Читать книгу Kobie regeer - Stella Blakemore - Страница 4
2
Оглавление_____________
Skool
Vera de Korte steek haar vingers in haar ore en kyk hulpeloos in die eetkamer rond.
Dis net ’n gelag, ’n gepraat, ’n geklink van teekoppies – lawaai en nog lawaai, terwyl die tweehonderd meisies aan tafel sit.
“Hoërskool vir meisies!” sê Vera. “Dit klink eerder soos ’n Duitse biertuin. Natuurlik kom die meeste van die geraas van die graadtien-tafel.”
“Kyk!” lag Hattie Coetser. “Dis net die sewe nuwes wat die geraas maak. Die ander is vreeslik sedig. Hulle kan nie lug skep vandat Kobie en Tokkie en hul maats na graad tien oorgeplaas is nie. Hoe vinnig gaan die lewe verby! Aan die begin van die jaar was hulle vir ons nog maar kleintjies. Nou is hul in graad tien en as hulle baie gelukkig is, sal hulle oor twee jaar in matriek wees.”
“Dis treurig vir die skool dat hulle oor twee jaar prefekte mag word,” sê Freda Boreus. “Kan julle julle voorstel watter soort prefek Kobie sal wees?”
“Dis al sleg genoeg om te dink wat volgende jaar sal gebeur as ons almal weg is,” sê Matilda te Water. “Hierdie jaar se graadelf-meisies is maar treurig. Ek sien Kobie liewer as hoofmeisie as Bessie Bezuidenhout wat minder lewe het as ’n padda.”
Ruth sit langs Vera. Sy is vanaand baie mismoedig. “Julle sal Kobie nooit as hoofmeisie sien nie. In Maasdorp sal sy ook nie eens matriek haal nie – of daar moet ’n wonder gebeur.”
“Hoekom?” vra Vera.
“Ag,” Ruth lyk ongelukkig. “My ma wil ons wegneem omdat die kleintjies so stout is.”
“Ag, moenie jou laat bangmaak nie!” sê Vera. “Sy sal dit nooit doen nie. Dis tog beter vir haar om hulle hier te hou waar sy hulle stoutigheid nie kan sien nie. Kyk, ek dink almal is klaar. Ek sal die klokkie lui en dank.”
Dis vir Vera lekker om hoofmeisie te wees. Sy staan by die deur terwyl die meisies uitgaan en beskou hulle ingedagte. Wie sal aan die einde van die jaar haar plek inneem?
Kobie Malan stap verby. Haar pragtige gesiggie is rooi van plesier om weer by haar maats te wees, die bruin fluweeloë dans en skitter en die goue krulletjies dans ook. Kobie is byna vyftien, maar sy lyk minstens twee jaar jonger en is kleiner as enige ander meisie van haar ouderdom, maar sy is so mooi dat ’n mens jou aan haar kan verkyk.
Sy glimlag stralend vir Vera.
“Dag, Vera.”
“Dag, Kobie. Hoe gaan dit? Het jy lekker vakansie gehou?”
“Ja – mag! Dit was wonderlik! Ek –”
“Toemaar, die ander meisies kan nie verbykom terwyl jy daar staan nie. Jy kan my later alles vertel.”
Toe hulle eindelik buite is, kom Kobie se eie maats rondom haar staan.
“Kom ons gaan iewers sit,” sê Terrie. “Kom na die graadnege-kamer, Kobie. Ons sal miskien kan dans en jy moet nog van die vakansie vertel.”
Kobie kyk rond.
“Waar is Elsabe?” vra sy. “O, daar! Kom, haak in.”
Die ander meisies kom agterna. Daar is omtrent twaalf van hulle tussen veertien en sestien jaar, net die ouderdom waarop mens nie weet wat om met jou hande en voete te maak nie, maar hulle is darem mooi genoeg – selfs Terrie met haar sproete en Tokkie met haar vuurrooi hare.
“Kinders!” sê Kobie. “Luister! Ons moet hierdie kwartaal baie pret hê, want anders skrik ons wakker en sien dat ons al te oud is om die lewe te geniet. Ja, kleintjie? Wat makeer?”
’n Klein meisie staan baie verleë voor haar.
“Kobie, Ruth roep jou.”
“Ag! Sowaar? Weet sy dat dit geld kos om met my te praat? En my kantoor is net van nege tot vyf oop.”
Die meisietjie lyk baie ongelukkig.
“Nou hardloop en sê ek kom. Ek het Ruth nog nie gesien nie,” sê sy vir die ander. “Ek gaan net om dag te sê. Wag vir my in die klaskamer.”
Sy spring soos ’n wildsbok weg en storm die prefekte se sitkamer in.
“Dag, meisies!” sê sy vrolik. “En het julle die vakansie geniet?”
Haar stem en houding is ’n nabootsing van die hoof s’n en die prefekte kan hul lag nie hou nie.
Sy verander haar stem skielik om juffrou Muller se koue, sarkastiese toon na te boots.
“Julle lyk taamlik gesond. Dit verskaf my groot genot, want ek sal hierdie kwartaal swaar kry om meetkunde in die matriekklas se koppe te kry. Miskien sal julle my kan help. Hoepla!”
Sy spring bo-oor ’n bank en gaan staan voor Ruth.
“Ja!” sê Ruth bitter. “Ek weet goed hoe dit gaan wees. Jy lyk pragtig sedig en soet en lief, asof jy elke regulasie gaan nakom.”
Kobie se lag klink soos silwer klokkies.
“Wat! Lyk ek vir jou so? Dan het jy verkeerd gekyk. Hierdie kwartaal gaan ek so lekker kry – ag! Jy kan jou nie voorstel nie! Ek is klaar met probeer om soet te wees. Elke kwartaal maak ek my byna dood vir die eer van die skool …” Die groot meisies stik. “En wie waardeer dit? Niemand nie! Nou, soos ek tien minute gelede hier buite gesê het, sal ek een van die dae vyftien wees en voor dit gebeur, wil ek ook iets van die lewe hê. Hulle wil my nou eenmaal graad tien laat skryf. Goed! Dan moet hulle self sorg dat ek deurkom, want ek –”
“Hou op, jou klein babbelbek!” sê Ruth. “En luister ’n bietjie. Wag, kom ons gaan liewers uit. Ons wil nie die ander met ons sake lastig val nie.”
“Ons gee nie om nie,” sê Freda. “Praat maar, as Kobie jou ’n kans sal gee.”
“Nee, dankie.” Ruth staan op. “Kom, Kobie. Ons sal buite gaan op en af loop.”
“Maar dis te koud!” kla Kobie. “Dis mos winter! Wil jy hê ek moet my dood gaan soek?”
“Toe maar! As jy drie weke in die Bosveld onder die sterre geslaap het, sal dit jou nie doodmaak om hier in die tuin te loop nie. Nadat ek jou alles vertel het, sal jy die koue vergeet.”
“Dan gaan ek eers my jas haal. Ek moet aan my gesondheid dink.”
Kobie draf weg en toe sy terugkom, steek haar kop soos ’n blommetjie uit die groot woljas uit.
“Brrr! Dis koud! Vertel maar jou verskriklike nuus.”
Ruth antwoord nie dadelik nie.
Dis reeds donker en agter die twee meisies skyn die ligte van die skool se vensters – byna honderd ligte, en elkeen vertel van die jong lewe van Maasdorp se skool. Ruth onthou hoe sy agt jaar gelede op ’n aand soos hierdie die eerste keer saam met haar groot susters skool toe gekom het. Sy het aan Lulu se hand vasgehou en gewonder of sy ooit al die kamers en meisies sou leer ken. Sedert daardie aand het sy geleer om Maasdorp baie lief te kry en sy wil graag met eer hiervandaan weggaan.
Haar stem is ernstig toe sy praat.
“Kobie, luister ’n bietjie.”
Kobie se bruin oë lag.
“Mag, ou Ruth! Jy word so prefekagtig; mens ken jou byna nie meer nie. Wat makeer nou?”
“Dis ma. Sy is vreeslik kwaad.”
Kobie steun.
“Tog nie vir my nie! Verlede kwartaal was ek taamlik menslik! Almal het so gesê en Wessie het my ’n goeie rapport gegee. Daar was natuurlik die moeilikheid met die spook, maar –”
“Nee, dit was nie regtig jy nie, maar jy weet hoe dit gaan. As een verkeerd doen, kry almal. Dis Heloise. Sy het ’n swak rapport gekry en sy was bang om dit huis toe te bring …”
“En wie sal sê die vrees was onnodig?” vra Kobie dramaties.
“Nou ja, sy het die ding weggegooi …”
“’n Slim plan!”
“Luister tog! Wessie het geskryf en die hele ding uitgelap.”
Kobie gaan op die grond sit.
“O aarde! Bedoel jy ma weet dit en Heloise leef nog?”
“Staan op, jou esel! Jy sal koue vat. Ja, sy leef, maar dis ook al. Ma het haar ’n verskriklike pak gegee.”
“Wat!” Kobie staan stil. “Regtig? Ek het darem gedink dit sou die einde wees van pakke as mens eers op kosskool is. Was dit regtig ’n pak?”
“Vra maar vir Heloise. Ek het ma gesoebat om haar nog ’n kans te gee, maar nee! Toe ek nog wou praat, vat sy die platriem van die haak af en gaan die trap op. Ek het gedink die kind word vermoor.”
“Dit verbaas my nie,” sê Kobie met gevoel. “Ek ken daardie platriem! Nou ja, dis alles baie treurig, maar dis verby. Ek het Heloise nie goed bekyk nie, maar so op ’n afstand lyk sy taamlik gesond. Sy en Breggie vertel mekaar van die vakansie.”
“Dis glad nie klaar nie. Ma was so kwaad, sy sê dis alles my skuld.”
“Hoekom?”
“Omdat ek julle twee nie oppas nie. Sy sê sy neem ons almal aan die einde van die kwartaal hier weg as daar ’n slegte woord in julle rapporte is. Dan mag ek nie universiteit toe gaan nie en julle sal by die huis bly waar ma ’n oog oor julle kan hou.”
“Wat?” skree Kobie, elke krul penorent van skrik.
“Ja, dis waar.”
“Bedoel jy dat as ek of Heloise skeeftrap, jy weggeneem sal word? Dit lyk vir my maar snaaks.”
“Dis nie vir my snaaks nie!” sê Ruth byna snikkend. “Wat sal die ander sê – Vera en almal? Ons het altyd gesê ons gaan saam universiteit toe. Van graad vyf af het ons daarvan gepraat, en nou …”
Kobie sug asof die einde van die wêreld aangebreek het. “Ja!” sê sy. “En net toe ek die heerlikste kwartaal van my lewe wou hê. Net toe ek ’n wonderlike plan gemaak het – nee! Dis te wreed van ma! As ek nou die kleinste dingetjie doen, sal ek dink dat ek jou kans op geluk verwoes. En moenie glo …” Kobie se stem bewe by die gedagte aan haar eie sorge, “moenie glo dat ek iets kan doen sonder om betrap te word nie. Nou ja, dit help nie om te praat nie. Ons moet besluit wat ons te doen staan.”
“Hoe bedoel jy nou?” vra Ruth sonder belangstelling.
“Van jou en die universiteit, natuurlik, en ook van my en Heloise. Soos ek die ding beskou, is dit heeltemal eenvoudig. Heloise moet haar soos ’n engel gedra en ek ook. Daar het jy dit.”
“En jy noem dit eenvoudig!” spot Ruth met trane in haar oë. “Dis natuurlik ’n alledaagse ding dat jy en Heloise julle soos engeltjies gedra.”
“Dit gaan darem gebeur. Ek sal sorg dat Heloise in haar spoor trap.”
“So? Hoe gaan jy dit doen?”
“Laat dit maar aan my oor. Dis my saak. En ek? Ek sal maar vergeet hoe ek myself ’n lewe van plesier belowe het. Ek sal my soos ’n vrou uit die Bybel voordoen, sodat almal kan dink dat ek nie lank op hierdie sondige wêreld sal bly nie. Dit sal miskien nie te swaar wees as ek so hard werk dat ek vir niks anders tyd het nie. Maar ek moet tyd hê om my oog op Heloise te hou. Daar is nog ’n ander ding. Sê nou daar kom ’n tyd wanneer ek my nie meer kan inhou nie en ek gooi juffrou Muller, ons hooggewaardeerde Yskis, met ’n pen terwyl sy ons leer hoeveel boontjies vyf maak? Of sê nou Breggie hits vir Heloise aan om juffrou Viljoen se stoel onder haar weg te trek?”
“Moet tog nie van sulke vreeslike dinge praat nie!” soebat Ruth.
“Maar dis tog dinge wat kan gebeur. Daar is altyd so ’n moontlikheid. Jy moet jou teen die gevaar beskerm.”
“Hoe?”
“Jy moet iets doen sodat mammie jou vir niks op aarde sal wegneem nie – al sou Heloise of ek die skool afbrand.”
“O,” sê Ruth sarkasties. “En kan jy my miskien vertel wat ek behoort te doen?”
“Natuurlik. Ek praat nie van planne sonder om ’n plan te hê nie. Jy moet die Joubertbeurs wen.”
“W-wat!”
“Wat makeer nou? Wil jy sê jy verstaan nie? As jy die beurs wen om universiteit toe te gaan, sal ma te trots daarop wees om jou nie te stuur nie.”
“Is jy van jou verstand af? Ek sal dit nooit kan doen nie. Ons skryf oor twee maande eksamen daarvoor. Ek moet natuurlik skryf, want ma wil dit hê, maar almal weet Vera sal wen. Sy was nog altyd eerste in die klas en ek dikwels nie eens tweede nie.”
“Omdat sy altyd eerste was, wil dit nie sê sy moet so aanhou nie,” sê Kobie. “Die enigste moeilikheid met jou is dat jy nie genoeg probeer nie.”
Ruth is dronkgeslaan. Dat sy haar deur Kobie moet laat berispe – Kobie wat al haar onderwyseresse grys hare gee!
“Dis waar,” sê Kobie kalm. “Jy werk hard en jy’s gaaf, maar jy het nie genoeg deursettingsvermoë nie. As jy iets wil doen, sê jy: ‘Ag, ek sal maar probeer, maar ek weet ek kan dit nie doen nie.’ Dis nie die regte manier nie. Jy moet sê: ‘Ek wil en ek sal!’ Jy is tog ’n mens, net soos Vera, en jy het dieselfde boeke om uit te leer. As jy van nou af tot die Joubertbeurs-eksamen elke oomblik studeer en jou hele siel daarin sit, sal jy self skrik om te sien wat jy kan doen. As jy dink Vera is slimmer as jy, moet jy maar net harder leer as sy – dis al. En nog iets. Ek het niks teen Vera nie. Sy is ’n gawe meisie, maar daar is iets wat jou gaan help. Sy is ’n bietjie te seker van die beurs. Julle hou aan om vir haar te sê sy gaan dit wen tot sy dit self glo. Studeer jy nou maar dat jou kop so draai en sê niks nie, en ons sal sien! Maar elke dag as jy klas toe loop, as jy aan tafel sit, in jou bad – waar jy ook al is – moet jy net sê: ‘Ek is slim! Ek gaan wen. Ek wil en ek kan!’ Natuurlik help dit nie sonder werk nie.”
Ruth sluk ’n paar maal voordat sy weer haar stem kry.
“Magtig, Kobie! Waar het jy geleer om so te preek? Wat het oom Dawie jou in die Bosveld gegee om te eet?”
“Toe, spot maar!” sê Kobie. “Jy weet tog ek is reg en jy gaan die beurs wen, al moet ek van die oggend tot die aand agter jou staan. Ek gee nie om dat jy ouer as ek is nie. Dis tyd dat iemand hierdie gesin van ons begin beheer.”
Sy stap soos ’n soldaat met haar kop in die lug weg en laat haar suster alleen in die tuin staan.
Ruth gaan na die sitkamer terug en val op haar stoel neer.
“Ai!” sê sy.
“Wat makeer?” vra Vera, wat met haar boeke besig is.
“Niks! Behalwe dat ek van Kobie ’n berisping gekry het. Sy het my lelik sleggesê! Dis darem waar wat my ma sê. Kobie het karakter. Sy het altyd ’n plan en sy sorg dat sy dit uitvoer.”
Vera lag.
“Ek het altyd gesê daardie kind sal eendag hier hoof wees.”
“Ja,” sê Ruth, “as sy nie vir die galg grootword nie!”