Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 2 - Susanna M Lingua - Страница 10

Оглавление

6

Die volgende oggend verslaap Lecia haar. Dit is al ver oor tienuur toe sy eindelik haar verskyning in die eetkamer maak. Sy merk op dat Wouter en tant Elsa lankal geëet het. Sy voel ’n bietjie skuldig omdat sy so laat geslaap het, maar sy onderdruk dit gou. Dis Sondag, en sy sien geen rede waarom ’n mens op ’n Sondagoggend vroeg moet opstaan nie.

Sy is net besig om haar koffie te drink, toe Wouter die eetkamer binnestap. Hy is in ’n ligbruin broek en wit sporthemp geklee, dus is hy ook nie van plan om kerk toe te gaan nie.

“O, jy het toe darem opgestaan,” sê hy onverskillig.

Sy kyk hom met opgetrekte wenkbroue aan. “Het jy dan verwag dat ek heeldag in die bed gaan bly?”

Hy neem langs die tafel plaas en antwoord ernstig: “Ek gee nie om hoe laat jy Saterdae en Sondae slaap nie, maar weeksdae moet jy asseblief sorg dat jy vroeg opstaan. Môreoggend net na ontbyt sal ek jou gaan wys hoe om ’n trekker te bestuur. Daar is ’n stukkie grond wat jy vir ons kan braak. Terloops, Frans het jou flussies gebel, en dit is nóg iets waaroor ek met jou wil praat.” Hy kyk haar skerp en deurdringend aan. “Ek hoop nie jy is so laf om op Frans verlief te raak nie, want ek sal beslis nie my toestemming gee dat jy met hom mag trou nie.”

Lecia stik byna aan ’n mond vol koffie van skone verbasing. Genugtig, waar kom die man daaraan dat sy sulke planne het? Frans is bloot ’n vriend, en hy sal vir haar nooit meer as dit kan wees nie. Dink Wouter miskien sy is die soort meisie wat op elke broekdraer verlief raak?

Lecia voel hoe haar humeur stadig begin vlam vat. Uit skone wrewel besluit sy om hom nie reg te help nie. Laat hom dink wat hy wil. Maar dan besluit sy om darem ook nie stil te bly nie.

“As ek besluit om met Frans te trou, sal ek nie jou toestemming nodig hê nie, Wouter. Jou gesag oor my is net ’n jaar geldig. Maar wat het jy nou eintlik teen Frans?”

“As vriend het ek niks teen hom nie, maar as huweliksmaat vir jou sal hy nie deug nie, want hy het geen kennis van boerdery nie.”

“Hy kan darem Blouberg se diere in ’n puik toestand hou –”

“Verskoon my, Blouberg se diere was nog altyd in ’n puik toestand sonder sy hulp,” val hy haar effens verontwaardig in die rede. “Jy kan Frans maar vergeet. Die man wat met jou trou, sal eers moet bewys dat hy kan boer, en dit sal geen stadsjapie met sagte, wit handjies wees nie,” verseker hy haar.

Die gelui van die telefoon maak meteens ’n einde aan die gesprek. Wouter verlaat die eetkamer om die oproep te beantwoord, en Lecia stap na die stalle toe met ’n paar suikerklon-tjies vir Lady. Sy het die afgelope week lief geword vir die swart perd.

Die stal se bodeur staan oop, en Lady begin saggies runnik toe sy die rooikop sien aankom.

“Toemaar, ek het jou nie vergeet nie, Lady,” glimlag sy en streel met haar hand oor die dier se nek. Sy skater soos sy lag toe Lady met haar neus in haar digte, rooibruin hare begin vroetel, en die volgende oomblik hoor sy Wouter agter haar praat.

“Die telefoonoproep is van Goeiehoop af,” sê hy. “Teresa wil weet of ek en jy vanmiddag by haar wil kom koffie drink. Ek het vir haar gesê sy moet ’n rukkie aanhou, ek wil eers hoor of jy nie dalk ’n ander afspraak het nie.”

“Sal daar ander gaste ook wees?” vra sy met haar blik op Lady wat besig is om die suikerklontjies uit haar hand te eet.

“Ek dink sy is alleen. Haar ouers is glo dorp toe,” sê Wouter.

“As dit die geval is, moet jy maar alleen gaan,” sê sy sonder om na hom te kyk. “Ek het werklik nie lus om die hele middag te sit en kyk hoe Teresa aan jou hang en hoe julle handjies vashou nie. Ek sal dit meer geniet om op Lady te gaan ry.”

’n Kort rukkie heers daar ’n doodse stilte. “Nou goed,” sê Wouter, “ek sal vir haar sê jy het ’n ander afspraak.” Hy draai om en stap haastig terug huis toe.

Lecia is nog besig om Lady te streel en met haar te gesels, toe sy voetstappe in haar rigting hoor aankom. Sy kyk oor haar skouer en merk op dat dit weer Wouter is. Sy draai om, leun met haar rug teen die stal se onderdeur en plaas haar een arm om Lady se nek. Die dier begin weer dadelik met haar neus in die rooibruin hare vroetel.

“Jou nooi is bly om jou die hele middag vir haarself te hê,” sê sy toe Wouter skuins voor haar kom staan en sy hand saggies oor Lady se kop trek.

Hy kyk af na haar en die beweging van sy hand op Lady se kop word meteens stil. ’n Kort oomblik kyk hy vas in haar oë. Toe sê hy bedaard: “Frans het ook gebel. Hy wou weet of hy vanmiddag vir jou kan kom kuier.”

“O, maar dis gaaf,” sê sy. “As jy vir hom ’n perd sal leen, kan ons twee ’n entjie gaan –”

“Ek is jammer om jou teleur te stel,” val hy haar bedaard in die rede. “Ek het vir hom gesê dat ek en jy vanmiddag ’n sake-afspraak het.”

Sy kyk hom met ’n ligte frons aan. “Maar dis nie waar nie! Waarom het jy vir hom ’n leuen vertel, Wouter?”

“Omdat ek ook nie lus het om die hele middag te sit en kyk hoe julle aan mekaar hang en handjies vashou nie,” sê hy ongeërg onderwyl hy Lady se kop streel.

“Ek dink jy is van jou wysie af,” vaar sy teen hom uit. “Ek het nog nie een keer aan Frans gehang of met hom handjies gehou nie.”

“Het jy nie?” Sy oë boor in hare, en sy hand word stil op Lady se kop.

“Jy weet ek het nie,” sê sy driftig. “Jy was gisteraand die hele tyd in my en Frans se teenwoordigheid.”

“Ek was nie saam met julle in Frans se motor toe hy jou huis toe gebring het nie,” herinner hy haar. “Dus kan ek niks bevestig wat jy hier sê nie. Maar soos wat ek Frans ken, sal hy nie ’n mooi meisie tuis besorg sonder ’n afskeidsoen nie.”

“Wel, hy het my tuis besorg sonder ’n afskeidsoen,” sê Lecia uitdagend. “Ek laat my nie so maklik soen soos jou geliefde Teresa nie. My ouers het my geleer dat ’n meisie haar altyd waardig moet gedra en dat so ’n geklou en gesoen allermins waardig is. ’n Mens soen ook nie iemand so in die openbaar nie. Jy maak net ’n skouspel van jouself, en ek dink dis goedkoop.”

“Het jy nou klaar gepraat?” Sy oë meet haar hele lengte. Hy kyk na haar klein voetjies en dan weer na haar rooi kop wat nou gemaklik teen Lady aanleun.

“Ja, ek het klaar gepraat,” snou sy hom half toe.

“Nou ja,” sê hy bedaard, “Teresa is nie goedkoop nie. Ons twee het feitlik saam grootgeword, daarom het sy die vrymoedigheid om in geselskap by my in te haak. Sy het dit nog al die jare gedoen. Ek sal jou katterigheid maar oorsien, want dis vir my duidelik dat jy nie van Teresa hou nie. Nie dat ek weet wat sy aan jou gedoen het nie, maar jy het gisteraand kwalik tien woorde met haar gewissel.”

“Jy bedoel sy het kwalik tien woorde met mý gewissel. In elk geval, ek kyk mense deur sonder om baie woorde met hulle te wissel, en jy het gelyk, ek hou nie vreeslik baie van jou meisie nie. As gasvrou was sy vervlaks ongesellig,” sê sy nou reguit, want Wouter se beskuldiging dat sy katterig is, het haar seerder gemaak as wat hy ooit sal kan raai. “As Frans hom nie oor my ontferm het nie, sou ek die hele aand ontuis en onwelkom gevoel het. Jou beskuldiging dat ek katterig is, is dus heeltemal onvanpas. Dis jou meisie wat nie die vaagste benul het wat ’n gasvrou se pligte behels nie. Maar ek gaan nie langer oor haar swak gedrag uitwei nie. Moet net nie van my verwag om haar ooit weer te besoek nie.”

“Ek verstaan,” sê hy half ingedagte. “Jy hou nie van Teresa nie omdat sy jou nie gisteraand op die hande gedra het nie.”

“Verskoon my, ek het nog nooit van mense verwag dat hulle my op die hande moet dra nie,” help sy hom reg. “Ek het net verwag dat sy, as gasvrou, my ten minste tuis en welkom sou laat voel het. Dit sou immers goeie maniere gewees het, maar blykbaar is dit te veel gevra.”

“Maar jy het tog die aand geniet ten spyte van die gasvrou se sogenaamde swak gedrag,” kan hy nie help om haar ’n stekie te gee nie.

Volgens hom is Teresa die volmaaktheid vanself. Almal is verkeerd, behalwe sy, dink Lecia en voel meteens bitter seergemaak.

“Ja, ek het Frans se grappies en geselskap nogal geniet,” sê sy. “As hy nie daar was nie, sou ek bepaald iemand gevra het om my huis toe te neem nog voordat hulle die vleis begin braai het. In elk geval, droom maar oor jou voortreflike Teresa; ek loop nou.”

Met haar kop trots in die lug stap sy huis toe en gaan na haar musiekkamer. Sy voel bitter ongelukkig en alleen, want dis vir haar nou baie duidelik dat sy nie eens meer op Wouter as vriend kan staatmaak nie. Sy liefde, vriendskap en lojaliteit is by Teresa, en tant Elsa se lojaliteit is weer by hom. Dus staan sy heeltemal alleen hier op Blouberg. Sy verlang meteens oneindig baie na tant Emma, die enigste mens op aarde op wie sy kan staatmaak as die lewe sy verkeerde kant na haar toe draai. Sy wens met haar hele hart dat haar proefjaar hier op Blouberg al verstreke was sodat sy terug na tant Emma toe kon gaan.

Sy voel hartseer toe sy die musiekboek op die orrel se bladhouer plaas. Haar vingers beweeg liggies oor die toetse, en dan stroom die sagte, roerende klanke van Largo deur die huis. Sy speel met gevoel en oorgawe, totdat die klank van die laaste noot eindelik wegsterf.

Sy voel nog steeds hartseer en bedruk, dus plaas sy die bladmusiek van Baker se Souvenir in F op die bladhouer, en dan deel sy ’n paar oomblikke in hierdie komponis se diepe verlange en herinneringe. Die orreltone is hartroerend, gevoelvol, vol heimwee en verlange, en Lecia ervaar in stilte die gevoelens van die komponis. Sy verlang na haar ontslape ouers, na tant Emma in die verre Johannesburg en na die kommerlose dae wat vir altyd verby is.

Toe die klank van die laaste noot saggies wegsterf, staan sy stil van die bankie af op en gaan staan voor die oop venster. Sy is nie eens bewus van Wouter se breedgeskouerde gestalte wat naby die deur op een van die leunstoele sit nie, want in haar gemoed is ’n groot hartseer en verlatenheid. Haar blik rus op die rivier en tant Elsa se eende wat soos wit skepies op die water dryf, maar sy sien hierdie dinge nie eens raak nie. Voor haar geestesoog sien sy net die lang, eensame pad wat sy hier op Blouberg sal moet bewandel vir ’n volle jaar.

Toe Wouter die eerste klanke van Händel se Largo gehoor het, het hy stil agter Lecia op ’n stoel gaan sit om die pragtige orrelklanke in te drink. Souvenir in F het hom dadelik laat besef in watter gemoedstoestand sy verkeer, en toe sy van die bankie af opstaan en voor die oop venster gaan staan, het hy geweet dat dit beter sal wees om haar liewer alleen te laat. Om die een of ander rede voel sy diep ongelukkig, dit is vir hom duidelik.

’n Lang ruk staan Lecia bewegingloos voor die venster. Sy besef nou eers hoe baie Wouter se vriendskap, hulp en bystand vir haar beteken het. Dit was hy wat haar geleer het om perd te ry en te skiet. Hy het selfs belowe om haar te gaan wys waar die bergpoel is, maar noudat hierdie kloof tussen hulle lê, sal sy die bergpoel maar eendag self moet ontdek.

Die klokkie wat middagete aankondig, laat Lecia stadig tot die werklikheid terugkeer. Sy besef dat hierdie getob haar niks sal baat nie. Die lewe gaan voort, met of sonder vriende. Sy is nou eenmaal hier op Blouberg, en sy moet maar probeer om die beste daarvan te maak.

Aan tafel is sy so stil en afgetrokke dat tant Elsa later bekommerd vra: “Hoekom is jy so stil, Lesie? Voel jy siek?”

Sy kyk die ouer vrou met ’n sweem van ’n glimlaggie aan en antwoord sag: “Nee, ek voel nie siek nie, tante. Ek wonder maar net waarom tant Emma nog nie vir my geskryf of my gebel het nie. Ek het al twee briewe vir haar geskryf, en nog niks van haar gehoor nie.”

“Jy moet jou ta’ Emma maar bel, Lesie,” doen tant Elsa aan die hand. “Dalk is die mens siek!”

“Ek sal maar liewer weer skryf, tante. Dis te duur om van hier af te bel. As ek vandag vir haar skryf en môre die brief gaan pos . . .”

“Jy sal nie môre dorp toe kan gaan nie,” herinner Wouter haar. “Jy moet môre leer om die trekker te bestuur sodat jy daardie landjie vir ons kan braak.”

“Maar, Wouter, wil jy nou die kind se dood soek?” roep tant Elsa ontsteld uit. “Sy sal mos van die trekker afval en voor die ploegskaar beland!”

“Ek hoop sy is nie so onnosel om van die trekker af te val nie, tante,” glimlag hy goedig. “Dit was in elk geval nie my idee dat sy moet leer boer nie; dit was ’n opdrag van oom Isak en ek kan niks daaraan doen nie.”

“Dis nou wel goed dat ’n boeremeisie die boerdery moet ken,” sê tant Elsa, “maar die son sal daardie wit velletjie van haar swart brand, en watter jongetjie sal dan na haar kyk, vra ek jou?”

“Sy sal maar ’n sonhoed en ’n bloes met lang moue moet dra, tante, en as die mans daarna nog weier om na haar te kyk, sal ek dit beslis as ’n seën beskou. Trouens, ek sal nie daarvan hou dat die mans Blouberg se pad stof ry nie. Ek het nie tyd om elke keer die skraper oor die pad te trek om dit vir ons eie gerief bruikbaar te maak nie.”

“Jy het nie nodig om jou oor Blouberg se pad te bekommer nie, Wouter,” sê Lecia afgetrokke. “Ek sal sorg dat net Frans sy voete op jou plaas sit.”

“Mý plaas?” Hy kyk haar met opgetrekte wenkbroue aan en merk dan die trekkie van hartseer om haar mooi, sagte mond.

“Blouberg sal tóg oor ’n jaar jou plaas wees, so watter ver­skil maak dit as ek die plek nou al as jou eiendom beskou? En as ek straks môre van die trekker afval en voor die ploegskare beland, sal jy sommer môre al die enigste eienaar van Blouberg wees.”

“Jy en tant Elsa praat onsin,” bestraf hy haar. “Dink jy een oomblik ek sal jou alleen op die trekker laat klim voordat jy die ding behoorlik kan bestuur? Buitendien, as jy op Lady se rug kan bly, kan jy ’n land braak sonder om van die trekker af te val. Wat die eienaarskap van Blouberg betref, daaroor sal ons weer oor ’n jaar gesels. Sodra jy kennis van die boerdery het, sal jy lief word vir die plaas en alles wat daarmee gepaardgaan.”

Hierop antwoord Lecia nie, maar sy weet dat Blouberg nooit haar tuiste sal wees nie. Sy sal nooit saam met Teresa onder een dak woon nie, en as Wouter met haar trou, sal hierdie huis ook háár huis wees . . . Nee, hierdie huis is nie groot genoeg om hulle albei te huisves nie. Selfs Blouberg sal te klein vir hulle wees. Sy hoop maar net Wouter trou nie voordat sy eers van Blouberg af weg is nie.

Na die ete, terwyl Wouter en tant Elsa op die voorstoep ontspan, glip Lecia by die agterdeur uit en stap na die stalle toe. Aangesien dit Sondag is en Arrie die middag vry het, sal sy Lady self moet opsaal. Gelukkig weet sy al hoe om ’n perd op te saal, dus het sy nie nodig om Wouter se hulp in te roep nie.

Sy sukkel ’n bietjie om die saal op Lady se rug te kry, maar dis asof die perd heeltemal verstaan dat haar meesteres nie oor Arrie se krag beskik nie, want sy staan doodstil. Toe sy die buikgord vas het, kom die toom aan die beurt, en na ’n rukkie galop die swart perd oor die werf.

“Maar dis mos perdepote wat ek hoor, tant Elsa,” sê Wouter toe Lady oor die werf galop. Hy kom orent, loop om die huis se hoek en staar die ruiter met ’n diep frons agterna. Hy wonder wie Lady opgesaal het, want Arrie kan dit nie wees nie. Hy sal nooit op ’n Sondagmiddag naby die stalle kom nie.

Hy stap by die agterdeur in waar Katrien in die kombuis besig is om skottelgoed te was en vra sommer met die intrapslag: “Het jy gesien wie Lady opgesaal het, Katrien?”

“Ja, meneer Wouter, ek het deur die venster gesien hoe die juffrou alleen vir Lady opsaal.”

Tant Elsa kom die kombuis binne en Wouter sê haastig: “Ek hoor Lecia het Lady self opgesaal, tante. Ek sal moet gaan kyk of sy die buikgord behoorlik vasgemaak het, voordat sy vandag haar nek breek deur met ’n los saal te ry.”

Hierna gaan saal hy Blits op, en na ’n rukkie dawer die wit hings se kragtige hoewe oor die werf in die rigting waarin hy Lecia gesien ry het. Hy wonder waarom sy hom nie gevra het om die perd vir haar op te saal nie. Sy kon maar net aan tafel gesê het dat sy ’n entjie wil gaan ry. Hy sou dan self aangebied het om die perd vir haar op te saal.

Dit tref hom meteens dat Lecia sedert hul gesprek vroeër van­oggend eienaardig stil en afsydig is. Hy wonder of dit te wyte is aan hul woordewisseling daar voor Lady se stal. Sy was beledigend teenoor Teresa, en hy het dit sy plig geag om die ouer meisie in haar afwesigheid te verdedig. Maar dit was tog nie die eerste keer dat hulle twee oor iets geargumenteer het nie . . . Hy wonder of hy nie straks te kras was in sy beskuldigings teenoor haar nie.

Hy dink ’n oomblik na oor hul argument, aan Lecia se kennis­making met Teresa, en dan tref dit hom dat Lecia in een opsig gelyk gehad het. Teresa het haar beslis ietwat onvriendelik ontvang, want sy het nie eens die gebruiklike woorde van verwelkoming teenoor Lecia, ’n vreemdeling in hul midde, uitgespreek nie . . . Ja, noudat hy daaraan dink, onthou hy dat Teresa die hele aand nie ’n woord met Lecia gepraat het nie. Hy voel meteens bitter skuldig oor die dinge wat hy die rooikop vanoggend voor die kop gegooi het. Hy sal haar dadelik moet vind en haar om verskoning vra . . .

Lecia stuur die swart perd in die rigting van die rivier, en na ’n rukkie hou sy onder ’n groot wilgerboom op die oewer van die rivier stil. Dis rustig en stil hier langs die water. Net die sagte gekabbel van die water en die weemoedige geroep van die bosduiwe is hoorbaar.

Stil soos ’n standbeeld sit sy op Lady se rug na die son en die skaduwees op die water en kyk. Die vars geur van wilgerblare hang soos die geur van parfuum in die lug. Sy voel lus om die hele middag hier langs die water te sit en ’n paar uur lank van alles te vergeet wat haar so ongelukkig stem, maar sy merk op dat Lady al begin ongeduldig word omdat sy hier so stil moet staan.

Nou goed, ek sal jou ’n bietjie oefening gee, gesels sy met die perd. Sy gly tussen die slap takkies van die boom deur, net betyds om te sien hoe Wouter op Blits na haar toe aankom. Sy trek Lady dadelik in en wag vir Wouter. Hy ry asof die duiwel op sy hakke is, en Lady begin rondtrippel van ongeduld.

’n Paar treë van die swart perd af trek Wouter die wit hings so hard in dat hy ’n paar tellings op sy agterpote steier en die lug wild met sy voorpote klief. Lecia trek haar perd vinnig uit die pad van daardie groot, kappende pote. Blits se bek staan oop, sy neusgate is wydgesper, en sy oë is groot en wild. Hy runnik soos ’n wildeperd, maar na ’n rukkie kom hy tot bedaring en kan Wouter van sy rug afklim. Vinnig maak hy die teuels aan ’n boomtak vas en stap na Lecia toe.

“Wie het jou geleer om Lady op te saal?” vra hy toe hy langs die swart merrie staan.

“Niemand nie, ek het maar net gekyk hoe Arrie dit doen,” antwoord sy bedaard, onbewus van die uitdrukking van hartseer om haar mond en in haar mooi groen oë.

“Laat ek eers sien of jy die buikgord styf genoeg vasgemaak het,” sê hy en buk af om die buikgord te ondersoek. Na ’n rukkie kom hy orent en vervolg verlig: “Alles is gelukkig in orde. Maar waarom het jy my nie gevra om Lady vir jou op te saal nie, Lecia? Katrien sê jy het gesukkel om die saal op Lady se rug te kry.”

“Dit sal volgende keer beter gaan. Ek weet nou hoe dit gedoen word,” sê sy sag. Lady begin weer ongeduldig rondtrippel. “Ek vrees jy sal my nou moet verskoon. Lady begin nou ongeduldig word vir ’n bietjie oefening.”

“Wag ’n bietjie,” keer hy en neem Lady se toom in sy hand. “Daar is nog iets wat ek wil sê. Dis in verband met ons argument vanoggend –”

“Verskoon my, ek is nie bereid om die onderwerp verder te bespreek nie,” val sy hom sag in die rede. “Ek sal jou gevoel vir haar respekteer. Moet net nie van my verwag om ook oor haar te voel soos jy nie. Dit is onmoontlik.”

“Ek verwag nie so iets van jou nie, Lecia,” sê hy. “Ek wil jou om verskoning vra vir die beskuldiging wat ek vanoggend gemaak het. Terwyl ek agter jou aangery het om te kyk of Lady se buikgord behoorlik vasgemaak is, het ek oor jou en Teresa se kennismaking gedink en besef dat jy vanoggend gelyk gehad het. Sy het jou onvriendelik ontvang.”

“Ek neem jou verskoning aan,” sê sy afgetrokke. “Mag ek nou maar gaan?”

“Wag, ek ry saam. Ek wil jou die bergpoel wys,” sê hy.

’n Rukkie later ry hulle deur die veld in die rigting van die berg. Hulle volg ’n voetpaadjie teen die berg uit, en eindelik bereik hulle die eerste plato. Hulle ry tussen rotse deur, by bosse verby, en toe sien Lecia die poel met sy helder, skoon water.

“Ons kan die perde gerus eers laat drink,” sê Wouter.

Sy klim van Lady af en kyk hoe Wouter die diere na die water toe lei. ’n Dassie spring langs haar agter ’n klip uit en verdwyn in die bosse.

“Wil jy ’n rukkie hier in die koelte rus voordat ons teruggaan?” vra Wouter nadat die perde water gedrink het.

Lecia skud haar kop. “Ek moet nog vir tant Emma gaan skryf.”

“Ek kan nie verstaan waarom jy haar nie bel nie. Dis die maklikste en vinnigste manier om van haar te hoor,” sê hy en hou Lady se toom na haar uit.

“Ek weet,” antwoord sy, “maar ek is nie in ’n posisie om onnodige uitgawes aan te gaan nie. Ek het nie meer musiekleerlinge wat vir my ’n maandelikse inkomste besorg nie, dus sal ek van nou af elke sent moet tel.”

“Met die helfte van Blouberg se opbrengs het jy nie nodig om elke sent te tel nie,” herinner hy haar. “Die gesaaides is baie mooi. As ons nie hael kry nie, sal die lande ’n goeie oes oplewer. Die wol sal ook ’n goeie prys haal, en die slagosse is almal in ’n puik toestand.”

“Laat ons liewer nie oor Blouberg of sy opbrengs praat nie. Ek het geen aandeel in een van die twee nie, want ek is nie van plan om langer hier te bly as wat nodig is nie. En as jy en Teresa besluit om te trou voordat my proefjaar verstryk het, gee ek dadelik van Blouberg af pad.”

“Moet jou nie daaroor bekommer nie; ek sal nie trou voordat jou proefjaar verstryk het nie,” stel hy haar dadelik gerus. “Maar wat ek wou sê . . . Ek kan altyd vir jou geld voorskiet as jy dit nodig het.”

Sy skud haar kop. “Dankie, maar as ek my uitgawes laag hou, sal dit nie nodig wees nie.”

Hy neem sy pyp uit sy hempsak, stop dit en steek dit aan. Eers nadat hy ’n blou rookwolk die lug ingestuur het, kyk hy weer na haar en vra ernstig: “Wat is jou uitgawes, Lecia?”

“Op die oomblik nie veel nie,” antwoord sy met haar blik op die helder water van die bergpoel. “Net brandstof vir my motor en –”

“Die brandstof kan op Blouberg se rekening geplaas word,” val hy haar in die rede, maar hiervan wil Lecia niks weet nie.

“Dis baie vriendelik van jou,” sê sy sag, “maar ek het nog nooit op ander mense geteer nie, en ek is nie van plan om dit nou te doen nie. Ek dink ons moet liewer gaan, Wouter.”

Hy kyk haar etlike sekondes met ’n ligte frons aan en sê dan, terwyl hy sy pyp teen ’n rots uitklop: “Soms verstaan ek jou glad nie, Lecia. Hoe kan ek jou geldelik help as jy my nie wil toelaat om jou te help nie? Ek het oom Isak belowe dat ek jou sal help en bystaan. Hy het jou nie plaas toe laat kom om ’n jaar lank te krepeer van armoede en ellende nie.”

“Ek het nie op die oomblik geld nodig nie, dankie,” is egter al wat sy sê voordat sy op Lady se rug klim. “Ek dink dis tyd dat ons ry.”

Tuis het Lecia net ’n koppie koffie saam met Wouter en tant Elsa gedrink en haar toe na haar kamer onttrek om te kyk of sy geskikte klere het wat sy die volgende dag kan aantrek. Wouter het gesê sy moet ’n langmoubloes en ’n sonhoed dra, maar wat van geskikte skoene? Sy kyk na die swart leerskoene wat sy aanhet. Dis nou wel hofskoene, maar dis al wat sy het wat geskik sal wees vir die werk totdat sy die geleentheid kry om vir haar ’n paar duursame stapskoene te koop. Ja, en sommer ander werksklere ook.

Sy klim vroeg in die bed, want Wouter het haar reeds gewaarsku dat sy in die week vroeg sal moet opstaan.

Nou ja, Lecia, spreek sy haar spieëlbeeld aan terwyl sy haar hare die volgende oggend kam, jy is nou ’n plaasboer. Jou bloesie is nou wel baie dun, maar dit sal darem jou arms tot ’n mate teen die son beskerm. Dis nou jammer jy het nie ’n sonhoed nie, maar daardie dotjie sal ten minste die son van jou kop af hou.

Die etensklokkie laat haar haastig na die wit vilthoedjie gryp wat op die bed lê, dan drafstap sy eetkamer toe. Sy is in een van haar netjiese, donkerblou langbroeke, ’n wit bloesie, swart skoene en ’n wit hoedjie geklee, en sy lyk beslis nie soos iemand wat ’n land moet gaan braak nie. Sy sê môre vir tant Elsa en Wouter en neem sonder meer haar plek langs die tafel in.

“Het jy nie ’n sonhoed nie?” vra Wouter later terwyl hy sy koffie drink.

Sy skud haar kop, want sy is van kleins af geleer om nie met ’n mond vol kos te praat nie. Dan sluk sy vinnig en sê ongeërg: “Sodra dit geleë is, sal ek vir my geskikte klere gaan koop.”

Na die ete ry hulle te perd na die land wat Lecia moet braak. Dis ’n lang, breë stuk grond aan die voet van die berg – swart, vrugbare grond.

Nadat Wouter vir Lady afgesaal en gekniehalter het, klim hulle op die trekker en word Lecia geleer hoe om dit te bestuur. Daarna word sy gewys hoe om ’n reguit voor te ploeg.

“Nou ja, as jy fluks werk, behoort jy vroeg vanmiddag klaar te wees,” moedig Wouter haar aan toe hy eindelik tevrede is met die paar vore wat sy gebraak het. “Tant Elsa sal stellig vir jou koffie stuur, maar middagete sal jy by die huis moet kom nuttig.”

Hierna klim hy op Blits, en na ’n rukkie is Lecia heeltemal alleen met net die eentonige gedreun van die trekker. Die son word al warmer en straaltjies sweet begin langs haar wange afstroom. Sy voel dors, en haar keel is kurkdroog. Later begin die wind waai. Dit voel effens koeler, maar nou kry sy al die stof en sand in haar oë.

Sy het al ’n hele stuk van die land gebraak, toe een van die werkers se seuns opdaag met ’n emmertjie koffie, beskuit en droëkoekies. Sy het so dors dat sy sommer twee koppies koffie drink. Hierna voel sy baie beter. Sy sit die mandjie onder ’n doringboompie neer en klim weer op die trekker.

Die son, wind en die geskud van die trekker is uitputtend. Lecia is eintlik bly toe sy opmerk dat dit al halfeen is en tyd om huis toe te gaan vir middagete. Moeg en stram klim sy van die trekker af en bespied die wêreld om haar, maar van Lady gewaar sy nie ’n teken nie.

Wel, ek voel regtig te moeg om nog vir Lady te gaan soek, gesels sy in haar enigheid met haarself. Dis ook gans te ver om in hierdie skroeiende son huis toe te stap, dus sal ek maar tant Elsa se beskuit en koekies gaan eet. Daar is gelukkig nog koffie in die emmertjie.

Nadat Lecia haar maal van koffie, beskuit en koekies genuttig het, klim sy weer op die trekker. Haar lyf voel moeg en seer, maar sy hou maar uit. Sy sal Wouter wys dat sy nie ’n lafaard of bang vir werk is nie. Sy sal hierdie hele land braak, al slaan sy ook daarna neer van uitputting en ooreising.

Sy is so diep ingedagte dat sy nie eens die wit hings en sy ruiter sien aankom nie. Eers toe Wouter die perd langs die land intrek en afklim, merk sy hom op. Sy bereik die end van die voor waar hy vir haar wag, en hou stil.

“Dis al amper halftwee, waarom het jy nie kom eet nie?” vra hy effens streng. Haar rooi oë en moeë, songebrande gesiggie ontgaan hom nie.

“Lady is skoonveld, en ek het nie kans gesien om in hierdie skroeiende son huis toe te stap nie,” verduidelik sy. “Maar ek het klaar geëet.”

Hy kyk haar skepties aan. “Wat het jy geëet?”

“Die beskuit en droëkoekies wat tant Elsa vanoggend vir my gestuur het.”

“Ek sal iemand stuur om Lady te soek,” belowe hy en vertrek dan weer dadelik.

Die trekker dreun maar voort, maar hoe nader die vore aan die voet van die berg kom, hoe swaarder loop die trekker. Soms voel dit asof die ploegskare aan iets vashaak, maar dan brul en beur die trekker weer voort. Lecia voel ontsettend dors en moeg, en haar lyf is so seer dat sy kan skreeu. ’n Werker het Lady met haar halterriem aan ’n boomtak vasgemaak waar die saal en toom lê.

Die son begin nou vinnig oorhel na die weste en Lecia sien op haar polshorlosie dat dit kwart voor vier is. Haar lyf het nog nooit so moeg en seer gevoel nie, en tant Elsa het ook nie eens vir haar middagkoffie gestuur nie. Sy wonder of sy nie maar die trekker moet afsluit nie, want sy vorder nou bitter stadig. Die ploegskare bly vassteek, en dan het sy baie moeite om die trekker reguit te hou. Sy kan ook nie meer onthou tot waar Wouter gesê het dat sy die land moet braak nie.

Die tweede keer die dag hou Wouter langs die land stil en wag Lecia in. Toe sy die trekker afsluit, staan hy langs haar, en aan sy gesigsuitdrukking kan sy sien dat hy woedend is.

“Wie de duiwel het vir jou gesê jy moet die grond tot hier teen die voet van die berg braak?” roep hy ontstoke uit. “Kyk hoe lyk die splinternuwe ploegskare wat ek nou die dag gekoop het. Ek kan al drie nou maar weggooi.” Sy oë blits op haar. “Jy is die eenvoudigste mens wat ek ken. Genugtig, kon jy nie voel hier is rotse onder die grond nie? Jy kan verduiwels ook niks doen sonder om ’n mens skade te berokken nie. Eers was dit my hond, toe die stoetram en nou weer hierdie nuwe ploegskare . . . Bly liewer stil, Lecia,” waarsku hy toe sy haar mond oopmaak om haarself te verdedig. “Jy kan niks reg doen nie, dan wil jy nog staan en parmantig wees ook. Vat liewer die perd en gaan huis toe –”

“Ek wou nie parmantig wees nie, Wouter,” val sy hom met ’n moeë, mismoedige stem in die rede. “Ek wou maar net sê, dis nie nodig om so op my te skree nie. Ek is gewillig om vir jou ’n ander stel ploegskare te koop.”

Voordat hy weer iets kan sê, draai sy om en stap na die boom toe waar Lady vasgemaak staan. Sy voel doodmoeg, haar liggaam is seer, en sy voel moedeloos en terneergedruk, want ook vir haar wil dit nou lyk asof sy niks reg kan doen nie. Maar om darem as eenvoudig bestempel te word! Sy glo nie sy het dit verdien nie. Hy weet tog dat dit die eerste keer in haar lewe is dat sy ’n land moes braak, en sy kan nie help dat sy vergeet het tot waar dit gebraak moes word nie.

Nee, hy is doelbewus beledigend teenoor my omdat ek nie van sy voortreflike Teresa hou nie, dink sy hartseer. Hy sal my nou bepaald met elke geleentheid verkleineer en beledig, totdat my proefjaar hier op die plaas verstryk het en hy ontslae kan raak van die las waarmee oom Isak hom opgesaal het.

Sy tel die saal moeisaam op. Haar rug en arms is so seer dat sy die saal kwalik kan oplig. Maar sonder die saal kan sy nie huis toe ry nie, dus moet sy maar probeer om dit op Lady se rug te kry.

Sy tel die saal op, stut dit met haar knie en beur hard om dit op Lady se rug te kry. Die saal is amper op Lady se rug, toe gly dit weer af. Die volgende oomblik word dit uit haar hande geneem en op die perd se rug geplaas. Aan die tabakreuk wat aan hom kleef, weet sy dat dit Wouter is wat die saal uit haar hande geneem het, sonder om eens na hom te kyk.

“Dankie,” sê sy met ’n onvaste stem en begin die buikgord vasgespe. Maar ook dit word uit haar hande geneem.

“Gaan haal die mandjie, ek sal dit huis toe neem,” sê hy, nou weer bedaard.

Toe sy met die mandjie terugkeer, is Lady reeds opgesaal. Sy gee die mandjie vir hom. Sonder om ’n woord te sê, neem sy die teuels by hom en trap in die stiebeuel om op Lady se rug te klim. Die volgende oomblik voel sy hoe Wouter se hande om haar dun middeltjie sluit om haar in die saal te help.

Sonder om hom eens te bedank, trek sy op ’n stywe galop weg. Sy voel binne nog te seer en rou om met hom te praat. Niemand het nog ooit so met haar gepraat soos Wouter nie . . . en dit nadat sy haar bes gedoen het om die stuk grond te braak soos hy dit wou hê. Sy besef nou dat sy in Wouter se oë nooit iets reg sal kan doen nie. Hy sal haar nou altyd met ’n vergrootglas dophou omdat sy gister die sonde begaan het om Teresa te kritiseer. ’n Man hou mos nie daarvan dat ander sy geliefde moet afkam nie.

Lecia het net van Lady afgeklim, toe hou Wouter ook voor die stalle stil. Sy steur haar egter nie aan hom nie en begin so vinnig aanstryk huis toe as wat haar moeë ledemate haar toelaat. Sy stap by die agterdeur in en mik eerste na die waterkraan toe om haar vreeslike dors te les.

Terwyl sy die tweede koppie water drink, kom tant Elsa en Wouter ook die kombuis binne. Sy sê vir die ouer vrou middag, droog die koppie af en plaas dit terug in die rak.

“Jy is seker doodmoeg, kind,” spreek tant Elsa haar simpatie uit.

“So ’n bietjie, tante,” antwoord sy sag.

“Nou wag, ek skink vir jou en Wouter koffie –”

“Dankie, nie vir my nie, tante,” val sy die ou dame met ’n sagte, moeë stem in die rede. “Ek het nou net twee koppies water gedrink. Ek sal liewer nou gaan bad.”

“Wouter, hoekom het jy vanmiddag vir my gesê Lesie sal vroeg met die ploeëry klaar wees?” vra tant Elsa nadat Lecia die kombuis verlaat het. “As jy vir my gesê het sy sal laat wees, kon ek darem vir haar koffie land toe gestuur het. Die stomme kind was seker amper dood van die dors in die bloedige son.”

“Sy sou vroeg klaar gewees het, tante, maar sy het die land baie breër gaan staan en braak as wat ek vir haar gesê het om te doen,” verduidelik hy. “Dit was nie my bedoeling dat sy heeldag in die bloedige son en wind moes werk nie. Ek sien sy is vreeslik verbrand deur die son. Tante moet asseblief vir haar salf of iets gee vir die sonbrand.”

“Ja, haar vel is vreeslik verbrand,” beaam die ouer vrou, “en sy lyk vir my so verwese. Ek hoop nie die son gaan haar siek maak nie, Wouter. Die wit van haar oë lyk vreeslik rooi.”

“Nee, ek glo nie die son het haar te erg laat deurloop nie, tante. Sy het darem heeldag ’n hoed opgehad. Haar oë is rooi van die stof en wind.” Hy plaas sy leë koppie op die tafel en sê kortaf dat hy ook maar gaan bad.

Dis vir Lecia ’n salige gevoel toe sy in die bad klim en die water haar moeë liggaam koel omvou. Haar gesig, arms, skouers en rug is seer van die sonbrand. Selfs haar hande is rooi gebrand. Sy weet dat sy oor ’n paar dae soos ’n slang sal vervel, maar is te moeg om ernstig daaraan te dink. Al wat sy begeer, is om hier in die water te ontspan en te vergeet van al die onaangename dinge wat sy vandag beleef het. Ja, sy wil ook nie eens aan Wouter se onvriendelikheid dink nie. As hy haar nie kan verdra nie, is dit sy saak. Sy het immers nie gevra om hier op Blouberg te wees nie.

Nadat Lecia gebad het, smeer sy room aan al die sonbrandplekke en was dan die sand en stof uit haar hare. Met die handdoek om haar kop, trek sy ’n sagte kamerjassie aan en gaan lê op die bed waar sy haar brandende oë met oogdruppels dokter.

Etlike minute lank lê sy op die bed met haar oë gesluit, toe oorval die slaap haar, en sy is nie eens bewus van die klokkie wat vir aandete lui nie.

Toe Lecia nie haar opwagting in die eetkamer maak nie, sê Wouter effens ongeduldig: “Ek dink ons moet maar aansit, tante. Daardie rooikop gaan bepaald nog ure voor die spieël staan om haar songebrande gesiggie en rooi oë op te knap, en ek vergaan al van die honger.”

Nadat tant Elsa die kos opgedis het, sê sy bekommerd: “Ek sal maar eers gaan kyk wat Lesie maak, Wouter. Dalk is die kind siek.”

Tant Elsa verlaat die eetkamer en keer na ’n rukkie terug. “Lesie slaap, Wouter,” sê sy en neem weer langs die tafel plaas. “Sy het gebad en haar hare gewas en so met die handdoek om haar kop op die bed aan die slaap geraak,” verduidelik sy.

“Maar sy kan nie nou slaap nie, tante,” sê hy en kyk die ouer vrou ernstig aan. “Lecia het vanoggend laas behoorlik geëet.”

“Wel, sy slaap, en sy sal nie sommer net so aan die slaap raak as sy nie doodmoeg is nie, Wouter. Nee, laat haar slaap. Sy kan eet wanneer sy wakker word.”

Hieroor voel Wouter glad nie gelukkig nie. Lecia het vandag ’n man se werk verrig, sonder middagete, en die hele middag nie nat of droog oor haar lippe gehad nie. Sy gewete begin hom nou ernstig aankla. Hy verwyt homself omdat hy nie drie-uur gaan kyk het waarom sy nog nie tuis is nie, en toe hy eindelik halfvyf daar aankom, trap hy haar nog boonop uit ook. Hy voel meteens bitter spyt oor party van die dinge wat hy gesê het. Sy was heeldag in die son en wind op die trekker, doodmoeg en seer van sonbrand, en in plaas van ’n vriendelike woordjie van bemoediging, slinger hy haar beledigings toe . . . en dit oor die ploegskare. Hy verstaan nou waarom sy hom nie, soos gewoonlik, met haar tong gegesel het nie. Sy was te dors en uitgeput om met hom te argumenteer. Hy verstaan homself ook nie. Hy was nooit in die verlede so kort van draad nie . . . Dis waar, die rooikop het ’n manier om elke moontlike emosie in hom te voorskyn te bring.

Wouter voel bitter bekommerd oor Lecia, want dit is vir hom nou baie duidelik dat sy haar vandag ooreis het. Hy probeer sy gewete salf met die gedagte dat dit haar eie skuld is. As sy geluister het toe hy aan haar verduidelik het hoe breed sy die land moet braak, sou sy twee-uur al klaar gewees het. Vir die beledigings wat hy haar toegeslinger het, is daar egter geen salf vir sy gewete nie.

Lank nadat tant Elsa al gaan slaap het, sit hy nog in die studeerkamer en wag dat Lecia moet wakker word en kom eet. Later gaan hy ook maar slaap, want dit lyk nie asof die rooikop vanaand gaan wakker word nie.

Susanna M Lingua Gunstelinge 2

Подняться наверх