Читать книгу Dit kos guts om te bly glo - Stephan Joubert - Страница 6

Wanneer jy jou kroon vir ’n overall inruil

Оглавление

Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?” Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”

MARKUS 9:33-35

Jy hoef nie ’n spesiale soort Christen te wees voordat jy iets vir God kan beteken nie. Nee, jy moet maar net ’n gelowige wees wat Hom elke dag op sy woord neem. Dit is al wat saak maak. Ons het mos reeds gesien dat daar nie ’n rangorde van gelowiges in God se oë bestaan nie. Maar miskien moet ons nog ’n slag oor hierdie stelling nadink. Jesus het tog ’n paar belangrike dinge oor ware grootheid in sy Vader se koninkryk te sê gehad waarvan ons behoorlik moet kennis neem.

In Markus 9 lees ons dat Jesus se dissipels op ’n dag met mekaar gepraat het oor wie die belangrikste in die koninkryk van God was. Miskien het hulle in die stilligheid gehoop dat hulle name ook op hierdie ‘ranglys’, die toptien in die koninkryk, sou verskyn. Maar Jesus het die wind heeltemal uit hulle seile gehaal met sy opmerking dat die eintlike gróót persone in sy koninkryk diegene is wat dit self nie eens weet nie.

Dit is toe nie Moses, Elia, Johannes die Doper of een van die 12 dissipels wat met die louere wegstap nie. Nee, dit is juis diegene wat soos kindertjies in God glo. Dit is gelowiges wat hulle naaste sonder voorbehoud dien en nie heeltyd telling hou van alles wat hulle vir God en ander mense doen nie, wat regtig groot is in sy oë. Hiermee bedoel Jesus natuurlik nie dat laasgenoemde ’n hoër status as ander gelowiges in God se oë het nie. Nee, Hy wil net hiermee sê dat die rolle in sy koninkryk heeltemal omgeruil is. Werklik bruikbare gelowiges vir God is hulle wat soos kindertjies op Hom vertrou en terselfdertyd die mense rondom hulle se nood raaksien.

’n Mens mag nooit jou wêreldse opvattings oor belangrikheid en sukses in die kerk indra nie. God stel ten eerste nie belang in al wat geestelike suksesverhaal is nie, maar eerder in gelowiges wat hulle selfgemaakte krone van selfsug, eie eer en magsbeheptheid ingeruil het vir oorpakke. Diegene wat van die oggend tot die aand loop en praat oor al die groot dinge wat hulle vir die Here doen en al die visioene wat hulle kwansuis ontvang, beïndruk miskien ander mense maar nie noodwendig vir God nie. Hy raak eerder opgewonde oor daardie mense wie se linkerhand nie eens weet wat hulle regterhand doen nie, oor hulle wat in die stilligheid aan ander goed doen om sy Naam daardeur te verheerlik. Christene wat geleer het om hulle eie belange tweede te stel, is regtig vir God bruikbaar.

Dis egter nie maklik om van jou troon te abdikeer nie. Om jou aardse koninkrykie in te ruil vir God se koninkryk vra geweldig baie. Dit vra jou hele lewe. Dit vra onder meer dat jy sal ophou om die kollig op jouself te laat val en dit eerder volledig na God toe sal verskuif, waar dit in elk geval hoort. Dit vra dat jy uit jou gemakstoel sal opstaan om ’n slag regtig vir die Here te begin leef. Dit vra ook dat jy sal ophou om te dink dat die kerk in jou diens is omdat jy mos jou maandelikse ‘ledegeld’ betaal. Die kerk bestaan uit gans te veel konings en koninginne, uit mense wat net van die oggend tot die aand gedien en bedien wil word.

Daar is ongelukkig baie mense wat tevrede is as dinge in die kerk gaan soos wat hulle dit graag wil hê. Wanneer hulle nie gereeld op die skouer geklop word vir alles wat hulle vir die kerk doen nie, is hulle op die plek omgekrap. Sommige van hulle gaan soek selfs vir hulle ’n ander kerk wat meer by hulle eie (selfsugtige?) behoeftes pas.

Godsdiens het vir baie mense ’n egosentriese aangeleentheid geword. Onder die dekmantel van ’n hele rits vroom clichés word baie selfsugtige sondes ooglopend geduld. En dit is net die kerk se eie skuld. Want ons het toegelaat dat nuwe definisies van vroomheid onder Christene posvat wat nie aldag met die Bybel strook nie.

Jesus kom wys egter opnuut vir ons selfgesentreerde Christendom wat ware grootheid is. Dit hou vir Hom verband met gelowiges wat diensknegte geword het, met mense wat hulleself vergeet het ter wille van sy Vader se ryk. Hy was ook bereid om sy hemelse kroon en die aanbidding van die engele in te ruil vir ’n stal, ’n kruis en ’n graf. Hoe kan ons dan nou enigsins anders as ons Meester wil gaan lewe?

Jesus nooi ons dringend uit om Hom te kom toets. Hy wil hê ons moet dit waag om ons lewe regtig in sy hande te plaas. Hy vra ons mensgemaakte koningskrone en die grondgebied van ons hart heeltemal vir Homself.

Sal jy hierdie uitnodiging ernstig oorweeg? Sal jy bereid wees om uit die wêreld se kollig te tree en so te gaan leef dat jou woorde, dade en gedagtes al die lig op Christus laat val? As jy bereid is om dit te doen, het jy regtig die geheim van sy koninkryk ontdek. En dan het jy ook sommer ’n reusetree op die pad na geestelike groei gegee.

Dit kos guts om te bly glo

Подняться наверх