Читать книгу Kobie regeer - Stella Blakemore - Страница 6

4

Оглавление

_____________

Breggie het besigheid

Juffrou Van der Westhuizen staan op die verhoog en kyk af op die see van jong gesigte in die groot saal.

Die eerste oggend van ’n kwartaal moet mens hulle altyd ’n bietjie langer as gewoonlik beskou met dié gedagte: Hoe sal dit hierdie kwartaal gaan? Sal alles goed afloop, sonder siekte of sonde?

Op die oomblik lyk die meisies gesond genoeg. Daar is tweehonderd of meer, en almal, van die grootste tot die kleinste, dra ’n donkerblou rok met swart kouse en swart haarlinte.

Voor staan die prefekte baie sedig en bedaard. Agter hulle staan die graadelf-meisies; goeie kinders, dink juffrou Van der Westhuizen, maar ’n bietjie sonder lewenslus. Met die graadtiens is dit anders, want in hul eerste ry staan ’n klompie meisies wat bekend is vir hul ondeundheid – Kobie, Elsabe, Tokkie Nel met haar rooi hare en opvlieënde geaardheid, Hannie Landsberg, Breggie se groot suster, Tienkie Duvenhage, ’n bietjie dromerig, Marie Dempers en Hilda Meintjies. Die maters van hierdie sewe het in graad nege agtergebly – Terrie, Bettie Botes en nog ’n paar wat vir die onderwyseresse ’n las was. Heel agter staan die kleintjies. Daar sien ’n mens in die eerste ry Heloise Malan se ernstige gesiggie en sagte bruin krulle, en Breggie met haar blou oë.

Ná die laaste lied gaan die meisies na hulle klaskamers toe. Juffrou Van der Westhuizen loop kantoor toe om haar pos oop te maak, voordat sy vir die matriekklas Engels gaan gee.

Maar sy sit skaars, toe aan die deur geklop word.

“Ja?” roep sy.

Breggie kom in, maak die deur versigtig toe en gaan voor die tafel staan. So vroeg in die oggend is sy nog skoon, net haar sokkies is al besig om af te skuif.

“Ja, Breggie?”

“Ek wil met Juffrou praat, asseblief.”

“Maar jy moet nou in jou klas wees. Kom sien my liewers na skool.”

Breggie bly staan.

“As ek klas toe gaan sonder om met Juffrou te praat, sal ek nie op my lesse kan kon … kon …”

“Konsentreer?” vra die hoof.

“Ja, Juffrou. Kon – … daardie woord wat Juffrou gesê het. Ek wil liewers nóú met Juffrou praat as Juffrou tyd het. Asseblief.”

Breggie is altyd beleefd en ’n bietjie styf. ’n Mens kry haar nie maklik sover om te lag nie. Vir haar is die lewe vol erns.

“Nou ja, as dit dan so moet wees! En wat gaan jy vir Juffrou sê?”

“Ek sal verskoning vra,” sê Breggie. Soos Kobie is sy nooit sonder ’n plan nie. “En as sy my tog wil straf, sal ek haar vra om my ’n stuk geskiedenis te gee om uit my kop te leer in plaas van uitskryfwerk, want met uitskryfwerk leer mens niks nie, maar as jy geskiedenis –”

“Ja,” onderbreek die hoof.

Sy het al geleer dat mens Breggie moet keer, want as sy ’n interessante tema het, kan sy ure aanhou praat.

“Nou goed, aangesien jy weet wat jy gaan doen. Wat wil jy dan van my hê?”

“Dis meneer Van Velde, Juffrou. Voor hy weggegaan het, het hy my gevra om iets te doen, maar hy het gesê ek moet eers met Juffrou praat, sodat ek niks kan doen wat verkeerd is nie, want hy is bang ek sal gestraf word. Ek is nie bang nie, maar hy is, en –”

“Ja, ja, meneer Van Velde is reg. Wat wil hy hê moet jy doen?”

“Dis sy weeshuis, Juffrou.”

“Watter weeshuis?”

“Dié waarvoor hy die geld gee, Juffrou. Hy het baie lank gelede daarmee begin, voor ek gebore is, sê hy, en daar is omtrent dertig kinders. Hy het gesê dat dit lekker sou wees as Juffrou party van ons soontoe sal laat gaan om met die kinders te speel – ek en Heloise en nog ’n paar – want hy sê hulle het nog nooit kinders soos ons ontmoet nie. Hy voel ’n bietjie sleg omdat hy self nooit daarheen gegaan het nie, maar tot nou toe het hy nooit iewers heen gegaan nie, net na Kaapstad vir sy besigheid, en –”

“Ja, ek weet.”

Almal in Maasdorp weet van die man wat jare lank stil en nors langs die skool gewoon het, totdat hy ’n kort rukkie tevore liefde en geluk gevind het.

“Maar waar is die weeshuis?”

“Dis hier in Maasdorp, maar ek weet nie waar dit is nie. Die naam is Marthaheim, want meneer Van Velde se dogtertjie wat dood is, was Martha, en –”

“Marthaheim! Ek ken die plek goed. Dis daardie kinders in die bruin rokkies wat julle elke Sondag in die kerk sien.”

“Dis baie lelike rokke, Juffrou.”

“Dis die beste wat hulle kan verwag. Dit kos baie geld om so ’n plek te onderhou. Dis wonderlik van meneer Van Velde om dit alleen te doen en nooit ’n woord daarvan te sê nie.”

“Bruin goed kos nie minder as roos of blou nie,” sê Breggie beslis. “En hulle hoef dit nie so lelik te maak nie, Juffrou,” voeg sy by. In haar opgewondenheid het sy byna haar goeie maniere vergeet.

Juffrou Van der Westhuizen glimlag. Breggie se ouderwetse manier van praat amuseer ’n mens.

“En meneer Van Velde wil hê ek moet party van julle soontoe stuur om met die kinders te speel? Hmm! Ek moet kyk … ek glo daar is ’n brief van hom by hierdie pakkie. Ek sal die hoof van die inrigting moet bel. Loop nou maar klas toe, Breggie, ons sal vanaand daaroor praat. Dankie dat jy my kom sê het.”

“Nie te danke nie, Juffrou.”

Die hoof lag en begin weer briewe lees.

Ja, daar is ’n brief van meneer Van Velde oor geldsake, want hy het die verband wat hy op die land en geboue gehad het aan die skool present gegee. Daar is ook ’n boodskap van sy vrou. Dan praat hy van Marthaheim. Sal juffrou Van der Westhuizen tog nie ’n paar van haar meisies stuur om daar te speel nie? Hy skaam hom dat hy al die jare nooit daarheen gegaan het nie. Hy het die afgelope tien jaar vir niks lus gehad nie, maar nou gaan dit anders wees. Sy vrou het baie planne vir Marthaheim.

Ek sal maar dadelik bel, dink juffrou Van der Westhuizen.

Na ’n paar minute antwoord ’n stem.

Ja, dis mevrou Combrink. Ja, sy het vanoggend ’n brief van meneer Van Velde gekry waarin hy haar van sy plan vertel. Sy dink nie dis ’n baie goeie plan nie. So ’n besoek sou die kinders net in hulle werk steur en wie weet hoe lank dit sou neem om die orde weer te herstel?

Juffrou Van der Westhuizen bly beleefd, maar sy het dadelik ’n afkeer van die eienares van die stem. Dis hard en koud en glad nie simpatiek nie. Arme weeskinders! dink die hoof.

Sy is self nie eintlik opgewonde oor die plan nie. Net soos mevrou Combrink is sy bang dit sal probleme veroorsaak. Maar die Maasdorpmeisies is almal kinders van ryk ouers, of ten minste van ouers wat hulle alles kan gee, en dit sou hulle miskien goed doen om te sien dat daar ander kinders in die wêreld is wat dit nie so breed het nie.

Een van die onderwyseresse kan saamgaan om te sorg dat Breggie en haar matertjies hulle goed gedra. Mevrou Combrink probeer hard om dit uit te stel, maar juffrou Van der Westhuizen meen dat die volgende Woensdag geskik sal wees. Sy sal twaalf van die kleintjies stuur, want die weeskinders is almal jonk. Hulle kan ’n uur daar bly.

Mevrou Combrink is te kwaad om te groet.

Vanaand gaan Breggie ’n bietjie later bed toe as gewoonlik. Die ander kleintjies is al uitgetrek toe sy van die kantoor kom.

“Wat het sy gesê?” vra Heloise.

“Sy sê dis goed; ons mag gaan, maar ons moet baie gehoorsaam wees aan juffrou Cillié. Sy gaan saam. Ons moet probeer om die kinders ’n bietjie op te beur.”

Heloise klim in die bed.

“Ek wonder of ons nie op pad daarheen lekkers kan koop nie,” sê sy.

“Hoe kom ons daar?” vra Breggie. “Ek ken die dorp nie goed nie.”

“By die kerk verby en dan links. Steyn se winkel is net daar en ek het baie geld.”

“Waar het jy dit gekry?” vra Breggie, wat nou in haar nagklere plat op haar rug lê en beenoefeninge doen.

“Ek het dit verdien,” sê Heloise effens kortaf.

“Julle moet oppas,” vermaan Lina Weber. “Die vorige keer toe julle lekkers gekoop het, het julle siek geword.”

Ruth kom in. Sy is die kleintjies se slaapkamerprefek. “Kom,” sê sy, “almal in die bed! Ek skakel nou die lig af. En onthou: as dit donker is, moet niemand praat nie. Anders verloor julle punte.”

Daar is dadelik ’n gebabbel.

“Ag, net ’n oomblik, Ruth!”

“Ek het nog nie my tande geborsel nie.”

“Ruth, mag ek gou eers vir Dollie iets sê?”

“Ruth, mag ek –”

“Nee, julle mag niks doen nie. Dadelik in die bed! En ek wil stilte hê. Toe, Breggie, het jy gehoor?”

Breggie laat die been wat sy opgehou het, val en kyk Ruth verwytend aan deur haar bos swart krulle.

“Ek is in die bed en ek praat nie. Ek weet nie hoekom die mense altyd met my wil lol nie. Ek oefen om my bene los te maak vir die dansles. Mens moet tog oefen, anders kan jy nie verwag –”

“Stil jy, dadelik!” lag Ruth. “Soos jy nou praat, sou mens dink jy is die prefek. Na halfnege oefen ons nie meer nie. Dis nou tyd om te rus, sodat jy môre sterk en fris kan wees.”

Sy trek die komberse oor Breggie en streel haar donker hare.

“Nag, Ruth,” sê Breggie, meteens baie klein en slaperig. ’n Rukkie lank is die kamer stil. Toe praat Naatjie Nel. “Ek is nog nie vaak nie.”

“Ek ook nie,” sê Miemie Skinner. “Dis so vroeg om bed toe te gaan!”

“Ons gaan nog tot in graad sewe so vroeg slaap,” sê Heloise. “En dis oor agtien maande eers. By die huis gaan ek baie later slaap.”

“Ek gaan eers slaap as Mammie en Pappie gaan slaap,” kom Breggie se stem. “Partymaal is dit elfuur.”

“Regtig?” sê Lina. “Hoe kry jy dit reg om so laat wakker te bly? My ma sou dit nie toelaat nie.”

“As hulle my wil wegstuur, huil ek,” sê Breggie eenvoudig. Die ander verstaan wat dit beteken. Hulle het al gehoor hoe Breggie huil om dinge na haar sin te kry.

“Breggie!” roep Heloise.

“Ja?”

“Oefen jy nog?”

“Ja.”

“Ek dág ek kon jou been sien. Wat maak jy nou?”

“Ek probeer om op my kop te staan.”

“Jy kan nie!”

“Nee, maar ek sal. Ek oefen dit.”

Heloise klim uit die bed.

“Ek kom probeer ook daar langs jou bed,” sê sy.

Dis nie so maklik om op jou kop te staan nie. Miskien het hulle meer geraas as wat hulle bedoel het. Baie van die kleintjies is nou ook besig met oefeninge.

Die deur gaan oop voor hulle dit merk, maar die persoon wat inkom, het nie die lig aangeskakel nie.

Sy loop stilletjies deur die kamer en gryp Heloise aan die skouer.

Heloise gil van die skrik.

“Bly stil, jou klein skorriemorrie.”

“Kobie!”

“Ja, Kobie,” sê die dreigende stem. “Klim jy dadelik in die bed. En stil, julle ander!” sê sy vir die kleintjies wat soos gewoonlik besig is om vir “net een soen” te soebat. “Heloise, jy onthou mos wat ek vir jou gesê het? Vyf rand vir elke oortreding.”

“M … maar …”

“Genoeg! Jy is uit die bed uit … Een. Jy praat nadat die lig af is … Twee. Jy speel en raas in die slaapkamer … Drie. Dis vyftien rand. Gee!”

Heloise begin huil.

“Ag, Kobie …”

“Stil! Waar is jou beursie?”

“Onder … onder my kussing.”

Kobie steek haar hand onder die kussing in en haal die beursie uit. Sy neem dit na die venster toe waar sy in die maanlig beter kan sien.

“Hemel! Wat ’n hoop geld! Waar kry jy dit? Jy het nie verjaar nie.”

“Dis … dis geld wat ek van Pappie gekry het omdat hy vir my jammer was en van Ruth. Mammie het my ook iets ekstra gegee.”

Arme Heloise snik bitterlik.

“O, so!” Kobie tel dit. “Goed dat ek daarvan weet. Nou kan jy nie sê jy het niks meer nie. Ek neem nou vyftien rand. Hier is jou beursie.”

Heloise se snikke word harder.

“Dis nie reg nie! Jy is gemeen! En … en wat gaan jy met die geld maak?”

“Ek gaan posseëls koop,” sê Kobie, “sodat ek vir ma ’n mooi lang brief kan skryf as jy nie vir my luister nie.”

Toe sy buite is, haal sy eindelik weer asem.

Dit is teen die regulasies om hierdie tyd van die aand in die kleintjies se kamer te wees en as iemand haar gevang het, sou sy gewis ’n strafkruisie gekry het. Sy wil hierdie kwartaal graag sonder enige strafpunte deurkom. As mens ’n ding wil doen, moet jy dit goed doen, is Kobie se mening.

Juffrou Muller kies hierdie oomblik om haar deur oop te maak.

“Wat maak jy hier?” vra sy. “Wou jy met my praat?”

“O, nee, Juffrou!” sê Kobie haastig. “Ons was in die studieklas en ek wou ’n sakdoek hê.” Sover is dit die waarheid. “En ek het Vera toestemming gevra om een te kom haal. Kyk, Juffrou! Hier is die sakdoek.”

Kobie hou dit met ’n glimlag van tevredenheid omhoog.

“Ja, ek sien. Sou dit nie beter wees as jy geglo kon word sonder om my die sakdoek te wys nie?”

“Ai, daardie Yskis van jou is ’n nare mens!” fluister Kobie vir Elsabe toe sy weer in die klaskamer is. “Sy lek haar lippe van genot af as sy jou onder die tong kan kry. En as sy sien dat daar g’n rede voor is nie, kry jy tog op jou kop! Elsabe, jy het vir jou ’n liewe, sagmoedige mens uitgesoek om oor te dweep!”

Elsabe, wat juffrou Muller baie liefhet, trek skewebek en skop Kobie onder die bank, maar met Vera se oog op hulle moet hulle alle verdere vyandelikhede uitstel tot later.

Kobie regeer

Подняться наверх