Читать книгу Dit kos guts om te bly glo - Stephan Joubert - Страница 5
Doodgewone Christene kan hemel en aarde beweeg!
ОглавлениеDie gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.
JAKOBUS 5:16b-18
Geloof is inderdaad nie aldag ’n maklike saak nie. Partykeer moet jou geloof jou stroomop kan laat swem. Ander kere moet dit jou die onmoontlike laat vermag – berge laat verskuif, soos Jesus op ’n keer gesê het.
Miskien sal jy dadelik hierop reageer deur te sê: “Maar ek speel nie eintlik in daardie senior geloofsliga nie. Ek hou skaars kop bo water wat my eie verhouding met God betref. Hoe kan daar van my verwag word om die onmoontlike reg te kry?”
As jy so oor jou geloof voel, bevind jy jou in uitgelese geselskap. Baie mense van wie ons in die Bybel lees, het ook al ’n slag of wat so oor hulle geloof gevoel, soos jy nog sal sien. Maar ongelukkig los dit nie ons probleem op nie.
Dit is wel vertroostend om te weet dat ander mense soms ook sukkel om te glo. Maar hoe glo ’n mens dan nou rég? Hoe glo jy op so ’n manier dat selfs die berge begin rondskuif? Miskien lê die antwoord op hierdie soort vrae op ’n heel ander vlak. Kom ons kyk in Deel 1 na ’n paar vergete aspekte van geloof om duidelikheid op hierdie vrae te kry.
Die meeste van ons word groot met die gedagte dat daar mense met ’n ‘groot geloof’ en mense met ’n ‘klein geloof’ is: junior en senior Christene. Van kleins af hoor ons mos van oom So-en-so of tannie Sus-en-so wat sulke ‘diep gelowiges’ is.
Ek onthou hoe my oupa altyd vertel het dat hierdie ‘teer kinders van die Here’ sommer direk hemel toe gaan wanneer hulle die dag doodgaan. Natuurlik het hierdie opmerkings my jong gemoed ontstel. Dit het my baie aande benoud tot God laat bid dat ek asseblief ook direk hemel toe kon gaan soos al daardie ooms en tannies wat so opreg glo en al die lang gebede by die bidure bid. Diep in my hart het ek gevoel dat ek heeltemal te kort skiet, dat ek eers ’n paar draaie tussen hemel en aarde sou maak voordat ek daar aanland.
Desperaat het ek die Bybel aandagtig begin deurlees om agter te kom wie die ‘groot’ en ‘klein’ gelowiges in God se oë is.
Ek het tot my verbasing – en vreugde – vasgestel dat Hy glad nie sulke onderskeidings tussen sy kinders tref soos wat ons doen nie. Nee, al sy kinders is in sy oë gelyk. Hy het regtig nie witbroodjies nie. God het ons almal ewe veel lief, want sy Seun se bloed het immers ewe veel vir ons almal gevloei. Of jy nou deel van daardie halsstarrige groepie gelowiges in die gemeente in Korinte is wat Paulus soveel kopsere besorg het of behoort tot sy modelgemeente in Tessalonika, en of jy as Christen in Suid-Afrika leef, jy bly steeds een van die heiliges, ’n tempel van die Heilige Gees.
Alle Christene staan ewe naby aan God, net soos al die punte op ’n sirkel wat ewe naby aan die middelpunt is. Dit is net in die wêreld waar mense in rye wil staan en elkeen heel voor wil wees. Oud en jonk, gewone lidmaat en geestelike leier, is egter vir God ewe kosbaar.
“Nou maar wat op aarde het hierdie dinge met geloof te maak wat berge kan verskuif?” sou jy seker kon vra.
Wel, ten minste wil dit vir ons sê dat ons ’n slag reg oor ons eie geloof moet begin dink. Miskien hoor ons deesdae te veel van al die groot heldedade van ander Christene, sodat ons aan geestelike minderwaardigheidskomplekse begin ly. Later is dit ook net daardie Christene wat groot projekte vir die Here aanpak, oorsee gaan sendingwerk doen, kragtig getuig en ander wonderlike dinge doen (hoe dankbaar ’n mens ook al vir sulke mense se ywer en toewyding is) wat volgens ons eie maatstawwe die eintlike groot gelowiges is.
God sê egter dat ons almal in sy oë gelyk is. Jakobus het hierdie gedagte goed gesnap. Daarom skryf hy vir sy lesers in Jakobus 5:16-18 dat doodgewone gelowiges se gebed ’n groot uitwerking op God het. Dit verskuif soms nie net berge nie, maar laat die wolke selfs reën gee óf terughou. Hy verwys dan na Elia as voorbeeld: Elia was volgens Jakobus 5:17 ’n gewone mens, net soos ons. Maar sy gelowige gebed het die hemel se sluise drie en ’n half jaar lank agter slot gehou en dit later ook weer oopgesluit.
Jy kan gerus weer die verhaal van Elia lees as jy dalk dink dat Jakobus ’n fout gemaak het om hom as ’n ‘gewone gelowige’ te klassifiseer. Volgens 1 Konings 19 was Elia trouens so eg mens dat hy by geleentheid selfs onder ’n bos in die woestyn gaan lê en wens het hy was eerder dood. Tog het God hierdie einste man gebruik om hemel en aarde te beweeg – nie omdat hy in die senior geloofsliga gespeel het nie, maar juis omdat hy bereid was om God op sy woord te neem.
God gebruik doodgewone Christene in sy diens. Nie een van ons is vir Hom belangriker as ’n ander nie. Dit geld ook van jou. God kan en wil en sal jou ook doeltreffender gebruik as jy ’n slag ophou om so min van jou eie geloof te dink. Hy dink so baie van jou dat Hy jou sy eie kind noem. Hy het selfs sy eie Naam op jou voorkop geskryf en jou in sy hand opgetel om dit te bewys (Op 14:1; Joh 10:28-29). Gaan toets Hom daarom ’n slag met jou ‘gewone’ geloof.