Читать книгу Liefde onder die sterre - Susan Pienaar - Страница 6

4

Оглавление

Lisa weet nie wat haar wakker gemaak het nie. Verdwaas sit sy regop, kyk in die donker rond en besef dan met ’n klein skok sy is in Nico-hulle se huis. Sy voel asof sy nog skaars geslaap het. Sou Tillie na haar geroep het? Nog dronk van die slaap steier sy in die gang af na Tillie-hulle se kamer.

Die bondel onder die duvet is ’n slapende Tillie, stel sy vas toe sy oor haar buk. Nico se kant is leeg. Terug in die gang ruik sy die geur van varsgemaalde koffie en loop na die verligte kombuis toe. Sy gaan gou vir haar kry, dan terug in die bed klim.

Sy staan voor die perkoleerder toe sy besef dat sy nie alleen is nie. Sy het net haar nagklere aan. Nagkléértjies, skraps en baie deurskynend. Sy draai liewer nie om nie, roer melk by haar koffie en hoop maar sy het haar verbeel.

Maar nee, daar’s beslis iemand agter haar. Haar sesde sintuig waarsku haar dis nie Nico nie, maar sy kan nie soos ’n soutpilaar bly staan nie. Sy lig haar arms met haar beker koffie hoog om haar borste te probeer bedek voordat sy omdraai, en mors koffie oor haar toe sy Kallie met gevoude arms teen die deurkosyn sien leun.

Sy verduur die effense brand op haar vel en gluur hom aan. “Wat soek jy so vroeg hier?”

“Ek sou eers môresê.” Hy lyk sommer grimmig. “Ek het Nadia gebring, as jy moet weet.”

Lisa weet sy lyk soggens soos ’n verskrikking op twee bene. Sy het nie haar gesig gewas of hare gekam nie. Haar hare! Sy het dit gewas en nooit drooggeblaas nie … Sy vergeet hoekom sy die beker so voor haar bors vashou, lig een hand en voel hoe haar hare ongetem om haar kop staan. Sy staar Kallie vies aan toe sy oë lui oor haar gly. Haastig laat sak sy haar hand toe sy besef haar borste is byna heeltemal ontbloot.

“Loop,” sis sy. “Kan jy nie sien ek’s nie aangetrek nie?”

Kallie staan regop. “Ek’s nie blind nie, vroumens. Dalk moet jy volgende keer dínk voor jy halfkaal in ’n ander vrou se huis rondloop. Nico is ook maar net ’n man.” Sy kyk hom verdwaas agterna toe hy soos ’n verwoede bul by die agterdeur uitstorm.

Lisa plak haar koffie net daar neer, gaan kamer toe en sit die lig aan. “Dom, dom, dom,” skel sy haarself uit terwyl sy jeans aanpluk. Sy was deur die slaap, hoe moes sy geweet het Kallie gaan Nadia so vroeg hiernatoe bring? Sy voel verneder, maar ook briesend kwaad oor Kallie wat haar sulke growwe goed toegesnou het. Asof sy losse sedes het!

Toe sy kalmer voel, gaan sy terug kombuis toe en sien in die verbygaan Nadia slaap vas in die woonkamer op ’n bank. Toe gaan haal sy haar koffie en maak tee vir Tillie.

Tillie sit regop toe Lisa inkom. “Haai,” kraak sy lui. “Jy’s darem vroeg op.”

Lisa gee die tee aan. “Kallie kan gerus douvoordag soggens sy Jeep se deur sagter toemaak,” mor sy en skuif op Nico se plek in.

“O, was Kallie hier?”

Sy gaan niks noem oor haar onderonsie met hom nie. “Hy’t vir Nadia gebring, sy slaap in die woonkamer.”

Tillie skuifel badkamer toe, kom terug en drink ’n slukkie tee. “Lekker sterk.”

“Hoe lyk dit vanoggend?”

“Kan wees omdat ek nog nie juis beweeg het nie, maar dis ’n ou kolletjie.”

Ingedagte drink Tillie haar tee. “Shame, ek kry Kallie so jammer. Hy kry só min rus vandat Kanna dood is en hy Nadia bedags ook nog heen en weer moet rondry.”

Wel! Vir haar het Kallie glad nie moeg gelyk nie. Inteendeel, sy grysblou oë was skerp en wakker, asof hy goed uitgerus het. Hy gaan geen simpatie van háár kry nie, dís seker. Wie dink hy ís hy om haar so te beledig? Sy’s ’n gas hier!

“Emma is mos daar om met Nadia te help.”

Tillie gaap en lê agteroor. “Emma het ook kinders en snags moet sy by haar man wees.”

“Hoekom trou Kallie nie sodat Nadia ’n ma kry nie? Hy het tog seker meisies?”

“Daar is meisies, ja, maar nog nie die regte een nie.”

Lisa skuif behaaglik dieper onder die duvet in en maak haar oë toe. Sy word minute later wakker van ’n gewerskaf in die kombuis.

Tillie lê in die fetusposisie. “Ek voel goor op my maag.”

Lisa glip uit die bed uit. “Jy moet eet. Bly lê dan gaan haal ek.”

Truitjie het reeds ’n skinkbord reg, sien Lisa in die kombuis. “Môre, Truitjie.”

“Dag, juffrou.” ’n Snikgeluid uit die woonkamer laat haar hardop sug. “Ag, ek sienie vamore kans virrie kleintjie nie. Ga haal juffrou haa, dan vat ekkie brekfis kamer toe.”

“Ek wil my pappa hê,” huil Nadia toe Lisa haar optel.

“Toemaar, jong, Tillie wag vir jou. Ons gaan nou lekker by haar kuier,” troos Lisa.

Nadia bedaar inderdaad toe sy langs Tillie lê. “Dis net wanneer sy alleen wakker word dat sy so benoud raak,” sê Tillie terwyl sy haar droë roosterbrood eet. Toe Truitjie vir Nadia ’n bakkie pap bring, sit sy regop en eet ’n klein bietjie.

Lisa bekyk Nadia onderlangs. “Sy eet mos te min.”

Tillie knik. “Maar dit gaan al baie beter as voorheen.”

Later pak Lisa die breekgoed op die trollie. “Gaan jy vanoggend bad?” En toe Tillie knik: “Dan gaan tap ek solank water in.”

Later die middag lê Lisa skuins oor die bed en lees. Tillie het ingesluimer en Nadia sit eenkant en blokkies bou. Lisa kyk op en vang Nadia se oë bestuderend op haar.

Lisa kyk kamma verbaas na die kleintjie se handewerk, hoewel sy glad nie weet wat dit veronderstel is om te wees nie. “Dít lyk dan asof ’n vyf- of sesjarige dogtertjie dit gebou het, Nadia!”

Nadia hou ’n hand voor haar gesig. “Ek is vier.”

“Jy moet my wys hoe jy dit regkry om so slim te bou.” Nadia knik en Lisa tel weer haar boek op, maar sy lees nie. Sy wil die kind uit haar dop help kruip. Treur sy nie nou al ’n bietjie lank oor Kanna nie?

Vyfuur die middag kom kry Nico iets in die huis en sê dat Kallie Nadia later sal kom oplaai.

“Wie bad Nadia wanneer sy so laat nog hier is?” vra Lisa.

“Ek sleep haar maar so half deur die water,” lag Tillie.

“Maar nou moet jy jou stil hou. Kom ons kyk of sy my sal toelaat om haar te bad,” stel Lisa voor en gaan haal lyfroom en ’n ligte parfuumsproei in haar kamer voordat sy water in Tillie se bad tap. Skuim lê dik op die water toe sy rubbermannetjies, ’n duikboot en ander speelgoed wat sy daar vind, ingooi.

Sy kry Nadia op die kombuisvloer, besig om poedingbeslag uit ’n glasbak te skraap. Lisa gaan hurk by haar. “Jy moet kom bad, jong. Pappa kom jou haal en jy wil mos nie hê hy moet sien hoe vol deeg jy is nie?”

Nadia skud haar kop driftig en staan op. Lisa vat haar hand en sê: “Wanneer jy klaar gebad het, gaan ek jou lekker met room smeer.” Hulle stap verby Tillie en Lisa knipoog vir haar. “En heerlike lekkerruikgoed aan jou sit.” Sy begin Nadia se klere uittrek. “Dan ruik jy so lekker vir Pappa.”

Dalk weens die gedurige noem van “Pappa”, staan Nadia gedwee stil terwyl Lisa haar was. Lisa laat haar ’n rukkie in die water speel voor sy haar uithelp.

“Haar klere is in daai laaikas,” beduie Tillie.

Toe Nadia kant en klaar is, spuit Lisa ’n klein bietjie parfuum aan haar. Dis baie lig, soos appels.

Tillie maak ’n groot bohaai oor Nadia so mooi skoon is en kyk sameswerend na Lisa. “Belowe jy jy sal Nadia môre weer bad? Dat sy weer so heerlik kan ruik, nes ’n groot meisie?”

“Ek belowe,” stem Lisa sedig in. Nadia lyk in haar noppies.

Later die aand toe Kallie haar kom haal, maak Lisa haar vinnig uit die voete. Eers toe die gedreun van Kallie se Jeep stil raak, kom sy uit haar kamer en gaan maak tee. Tillie vra dadelik toe sy met die tee inkom: “Hoekom het jy verdwyn toe Kallie opdaag?”

As Kallie nou nie vanoggend geïmpliseer het Lisa probeer vir Nico verlei nie, sou sy vir Tillie kon vertel wat in die kombuis gebeur het. “Ag, ek het taai gevoel en lekker op my tyd gaan stort.”

“Dit lyk dan of jy Kallie vermy. Hou jy nie van hom nie?”

Sy het by Tillie kom kuier, nie vir Kallie nie! “Hemel, Tillie, ek ken die man skaars. En hy ís nie juis my soort ou nie.”

“Maar hy ís jou soort man!” sê Tillie. “Jy het nog altyd van mans met ambisie gehou, en Kallie het tonne daarvan. Net om jou ’n voorbeeld te gee –”

“Ek weet heeltemal genoeg van hom af,” mor Lisa, maar Tillie druk deur.

“Kallie het sy B-graad gekry voor hy veeartseny gaan studeer het by Onderstepoort.”

“Whatever,” mompel Lisa.

“Hy het in Kaapstad geswot en terselfdertyd daar saam met ambulansmanne nooddiens gedoen.”

“Klink vir my asof hy dalk hiperaktief is.” Lisa moet skop teen haar onwillekeurige gevoel van respek vir die man.

“Jy sit die pot mis. Die punt is, Kallie het nie gejol saam met die ander studente nie, hy het beseerdes gehelp. Mense se skete interesseer hom, nes diere s’n.”

Lisa bly stil. Dit maak nie saak wát Kallie alles bereik het nie, sy gaan probeer om so min as moontlik van hom te sien. Om háár darem daarvan te beskuldig dat sy ’n flerrie of ’n ding is!

* * *

Twee volle dae lank kry Lisa dit reg om Kallie te vermy. Maar toe raak dit moeilik, want Tillie sê nie meer vooraf wanneer hy gaan opdaag om Nadia te bring of te kom haal nie. Natuurlik aspris van haar!

Lisa het gaan stap en voel goed toe sy net ná vieruur natgesweet terug by die huis kom. Sy drink eers water voor sy na Tillie gaan soek.

Tillie lê op ’n rusbank en stut haar op ’n elmboog toe Lisa inkom. “Jou wange is omtrént rooi!”

Lisa haal haar hoed af en waai haar daarmee koel. “Dit voel of ek uitbrand, maar die stap was lekker. ’n Koue stort gaan nou nóg lekkerder wees.”

“Ons braai vanaand, Kallie kom ook.”

Lisa probeer haar misnoegdheid wegsteek, maar Tillie ken haar te goed.

“Wat ís dit met jou? Kallie is die aantreklikste man in die kontrei en die meisies tou agter hom aan.”

“En jy wil hê ek moet ook soos die ander bakvissies voor sy voete neerval?”

“Jy oordryf al weer.”

“Vandat ek hier aangekom het, is jy besig om die man aan my af te smeer!”

“Dis nie waar nie.”

Lisa is te moeg en warm vir stry. “Wanneer is jou volgende afspraak by die ginekoloog?”

“Oormôre, tienuur die oggend. Kallie het voorgestel ons los Nadia by jou.”

“Dit sal oukei wees,” knik Lisa. “Ek gaan ’n rukkie werk nadat ek gestort het, hoor.”

Tillie tel ’n boek van die vloer af op en sê stroef: “Onthou net ons braai.”

Kallie en Nico se stemme bring Lisa na die werklikheid terug. Dis al halfsewe. Sy maak lêers toe en skakel die rekenaar af. Sy het vroeër skoon jeans en ’n netjiese bloes aangetrek, en sy druk haar voete in goue ballerinaskoene in. Haar hand huiwer oor haar grimeersakkie. Sy sit net lipglans en maskara aan. Sy gaan haar g’n vir Kallie mooimaak nie!

Die reuk van tuisgebakte brood hang in die lug toe Lisa kombuis toe stap. Nadia sit by die kombuistafel, besig om rooiworsies en tjips te eet.

“Hallo, Nadia,” groet Lisa en kry ’n drukkie.

“Truitjie het groot slaaie gemaak sodat jy ook lekker kan eet,” sê Tillie, steeds ’n bietjie styf. Sy steur haar nie meer soveel aan die stilhouery nie en loop stadig rond. Lisa tel bakke op en hulle twee stap lapa toe.

Van al haar wegkruipery is Lisa nou besonder onwillig om Kallie te sien. Sy groet maar dadelik om dit oor te kry. Hy gee haar ’n deurdringende kyk. Sy stem toe hy groet laat haar aan donkersjokolade dink, diep en sag. O aarde tog.

Nico en Kallie drink rooiwyn, sy en Tillie vrugtesap en water. Dit lyk nie vir Lisa asof die mans haastig is om te begin braai nie, want Nico pak nog stompe op die vuur. Die vlamme brand hoog en Lisa ontspan gaandeweg terwyl almal om haar gesels, maar sy bly heeltyd ongemaklik bewus van Kallie. Sy was eintlik laf om op te sien teen die braai in sy geselskap. Sy hou van sy diep lag en toe dit haar die soveelste keer na hom laat kyk, spring haar hart in haar keel toe sy oë hare vasvang.

Dis ’n oomblik stil. Toe ’n jakkals naby tjank, ril Lisa, maar dis ook omdat ’n koue windjie begin waai het. Sy skrik ligweg toe Kallie skielik agter haar staan en sy baadjie oor haar skouers vou.

“Ag nee.” Sy probeer dit afgooi, maar sy hande rus op haar skouers. “Wat van jou?”

“Ek kry nie so gou koud nie,” sê hy half nors, en gaan sit.

“Nè?” fluister Tillie vir niemand nie.

Lisa maak asof sy dit nie hoor nie. Die baadjie wil sy so gou moontlik vir Kallie teruggee, maar sy geniet nogal die reuk wat daaraan kleef … Lisa wag tot die mans kombuis toe gaan om die vleis en speserye te gaan haal en gaan trek dan haar groen baadjie aan. Nadia slaap in die sitkamer, sien sy op pad terug lapa toe.

Kallie pak tjops op die rooster. “Dankie vir die leen, ek het myne gaan aantrek.” Sy hou sy baadjie na hom uit. In die oranje gloed van die vuur kan sy sien hy bekyk haar van kop tot tone.

“Wat’s fout? Is my baadjie nie hoog mode genoeg nie?”

Sy het lus en klap hom! Sy laat val sy baadjie sonder ’n woord ongeërg op ’n stoel.

“Goeiste, maar jy lyk opgeklits,” sê Tillie saggies toe Lisa gaan sit.

“Kom ons los dit net.”

Dankie tog, dat ons kan eet en klaarkry, dink Lisa toe die vleis op die tafel is en die mans kom sit. Sy smeer botter op ’n sny louwarm brood toe Kallie praat.

“Hoekom is daar nooit vleis op jou bord nie? Hier’s mos oorgenoeg.”

Tillie spring haar voor. “Lisa is ’n vegetariër.”

“Meer vleis vir my en jou, ou maat,” sê Nico, maar Kallie frons vir Lisa.

“Hoekom?” Hy blaf dit omtrent uit.

“Hoekom wat?” Sy hou haar moedswillig en voel hoe Tillie haar onder die tafel skop. “Seker omdat my ma vegetaries was,” gee sy maar toe.

“Maar sy eet darem suiwel,” sê Tillie vergoeilikend.

Haar eetgewoontes het niks met die man uit te waai nie. Arrogante pes!

“En neute, vir proteïen,” gooi Nico sowaar ook sy stuiwer in die armbeurs. Kallie gluur hom vies aan.

Ná ete, wat verder maar stroef verloop het, is Lisa besig om oorblyslaai in kleiner bakke te skep toe Nico agter haar in die deur praat.

“Tillie vra jy moet by haar gaan sit.”

“Oukei, ek’s amper klaar.”

Lisa is moeg, sy hoop nie Tillie wil lank gesels nie. Nadia slaap nou op haar matrassie, sien sy toe sy langs Tillie op die bed gaan sit.

“Ek verstaan nie … hoekom is jy so stekelrig met Kallie?”

“Dis nie ék nie!” Lisa vererg haar. “Die mansmens tart my!”

“Kallie wou net weet hoekom jy nie vleis eet nie.” Tillie lag vir haar! “Jy kan nie stry nie, dit moet nogal snaaks wees vir so ’n boer om ’n vegetariër te ontmoet – in die Karoo, waar geldmaak in skaap lê. Die hele wêreld begeer dan ons vleis!”

“Maar hoekom was hy so sarkasties toe ek sy baadjie vir hom teruggee?”

“Wat het hy gesê?” frons Tillie.

“‘Is my baadjie nie hoog mode genoeg vir jou nie.’ Wat is sy blerrie probleem? Hy self dra duur en goeie klere, ek kan dit mos herken.”

“Sjoe.” Tillie blaas haar asem uit. “Dis moeilik om te weet wat hy dink. Maar hy hét later probeer gesels, en toe was dit jy wat kortaf was.”

Lisa vlieg op, moeg vir die onderwerp. As sy nie so ooglopend lief vir Nico was nie, sou Lisa sweer Tillie het ’n ogie op Kallie.

“Jy’s seker reg,” sê Lisa traak-my-nie-agtig. “Ek gaan inkruip, ek’s moeg.” Sy onderdruk kamstig ’n gaap op pad deur toe. “Nag, lekker doeks.”

“Jy ook.”

Gelukkig slaap Nadia reeds hier, dus kom Kallie nie môreoggend donkernag hiernatoe en raas haar wakker nie, dink Lisa ’n rukkie later toe sy onder die lakens inskuif. Môre gaan sy beslis ver, ver uit sy pad uit bly.

Liefde onder die sterre

Подняться наверх