Читать книгу Kobie regeer - Stella Blakemore - Страница 3
1
Оглавление_____________
’n Slegte dag vir Heloise
Meneer Malan kyk na sy vrou.
“Wat makeer, skat?” vra hy effens besorg.
Die eetkamer is vol sonlig, maar mevrou Malan se gesig is donker. Met haar lilarok en bruin hare is sy die toonbeeld van ’n moeder, maar sy is streng en al is haar kinders trots, het sy hulle ’n gesonde vrees ingeboesem. Hoewel sy baie besig is, hou sy ’n ferme hand oor die gesin – ’n goeie ding, want haar man is veels te sagmoedig.
Vanoggend is hy baie onrustig oor die brief wat sy vrou in haar hand hou en wat sy nog eenmaal deurlees voordat sy praat.
Woede vlam in haar oë toe sy opkyk.
“Dis ongelooflik!” sê sy.
“Wat makeer?” vra meneer Malan weer. “is dit een van die kinders?”
Hy kyk na die tafel waar die portrette staan van sy drie groot dogters, Jaap, wat reeds ’n dokter is, en die vier kleintjies: Ruth, Kobie, Stefanus en Heloise, wat nog nie elf jaar oud is nie. Van die agt kinders is net Ruth en Heloise vir die vakansie tuis. Kobie en Stefanus is in die Bosveld by hul oom, die groot meisies is in Johannesburg en Jaap praktiseer op Stellenbosch.
“Ja, een van die kinders,” sê mevrou Malan. “Ek weet nie hoekom ek soveel probleme met hulle het nie. Toe die groot meisies en Jaap op kosskool was, het ek nooit ’n slegte woord van hulle gehoor nie. Hulle rapporte was altyd goed. Maar die kleintjies …”
“Ruth is ’n goeie kind,” sê meneer Malan.
“Goed genoeg, maar sy het min persoonlikheid. Sy behoort te sorg dat Kobie en Heloise hulle gedra.”
“Het hulle hulle dan nie gedra nie? Ek dag Kobie se rapport was goed. Die kind is maar net veertien en sy is baie klein vir haar ouderdom. Dis tog wonderlik dat sy in die graadtien-klas haar plek behou.”
“Dis glad nie wonderlik nie. Jakoba is baie slim en sy doen alles sonder moeite. Vir stoutigheid is sy wonderlik, ja! Maar hierdie keer is dit nie sy nie. Dis Heloise.”
“So? Wat het gebeur? Kom daardie brief van die hoof?”
“Ja.” Mevrou Malan se oë is somber. “Jy sê altyd ek is te streng met die kinders.”
“Nee, glad nie, skat!”
“Maar sê my asseblief wat ek met so ’n kind moet maak,” vra mevrou Malan, asof sy hom nie gehoor het nie. “Drie weke gelede kom Ruth en Heloise van die skool af huis toe. Ruth gee my haar rapport en Kobie s’n, maar toe ek Heloise s’n vra, hoor ek van die kind ’n lang storie. Die handsakkie waarin sy haar sakdoek en beursie hou, het mooi van die boonste bed af by die trein se venster uitgeval. Die venster was oop, iemand het gestoot en die handsak is weg! Daar was regtig niks in nie, want al haar geld was op en die sakdoek was baie oud. Net – en dis die treurige deel – haar rapport was ook in die handsak en nou is dit weg!”
“Ja, ek onthou,” sê meneer Malan versigtig. Vir hom kom die storie ook maar flou voor.
“Ek wou die kind se rapport sien, want as hulle baie slegte punte in ’n sekere vak kry, laat ek hulle in die vakansie ’n bietjie daaraan werk. Ek het aan juffrou Van der Westhuizen geskryf en gevra of sy my iets van Heloise se werk en gedrag kan vertel. Nou kry ek hierdie brief eers drie weke nadat ek geskryf het, want die hoof bring die vakansie natuurlik nie op Maasdorp deur nie.”
“En wat sê sy?”
“Sy vertel ook ’n lang storie. Sy het ’n brief ontvang van die jong onderwyseres wat saam met die kinders in die trein was. Die onderwyseres was bang iemand sou dink dat sy verantwoordelik sou wees vir wat gebeur het. Heloise en een of twee ander kleintjies was saam met haar en sy het self vir Heloise gesê om die handsak daar bo weg te neem, anders sal dit uitval. Maar sy wou nie luister nie en die juffrou wou nie te streng wees nie, want die kinders was tog op pad huis toe. Eindelik het Heloise en ’n ander kleintjie opgeklim en daar bo gespeel en gespring en skielik stoot Heloise toe die handsak uit. Sy het gesê dat dit per ongeluk gebeur het en sy was glo parmantig teenoor die juffrou wat alles gesien het.”
Meneer Malan lag.
“So ’n klein vabond!” sê hy.
“Dis nie die soort ding waaroor ’n mens lag nie! Is dit dan vir jou mooi dat die kind so jok? Die hoof sê sy weet goed hoekom Heloise die rapport weggegooi het. Dis omdat dit so swak was. Juffrou Van der Westhuizen sê sy word in die laaste tyd baie stout en lui in haar werk.”
“Dis lelik!” sê meneer Malan. “Waar is die kind? Ek het haar en Ruth nog nie vanoggend gesien nie.”
“Hulle is vroeg weg om die dag by ’n skoolvriendin deur te bring.”
Meneer Malan staan op; hy is reeds laat.
“Jy moet ’n bietjie ernstig met haar praat,” sê hy. “Ek sal ook. Hoe laat kom hulle huis toe?”
“Ek het gesê hulle moet halfses hier wees. Ek dink jy moet liewers jou asem spaar, want oor sulke stoutigheid help dit nie om te praat nie. Ek gaan haar ’n goeie pak gee.”
“Ag nee wat!” soebat meneer Malan. “Moet tog nie. Raas met haar en … en trek van haar sakgeld iets af, maar moet haar nie slaan nie.”
“Na dáárdie raad het ek lank geluister. En wat kom daarvan? As Jakoba elke vakansie oor haar swak rapporte ’n pak gekry het, sou sy vandag ’n ander mens gewees het. Nou is sy natuurlik te groot, maar dis nog nie te laat om van Heloise ’n fatsoenlike kind te maak nie. Ek maak haar nie groot om ander se briewe te steel en te lieg nie.”
Meneer Malan gaan baie hartseer uit na sy motor toe.
Teen sesuur, ’n halfuur laat, klim Ruth en Heloise uit die bus.
“Kom gou!” sê Ruth. Sy vat haar sussie se hand. “Ma sal raas. Ek wens Sara het ons vroeër laat gaan!”
“Breggie se ma sê nooit sy moet op een of ander tyd by die huis wees nie,” sê Heloise so in die hardloop. “Sy is nie soos Mammie nie. Sy is tevrede as sy net weet dat Breggie en Hannie veilig is.”
“Bly tog stil!” sê Ruth. Sy maak die hek oop en loop vinnig deur die tuin. “Daar wag ma al op die stoep.”
Die voordeur is oop en mevrou Malan staan buite.
“Julle is laat,” sê sy.
“Ja, Mammie, dit spyt my regtig. Sara het gesê –”
“Ek het gesê hoe laat ek julle verwag. Kom na die eetkamer. Ek wil met julle praat.”
’n Paar minute later staan haar dogters voor haar. Ruth se mooi gesig lyk verleë en sy draai haar swart vlegsel tussen haar vingers.
“Heloise,” sê haar ma, “dis ’n skande hoe jy lyk! Kyk hoe hang jou sokkies!”
Ruth probeer help.
“Dis omdat sy en Breggie Landsberg vriendinne is, Mammie. Breggie is baie slordig en Heloise het dit van haar geleer.”
Die kuiltjies verdwyn uit Heloise se bruin wangetjies.
“Heloise!”
“Ja … ja, Mammie?”
“Luister! En jy, Ruth, bly stil totdat ek jou vra om iets te sê. Ek het vanoggend ’n brief van jou hoof ontvang. Ek sal dit hardop lees.”
Heloise skuif van een vet beentjie na die ander en staar na die vloer terwyl haar ma die brief lees. Dis ’n benoude twee minute vir haar! Sy het gedink die saak van die rapport is vergete.
“Wil jy iets sê?” vra die streng stem. “Was dit per ongeluk dat jy die rapport verloor het?” Onder haar ma se oë kan Heloise nie jok nie.
“Ek … ek …” stotter sy.
“Het jy daarvan geweet, Ruth?”
“Ja, Mammie, maar ek dink regtig nie dit was Heloise se skuld nie. Dit was Breggie Landsberg se plan. Sy het eers verlede kwartaal skool toe gekom, maar sy is baie stout en dis sy wat Heloise verlei.”
“Dankie. En juffrou Van der Westhuizen skryf ook, Heloise, dat jy ’n deel van die skool aan die brand gesteek het.”
Ruth wil tog so graag help.
“Dit was weer Breggie, Mammie,” sê sy. “Sy het Heloise aangehits om rowers te speel en hulle het die tuinier, Snyman, in ’n huisie opgesluit en hulle het by die venster ’n vuur gemaak om hom te laat skrik, maar dit was nie so erg nie, want –”
“So! Dis nie erg om ’n man in die rook te laat verstik nie! Het ek jou nie gesê jy durf nie met vuurhoutjies speel nie, Heloise?”
“Ja, Mammie.”
“Ek wil ook weet hoekom jy van die skool af weggeloop het, soos die hoof skryf.”
Hierdie keer bly Ruth stil.
“Ons … ons het sommer na die sjokoladefabriek gegaan,” sê Heloise, “om lekkers te koop en toe het ons dadelik teruggegaan, en ek was siek. Breggie was nie, maar ek was en toe het Matrone ons uitgevra en ons moes haar vertel.”
“Maar dit was Breggie se voorstel,” sê Ruth.
Haar ma lyk werklik baie kwaad en Ruth wil iets sê om dinge reg te maak. Maar hierin slaag sy nie, want mevrou Malan maak haar stil.
“Stil! Hou op om jou verspot te maak, Ruth! Ek hoor dinge van Heloise wat my vir die kind se toekoms laat bewe en dan wil jy my kom vertel dis ’n ander kind se skuld dat sy haar nie kan gedra nie, terwyl juffrou Van der Westhuizen sê dis Jakoba se invloed wat haar so stout maak. Heloise, met jou praat ek nie meer nie. As ’n kind binne drie maande deur haar stoutigheid ’n man se lewe in gevaar stel en uit haar kosskool wegloop om in ’n vreemde dorp rond te dwaal, en een-en-twintigste in haar klas kom, en dan nog boonop haar moeder se briewe steel en daarby nog lieg en parmantig word, het die ouers van daardie kind net een plig. As jy jou deur ander laat verlei, moet jy leer dat jy tog straf kry vir wat jy doen. Ek gaan jou ’n goeie pak gee.”
“Ag nee, Mammie!”
“Stil! Gaan na jou kamer toe en wag daar tot ek kom.” Dit sal nie help om verder te praat nie. Dit weet Heloise goed. Baie hartseer gaan sy uit.
“En jy, Ruth,” sê mevrou Malan, “jy is prefek en die onderwyseresse sê jy is baie handig met die kleintjies, maar jou eie susters kan jy glad nie help nie! Nou ja, ek gee julle tot die einde van aanstaande kwartaal tyd en as ek dan weer dieselfde stories hoor, neem ek julle almal van Maasdorp weg. Jy kan by die huis studeer om aan die einde van die jaar matriek te skryf en dan gaan jy in jou pa se kantoor werk sonder om universiteit toe te gaan.”
“Maar, Mammie!” Ruth begin huil. “Dis tog nie my skuld as Kobie en Heloise stout is nie! Hulle wil nie vir my luister nie.”
“As jy ’n bietjie van Jakoba se karakter gehad het, sou jy haar gou genoeg laat luister het,” sê haar ma. “Jy is ouer en jy moet nou eenmaal wys dat jy iets werd is. Ek wil geen klagtes meer oor die kinders hoor nie, of julle kom almal huis toe. Verstaan jy?”
“Ja, Mammie.”
“Nou goed!”
Mevrou Malan loop na die deur.
“Ag, Mammie …”
“Ja?”
Ruth sluk.
“Sal Mammie nie vir Heloise nog ’n kans gee nie? Ek … ek sal regtig probeer dat sy haar beter gedra.”
“So? En hoeveel kanse het ek haar en Jakoba al gegee? Dit spyt my en dit maak my seer, maar dis my plig om haar te straf vir haar leuens en luiheid. As jy werklik so sleg voel daaroor, sal jy sorg dat dit nie weer gebeur nie.”
Sy gaan uit en maak die deur toe. Ruth gaan in ’n groot stoel sit en begin weer huil.
Dit is byna sewe-uur toe meneer Malan die sitkamer binnekom.
Sy vrou is by haar skryftafel besig en Ruth het ’n stuk naaldwerk. Nou en dan val ’n traan op die werk en ’n sakdoek word dikwels gebruik.
“En toe, skat!” sê meneer Malan. “Het jy ’n aangename dag gehad? Hoe het dit met die vergadering gegaan?”
“Goed dankie, Niklaas. Mevrou Wyers was siek, maar sy het haar dogter gestuur. Dit reën. Het jy nat geword?”
“Nee, nee. En Ruth? Hoe gaan dit met jou?” Meneer Malan wil graag vrolik wees. “Wat! Sien ek trane?”
Ruth draai haar gesig weg.
“Ek sou my nie verbaas nie,” sê haar ma. “Ek is baie ontevrede met haar. Sy het geen invloed op die kleintjies nie en verraai ’n swak persoonlikheid.”
Meneer Malan hoes senuweeagtig.
“Ja … nou ja … dis nie reg nie, Ruthie! Jy moet probeer om jou mammie te help. Sy het al swaar gewerk vir julle.”
Hy kyk sy vrou aan om te sien of hy sy plig gedoen het, maar sy hou aan met skryf.
Hy sukkel weer.
“En naderhand … naderhand as jy groot en selfstandig is, sal jy baie sterk moet wees en nou is dit natuurlik die tyd om jou daarvoor voor te berei.” Dit klink vir meneer Malan taamlik goed. “Nou ja,” sê hy, verleë oor die glimlag wat deur Ruth se trane breek. “En waar is Heloise?”
Mevrou Malan antwoord sonder om op te kyk.
“Ek het haar ’n pak gegee en bed toe gestuur.”
“Ag … ag so … ja, natuurlik!” Meneer Malan lyk ongelukkig. Hy probeer om te rook, maar sy oë gaan weer na sy vrou toe.
“Ek wonder,” sê hy ’n oomblik later, “of dit nie sal help as ek met die kleinding gaan praat nie? Ek sal haar berispe en sê dat dit regtig nie so kan aangaan nie. ’n Vader se woord moet tog … moet tog …”
“Ja, goed, Niklaas,” sê sy vrou.
Meneer Malan hardloop byna die kamer uit.
Heloise is seker die ongelukkigste meisietjie in Kaapstad. Een snik ná die ander kom onder die komberse uit. Vir haar pa is dit hartverskeurend. Hy gaan op die bed sit en sug diep.
’n Treurige en traanbesmeerde Heloise kom van onder die komberse te voorskyn.
“Ja, Pappie?”
“Ek hoor van jou ma dat jy baie stout was.”
Heloise se antwoord is om bitterlik te huil.
“Stil, meisie, stil tog! Daar is nou niks meer om oor te huil nie.”
Hiermee stem Heloise nie saam nie.
“Mammie het my geslaan!” snik sy.
“Ja …” Haar pa sluk. “En dis reg, as jy stout was. Nou sal jy dit nie weer doen nie. ’n Mens het partymaal ’n paar klappe nodig om jou weer op die regte pad te bring.” Heloise voel beledig.
“Mammie het my ’n pak gegee en …”
Die gedagte aan haar smart word te veel vir haar en sy huil asof haar hart wil breek.
“Toe, stil!” soebat meneer Malan. “Kyk, ek gaan vir jou geld gee. Hier is ’n nuwe noot. Is dit nie mooi nie?”
Die snikke hou ’n bietjie op.
“Ja … ja …”
“Ek sal dit in die hoek van jou laai bêre. Dis joune en jy kan daarmee maak wat jy wil.”
“Ag, dankie, Pappie!”
“Nou moet ek loop.” Meneer Malan onthou skielik sy plig. “Jy sal natuurlik nooit weer so stout wees nie, nè?”
“O nee, Pappie!”
Tien minute later ontvang sy weer besoek; dit is Ruth met haar aandete.
Die groot suster is vol meegevoel.
“Arme ou ding!” sê sy terwyl sy die tafeltjie by die bed regmaak. “Kom, moenie meer huil nie. Ek het vir jou twee appels gebring.”
“Jy kan maklik sê ‘moenie huil nie’ ” sê Heloise, nog snikkend. “Mammie het my geslaan!”
“Ag! Was dit baie erg?”
“Ja! Nog erger as wat Kobie gekry het toe sy deur die venster water op die Parlementslid gegooi het.”
Ruth het ’n sagte hart.
“Kyk, ek het geld oor van verlede kwartaal se sakgeld. Ek sal dit vir jou gee en nie eens vra wat jy daarmee maak nie.” Sy gaan na haar kas om haar beursie uit te haal.
“Ag, dankie, Ruthie! Sit dit … nee, nie in die laai nie! My beursie is op die kas.”
“So! Voel jy nou beter?”
“Ja. ’n Bietjie.”
“Dit spyt my regtig dat jy so deurgeloop het. Jy moet van nou af oppas!”
“Ja, ek sal regtig!”
’n Halfuur later kom mevrou Malan in. Heloise voel nou baie beter, maar toe sy haar ma sien, begin sy weer huil.
“Kom, dis nou genoeg,” sê mevrou Malan. “Ek het jou gestraf en dis klaar. Het jy genoeg geëet?”
“Ja, dankie, Mammie.”
“Goed. Nou sal ons die hele ding vergeet. As jy belowe om jou goed te gedra, sal ek jou ekstra sakgeld gee.”
“Dankie, Mammie.”
Heloise lê in die donker. Soveel geld! Sy wonder of dit nie die moeite werd was om ’n pak te kry nie. Nee, darem nie. Maar – Heloise begin nou aan die slaap raak – geld is geld!