. Ná ’n paar weke se vrugtelose soektog, is hulle dood verklaar. Tannie Sharon wat toe na Otto gekyk het, het hom permanent by haar laat kom bly.
“Is julle lus vir warm sjokolade?” vra sy, terwyl sy die stofsuier se sak uitskud.
“Nee dankie, ons moet dringend oor iets praat,” antwoord Otto. “Oor ’n taak,” voeg hy by toe tannie Sharon vraend na hom kyk. Hy trek Emily vinnig by die huis in, gooi sy skooltas in ’n hoek en hol vooruit solder toe, Sir Tony kort op sy hakke. Bo in Otto se kamer sluit hulle die deur en skuif die mat voor die bed eenkant toe. Versigtig voel Otto oor die vloerplanke tot hy ’n klein gleufie in die hout kry. Emily gee vir hom ’n skoenlepel aan waarmee hy die valdeur oopmaak. Onder die deur is ’n opvoubare trapleer van yster. Dit lei na ’n klein vensterlose vertrek wat behoorlik uit sy nate bars van al die boeke.
Otto het hierdie geheime kamer al in die eerste week wat hy by tannie Sharon kom bly het, ontdek. Hy het agtergekom daar is sekere plekke op die vloer wat ’n hol klank maak as hy daaroor loop. Toe loer hy bietjie rond en ontdek die gleuf van die valdeur. Van toe af gaan hy gereeld na die geheime plek as hy van alles wil wegkom, of as hy met die spoke wil gesels sonder om gepla te word. Boeke is blykbaar ’n perfekte klankdemper, want die kamer is heeltemal klankdig van buite af.
Otto dink dis baie prakties. As tannie Sharon hom ooit sou hoor praat met Sir Tony en die ander huisspoke, sal sy hom summier na ’n sielkundige toe vat. As jy elf jaar oud is, is jy te oud vir denkbeeldige maatjies.
Terwyl Otto regmaak om met die trapleer af te klim, hoor hy ’n harde “Waaaag!” van buite af, gevolg deur ’n kaplaks! asof ’n groot kol sous op die vensterruit beland het.
“Vincent?” Otto hardloop verbaas na die venster waarop ’n bondel vel vassit. Hy het nie eens besef Vincent is nie by hom nie, alhoewel dit die laaste paar minute net té stil was. Niemand het op sy skouer gesit en irriterende kommentaar in sy oor geskree soos ’n malkop papegaai nie.
“ ’Skuus ek’s laat,” hyg Vincent toe Otto die venster vir hom oopmaak sodat hy kan invlieg. “Ek het ’n vet brommer dopgehou. Ek was al naby hom, maar toe hy na ’n mishoop toe vlieg, het ek besluit om maar liewer pad te gee.”
Sir Tony rol sy oë. “Is ons nou almal hier?”
Otto knik sy kop en klim dan eerste af na die donker vertrek. Emily volg hom en Vincent vlieg naby Otto se oor verby.
Toe almal onder is, maak Otto die valdeur toe en skakel die staanlamp in die hoek aan wat ’n dowwe ligkring op die plafon gooi. Hoë boekrakke, ’n verslete rusbank, ’n wêreldatlas en ’n lessenaar word in die halfdonker verlig. Otto vermoed dat die geheime vertrek aan sy oorlede oom Archibald behoort het, maar hy is nie seker nie.
“Ek gaan vir Molly en Bert haal, ek’s nou weer terug,” sê Sir Tony wat op die boonste trap van die boekleer hurk. Die volgende oomblik los hy in die lug op, om net weer binne die volgende paar sekondes op dieselfde plek te verskyn.
Sir Tony is nie meer alleen nie. In die linkerhoek van die kamer verander die lug in ’n digte miswolk waaruit ’n groot, maer gedaante homself losmaak. In die een hand hou die gedaante ’n sosatiestokkie met kaas en olywe daarop, en in die ander hand ’n boks melk.
“Hoessit, Bert,” groet Otto en Vincent die nuwe gas.
“Hallo daar,” brom Bert en vat ’n lekker hap kaas. Die gekoude stukke kaas beweeg reguit deur sy lyf en val op die blokkiesvloer. “Kon julle nie met julle teepartytjie wag tot ek met my middagete klaar is nie? Sharon het vandag vars Edamkaas gekoop. Die geur daarvan is voortreflik.”
Bert bly in tannie Sharon se yskas. Aan die begin was dit vir hom groot pret om die yskas se lig af te skakel as Otto en tannie Sharon die deur oopmaak. Nou is dit vir hom baie lekkerder om al die kos in die yskas op te eet. Die vermiste kaas, wors en sjokoladepoeding het nie lank ’n geheim gebly nie en Otto moes vinnig die skuldige een speel. Omdat Otto erger as ’n boontjierank groei, vra tannie Sharon gelukkig nie dom vrae nie.
Gelukkig het hy eendag ontdek dat kos wat in foelie toegedraai is, nie verdwyn nie. Om een of ander duistere rede dryf die metaalagtige weerkaatsing van die foelie die spoke tot waansin. Van toe af draai Otto al die lekkerste kos sorgvuldig daarin toe. Bert was ongelukkig vinniger by die kaas as hy.
“Dis nie ’n teepartytjie nie! Dis ’n dringende saak, Bert,” raas Sir Tony terwyl hy sy dik bene heen en weer swaai. “Iemand het gister vir ou Olsen kom kuier; iemand met ’n skoenlappernet.”
“ ’n Skoenlappernet! Hoe dierbaar!” lag ’n hoë stem uit die ander hoek van die kamer. Die stem behoort aan Molly, tannie Sharon se derde huisspook. Sy sit in ’n outydse nagrok op die aardbol en draai om en om, soos op ’n diskobal. Sy kekkel soos sy lag en gooi haar arms in die lug.
Molly het ook haar eie blyplek in die huis: die waskamer. Omdat sy goed wat draai nie kan uitlos nie, is sy dol oor tannie Sharon se wasmasjien. Niks is vir haar lekkerder as om teen eenduisend-seshonderd omwentelings per uur in die wasmasjiendrom in die rondte te draai nie. Afgesien daarvan steek sy graag van die wasgoed weg en geniet dit gate uit as Otto een van sy sokkies nie kan kry nie.
“Het nie een van julle domkoppe die vaagste benul wat dit beteken nie?” vra Sir Tony kwaai, skiet deur die vertrek en bring die aardbol rukkerig tot stilstand. Molly verloor haar balans en slaan op die vloer neer. “Weet julle nie met wie ons hier te doen het nie?”
Molly, Bert, Vincent en Otto skud moedeloos hulle koppe.
Ná ’n rukkie sê Emily ook nee, want Otto moes eers alles aan haar verduidelik.
Dis baie duidelik dat Sir Tony dit moeilik vind om kalm te bly. “Het julle niks opgelet toe julle dood is nie?” raas hy met bloedrooi wange. “Was julle almal aan die slaap?”
Molly en Bert kyk veelseggend na mekaar. Hulle is lankal gewoond aan Sir Tony se ongeskikte manier van praat … toe hulle nog geleef het, het hulle in sy kombuis gewerk. Sommige dinge verander nooit.
“Hierdie skoenlappernet,” verduidelik Sir Tony verder, terwyl hy uitroeptekens in die lug teken, “is nie ’n gewone net nie!”
“Dit het soos een gelyk,” stry Vincent van waar hy op Otto se skouer kom hurk en sy vlerke oormekaar vou.
“Miskien,” sis Sir Tony deur sy tande. Hy vlieg ontsteld heen en weer in die vertrek rond. “Dit lyk miskien soos ’n net, maar om die waarheid te sê, gaan dit hier oor ’n hoogs gemeganiseerde sielevanger. ’n Mens maak die siele van dooie mense daarmee bymekaar en vat hulle dan na die Oorkant toe. Die gedaante wat meneer Olsen se siel saamgevat het …” Sir Tony bly vir ’n betekenisvolle oomblik stil en haal diep asem, “. . . is die Dood!”
Die Dood. In lewende lywe! Otto voel hoe hy bleek word. Bestaan die Dood nie net in bangmaakstories nie? ’n Geraamte met gloeiende rooi oë? Dit kan net nie waar wees nie!
Otto kyk soos gewoonlik eerste na Molly en Bert. Dit lyk asof Sir Tony se woorde die twee ander spoke net so onkant betrap het. Van pure skrik val ’n haarkruller uit Molly se hare en Bert hoes sy longe uit. Hy het in die melk verstik en nou vorm dit ’n wit poeletjie by sy voete, gemeng met die gekoude stukkies kaas.
Otto sug. Hy moet net nie vergeet om later die gemors skoon te maak nie. As dit deur die plafon lek en begin muf, sal tannie Sharon dalk die geheime vertrek ontdek. Sy het ’n verbasend sensitiewe neus.
“Wat gaan aan? Wat het hy gesê?” vra Emily dringend.
“Die ou van gister … het meneer Olsen na die Oorkant toe gevat, Emily,” fluister Otto en kan behoorlik voel hoe die hare op sy arms regop staan.
Emily hap geskok na lug. Die punt van haar neus raak spierwit van ontsteltenis. “Dit beteken hy is … die Dood?”
“Om presies te wees, net een van hulle,” onderbreek Sir Tony hulle en grynslag, al kan Emily hom nie sien nie. “Vroeër was daar net een Grieselgryper, maar weet julle, dié storie werk amper soos die een van Kersvader. Omdat die wêreldbevolking al hoe groter word, was een nie meer genoeg nie. Dink net aan China … of Indië.”
“ ’n Grieselgryper?” Otto snork verontwaardig. Tony is rêrig nie lekker nie. Om Kersvader met die Dood te vergelyk, is nogal swak smaak. G’n wonder Molly en Bert vermy Sir Tony as hulle enigsins kan nie.
“In elk geval, deesdae kan een Grieselgryper onmoontlik nie al die siele bymekaar maak nie,” kom Tony tot die punt. “Dis hoekom daar ’n hele leër van Grieselgrypers is.”
“ ’n Hele leër?” Net die gedagte aan ontelbare geraamtes in mantels laat Otto ril. Dit klink soos iets uit ’n fliek.
Sir Tony knik sy kop. “Daar is nogtans nie genoeg Grieselgrypers nie, want as een van die Grieselgrypers te laat kom as iemand sterf, dwaal die arme, vergete siel orals rond. Dan word hulle spoke; wesens soos ons.” Tony se grynslag verdwyn en sy gesigsuitdrukking word so hard soos klip. “Verdoem tot ’n lewe in die donker hede.”
Bert rol sy oë. “Jy maak altyd so ’n drama van alles, Tony! So erg is dit darem nou ook nie hier nie,” sê hy en trek met sy tande ’n olyf van die stokkie af. “Dit het ook sy voordele.”
“En vandat hierdie wonderkind hier bly,” voeg Molly by en wys na Otto, “hoef ek ook nie tot in alle ewigheid net met julle twee domkoppe te gesels nie.”
Sir Tony maak asof hy nie die belediging gehoor het nie. “Nogtans … as ’n Grieselgryper opduik, beteken dit niks goeds nie; net onheil.” Hy bly ’n rukkie stil. “Dis ’n genade dat Otto en Vincent hom dadelik gesien het. Ons moet hulle van nou af goed dophou.”
Otto knik en probeer om sy gedagtes agtermekaar te kry. So grillerig soos alles dalk klink, pas die hele prentjie stadigaan inmekaar. Wat Molly, Bert en Sir Tony betref, gaan dit dus oor vergete siele wat bestaan omdat ’n Grieselgryper drooggemaak het.
Hoeveel vergete siele is daar in hierdie wêreld? En hoeveel geheime is daar aan die Oorkant waarvan Otto niks weet nie? Miskien sal die wêreld van die dooies, waar sy ouers is, eendag vir hom die antwoorde gee.
Hy haal diep asem. Twee dinge is seker. Eerstens: Otto is definitief van plan om al die geheime op te los, al bewe sy kniekoppe as hy net daaraan dink. En tweedens: Soos sake nou staan, sal die lewe in Radysstraat van nou af beslis nie vervelig wees nie.