Читать книгу Harry Griesel 3: Die Spookmeesters - Sonja Kaiblinger - Страница 9
’n Sneeustorm in die sneeuglasbal
Оглавление“Ek glo dit nie.” Emily is verstom toe sy en Otto Satermiddag met die trap opstap na sy kamer toe. “Tannie Sharon het sowaar gister met oom Archibald gepraat? Dankie tog hy het niks oor ons gesê nie. Anders sou ek nes jy lekker in die moeilikheid wees.” Sy glimlag. “Otto, ek moet sê dit was briljant van jou om dadelik aan Harry se sneeuglasbal te dink. Miskien gaan dit ons help om meer oor Madame Olga en haar kontakte aan die Oorkant uit te vind.”
Dis presies waaraan Otto ook dink ná die snaakse goed wat gisteraand gebeur het. Hy kon die hele oggend op niks anders konsentreer nie. Hy het vroeg vanoggend dadelik vir Emily ’n boodskap op sy selfoon gestuur. Sy kuier Saterdagoggende altyd by haar ouma wat ook in Radysstraat bly, en het Otto belowe om dadelik daarna by hom ’n draai te maak.
“Ek hoop so.” Otto maak die deur oop en laat Emily voor loop na sy kamer toe. “Dis in elk geval makliker om oom Archibald deur middel van die glasbal te vra, as om nuwe sonbrandroom te meng en self na hom toe te gaan. En dis nie so gevaarlik nie.”
Die Oorkant-sonbrandroom is ’n unieke room wat deur oom Archibald gemaak is om lewende mense soos Otto en Emily in swart-grys-figure te verander. Op dié manier kan ’n mens na die kleurlose Oorkant toe glip, sonder om uitgevang te word. Die probleem is dat die room ná ’n sekere tyd ophou werk en jy dan as ’n lewende persoon uitgeken kan word.
Nee wat, om die toweragtige sneeuglasbal te gebruik is beslis baie veiliger.
“Hier is dit.” Otto gee die swaar glasbal versigtig vir Emily aan.
“Dit lyk nie vir my na iets spesiaals nie,” sê Emily. “Dit lyk soos ’n gewone glasbal. Met ’n bos en ’n klein hutjie daarin. Mag ek dit ’n bietjie skud?”
Otto maak eers seker dat sy kamer se deur gesluit is, voordat hy sy duim in die lug hou en knik. Hulle kan maar begin.
Die twee hurk op Otto se kamervloer en loer senuweeagtig in die glasbal.
Hulle hoef die glasbal net ’n paar keer te skud voordat die sneeu om die houthut begin dwarrel. Terselfdertyd hoor hulle die wind deur die dennebome huil en sien hoe dit die boomtoppe woes heen en weer laat swaai. Otto verbeel hom hy kan selfs die houtplanke van die hut hoor kraak.
Emily staan verskrik eenkant toe. “Dit lyk amper soos ’n baie erge sneeustorm,” sê sy saggies. “En asof dit verwoesting saai daar binne!”
Otto stem saam. Dis omtrent vreemd. Hy kan amper nie meer die buitelyne van die hut deur die sneeu sien nie, en nog minder vir oom Archibald wat dit seker nie sal waag om buitentoe te gaan in so ’n storm nie.
“Hallo? Archibald?” probeer Emily hom roep en staan nader aan die glasbal. “Aarde na Oorkant! Kan jy my hoor? Dis ons, Emily en Otto. Is alles oukei daar in die spookwêreld?”
“Sjuut! Moenie so hard praat nie, Em. Tannie Sharon is aan die stofsuig, maar as jy so skree gaan sy jou nogtans hoor.”
“Sorrie.”
Harry het verduidelik ’n mens kan op ’n gewone afstand met oom Archibald praat; jy hoef nie te skree asof jy ’n tweerigtingradio vir oumense gebruik nie. Oom Archibald is in elk geval nie hardhorend nie en die ontvangs is gewoonlik glashelder.
Ongelukkig is daar vandag nie ’n teken van oom Archibald nie. Die enigste bewys dat hy wel in die hut is, is die rook wat by die skoorsteen uittrek.
“Miskien is dit te erg vir hom buite?” wonder Emily hardop. “Of dalk is die sneeubal stukkend?”
“Ek stem vir die tweede rede,” meng Vincent in en glip deur ’n gleufie in die eikehoutkas in Otto se kamer. Hy lyk ’n bietjie deur die wind, so asof hy ’n klein slapie gevang het. “Ek is seker die gierige Grieselgryper het vir jou die goedkoopste Oorkantkontrepsie gegee.” Vincent skarrel oor die vloer en loer na die kant van die bal. “Dit kom seker van die Verre Ooste af.”
Emily probeer sien waarna hy kyk. “Daar staan Aan die Oorkant vervaardig. Is dit nie cool nie?”
“Wat ook al.” Vincent vou sy vlerke. “Dit beteken niks nie. Ek sou die Grieselgryper ’n taai klap met die stukkende gemors gee en die waarborg onder sy neus vryf. Die Oorkant se goed het ’n lewenslange waarborg. Alhoewel … ha-ha, vir die Oorkant se inwoners is dit eintlik niks anders as ’n simpel grap nie.”
Emily begin giggel. “Otto leef nog, jong. Miskien kan Harry die bal omruil, as dit regtig die gees gegee het.” Sy trek haar skouers op. “Of ons kan later weer probeer kontak maak.”
***
Otto en Emily wag tot laat die aand voordat hulle weer aan Madame Olga se storie begin dink. Dit werk perfek uit, want Emily se ouers is stad toe vir ’n besonderse eretoekenning van die regskommissie. Emily se ma was baie bly toe Emily haar gevra het of sy dié aand by tannie Sharon se villa kan bly. Tannie Sharon het meer as genoeg plek in haar villa. Die huis het ’n paar leë gastekamers, maar Otto en Emily sleep altyd ’n paar matrasse in sy kamer in, sodat sy lekker gemaklik op die vloer kan slaap.
Vanaand sukkel hulle nog meer as gewoonlik om aan die slaap te raak. Emily en Otto sit op die vensterbank en hou al ’n hele rukkie lank Madame Olga se huis deur ’n verkyker dop.
Natuurlik is dit nie so effektief om die huis van ver af dop te hou nie. Dit sal makliker wees om in die huis in te sluip en van daar af te spioeneer. Maar daarvoor moet ’n mens onsigbaar wees. Ongelukkig is nóg Sir Tony, nóg Bert of Molly bereid om hulle te help.
“Julle is ’n klomp bangbroeke,” sê Emily verwytend vir Otto se huisspoke en gluur hulle deur die spookbril aan. “Net omdat Madame Olga spoke kan sien, beteken dit nie sy kan iets aan julle doen nie. Julle is mos al klaar dood.”
Maar al Emily se argumente val op dowe ore. Veral wat Sir Tony betref.
“W … wat as sy aluminiumfoelie in haar huis het?” wil hy weet. Aluminiumfoelie is spoke se kryptonite. Dis die enigste ding waarmee mens hulle kan beheer. “Ek verkies om onsigbaar te bly. Dis natuurlik nie vir my ’n probleem met jou en Emily nie, dis vanselfsprekend,” sê hy so ewe toegeeflik. “Ek is buitendien baie skaam van geaardheid. So jammer, maar ek sal nie kan gaan nie.”
Emily en Otto gee uiteindelik moed op en besluit om die vensterbank as hulle uitkykpunt te gebruik. Hulle hoop net Harry sal sy woord hou en Madame Olga van nou af fyn dophou. Tot sover kon die kinders nog nie juis iets oor haar uitvind nie. Van sesuur in die aand tot omtrent nege-uur het Madame Olga in ’n dik boek gelees; natuurlik net by kerslig. Nege-uur het sy die vullisblik buite die deur gesit. Vincent is so verveeld met die hele storie dat hy tot op die gordynkap vlieg, waar hy lui en half aan die slaap rondsit.
“Dink jy Madame Olga het weer haar boek begin lees?” vra Emily heelwat later en gly stadig van die vensterbank af. “Is dit nie al tyd vir haar om te gaan slaap nie? Dis al amper tienuur …” Emily hou op praat en haal diep asem. “O, gonna! Otto, Vincent, kom hier, julle moet dit sien. Maar sorg dat sy julle nie sien nie!”
Otto frons, dan kruip hy tot langs Emily en loer versigtig by die venster uit. Hy is so verbaas, hy kry nie ’n woord uit nie. Hy hoef nie ’n verkyker te gebruik om te sien dat Madame Olga by haar venster staan en stip deur ’n verkyker na tannie Sharon se huis kyk nie.
“Die ou glasbal-tannie … hou julle huis dop,” fluister Vincent verskrik, terwyl hy tot op Otto se skouer vlieg. “Dink julle sy het ons gesien?’
“Ek’s seker sy het nie. Die lig in ons kamer is al ure lank af. Sy kan ons glad nie sien nie.” Otto trek sy oë op skrefies. “Ek wonder waarna sy kyk?”
Emily trek haar skouers op. “Miskien hou sy net van julle huis. Onthou jy hoe baie sy van julle villa gehou het toe ons nou die dag die horlosie vir haar teruggevat het?”
Otto dink nie dis die rede nie. Wat voer Madame Olga in die mou? Hoekom tree sy so snaaks op? En hoekom spioeneer sy so laat in die nag op haar bure? En dit met ’n verkyker?
“Ek sal graag wil weet wat die ou draak vir my en tannie Sharon wegsteek. Ons moet weer probeer om die sneeuglasbal te skud. Oom Archibald weet altyd wat om te doen,” stel Otto voor en gee by die venster pad. “Miskien is dit nou makliker om kontak te maak.”
Emily knik en laat Otto dié keer die glasbal skud. Ongelukkig word die sneeustorm in die glasbal binne sekondes al hoe erger. Die boomtoppe swiep heen en weer in die wind en daar is selfs ’n paar takke wat deur die lug geslinger word. Arme oom Archibald. Hopelik sal sy houthut die vreeslike storm oorleef.
“Ek het mos gesê dis goedkoop gemors,” laat Vincent weer van hom hoor en gaan staan vlerk-op-die-heup. “Dit sal beter wees as jy maar liewer van die Oorkant-sonbrandroom meng en reguit na jou oom toe gaan. Jy kan my saamvat. Ek moet nog daar … ’n bietjie besigheid gaan afhandel …”
Vincent se woorde is nog skaars koud, toe Otto se kamerdeur so woes oopgeruk word dat hy amper ’n hartaanval kry.
Dis Harry.
“Grieselgryper!” sê Vincent hygend en snak na asem. “Ga! Eers het hy altyd hoflik geklop, maar deesdae hol hy hier in en uit soos hy wil. Otto, jy moet hierdie geraamte beter maniere leer.”
“Ek is amper seshonderd jaar oud, so dit sal nie meer help nie, jou vlieënde rot,” antwoord Harry en maak die deur baie sagter toe as wat hy dit oopgemaak het. “Wat ’n uitstappie na die Oorkant toe aanbetref … vergeet dit! Ek gaan dit nie weer doen nie. Oor my dooie liggaam!”
Emily en Otto glimlag floutjies vir mekaar.
“En wat jou betref, Vincent, ek kan my net indink watse besigheid jy aan die Oorkant wil afhandel. Smokkelary met lekkergoed. Om gekleurde soetigheidjies na die Oorkant toe te vat is nie ’n klein oortreding nie, my liewe vriend. Ek weier volstrek om jou medepligtige te word.”
Vincent brom onderlangs: “Aag, man, wat het oor jou lewer geloop? Dit was net ’n voorstel, dis nie nodig om dadelik op jou perdjie te klim nie.” Hy stoot sy ken uit. “Wie het nogal gesê ek gaan weer bont lekkergoed soontoe smokkel, hè?”
“My voorgevoel,” mompel Harry en kyk dan na Otto en Emily. Hy gaan sit langs hulle op die vloer, sodat sy benerige geraamte ’n paar lelike kraakgeluide maak. “O, ek sien julle gebruik my geskenk. Hoe gaan dit met oom Archibald?”
“Harry, die ding werk nie meer nie,” sê Otto en sit die glasbal in Harry se benerige hand neer. “Elke keer as ek dit skud, begin ’n woeste sneeustorm woed en onderbreek die kontak soontoe. Dink jy die ding is stukkend?”
“Net twee keer gebruik en dis poegaai,” tart Vincent. “Jou goedkoop gemors is net goed genoeg vir ’n papiergewig.”
Harry kyk na die glasbal, draai dit ’n paar keer in sy hande om en sug diep. “Dit kan nie die frekwensie wees nie, dit word aan die Oorkant ingestel. Dis iets anders wat die ontvangs versteur, dit weet ek vir ’n feit.”
Otto staan en wonder. “Wat kan dit wees?”
Harry vryf oor sy voorkop. “O, daar’s ’n lang lys van redes hoekom die ding foutief kan raak. Byvoorbeeld, as die glaskoepel beskadig word wanneer iemand dit laat val, of deur water. Het julle dit dalk laat val of per ongeluk in die toilet gedompel?”
“Natuurlik nie,” antwoord Otto omgekrap.
“Dit het eenkeer met my sielklikker gebeur. Moenie vra hoe ek die ding weer uit die toilet gekry het nie. H’m, dan moet dit iets anders wees,” sê Harry.
Otto kan nie help om te glimlag nie. Wat het Harry by die toilet gesoek? Maar voordat Otto verder daaroor kan wonder, praat die Grieselgryper weer.
“Deksels! Ek moes nie die gebruiksaanwysing weggegooi het nie. Ek gaan gou in die vullisblik kyk of dit nog daar is. Miskien kan ek die ding weer aan die werk kry. Waarvoor het julle dit so dringend nodig?”
“Madame Olga het blykbaar gister met oom Archibald gepraat,” antwoord Emily. “Ons wil net seker maak of oom Archibald ook van die gesprek weet. Dalk ken hy Madame Olga en kan hy ons ’n bietjie meer oor haar vertel.”
“Ag, natuurlik, Madame Olga.” Harry skud sy kop. “Ek was laas nag in haar huis en het so ’n bietjie daar rondgesnuffel.”
“En jy sê ons nou eers?” Emily is lelik omgekrap. “Kon jy iets uitvind?”
Harry sug. “Die hele storie is baie vreemd. Alhoewel die ou heks diep en vas geslaap het en mens haar tot in haar tuin kon hoor snork, het ek die hele tyd die gevoel gehad iemand hou my dop. Maar dit was nie die snaaksste van my klein spioenasie-uitstappie nie. Ek het iets op haar lessenaar wat voor die venster staan gekry.”
“Toe, uit daarmee, Harry,” por Otto hom aan.
Harry grawe in sy mantel se sak rond, haal ’n klomp foto’s uit en gee dit vir Otto. Otto se mond raak kurkdroog. Dis almal foto’s van tannie Sharon se huis. Een is van die voorkant geneem, die volgende een van die kant van die huis, die derde een gedurende die dag en nog een gedurende die nag. Die tuin is ook op al die foto’s. Daar is selfs ’n paar satellietfoto’s van die villa.
Otto sluk swaar. “Wat … wat wil die snaakse vrou van ons hê?” Sy gedagtes maal al in die rondte en hy gee die foto’s vir Emily. “Dink julle sy wil ons goed kom steel? Probeer sy dalk verskillende maniere uitwerk om by ons in te breek? Die hele storie word al hoe geheimsinniger.”
Emily staan op en begin heen en weer loop in Otto se kamer. “Sy het vanaand ook weer op ons gespioeneer. Ons het haar netnou op heterdaad betrap,” sê sy vir Harry. “Daar is so baie vrae wat ons nie kan beantwoord nie, ek weet nie eens waar om te begin nie. Ek sal baie graag wil weet wat rêrig gister by die spookafspraak gebeur het. Deksels, ek wens ek was daar!”
Otto kry skielik ’n blink idee. “Miskien moet ons self ’n afspraak vir ’n sessie met Madame Olga maak,” stel hy voor. “ ’n Bonatuurlike afspraak net vir ons twee; vir my en vir jou, Emily.”
“Dis ’n fantastiese idee.” Emily klap van pure opgewondenheid hande.
Otto glimlag van lekkerkry. Hy het geweet Emily sal vuur en vlam wees … Die plan is opwindend en dalk net gevaarlik genoeg vir haar.
Harry is egter skepties oor die plan. “Dink julle regtig dis ’n goeie idee?”
“Natuurlik, dis die enigste oplossing,” sê Otto. “Ek kan nie glo ons het nie lankal daaraan gedink nie!”
Harry wil nog beswaar maak, maar toe lui sy sielklikker en hy kyk na die skerm. “Ag, genade! Kan ’n mens nooit rus vir jou siel kry nie?” Harry is lelik omgekrap. “Die mense kan gerus tot môreoggend wag om dood te gaan …” Hy staan op en sy hele geraamte kraak. “Kindertjies, dit help nie om te kla nie, ek sal moet gaan. Sterkte en wees versigtig, my aspirant-speurdertjies!”
Toe Harry weg is en Otto en Emily weer in hulle beddens lê, maal Otto se gedagtes nog soos hy oor alles nadink. Hy kan nie glo hy het nie dadelik aan hierdie plan gedink nie. Behalwe om uit te vind wie en wat Madame Olga rêrig is, kan hy dalk nog iets anders op dié manier uitvind.
Hy gaan sy sakgeld bymekaarskraap en saam met Emily ’n afspraak by Madame Olga maak. Dan gaan hy ’n vraag vra wat hom baie bang maak en wat hom al baie langer pla as die eienaardige storie van die nuwe buurvrou.
Hy gaan Madame Olga vra wat met sy ouers gebeur het.