Читать книгу Liefde onder die sterre - Susan Pienaar - Страница 5

3

Оглавление

Lisa staan stil toe Maja versigtig aan haar kom ruik en ’n nat neus teen haar been druk. Nou wil sy net in die huis kom en gaan sit. Die dag was lank! Nico stap agter haar met die breë stoeptrappe op.

Sy stap by ’n groot woonkamer in. Die pragtige heuningkleurige plankvloer val haar dadelik op en sy ruik laventel. Daar is kosbare ou meubels, gemaklike rusbanke, ’n groot TV en ’n Persiese mat op die vloer. Lisa is beïndruk, en nog meer toe hulle in ’n breë gang afstap en sy ’n groot moderne kombuis links van haar sien. Maar waar is Tillie dan?

“Hier’s jou kamer,” beduie Nico. “Die een daar aan die onderpunt van die gang is my en Tillie s’n.”

Dis ’n groot huis. Vier ruim slaapkamers. Haar kamer het ’n en suite-badkamer, ’n dubbelbed en ’n spieëlkas, met wit ingeboude kaste. Hier is aangebou, die huis is beslis gemoderniseer.

Nico sit haar pakkasie langs die bed op ’n matjie neer. “Maak jou tuis en sê as jy iets nodig het.”

Sy knik. “Dankie, ek maak so.”

“Wat sal jy drink? Sap? Tee?”

“Sap sal heerlik wees, dankie.”

“Ek sal dat Truitjie bring.”

“Haai, hier is ek!” roep Tillie. Lisa volg haar stem.

Die eerste indruk wat die hoofslaapkamer by haar skep, is van ruimte en lig. Op ’n yslike groot bed sit Tillie, geklee in ’n blou satynkortbroekie en toppie. Haar kort, blonde hare blink en haar blou oë glinster soos altyd.

Lisa stap nader. “Hallo, jong! Hier bekommer ek my morsdood oor jou en jy lyk so vars en uitgerus.”

Tillie strek haar arms uit. “Uiteindelik! Ek dog jy kom nooit hier uit nie.”

Lisa gee haar ’n drukkie. “Dis daai Kallie se skuld dat ek laat is.” Sy gaan sit op die bed en glimlag. “Jy lyk soos altyd. Ek het verwag jy gaan bleek en sieklik lyk.”

“Ek’s fine,” en Tillie vryf liefdevol oor haar plat magie, “maar ek bekommer my oor my ou babatjie.”

Wat ’n gedagte. ’n Nuwe lewetjie is besig om binne Tillie te groei! Ongelooflik. “Wat sê die dokter, wanneer sal die bloeiery stop?”

“Hy kan nie sê nie. In sommige gevalle ná ’n paar dae. Andersins tot twaalf weke! En ek kan enige tyd skielik erg begin bloei … en die baba verloor.”

Lisa glimlag opgewek toe sy Tillie se lip sien bewe. “Nou ja, kom ons vertrou joune hou ná ’n paar dae op.” Sy skop haar skoene uit en maak haar gemaklik op die bed. “Wanneer sien jy weer die ginekoloog?”

“Oor ses dae, en ek hoop regtig die bloed is dan iets van die verlede.”

“Vat Nico jou?”

“Nee, soos die vorige kere vlieg Kallie ons Kaapstad toe.”

“Kan ek inkom? Is julle decent?” roep Nico.

“Moenie met jou sights begin nie,” giggel Tillie. “Mý sal jy nog bedags kaal kry, maar Lisa nooit nie.”

Nico kom in en soen Tillie hallo. “Ek los julle om te gesels. Ek het werk wat wag.”

Tillie lê agteroor teen die kussings. “En toe? Wat dink jy van hom?”

Sy weet dadelik van wie Tillie eintlik praat, maar hou haar dom. “Nico is ’n bitter gawe ou. As jy nie oppas nie, vat ek hom by jou af.”

Tillie lag borrelend. “Ag, toe nou, jy weet ek praat van Kallie. Is hy nie gorgeous nie?”

Lisa frommel haar neus op. “Ek het nie juis opgelet nie.”

“Come on, girl. Jy’s nie meer verloof nie. En Dewald in al sy glorie is nie ’n patch teen Kallie nie.”

’n Skraal vrou kom hou ’n skinkbord vir Lisa. “Ek het somme vi twie gegoi.”

Lisa neem ’n glas. “Dankie, dit gaan lekker wees.”

“Lisa, dis Truitjie, ons huishoudster,” sê Tillie.

“Hallo, Truitjie,” glimlag Lisa.

Truitjie sit Tillie se glas op die bedkassie neer en knik vriendelik voor sy uitstap.

“Praat al die werkers hier soos sy?” wil Lisa weet.

“Net party, hang af of hulle hier gebore is. Emma – Kallie se huishoudster op Arendsfontein – praat anders.”

Lisa vat ’n paar slukkies. So dan is Emma die huishoudster, nie Kallie se meisie nie. En Nadia dan?

Tillie kyk stip na Lisa. “Ek wéét jy moet gesien het hoe ’n hunk Kallie is.”

Sy kan dit netsowel oor kry. “Hy is seker aantreklik, maar ek stel nie in die minste in hom belang nie.”

Ongeërg kyk Lisa in die kamer rond. Op die pragtige houtvloer lê twee roomkleurige matte. Die koningsgrootte bed lyk na die enigste nuwe toevoeging in die vertrek. Die roomkleur gordyne lyk baie duur, nuut ook. “Het die gordyne maar hier gehang toe julle getroud is?”

Tillie skud haar kop. “Nee, ek het dit gemaak. Mooi, nè? Dis brokaat. Vir next to nothing in Kaapstad gekoop. Daar’s regtig moewiese bargains, as jy weet waar die plekke is. Gelukkig was die paar lelike plekkies aan die kante, ek kon dit afknip. Die lining was ’n bietjie duurder.”

“Dit lyk asof dit duisende rande gekos het,” sê Lisa en dink: nog dieselfde ou Tillie, draai steeds sente om asof hulle nog twee studente met bloedweinig geld is. Hulle was nog altyd albei lief vir naaldwerk. Op Tukkies het hulle vir niemand teruggestaan wat klere betref nie. Lisa het die ontwerpe gedoen en Tillie het help knip en stik. Als met winskooplap.

Tillie tik met ’n toon teen haar been. “Haai, het ek jou al van Nadia vertel?”

“Nee, wie ís sy?”

“Dis nou Kallie se vierjarige dogtertjie.”

“Dan wás Kallie getroud?”

“Nee. Christa – Nadia se ma – het vyf jaar gelede vir ’n paar weke op Arendsfontein gekuier. Nico sê Christa het nie ’n vaste werk gehad nie, en sy en Kallie het glo vreeslik baklei, toe vat Kallie haar terug Kaapstad toe.”

Lisa is teen haar sin nuuskierig. “Hoekom bly Nadia nie by haar ma nie?”

“Christa het die pasgebore babatjie vir Kallie gegee.”

Sjoe. Lisa wil nie uitvra nie. “Gaan ons die kleintjie baie sien?”

“Jip. Sy is deesdae meer hier by ons op Rooiklip as op Arendsfontein.”

“Hoekom?”

“Kanna – die vrou wat Kallie gehelp het om Nadia groot te maak – is twee maande gelede dood. Nadia treur nog, bedags hou ek liewer ’n ogie oor haar.”

Die arme kind. “Dis vreeslik om oor ouers te rou. Gelukkig was jy en Talien my tweede familie. Nadia het nou vir jou.”

“Ek mis Talien steeds.”

“Ek ook,” knik Lisa. “Is daar dan niemand anders by wie Nadia kan bly nie?”

“Soms bly sy ’n dag lank by Emma, maar sy verkies dit hier by my.”

Lisa kan nie help nie, sy is nou eenmaal nuuskierig. “Waar bly Kallie se ouers?”

“Albei is al dood. Hulle was nie meer jonk toe Kallie gebore is nie.” Tillie kyk op haar horlosie, sien haar sap raak en drink ’n paar slukke. “Truitjie gaan nou enige tyd ons kos bring.”

“Dankie tog, ek’s vreeslik honger.” Lisa vlieg van die bed af. “Ek gaan gou gemaklik aantrek.”

In haar slaapkamer gaan staan Lisa voor die venster. Sy het gisteraand voor sy in die bed geklim het gou die Karoo gegoogle. Dis maklik om boesmangras uit te ken, maar nie die verskillende soorte bossies nie. Vaal, lelike wêreld …

Die geklingel van breekgoed in die gang laat haar wakker skrik en sy rits gou haar tas oop. Sy trek ’n kortbroek en hempie aan, gaan was haar hande en gesig en stap terug na Tillie toe.

Tillie sit met ’n skinkbord op haar skoot en beduie na ’n opdienwaentjie. “Skep vir jou.”

“Dit lyk heerlik.” Lisa skep groente en slaai in, gaan sit dan kruisbeen met haar bord op haar bene. Die pampoen smaak na botterkaramel. Sy gaan vet word hier as sy nie oppas nie.

“Het jy en Kallie gesels?” vra Tillie.

“Nee. Ek was naar, toe los hy my maar om in vrede dood te gaan.”

“Ag, jy speel. Kallie is ’n gawe ou. Hy’t seker nie besef jy voel sleg nie.”

“Ek word lankal nie meer karsiek nie, maar genade, ek het nie geweet ’n mens kan so erg naar word in ’n klein vliegtuigie nie.”

“Shame, ek sal jou van my pilletjies gee as jy teruggaan. Gelukkig is ek nie meer soggens so mislik nie.”

Lisa eet ’n happie groenbone, beduie dan met haar ken na waar ’n klein matrassie eenkant teen ’n muur staan. “Maak julle al kindergoed bymekaar?”

“Nee, dis Nadia se matras. Soms bel Kallie om te sê hy sal haar die aand eers kan kom haal. Wanneer dit te laat word, slaap sy by ons oor.”

“Wat doen Kallie dan dat sy kind hier moet oorslaap?”

“Hy’s ’n veearts, jinne, ek dog hy sou jou vertel het! Hy word enige tyd uitgeroep. Boonop is dit nou die besigste tyd van die jaar. Eers skeertyd en nou begin die ooie lam. Kallie het nie tyd om hom te draai nie.”

“O?” Lisa vroetel lusteloos met haar kos terwyl Tillie verder voortborduur. Kallie is duidelik ’n flukse man met deursettingsvermoë, en dodelik aantreklik daarby. Maar hy bly ’n ongeskikte buffel wat met olifantvoete op haar menswaardigheid getrap het. G’n wonder Kallie en Christa het baklei nie. Sy het natuurlik nie toegelaat dat Kallie op haar kop sit nie, dís wat. Tillie praat iets oor vliegtuie, besef Lisa, sy moet aandag gee.

“Nico sê Kallie het op twaalf sy eerste solovlug met sy pa se vliegtuig gedoen.” En toe Lisa se oë rek: “Darem net hier op die plase, nè.”

Lisa prop ’n stuk aartappel in haar mond toe Tillie vol afwagting na haar kyk. “Goeie genugtig, maar dis jonk,” mompel sy by die kos in haar kies verby.

“Nico en Kallie se pa was mos broers, maar net Kallie se pa het gevlieg. Ek dink Kallie was so agttien toe’t hy eksamens geskryf en alles. En toe hy by Onderstepoort vir veearts geswot het, het hy sommer sy kommersiële lisensie gekry. Jy weet? Dit beteken hy kan passasiers vervoer.”

Lisa sien waarheen hierdie gesprek neig. Dit sal nie die eerste keer wees dat Tillie vir haar ’n kêrel soek nie.

“Moenie my onder Kallie se prestasies toegooi in die hoop dat ek –”

“Nooit,” val Tillie haar in die rede. “Ek gesels sommer, ek was so uitgehonger vir geselskap.”

Lisa pak die vuil borde op die dienswaentjie en sien hoe Tillie haar arms onvergenoegd vou. Was sy nou te skerp met haar vriendin? En sy’t nog nie eens regtig gekla oor Kallie se optrede nie! Dalk moet sy dit liewer los en dankbaar wees dat sy gehaal is.

“Laat ek net eers gou my tas gaan uitpak, dan gesels ons verder. Ek beplan om so vier weke te kuier, as dit oukei is met julle?”

“Dis great!” jubel Tillie. “Jislaaik, hoekom vertel jy my nóú eers? So lekker lank! Wag tot Nico dit hoor.”

Lisa gaan los die dienswaentjie in die kombuis en gaan hang haar klere op. Toe sy tevrede is dat al haar goedjies ’n plekkie gekry het, besluit sy sy wil kyk wat op die werf aangaan.

Rondom die huis is daar sementstroke. Sy wil daarop loop, nie op die grond nie, want sy is kaalvoet. Maar “Eina!” gil sy toe haar voetsole voel of hulle aan die sement gaan vassmelt. Sy spring blitsig van die strook af en voel hoe naalde in haar voete steek.

Duwweltjies! Haar voete sit heeltemal vol duwweltjies. Sy kan ook nie sit om dit uit te trek nie, want dan steek die goed in haar agterstewe in. Sy balanseer op een been, lig een voet en begin die duwweltjies een vir een uittrek. Sy het al vergeet hoe die goed kan brand. Haar voete het sag geword in die stad, dit bloei selfs effens. Sy kyk fyn na die grond voordat sy versigtig haar voete een vir een neersit, en klim dan dankbaar teen die skadukant van die trappe op na die stoep.

Lisa sit op die badrand met haar voete in water en vee met ’n koue nat lap oor haar natgeswete gesig toe Truitjie inkom.

“Juffrou Tillie roep virrie juffrou. Ek het tie virrie twie va julle gemaak, dis innie kamer.”

“Dankie, Truitjie. Ek kom.”

Tillie laat haar bababoek sak toe Lisa binnekom. “Vat dit jou toe só lank om uit te pak?”

“Nee, man. Ek was buite ook.” Lisa tel haar sandale langs die bed op en glip hulle aan. “Hoekom haal niemand die vervlakste duwweltjies om die huis uit nie?”

“Shame, het jy daarin getrap? Ek sal vir Nico sê, maar ons voete is seker meer gehard.”

Lisa gaan sit op die bed met haar tee. “Hoekom plant julle nie ’n paar blomme of struike nie?”

“Nooit! Water is te kosbaar vir sulke goed, die diere het dit nodig.”

“Is daar ’n tuin op Kallie se plaas?”

“Groentetuin, ja,” knik Tillie, “nie blomme nie. Kallie se plaas lê nader aan die rivier, so hy het bietjie meer water as ons.” Tillie staan op. “Ek moet gaan piepie, en ek wil loer … jy weet?”

Dis al skemer toe Kallie met Nadia opdaag. Lisa sit langs Tillie op die bed toe hy met die kind in sy arms binnekom.

“Hallo, en hoe gaan dit hier?” Kallie se blik gly rakelings oor Lisa, kom dan vraend op Tillie tot rus.

“Haai, Kallie! Great noudat Lisa hier is. Ons gesels ’n hond uit ’n bos.”

Die blondekop Nadia wriemel haar uit Kallie se arms uit en klim-val na Tillie toe. Lisa hou haar gesig weggedraai van hom, maar sy bly sterk bewus van Kallie. Hy staan veels te naby aan haar.

Tillie lig Nadia se ken. “Ek het jou mos vertel van my maatjie wat soos my eie sussie is?” En toe Nadia skaam knik: “Lisa gaan lank by ons twee kuier.”

Lisa skud aan ’n voetjie. “Hallo, Nadia.” Nadia knik net vinnig en skuif nog nader aan Tillie.

“Kom julle, die kos is reg.” Nico kom opgewek die kamer binne. Hy mik om Tillie op te tel, maar gryp Nadia eers en gooi haar ’n paar keer in die lug terwyl sy opgewonde gil. Hy gooi haar dan sagkens vir Kallie en buk om Tillie op te tel.

Lisa stap haastig voor die ander uit eetkamer toe. Sy moet haarself bietjie onder hande neem! Hoekom is Kallie tog vir haar so sexy met die kind in sy arms? Was sy dalk … effens jaloers? Omdat sy nie kan onthou dat haar pa haar ooit so vasgehou het nie? Nee, sy soek nie ’n pa se liefde nie, glad nie, maar net vir ’n waansinnige oomblik, moet sy erken, wou sý die een in Kallie se arms gewees het. Dis mos nou verspot! Sy moet haar op die daad regruk.

Aan tafel gesels Nico en Tillie gelukkig vrolik, en Lisa kan haar slaai en vrugte geniet terwyl sy meestal net luister – en probeer om nie na Kallie te kyk nie. Sy sien Nadia bekyk haar met groot, nuuskierige groen oë, en sy glimlag vir haar. Die kind reageer nie.

“Hoekom so stil, Lisa?” vra Nico.

“Ek luister maar na julle.”

“Ek’s baie bly om te hoor jy kuier ’n volle maand. My vroutjie was die afgelope tyd kwaai eensaam. Maar ek hoop jou winkels gaan nie in jou afwesigheid swaarkry nie?”

“Nee wat, my personeel cope altyd goed.” Uit die hoek van haar oog sien Lisa Kallie hou haar geïnteresseerd dop. “Ek moet darem ook verlof vat. My skootrekenaar is hier, ek doen nog altyd die boeke en bly per e-pos in verbinding.”

Nico knik. “En as iets drasties verkeerd gaan?”

“Dan sal ek heen en weer vlieg.”

Tillie glimlag en druk Nico se hand. “Nou kan Nico ophou bekommer oor my en sy werk gedoen kry.”

Toe hulle klaar geëet het, tel Nico Tillie in sy arms op. “Tyd vir jou om in die bed te kom.”

Lisa spring op – sy wil nie alleen by Kallie agterbly nie. “Wag, ek sal vir Tillie help.”

“Tillie bad soggens,” skud Nico sy kop. “Hierdie is kinderspeletjies …”

“Dis nog vroeg, gaan kuier jy en Kallie in die sitkamer,” sê Tillie vinnig. “Nico gaan nie gou terug wees nie. Nag, Kallie.”

Wat kan Lisa nou doen! Sy kan Kallie nie alleen los nie, dit sal so ongeskik wees. Sy gaan maar onwillig sitkamer toe.

Kallie lê die half-aan-die-slaap Nadia op ’n bank neer en kom sit oorkant Lisa op ’n gemakstoel. Dis vir haar glashelder wat Tillie en Nico pas gedoen het, en Kallie besef dit baie duidelik ook, sien sy aan sy geamuseerde uitdrukking.

Lisa lag verleë. “Ek kry die indruk Nico en Tillie probeer Kupido speel.”

Hy grinnik. “En is daar iemand wat sal omgee indien dit sou werk?” Kallie se oë glinster en hy lyk vir haar baie vriendeliker as vroeër. Sy ontspan effens.

“Wel, hy sal dalk omgee, maar Dewald het nie ’n voet om op te staan nie. Ons is nie meer verloof nie.”

“Ek lei af dis dan jy wat die verlowing verbreek het?”

Lisa knik, kyk dan na Nadia om die aandag te verskuif. “Sy’s ’n pragtige kind.”

“Ja, sy’s mooi … Lyk op ’n haar soos haar ma.” Kallie lyk skielik baie ernstig. “Het Tillie jou vertel van Kanna en hoe Nadia haar mis?”

Wat sal die man sê as hy weet hý was meestal onder bespreking? “Ja, sy het my vertel.”

Lisa bestudeer Kallie terwyl hy ingedagte na Nadia kyk. Hoe kan hy vir haar so vreemd aantreklik wees terwyl sy niks van hom hou nie? Sy gitswart hare blink en sy gesig is gladgeskeer. Vanaand dra hy donker jeans en ’n netjiese swart hemp. Sy swart skoene is van die duur soort. Italiaans. Sy weet, skoene is haar passie. Dít sou sy nou nie van ’n Karooboer verwag het nie.

Kallie kyk weer na haar. “Wat het hy verkeerd gedoen?”

Vrek, hy’t haar uitgevang dat sy hom aanstaar! “Uhm, wie?”

“Dié Dewald. Wat het hy gedoen of nie gedoen nie dat jy die verlowing verbreek het?”

Sy ken omtrent Kallie se hele geskiedenis. Dis seker net reg dat hy van haar ook iets weet. Ai.

“Hy’t my verneuk.”

“En nou wil hy jou terughê?”

Lisa bly stil. Nie eens Tillie weet hoe Dewald haar pes nie.

“Jy’t tog gesê Dewald sal kapsie maak as Kupido se pyle inslaan.”

Dink Kallie dalk sy soek man, soos Tillie vir Nico gekry het? Dit mag nie!

“Hy is irrelevant. Ek is in elk geval heeltemal bestand teen Kupido se skietgoed.” Hy staar na haar en omdat dit haar senuagtig maak, stoom sy voort. “Hiér, in elk geval. Ek hou net mooi niks van die Karoo nie. Ek sal nooit hier aanpas nie, ek sal die stad geweldig mis. My boetieks is daar. En ek stel werklik nie belang in ’n kêrel nie.”

Kallie lag sag en spottend. “Sjoe, en ek het jou nog nie eens die groot vraag gevra nie.”

Haar wange brand. “Ek het in die algemeen gepraat, nie …”

Kallie sê droogweg: “Toemaar. Dis goed ek weet hoe jy oor die Karoo en mans in die algemeen voel. Nou sal ek seker maak dat een van Kupido se pyle mý nie dalk kwes nie.”

Nico kom red haar uit die aaklige verleentheid. “Tillie wil weet of Nadia vannag hier oorslaap.”

Kallie sit regopper. “Nee, sy gaan saam terug. As dit nodig is, bring ek haar liewer in die nag weer.”

Lisa spring op en mompel “nag”. Sy stap vies na Tillie se kamer toe. Hoe kon sy, ’n volwasse vrou, so gebabbel het en toegelaat het dat die vent haar verneder? Was dit nou regtig vir die pes van ’n mansmens nodig om so met haar die spot te dryf? Géén maniere nie!

Sy bly staan toe Tillie wys sy moet sit. “Nee, ek kom net nagsê. Ek is moeg en as ek gestort het, wil ek dadelik probeer slaap.”

“Shame, jy was natuurlik saam met die hoenders aan die gang.”

Lisa knik. “En gister was dit ’n gejaag om alles gereël te kry.”

“Ek het my vanaand gate uit geniet. Ons moet Kallie meer vir ete nooi.”

Gmf! As sy die man nooit weer sien nie, sal dit te gou wees. “Laat Nico my kom roep as jy my nodig kry. Lekker slaap.”

Lisa sukkel later om aan die slaap te raak. Dis die vreemde bed, en omdat sy oormoeg is, weet sy. Dis ver verby middernag toe sy opstaan en ’n glas melk gaan drink. Dis haar kuur vir slapeloosheid, en dit werk uiteindelik.

Liefde onder die sterre

Подняться наверх