Читать книгу Harry Griesel 3: Die Spookmeesters - Sonja Kaiblinger - Страница 5
ОглавлениеDie draak van langsaan
Tannie Sharon maak Madame Olga se massiewe muurhorlosie in rekord-tyd reg. Dit werk al die volgende middag perfek.
Tannie Sharon druk dit met ’n tevrede laggie in Otto se hande.
“Dis lief van jou om die horlosie persoonlik vir Madame Olga te wil gee,” sê sy. “Dan kan sy sommer sien watse goed-opgevoede nefie ek het. En dis gaaf van jou om Emily saam te vat. Olga is bly oor enige iemand wat vir haar kom kuier.”
Otto loer onderlangs na Emily.
Hulle is nou net klaar met moeilike wiskunde-huiswerk en kan doen met ’n bietjie afleiding. Otto het in elk geval al by die skool die jongste, witwarm nuus vir haar vertel, en weet dat Emily net soos hy brand om die geheimsinnige fortuinverteller persoonlik te ontmoet.
“Sê vir haar baie groete,” koer tannie Sharon vir die twee toe hulle by die voordeur uitloop.
Dis nou einde Augustus maar nogtans is daar nog geen teken van lente nie en die lug is ’n vuil, mistroostige grys kleur. Otto en Emily stap deur ’n paar waterpoeletjies tot by die tuinhekkie en loop oor die straat, tot voor die bure se huis.
Emily wys na ’n blink, brons naambord langs meneer Olsen se ou voordeur. “Kyk, Otto. Dis nuut.”
Otto kyk na die naambord. Die volgende woorde staan in sierletters daarop geskryf:
Otto lui die voordeurklokkie en gee ’n tree agtertoe. Dis doodstil in die huis.
“Sy is seker nie by die huis nie; ek bedoel die spooktannie,” brom Vincent wat bibber en beef van die koue op Otto se skouer. “Kom ons loop. Ek begin verkluim, en dit sê baie. Ek is immers ’n semi-spookvlermuis.” Hy vou sy vlerke om sy lyf. “Ek kan nie verstaan hoekom daai Torero vrywillig na hierdie koue land toe getrek het nie. Dis beslis nou lekker warm in Spanje. Kan ons nie soontoe gaan nie, Otto? ’Seblief, ’seblief! Spaanse wurms het vir seker meer woema en is geuriger as die taai insekte hier. Sies!”
“Moenie so ’n lawaai maak nie, Vincent.” Otto haal die vlermuis van sy skouer af en sit hom in die sysak van sy rugsak. Op dié oomblik gaan die deur oop en ’n kop met krullerige hare loer buitentoe.
“Wie pla my?” blaf ’n diep, growwe stem. Die deur gaan heeltemal oop en Otto en Emily sien ’n dikkerige vrou met rooi krulhare en ’n gehekelde rok voor hulle staan.
Otto hou asem op. ’n Vieslike reuk wat soos buskruit en wierookstokkies ruik, borrel by die huis uit.
“Ek wil niks koop nie,” knor die vrou geïrriteerd en trek haar knobbelrige neus op. Van naby kan Otto sien sy dra ’n dik laag grimering wat haar soos een of ander eksotiese voël laat lyk. Afgesien daarvan, lyk dit of haar amberkleurige oë soos ’n kat s’n gloei. “Geen koekies. Geen sjokolade nie. En as julle geld vir die Padvinders soek, kan julle maar daarvan vergeet.”
Otto voel asof ’n weerligstraal hom getref het. Is dit hoegenaamd moontlik dat dié snaakse vrou tannie Sharon se nuwe vriendin is? ’n Humeurige draak wat na buskruit ruik?
“Hoekom staan julle nog hier rond, julle parmantige snuiters?” skree Madame Olga so hard as wat sy kan en tel haar hand op, asof sy Otto en Emily elk ’n klap wil gee. “Soek julle ’n pak slae? Julle is besig om my in die middel van ’n sitting te pla!”
Otto voel hoe ’n yskoue rilling langs sy rug afloop. Blykbaar het Fernando vir ’n verandering nie oordryf nie. Otto kan goed verstaan hoekom hy die hasepad gekies het om van die ou heks weg te kom.
Emily laat haar nie intimideer nie. “Ons wil nie iets aan jou verkoop nie. Ons is net hier om jou horlosie vir jou terug te bring,” verduidelik sy aan die vrou. “Ons het gehoor jy is nuut in die buurt. My naam is Emily, en dit is my beste vriend, Otto.”
Die vrou se amberkleurige oë kyk eers na Otto en toe na Emily. “O ja. Die bure,” knor sy nog vieserig en gryp die horlosie uit Emily se hand. Die ding is van metaal gemaak en nogal swaar, maar Madame Olga tel dit op asof dit so lig soos ’n veertjie is. “Ek hoop nie julle bly langsaan nie. Ek haat dit as kinders skree.”
“Wel, ek’s bevrees ek bly net oorkant die straat by my tannie Sharon,” antwoord Otto droogweg en wys na die villa agter sy rug. Wie dink die vrou is sy? Hy is al twaalf jaar oud en nie meer ’n skreeuende kleintjie nie.
Wonder bo wonder verdwyn die kwaai uitdrukking op die gesig van die draak wat voor hom staan. Madame Olga kyk ’n rukkie na Otto, dan haal sy ’n verkyker uit haar sak en kyk na die villa. Sy kyk na elke hoekie en draaitjie van die huis en dan weer na Otto. “Julle het ’n besonder mooi ou villa, jy en jou tannie. Dit lyk baie geheimsinnig.” Sy glimlag, maar dit lyk eerder soos ’n grynslag. “En ek het ’n swakplek vir geheime,” voeg sy by.
’n Swakplek vir geheime? Otto trek sy wenkbroue op. Dié vrou het eerder ’n swakheid vir swael en wierookstokkies wat aaklig ruik.
“Geheime is my beroep. Ek is ’n fortuinverteller,” brom sy onderlangs. Sy swaai haar hande deur die lug. “Ek is die beroemde Madame Olga. Julle het seker al van my gehoor. Almal het al van my gehoor.”
Otto en Emily kyk vinnig na mekaar en bly stil.
“Wat? Julle ken my nie?” Madame Olga lyk geïrriteerd. “Ek was vroeër ’n legende. ’n Absolute ster. Ek het eenkeer deur die hele Rusland met ’n sirkus getoer, tot ek ’n vreeslike fobie oor hansworse ontwikkel het en moes padgee.”
Madame Olga gril van kop tot toon. “Ek dink nog steeds hansworse is grieselrig. Die rooi neus. Die wit grimering. Brrr!”
“Hansworse is beslis nie naastenby so grieselrig soos jy as jy in die oggend opstaan nie, jou lawwe ou koei,” knor Vincent uit die rugsak.
“Sjuut,” maak Otto hom stil, maar Madame Olga het hom gelukkig nie gehoor nie. Blykbaar fassineer tannie Sharon se villa haar oneindig baie. Dit is ’n wonderlike ou huis, met gewels en torinkies en baie leë vertrekke. En wat die geheime betref, het Madame Olga heeltemal reg geraai.
“Hoe ook al …” Die fortuinverteller is nou weer die ene belangstelling. “As julle iets nuttigs wil doen, gaan vertel al julle vriende van die ongelooflike Madame Olga.” Toe sy haar eie naam noem, maak sy weer so ’n swiepende gebaar met haar hande, dan draai sy om en waggel weer terug in haar huis in. “Moet net nie ná donker lawaai maak nie. Weg is julle, julle lasposte!” sê sy ongeduldig en gee Otto en Emily elkeen ’n harde stamp. Emily verloor haar balans en val amper in die roosbedding. “Anders gaan ek ’n paar spoke op julle sit. Hulle sal julle leer om nie sommer ’n fortuinverteller in die middel van ’n sessie te pla nie.”
Met dié woorde maak sy die deur met ’n harde slag toe.
“Sjoe, dis vir jou ’n ou suurbek-heks,” mompel Emily ná ’n rukkie en kyk nog steeds na meneer Olsen se voordeur, waar ’n paar windklokke hang en geroeste geluide maak. “Ek begin skielik baie van ons goorste onderwysers hou.”
“Al wat ons nou nodig het, is iemand soos sy,” brom Otto. “Haai, wag ’n bietjie! Ons kan vir Harry vra om haar behoorlik skrik te maak, sodat sy padgee. Sy sal dalk vir ’n regte egte Grieselgryper bang wees.”
Emily krap haar neus ingedagte. “Ek dink dit sal eerder andersom wees. Harry gaan baie banger vir haar wees as sy vir hom.” Sy bly ’n rukkie stil. “Maar as Madame Olga rêrig met die Oorkant kan kommunikeer, is dit dalk moontlik dat Harry haar ken en ons iets van hierdie vreemde vrou kan vertel. Dis nogal snaaks dat sy heeltemal anders teenoor jou tannie was as met ons.”
Otto stem saam. Hoekom was sy so gaaf met tannie Sharon en so aaklig met hulle? Sy is wraggies eienaardig.
“Ek sal vannag wakker bly en vir Harry wag,” besluit Otto toe hulle terugstap na tannie Sharon se huis toe. “Die hele storie stink. En ek bedoel nie net die aaklige swaelstinkerasie wat uit haar huis walm nie.”