Читать книгу Harry Griesel 3: Die Spookmeesters - Sonja Kaiblinger - Страница 4
’n Torero word verban
ОглавлениеDis nooit rustig en stil in Radysstraat nommer agt, waar Otto bly nie. Nie eens in die nag nie. Dis omdat Otto nie alleen daar bly nie, want ’n hele klomp buitengewone inwoners bly saam met hom daar. Tannie Sharon, wie se huis dit is, versamel horlosies en ly aan ’n skoonmaakgier. Sy is mal daaroor om soveel lawaai as moontlik met die stofsuier te maak, en die getik van al die horlosies kan lelik op ’n mens se senuwees werk. Maar Otto se huisspoke is nog meer buitengewoon … dis nou Sir Tony, Bert en Molly, ’n klomp kamma-kwaai spoke wat glad nie grieselrig is nie. Laaste, maar definitief nie die minste nie, is daar Vincent, Otto se troetelvlermuis wat nie net kan praat nie, maar ook verskriklik stout is.
Maar op hierdie spesifieke middag is dit amper spookagtig stil in die sitkamer. Só stil dat Otto dadelik ongemaklik begin voel. Geen stofsuierlawaai en geen Sir Tony wat kla hy kan nie met die lawaai in sy ore slaap nie. Net tannie Sharon se horlosies tik-tak soos gewoonlik. Daar is ook nie ’n spoor van die ander spoke nie en wat nog vreemder is, is dat tannie Sharon blykbaar ook nie by die huis is nie. Sy het nie eens ’n boodskap gelos nie. Dis ook nie hoe sy gewoonlik is nie.
Otto besef hy is honger en gaan kombuis toe, waar hy vir Bert raakloop.
“Man, Otto, ek is dood van die honger,” sê die huisspook steunend toe Otto die yskas oopmaak. Omdat Bert in die yskas bly, kan ’n mens hom gewoonlik daar kry. “Het jy miskien iets om te eet saamgebring? Kyk net hier.” Hy wys na die rakke en sug. “Dis net ’n lugleegte.”
“Jy kan nie van honger doodgaan nie, jy is mos al klaar dood, Bert,” sê Otto met ’n glimlag en kyk in die kombuis rond. “Waar is tannie Sharon?’
Bert trek sy skouers op. “As ek maar geweet het. Sy is vanoggend hier weg en is nou nog nie terug nie,” mompel hy moedeloos. “Ek het gehoop sy het gaan inkopies doen.” Hy haal ’n jogurthouer uit die agterste hoek van die yskas en kyk wantrouig daarna. “Die vervaldatum is laas jaar s’n. Sies! Ek gaan dit nie eet nie. En hierdie verskrompelde kiwi kan jy ook maar vir jou hou. Ek hoop daar gaan binnekort iets eetbaars in hierdie huis wees, anders vreet ek van pure honger jou vlermuis op.”
“Jy is seker nie lekker in jou kop nie, jou vraat!” kom dit van Vincent se kant af. Otto se troetelvlermuis het seker nou net wakker geword, nadat hy die hele middag in Otto se skooltas geslaap het. Soos gewoonlik het Vincent saam met Otto skool toe gegaan sonder dat Otto daarvan geweet het. En soos gewoonlik het Vincent vir ’n klomp opwinding in die skool gesorg.
Alhoewel Otto hom van die begin af verbied het om saam met hom skool toe te gaan, ignoreer Vincent hom altyd. Nadat hulle vanoggend opgestaan het, het hy skelmpies in Otto se penhouer geglip en tot ná liggaamsoefeninge se dubbelperiode vas lê en slaap in die houer. Toe het hy natuurlik fiks en honger gevoel, uit die skooltas geklim en in die geheim op ’n ontdekkingstog deur die Sybrand Swaelkop Skool gegaan.
Hy het by ’n paar plekke gekuier – een daarvan was die oogholte van die menslike geraamte in die biologieklas. En toe het hy amper vir Ritteltit, die skool se hamster, gebyt en op die ou end ’n stuk kryt opgevreet, wat vir hom soos ’n vet wit maaier gelyk het.
Otto kan sy sterre dank dat niemand dit kon regkry om Vincent te vang nie.
Moeg, poegaai en al spoegend dat die wit krytwolke so waai, het die vlermuis toe weer in die tas geklim en besluit hy het genoeg gedoen vir die dag.
Tot dusver is Otto se dag nie maklik nie en sy maag knor behoorlik van die honger. Hy hoop tannie Sharon kom gou huis toe en dat sy kos gekoop het – vir hom en vir Bert, wat nog nooit kon verstaan dat spoke nie veronderstel is om te eet of te drink nie.
“Toemaar, Vincent, dit was net ’n grappie.” Bert vryf oor sy maag. “Ek vind dit net onaanvaarbaar dat Otto se tannie nie na my fisieke behoeftes omsien nie en net sommerso verdwyn.”
Otto knik sy kop ingedagte. Tannie Sharon weet natuurlik niks van Bert en sy fisieke behoeftes af nie, maar die feit dat sy ook nie vir hom kos gelos het om te eet nie, laat hom nogal ’n bietjie wonder. Waar op aarde kan sy wees?
“Miskien het sy geëmigreer?” stel Sir Tony voor toe Otto hom ná ’n lang gesoek uiteindelik in die geheime boekekamer, onder sy slaapkamer, raakloop. Dié moontlikheid sal die oudste huisspook natuurlik soos ’n handskoen pas. “Die ou heks het uiteindelik besef die villa is my huis en sy het niks hier verloor nie. Ek wonder net hoekom sy nie haar irriterende horlosies saamgevat het nie,” brom Sir Tony voort.
Otto krap bietjie kop. Hy is taamlik seker tannie Sharon het nie geëmigreer nie. Sy sal hom nie sommer net so alleen los nie. Of sal sy?
“Sy het ook nie die wasgoed gewas nie,” kla Molly, wat op die aardbol sit en al in die rondte draai. “Daar is nog ’n hele stapel wasgoed in die wasgoedmandjie. Miskien het sy iets oorgekom? Dalk is sy ontvoer!” Een van Molly se haarkrullers val van pure ontsteltenis uit haar hare. “Dalk word sy as gyselaar aangehou … Deur misdadigers, skelms of ander boewe wat ’n oog op haar waardevolle horlosieversameling gehad het.”
“Op haar horlosieversameling? Jy’s seker getik, Molly!” sê Sir Tony verontwaardig. “Hoekom sal misdadigers die lelike goed wil vat? Niemand sal die goed koop nie.” Hy dink skielik aan nog iets. “Maar miskien … wil hulle … die nuwe stofsuier gaps! Dis beslis baie werd.” Hy gee ’n moedelose gil. “Wat gaan ek sonder my stofsuier doen? Die stofsuier is my huis!”
Otto ignoreer Tony se gekerm en klim met die leer op na sy kamer toe. Hy voel ’n yslike knop op sy maag toe hy by die dakvenster uitkyk om te sien of tannie Sharon nie dalk op pad is huis toe nie. Al kan ’n mens nie Molly en Sir Tony se stories te ernstig opneem nie, kan hy nie help om te wonder of tannie Sharon nie tog iets oorgekom het nie.
Dit sal nie die eerste tragedie in Otto se lewe wees nie. Nadat sy ouers meer as twee jaar gelede nie van ’n argeologiese uitgrawingsekspedisie af teruggekom het nie, is tannie Sharon die enigste naasbestaande persoon in sy lewe. Wat gaan gebeur as sy rêrig iets oorgekom het? Wat as Otto stoksielalleen agterbly?
Op dié oomblik hoor hy hoe die voordeur onder toegemaak word. “Hallo, Otto,” koer ’n stem kort daarna van onder af. Tannie Sharon se stem! Otto se hart sing behoorlik van pure verligting. Hy hol soos ’n mal ding ondertoe, waar tannie Sharon besig is om haar jas op te hang. “O, daar is jy,” sê sy. “Ek is jammer ek het nog nie vir jou kos gekook nie.”
Otto kan sy oë nie glo nie. Blykbaar makeer sy niks – inteendeel, sy lyk gelukkig en ontspanne en hoegenaamd nie asof haar lewe in gevaar was nie. Afgesien daarvan, het sy ’n massiewe muurhorlosie saamgebring, een wat soos die groot horlosie in die stasie se aankomssaal lyk.
“Tannie Sharon! Ek is so bly om jou te sien! Waar was jy?” wil hy ongeduldig weet.
Tannie Sharon glimlag. “Oe, Otto, jy sal my nie glo nie, maar ons het nuwe bure. Om presies te wees, ’n nuwe buurvrou, en haar naam is Madame Olga. Sy bly oorkant ons in meneer Olsen se ou huis.”
Otto wonder. In meneer Olsen se ou huis? Fernando bly eintlik daar … die Spaanse spook wat hy nou die dag ontmoet het.
“Madame Olga is die gaafste en geselligste buurvrou wat jy jou ooit kan voorstel,” sê tannie Sharon en sit die horlosie versigtig op die eettafel neer. “Sy is ’n fortuinverteller en weet jy wat … sy het eers by ’n sirkus gewerk. Sy was glo ’n regte ster.”
’n Ster? Al is dit ook waar, twyfel Otto baie of Fernando sy huis vrywillig met iemand sal deel. Hy het aangeneem dat die klein, ouerige huisie lank sal leeg staan, maar blykbaar het hy ’n fout gemaak.
“Madame Olga is ’n bietjie … hoe sal ek sê … anders,” verduidelik tannie Sharon. “Sy het al die elektriese goed uit haar huis geboender en gebruik net kerse. Sy sê enige elektriese stroomspanning pla haar terwyl sy met spoke praat. Sy het nie eens ’n TV nie.”
Otto byt op sy tande om nie iets te sê nie. Ja-nee, hy twyfel nie vir ’n oomblik dat Fernando woedend is nie. Hy weet die Torero is absoluut mal oor ’n soetsappige Spaanse sepie wat elke middag laat op TV wys. Hy voel amper jammer vir sy spookvriend, al kan hy self nie kop of stert van die Spaanse reekse uitmaak nie.
“O ja, en sy hou ook van horlosies, nes ek,” babbel tannie Sharon voort, maar Otto luister net met ’n halwe oor. Hy kyk skielik na die horlosie op die eettafel, wat tannie Sharon seker van haar kuiertjie saamgebring het. Dit lyk of ’n spookhand die wysers al in die verkeerde rigting draai. Otto voel die ene hoendervleis.
“Sy het vir my haar ou muurhorlosie gegee om reg te maak,” sê tannie Sharon wat intussen in die kombuis begin werskaf en nog niks van die horlosie se eienaardige gedrag agtergekom het nie. “Raai ’n bietjie wat sy my as betaling aangebied het.”
“Pssst … Buenos dias, amigo,” weerklink ’n sagte fluisterstem uit die horlosie. Otto hou asem op. Het hy verkeerd gehoor? “Dis ek, Fernando,” gaan die stem voort. “Ek moet met jou praat, Otto. Dis baie dringend!”
Fernando is in die horlosie! Otto kan nie die Torero sien nie, maar dis nie die eerste keer dat hy in ’n horlosie wegkruip en met die wysers peuter nie.
“Otto? Jy hoor nie wat ek sê nie.” Tannie Sharon loer by die kombuisdeur uit. “Ek wil jou gou vertel wat Madame Olga vir my wil gee vir die regmaak van haar horlosie.”
Otto kyk na sy tannie en probeer hard om te konsentreer. “Um … um … miskien geld?” raai hy. Hy brand om te hoor wat Fernando te sê het, maar hy kan onmoontlik nie voor tannie Sharon met die spook praat nie. Sy sal dink hy het al sy varkies verloor.
“Dalk ’n huis in die Bahamas?” stel Sir Tony voor, wat nou net agter tannie Sharon opgeduik het. “Dan sal ek, as regmatige eienaar van die villa, uiteindelik weer aan bewind wees, in plaas van hierdie plakker wat die huis beset.” Hy wys na Otto se tannie en trek ’n gesig. Otto is maar te bly tannie Sharon kan Tony nie sien of hoor nie.
“’n Yslike stuk kaas?” raai Bert en vryf oor sy maag van pure hongerte.
“Iets baie beter as geld,” verduidelik tannie Sharon en wys gelukkig en tevrede na die horlosie agter haar. Die wysers staan weer stil, al wys hulle heeltemal ’n ander tyd as netnou. “Sy het my belowe ons gaan een van die dae ’n spookafspraak hou. Dis ’n sessie met spoke.” Tannie Sharon se oë blink van opgewondenheid. “Sy wil my help om oom Archibald te kontak. Is dit nie fantasties nie?”
Otto weet nie wat om te sê nie. Die fortuinverteller van langsaan wil kontak maak met die Oorkant? Om met tannie Sharon se man Archibald, wat verdwyn het, te praat? O, gonna!
“Madame Olga sê jy moet definitief ook vir haar kom kuier,” voeg tannie Sharon by en trek die inkopielys van die yskas af. “Sy wil jou graag leer ken. Sy sê sy hou van kinders.”
Sy glimlag. “Ek gaan net gou supermark toe om kos vir aandete te koop. Miskien kan jy my intussen help en my gereedskap uit die pakkamer gaan haal. Dan kan ek dadelik vanaand aan Madame Olga se horlosie begin werk.” Sy vryf haar hande. “Ek kan nie wag vir die afspraak nie.”
’n Oomblikkie later is tannie Sharon op pad winkels toe met haar inkopiesak. Otto voel skoon verward. Honderde vrae flits deur sy kop. Bly daar regtig ’n fortuinverteller langsaan? Iemand wat dalk met oom Archibald kontak sal kan maak? Sê nou maar sy vertel vir tannie Sharon een van Otto se geheime?
Nog voordat Otto behoorlik nugter oor alles kan dink, staan daar ’n maer gestalte met ’n rooi mantel en swart snor voor hom. Fernando is sopnat gesweet van spanning en bewe soos ’n riet. “Otto, ek is so bly om jou hier te kry. Ek het myself in die horlosie uit die huis uit gesmokkel, ek het jou hulp nodig. Ons … ons het ’n emergencia – ’n krisis!”
***
“Ai-jai-jai, wat ’n gemors!” kerm die Spaanse spook, terwyl sy oë onrustig oor die rakke en rakke vol boeke dwaal. Otto het hom vinnig boekekamer toe gevat, waar hy dadelik in die verste hoek gaan wegkruip het. Fernando bewe angstig. Hy vou sy rooi mantel van pure benoudheid al hoe stywer om sy lyf en sy windmakerige baard hang soos ’n nat vadoek. “Otto, jy moet plan maak om die verskriklike vroumens uit my casa te laat verdwyn. Sy is ’n ramp. Wat de paella – de ongeluk – het ek gedoen om dít te verdien?”
“Ontspan, Fernando,” probeer Otto die Torero kalmeer.
“Ontspan?” skree Fernando ontsteld. “So nooit as te nimmer nie!”
“Begin liewer by die begin en vertel ons wat gebeur het,” hoor hulle van Sir Tony se kant af. “Van wanneer af bly Madame Olga in jou huis?” Hy lyk skoon onrustig. As dit klink of iemand ’n huis oorgeneem het, lyk dit of hy skielik vir die ander persoon jammer voel.
Fernando skud sy kop moedeloos. “Dit het … alles so vinnig gebeur. Ek het rustig met ’n pakkie tortillatjips voor die TV gaan sit, toe staan hierdie monster skielik in my casa.” Hy snuif verontwaardig. “Sy het geskree dat ek moet padgee, anders gaan sy elke enkele haar uit my baard uitpluk. No me gusta! Ek kan dit nie verdra nie!” kerm hy en druk sy gesig in sy hande. “Wat ’n gemors.”
Otto se oë rek. “Wag ’n bietjie! Het jy gesê Madame Olga het op jou geskree? Dit beteken sy het jou so wraggies gesien? Soos wat ék jou kan sien?”
“Si,” beaam Fernando en knik sy kop geesdriftig. “Sy het reguit na my gekyk en haar ligbruin oë het gegloei … soos bul in ’n arena s’n. Dit was skrikwekkend, amigos.”
Arme Fernando. Otto kyk na die spook wat in ’n patetiese hopie voor hom sit. Maar die Spaanse Torero, ofte wel stiervegter, is nogal geneig om te oordryf. Tannie Sharon dink die nuwe buurvrou is ongelooflik interessant en baie gaaf. Hoekom haat Fernando haar so? Miskien het hy geen rede om so te voel nie. Fernando sal van niemand hou wat tussen sy vier mure intrek nie. Sir Tony is dieselfde. Maar Otto moet erken – die storie klink nie lekker nie.
“Dink jy Madame Olga kan rêrig spoke sien?” Sir Tony kyk vraend na Otto. “Het sy dalk dieselfde gawe as jy?”
Otto dink so ’n rukkie na oor alles. Tot hy by tannie Sharon se villa kom bly het, het hy self nie van sy geheimsinnige gawe geweet nie. Voordat sy ouers verdwyn het, was sy lewe heeltemal normaal.
“Ek weet nie,” antwoord hy uiteindelik. Dis moontlik dat daar nog meer mense op aarde is wat spoke kan sien. Miskien is Madame Olga een van hulle.
“Kan julle nie op een of ander manier van die ou draak ontslae raak nie?” onderbreek Fernando Otto se gedagtes. “Por favor – asseblief? Dit sal wraggies grandioso wees! En miskien kan julle my daarna julle TV leen sodat ek weer my gunstelingsepie kan kyk.” Hy sug. “As ek ’n paar episodes mis, kan ek nie kop of stert uitmaak van wat aangaan nie.”
“Van Madame Olga ontslae raak? Dit sal nogal moeilik wees,” mompel Otto moedeloos. “Tannie Sharon dink sy is baie gaaf. Kan julle nie vrede maak met mekaar nie?”
“Vergeet dit!” knor die Torero hardkoppig en vou sy arms.
Otto probeer koorsagtig aan iets dink. “Wat daarvan as jy ’n rukkie hier bly? Tot ons, hoe sal ek sê, ’n oplossing vir jou probleem gekry het.”
“Moenie eens daaraan dink nie,” keer Sir Tony vinnig. As dit oor sý huis gaan, hou hy baie vinnig op jammer voel vir iemand anders. “Ons het al dieselfde storie gehad, Otto. Drie spoke is klaar te veel vir die villa. Die vent werk buitendien te erg op my senuwees.” Hy snuif verontwaardig. “In vergelyking met hom is die aaklige vlermuis ’n fees.”
“Wat beteken dit? Sê jy ek is ’n moeilikheidmaker, hè?” Die vlermuis glip deur ’n gleufie in die valdeur en pyl op Sir Tony af, wat vinnig in die lug oplos en in die ander hoek weer sy verskyning maak. “Jy’s in jou bol gepik!” Vincent fladder tot op die boekeleer en stoot sy bors uit. “Ek is die allerpraktiesste, maklik om te versorg en getrouste troeteldier op aarde. Ek vang self my kos. Ek los nie winde nie en doen my besigheid buite. Oukei, ek sal erken, ek is nie juis oulik nie, maar dis nie my skuld nie. Niks en niemand is meer oulik as hulle driehonderd-ses-en-twintig jaar agter die rug het nie. En nogtans sal Otto my vir g’n pieringoog-konyn in die hele wêreld verruil nie, of hoe?”
Otto rol sy oë en kan nie help om te lag nie. Fernando is nie die enigste een wat daarvan hou om te oordryf nie.
Sir Tony sug. “Nou goed, al wat ek wou sê, is dat ek al klaar die huis met ’n plakker moet deel wat erg op my senuwees werk. Sê my net een ding … hoekom moet dit beter met die grootbek-boontjierank gaan as met my?”
Die Torero gluur Sir Tony aan.
Otto dink skielik aan ’n plan. “Hoe sal jy daarvan hou om vir eers in meneer Olsen se tuinhuisie in te trek, Fernando?” stel hy ewe vriendelik voor. “Dan leen ek solank vir jou die TV wat met batterye werk. Mens gebruik dit as jy gaan kamp en tannie Sharon bêre dit al eeue lank in die kelder. Sy sal nie eens weet as dit nie meer daar is nie. Dis ongelukkig net ’n swart-en-wit-ene, maar jy kan dan in die tuinhuisie TV kyk.”
“Sal jy dit sowaar vir my doen?” Fernando sweef na Otto toe en gee hom ’n klapsoen op sy wang. “Muchas gracias, Otto – jy is die beste vriend wat ’n spook ooit kan droom om te hê. Intussen sal ek my tuinhuisie lekker warm en snoesig inrig en paar lekker taco’s vir ons maak. As jy vir my kom kuier, hou ons ’n heerlike fiesta.”
Otto knik, maar wonder in die stilligheid of dit so ’n goeie idee is. Sal ’n mens die probleem rêrig so maklik kan oplos? Dit kan nie anders nie – hy sal beslis self moet gaan kyk watse soort mens dié Madame Olga eintlik is.