Читать книгу Dit kos guts om te bly glo - Stephan Joubert - Страница 7

Op die hoofpad van geloof

Оглавление

Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.” “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra. Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

MARKUS 10:35-37

Mense is soms traag om geestelike lesse te leer! Vra maar Jesus se dissipels. Skaars het Hy vir hulle in Markus 9 geleer wat ware grootheid is of twee van hulle, Johannes en Jakobus, kom ’n dag of wat later na Hom toe met ’n vertroulike vraag. Soos stout kinders sê hulle Jesus moet eers belowe dat Hy vir hulle sal gee wat hulle wil hê voordat hulle sê wat hulle wil hê. Jesus laat Hom egter nie om die bos lei nie. “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” is sy troefkaart.

Die twee beste plekke in sy nuwe koninkryk was toe wat Johannes en Jakobus in die oog gehad het. Hulle wou dit sommer vroegtydig vir hulleself bespreek. Daarom dat hulle so stil-stil na Jesus toe gekom het voordat die ander dissipels dalk hierdie prima plekke voor hulle neus kon wegraap.

Jesus was verstom oor hierdie onbegrip aan die kant van sy volgelinge. “Julle weet nie wat julle vra nie,” het Hy gesê, en toe opnuut aan hulle verduidelik dat ware grootheid in God se ryk met dienslewering verband hou (Mark 10:43-45). In die koninkryk van God bestaan daar nie glorieryke posisies soos uitsoekplekke in die hemel of die voortdurende applous van die skare nie. Inteendeel! Die ‘grotes’ in die koninkryk is juis diegene wat hulle eie selfsugtige behoeftes opsy kan skuif, die oorpak aantrek en daadwerklik begin om ander te dien. Belangrikheid in God se oë het dus niks met die een of ander hoë status te maak nie, maar juis met die bereidheid om ander mense onbaatsugtig te dien.

Ons leef in ’n wêreld waar mense daarvan hou om baas te speel en oor ander te heers, maar tussen gelowiges mag dit nooit so wees nie. Hier leef gelowiges soos hulle Meester. Hier dien hulle mekaar en ander mense sonder bymotiewe.

Jesus is natuurlik die uitnemende voorbeeld van dienslewering. Hy het nie maar net sy boodskap van liefde vir sondaars van ’n veilige afstand uit die hemel na die aarde toe gesein nie. Nee, sy liefde vir sondaarmense het Hom gedwing om sy verhewe posisie in die hemel op te offer. Tydens sy aardse optrede was Jesus in woord en daad bereid om die lewensbrood met sondaars te kom breek. Hy het juis afgedraai na al die wanhopiges en uitgeworpenes langs die lewenspad om aan hulle ’n splinternuwe toekoms te bied.

Jesus se pad van selfverloëning is ook die hoofpad waarop gelowiges elke dag saam met Hom moet stap. Al die ander agendas is hieraan ondergeskik. Natuurlik kan ’n mens net bereid wees om jouself te verloën en ander te dien as die Here se liefde in jou hart is. Paulus sê trouens in 1 Korintiërs 13 dat hierdie liefde die heel grootste van al God se gawes aan sy volgelinge is. Dit is ’n onmisbare deel van elke gelowige se geestelike mondering. Jesus vertel in Matteus 25 dat Hy alle mense op die laaste dag juis gaan oordeel op grond van hulle liefde, of gebrek aan liefde, vir ander.

God se liefde maak jou blind vir menslike vooroordele. Dit laat jou nie eers vra: “Maar sal hierdie persoon darem dankbaar wees as ek aan hom of haar goed doen?” nie. Nee, sy liefde beweeg jou om onvoorwaardelik uit te reik na elkeen wat elke dag met jou paaie kruis, vriend of vyand. God se liefde is ook nie maar net die een of ander emosionele gevoel nie. Jy moet dus nie eers wag totdat jy ’n spesiale liefde vir ander voel voordat jy iets vir hulle begin doen nie. Nee, naasteliefde is iets wat jy as Christen elke dag doen sonder om daaroor na te dink. As deel van jou alledaagse Christelike roetine moet jy gewoon maar net brood na die hongeriges toe aandra waar jy hulle ook al raakloop, tyd maak om die siekes te ondersteun, die eensames besoek, hoop aan die mismoediges uitdra en vir die verlorenes bid.

Dit help nie om die kerkbanke van die oggend tot die aand warm te sit, al wat geestelike byeenkoms is by te woon en net heeltyd lekker kerk te hou nie. Natuurlik is hierdie sake noodsaaklik, maar dit is slegs jou geestelike wegspringblokke. Eers wanneer jy deur die loop van die week in die lewenswedloop begin hardloop, word dit duidelik of jy een van die ‘groot’ gelowiges is wat bereid is om God en ander mense met woord en daad te dien.

God stel nie in ’n flambojante Christendom belang wat in wêreldse terme ’n ‘treffer’ is nie. Nee, Hy is op soek na gewone mense wat Hom op sy woord wil neem. Hy is op soek na Christene wat nie meer gepla is oor hulle eie aardse koninkrykies nie, maar hulle voete onherroeplik op die hoofpad van sy koninkryk plaas.

Is jy bereid om God te toets deur as ‘gewone’ gelowige die belangrikste dinge vir Hom te begin doen? Sal jy van nou af sensitiewer wees vir die nood van ander mense rondom jou, selfs al is hulle jou aartsvyande? Sal jy dit ’n slag waag om die veilige ruimte van jou geestelike kokon te verlaat om iets vir die bloeiende, sterwende wêreld rondom jou te begin beteken? God se hoofpad van geloof loop elke dag kruis en dwars oor ander mense se lewenspad. By elke kruising sal jy ten minste ’n toegee- of ’n stopteken aantref. Jou geloof moet jou laat stilhou en help, waar nodig. Dan sal jy daartoe bydra dat God se hoofpad behoorlik paaie kruis met ’n paar stukkende, honger en gevalle mense langs die lewenspad.

Weet jy, op die pad van dienslewering sal jy ook die stem van Christus die heel duidelikste hoor, want dit is hier waar Hy Hom veral bevind.

Dit kos guts om te bly glo

Подняться наверх