Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 2 - Susanna M Lingua - Страница 9
Оглавление5
In haar bed lê Lecia aan baie dinge en dink. Sy herleef die dag se gebeure en dink aan die brief wat sy vir tant Emma wil skryf in verband met haar skilderye. Daar is ’n nuwe mat en gordyne vir die sitkamer nodig, meen sy, maar as sy net ’n jaar op Blouberg gaan woon, sal dit beter wees om enige veranderinge in die huis liewer aan Wouter se toekomstige vrou oor te laat. Dit is immers ’n bruid se voorreg om haar nuwe tuiste volgens haar eie smaak in te rig.
Baie gedagtes maal deur haar verstand, maar so onder al die gedagtes deur raak sy eindelik aan die slaap.
Lecia word die volgende oggend voor sonop wakker. Met slaapbenewelde oë lê sy deur die venster en kyk. Toe tref dit haar meteens dat sy vandag gaan leer om met ’n geweer te skiet, en die volgende oomblik vonkel haar groen oë lewendig van opgewondenheid.
Vandag is dit ek en die tarentale, dink sy ingenome, en op hierdie oomblik kom Katrien die kamer binne met ’n koppie koffie en ’n bakkie beskuit.
Lecia beantwoord die huishulp se vriendelike môregroet, neem die koffie en vervolg: “Jy kan die beskuit maar terugneem, Katrien. Ek gaan nie toelaat dat julle my vet voer nie. Jy moet meneer Wouter gaan wakker maak. Hy moet my vandag leer skiet.”
“Die kleinmeneer het lankal opgestaan, juffrou. Hy het gesê ek moet die juffrou uitskud uit die kooi. Die boermense slaap nie totdat die son hulle uitjaag nie,” probeer sy Wouter se boodskap oordra.
“Gaan sê jy vir jou kleinmeneer hy moet na sy peetjie gaan.”
Daar kom ’n snaakse trek op Katrien se gesig, so asof sy wil huil, maar dan merk Lecia dat sy dik van die lag is.
’n Rukkie nadat Katrien die vertrek verlaat het, wip sy uit die bed. Sy trek haar kamerjas en pantoffels aan, neem haar toiletsakkie en draf haastig badkamer toe. As Wouter dink dat die son haar in die bed gaan kry, vergis hy hom terdeë. Sy sal hom wys dat sy buite is voordat die son sy kop in die ooste uitsteek.
Die badkamer se deur staan op ’n skrefie oop en sy storm die vertrek met ’n vaart binne. Die volgende oomblik loop sy haar trompop teen ’n groot gestalte vas.
Sy voel hoe ’n hand uitskiet en keer dat sy op haar rug beland. Toe hoor sy Wouter met onmiskenbare spot in sy stem sê: “Hiert, jou rooihaar-tierboskat! Wil jy my nou uit die grond uit loop?”
Sy vee die hare uit haar oë en kyk vererg op, reg in ’n skuimbedekte gesig waaruit twee diepblou oë haar ondeund toelag.
“Is jy besimpeld, of wat?” roep sy onthuts uit. “Kan jy nie die badkamerdeur sluit wanneer jy hier binne besig is nie? En noudat ek daaraan dink, wat de drommel maak jy nog hier in die badkamer? Katrien sê jy het lankal opgestaan, dus kon jy lankal gebad en geskeer het.”
“O, ek het lankal gebad,” verseker hy haar goedig. “Jy het nog gelê en snork toe ek gebad en my aangetrek het.”
“Jy is van jou wysie af! Ek snork glad nie,” werp sy vererg terug. “Skeer liewer en kry klaar sodat ek ook die badkamer kan gebruik. Ek weet nie watse soort mens jy is nie. My pappie het altyd eers geskeer en dan gebad.”
“A, maar ek is nie jou pappie nie, my hartjie, ek is ’n ander ou,” verseker hy haar met ’n ondeunde trek in sy oë terwyl hy die skeerskuim van sy gesig afwas. “Kom,” sê hy toe sy gesig eindelik skoon is van skeerskuim, “ek sal jou ’n badkamer gaan wys wat jy as jou eiendom kan beskou.”
“Nou waarom het jy nie lankal gesê hier is nog ’n badkamer nie?” verwyt sy met ’n kwaai frons, maar volg hom nietemin toe hy by die deur uitstap.
“Ek het gewag dat jy om verskoning moet vra omdat jy soos ’n tornado daar ingewaai gekom het terwyl ek besig was om te skeer,” terg hy terwyl hy haar na die badkamer langs haar slaapkamer neem.
“Moet ek jou om verskoning vra as jy te sleg is om die deur agter jou toe te maak? Jy kan na jou peetjie gaan –”
“Sê nou ek was in die bad, my hartjie?” knip hy haar tirade kort.
“B- . . . bad jy dan met ’n oop deur?” Sy kyk hom geskok aan. Sowaar, die man het geen skaamte of selfrespek nie.
“Hm, ek vergeet soms die deur halfpad oop,” jok hy sonder om ’n oog te knip. “Ek sal jou dus aanraai om liewer nie van daardie badkamer gebruik te maak nie.”
“O, jy kan daarvan verseker wees,” belowe sy ernstig.
“Toemaar, dis nie die ergste wat met jou kan gebeur nie,” sê hy bedaard. “Die ergste sal wees as jy dalk vergeet om die deur toe te maak as jý binne is.”
Hy stoot die badkamer se deur oop en kyk haar met ’n ondeunde spotlag aan. “Jy moet maar skree as ek jou rug moet kom was, kleinding . . .”
“Gaan blaas doppies.” Sy seil die badkamer binne en klap die deur hard agter haar toe.
Wouter staan ’n oomblik en luister . . . Ja, net soos hy gedink het. Sy is ook een wat nooit ’n deur agter haar sluit nie. Ook maar goed dat hy hierdie voorsorgmaatreël van aparte badkamers getref het.
Dit neem Lecia nie lank om te bad en haar aan te trek nie. Sy lyk koel en netjies in ’n groen gestreepte somerrokkie met twee yslike sakke, en met wit sandale aan. Om haar hare te kam en grimering aan te wend, neem haar ook nie lank nie. Sy is gekonfyt in hierdie dinge, en buitendien is sy nie die soort meisie wat ure voor ’n spieël talm nie.
Sy het al weer heeltemal van die badkamer-episode vergeet toe sy die eetkamer binnestap, waar Wouter en tant Elsa vir haar wag. Sy sê opgewek môre vir tant Elsa, neem haar plek aan die tafel in en draai sonder meer na Wouter.
“Onthou, jy het belowe om my vanmôre te leer skiet,” herinner sy hom met ’n innemende glimlag en ’n blos van opgewondenheid op haar wange. “Ek gaan daardie tarentale op hul herrie –”
“Laat ek eers bid, kleinding, daarna kan ons oor die tarentale gesels,” val hy haar in die rede.
“Ek het lankal vir myself gebid,” help sy hom reg. “Maar gaan tog maar voort.” Sy wag egter net totdat hy amen sê, toe val sy weer weg. “Nou, in verband met die skietery, Wouter . . .”
“Kleinding, ek is seker jy het nie ’n woord van my gebed gehoor nie,” beskuldig hy haar met ’n geamuseerde glimlag terwyl hy suiker oor sy pap strooi, maar Lecia se volgende woorde laat hom verras opkyk.
“Nou, wat maak dit saak?” vra sy gesteurd. “Ek het mos my oë toegehou, het ek nie?”
“Hm, ek dag jy het gesê jy is ’n gereelde kerkganger,” terg hy. “Wat gaan maak jy eintlik in ’n kerk as jy nie eens na ’n gebed kan luister nie?”
Sy kyk hom snaaks aan, so asof hy verstandelik effens vertraag is en sy dit nou eers agterkom.
“Ek dink dis tyd dat ons mekaar eens en vir altyd goed verstaan, Wouter,” sê sy. Sy sit die lepel waarmee sy eet versigtig neer en kyk hom vas aan – presies soos oom Isak as hy iets ernstigs op die hart gehad het. “Ek het nie gesê dat ek gereeld kerk toe gaan omdat ek so danig baie daarvan hou om kerk toe te gaan nie. Ek het gesê ek gaan gereeld kerk toe omdat my ma my geleer het dat ’n ordentlike mens Sondae kerk toe gaan.”
Toe bars Wouter hartlik uit van die lag, en selfs tant Elsa kan nie help om onderlangs te glimlag nie.
“Lecia, Lecia!” kry hy dit hortend tussen lagbuie uit. “En jy noem jouself ’n Christen . . . Julle Branks is almal eenders, my liefie. As dit die rede is waarom jy elke Sondag kerk toe gaan, kan jy dit gerus staak en tuis bly. ’n Mens gaan nie om daardie rede kerk toe nie.”
“Man, vergeet nou hierdie dinge en vertel my liewer of jy my na ontbyt gaan leer skiet,” maak sy ernstig beswaar teen sy ontydige prekery.
“Nou goed, ek sal vanoggend al my werk los en jou eers leer skiet,” belowe hy. “Eet nou, jou kos word koud.”
Vir ’n wonder praat sy nie teë nie.
Lecia se groen oë blink opgewonde toe sy ’n rukkie later buite vir Wouter wag terwyl hy die geweer en patrone gaan haal. Sy dink aan die ellendige tarentale, en besluit dat hulle nie weer die geleentheid gaan kry om Lady te laat skrik nie. Ja, en die ou bokram sal ook in sy spoor moet trap as sy eers goed kan skiet!
Na ’n rukkie sluit Wouter hom by haar aan. Hy vertel haar omslagtig hoe die geweertjie werk en wys haar hoe sy korrel moet vat en die geweer moet laai. Dit duur ook nie lank nie, toe vuur sy die een patroon ná die ander op die skyf af.
Instink moet tant Elsa se pluimvee, speenvarkies en die ou bokram gewaarsku het dat dit ’n ongeskoolde persoon is wat die geweer hanteer, want almal het die loop geneem. Net Wouter se twee geliefkoosde bulhonde het nader gestaan om die gedoente te aanskou, blykbaar onder die indruk dat daar op ’n haas of ’n ding gevuur word en dat hulle aanstons die slagoffer sal kan verslind.
Boel, die reun, is gans te manhaftig, want hy waag dit selfs om effens skuins voor die skut te kom staan.
Hoe dit gebeur het, weet Lecia nie, maar toe sy die geweer se slot toedruk, gaan die skoot onverwags af en tref Boel vol in die regterboud.
“Nou wat de duiwel makeer jou om my hond te skiet?” dring Wouter se ontstoke stem tot haar deur toe die hond tjank. “Kan jy nie kyk wat jy doen nie, of is jy blind?”
Sy kyk hom verskrik aan toe hy die geweer uit haar hande neem.
“Moenie verspot wees nie,” snou sy hom ergerlik toe. “Ek het nie die ellendige hond opsetlik geskiet nie. Dink jy ek is gek? Moenie my hier staan en verskree nie, Wouter Fouché. Gaan kyk liewer hoe ernstig die hond beseer is.”
Sy blou oë is donker en ongenaakbaar toe hy grimmig sê: “As Boel vrek, draai ek jou nek om. Jy moet liewer jou motor uit die waenhuis gaan haal sodat jy hom na die veearts kan neem.”
“Dis nie nodig om my so aan te gluur nie,” bestraf sy hom. “Ek weet dis my plig om hom veearts toe te neem.”
Hy meet haar met ’n kil blik. “As ek nie nog jou nek omdraai nie –”
“Toemaar, jy het dit al gesê, dis nie nodig om dit te herhaal nie,” knip sy sy tirade kort en stap haastig huis toe om haar motor te gaan haal. Sy besef dat Boel sonder versuim behandeling sal moet kry. Hy is nou wel die lelikste hond wat sy al ooit in haar lewe gesien het, maar sy wil darem nie die oorsaak van sy dood wees nie.
Tant Elsa is die ene besorgdheid oor die hond toe sy hoor dat Lecia die dier per ongeluk raak geskiet het. Sy gaan ook sommer dadelik buitentoe om vas te stel hoe ernstig die wond is en of sy Wouter met iets kan help.
Maar Wouter het reeds alles onder beheer, en toe Lecia ’n paar minute later langs hom stilhou, het hy Boel op ’n sak gemaklik gemaak vir die rit Dennevlei toe.
Nadat hy die hond langs Lecia se voete in die motor neergelê het, verduidelik hy aan haar waar dokter Frans le Roux se spreekkamer is.
Sy kyk hom ’n oomblik stil aan en sê dan sag: “Ek is jammer oor jou hond, Wouter. Ek het hom nie opsetlik geskiet nie. Regtig, dit was ’n ongeluk en . . . Wel, ek weet nie wat gebeur het dat die skoot so onverwags afgegaan het nie.”
“Nou goed, ek neem jou verskoning aan. Maak net gou sodat Frans die hael uit sy boud kan verwyder voordat daar ontsteking in kom,” maan hy besorg.
Met ’n handgebaar wat tot siens beteken, trek sy versigtig van die werf af weg. Die hond steun, en sy verwens haarself omdat sy die geweer nie versigtiger gehanteer het nie. Dis nie aangenaam om ’n dier te sien ly nie.
Etlike minute is Lecia diep in haar gedagtes versonke, dan merk sy ’n troppie skape op wat ’n entjie vorentoe langs die pad wei. Sy verminder dadelik die voertuig se snelheid, want ’n mens weet nooit wanneer ’n dier dit in sy kop kry om die pad oor te steek nie, en sy het reeds ’n beseerde hond by haar in die motor.
Sy voel verlig toe sy merk dat daar darem ’n wagter by die troppie skape is, maar sy besluit nietemin om maar stadig te ry. Sy nader die troppie skape en merk dat die wagter besig is om hulle van die pad af weg te keer, maar die volgende oomblik spring een kortom en hardloop voor die motor in. Sy trap die rempedaal diep weg, maar die kant van die buffer tref die skaap teen die blad.
Sy klim haastig uit en draf na die skaap toe waar hy spartel om orent te kom. Die ou wagter wat die skape oppas, is egter eerste by die beseerde dier.
“Ai, juffrou, meneer Wouter gaan baie kwaad wees,” sê die wagter bekommerd. Sy verplooide gesig is behoorlik vaal van die skrik. “Dis net ’n paar maande gelede dat meneer Wouter dié ram gekoop het, hy’t baie geld gekos.”
“Jy sê dis ’n ram?” Sy kyk bekommerd na die skaap. “Is hy ernstig beseer?”
“Dis sy blad, juffrou. Ek moet vir meneer Wouter . . .”
“Nee, wag,” keer sy haastig. Sy voel werklik nie lus om nou weer onder Wouter se tong deur te loop nie. Twee ongevalle op een dag . . . Ja-nee, dis beslis nie vandag haar gelukkige dag nie. “As ek die motor nader bring, sal jy die skaap in die kattebak kan laai?” vra sy na ’n oomblik. “Ek dink dit sal beter wees as ek die skaap dokter toe vat.”
“Ja, juffrou moet maar so maak,” beaam die ou wagter.
Met ’n groot gesukkel lê die ram later in die motor se kattebak. ’n Leë oliekannetjie word gebruik om te keer dat die klap heeltemal toegaan. Om te verhoed dat dit op pad oopgaan en die skaap uitval, het die wagter die klap met ’n dun riempie aan die buffer vasgemaak.
“Nou ja, ek gaan nou ry . . . e . . . Wat is jou naam?” Sy kyk die wagter vraend aan.
“Kiewiet, juffrou,” kom dit beleef.
“Hm, interessante naam. In elk geval, ek gaan nou ry, Kiewiet. Jy moet maar vir meneer Wouter gaan vertel wat hier plaasgevind het en dat ek die ram dokter toe gevat het.”
“Ek sal so maak, juffrou,” belowe hy plegtig.
Hierna klim Lecia in die motor, en na ’n rukkie is sy buite Blouberg se grense. Met al die gesukkel met die skaap het sy skoon van Boel vergeet. Uit die hoek van haar oog merk sy dat hy darem nog asemhaal, dus lewe hy nog.
Hy moet tog nie besluit om nou sy laaste asem uit te blaas nie, dink sy, want dan slag Wouter my lewend af . . . Vervlaks, nou is daar nog die ellendige skaap ook waarvoor hy my tot verantwoording sal roep. Hy sal natuurlik nie glo dat ek geen skuld aan die ongeluk het nie . . . Dis Kiewiet se skuld. Hy moes nie die skape so naby die pad laat wei het nie. In elk geval, sodra ek tuis is, sal ek self aan Wouter verduidelik hoe die ongeluk plaasgevind het.
Na hierdie besluit voel Lecia byna weer opgewek, maar dan steun Boel skielik en sy voel opnuut bekommerd en onrustig.
“Moet tog nie nou die gees gee nie, Boel. Ons is amper by die veearts,” paai sy die hond. “Hou nog net ’n klein rukkie uit.”
Sy dink aan die skaap wat in die kattebak lê. Nou wonder sy of die riempie nog hou en of sy die dier nie al langs die pad verloor het nie. Dis so stil, sy hoor nie ’n geluid van die kattebak se kant af nie.
Sy sug byna hardop van verligting toe sy eindelik voor dokter Frans le Roux se huis stilhou. Sy klim uit en stap haastig na die voorstoep toe waar ’n lang, skraal, blonde man met ’n wit oorjas aan gesellig met ’n paar songebruinde, middeljarige mans staan en gesels.
“Goeiemôre,” sê sy en draai na die man met die wit oorjas aan. “Is jy dokter Le Roux?”
Almal beantwoord haar môregroet, en dan sê die man met die wit oorjas: “Dit is ek, juffrou . . . e . . .”
“Ek is Lecia Brank van Blouberg, dokter, en ek het ’n paar ongevalle in my motor wat mediese behandeling dringend nodig het.”
“Wat het die diere oorgekom, juffrou Brank?” vra die veearts belangstellend. Hy het nooit kon droom dat wyle oom Isak so ’n aanvallige broerskind het nie.
“Wel, Boel – dis nou Wouter se hond – het ek per ongeluk in die boud geskiet terwyl Wouter besig was om my te leer skiet,” verduidelik sy. “En op pad hierheen het ek een van sy onnosele skape raak gery. Ek weet nie of hy al van die ongeluk weet nie. Ek het die skaapwagter gestuur om hom van die skaap se lot te verwittig, maar die ou was asvaal geskrik. In elk geval, die hond is voor in die motor, dokter, en die skaap is agter in die kattebak . . . dis te sê as ek hom nie al langs die pad verloor het nie.”
“Maar dan moet ons gaan kyk of die skaap nog in die motor is, juffrou,” stel die veearts met ’n geamuseerde glimlag voor.
“Ons sal die diere vir jou na die agterplaas toe vat, Frans,” bied een van die mans hulpvaardig aan.
Die veearts bedank hom vriendelik. Dan stap almal na Lecia se motor toe.
“Julle menere moet asseblief versigtig werk met die skaap,” vermaan sy besorg. “Die motor se buffer het hom teen die regterblad getref en ek weet nie of sy blad af is nie. Ek hoop in elk geval hy leef nog, dis te sê as ek hom nie langs die pad verloor het nie.”
“Ons sal versigtig wees, juffrou,” verseker ’n gesette man haar. “Ons is almal boere wat vandag sake hier op die dorp kom doen het.” Hy stel homself en sy vier vriende aan haar voor. Toe bereik hulle die voertuig en die spreker, wat homself Ben Viljoen noem, begin die riempie aan die kattebak losmaak.
“Goeie genade!” roep Ben Viljoen geskok uit toe die kattebak eindelik oop is. “Dis daardie stoetram wat Wouter ’n paar maande gelede gekoop het.” Hy draai na Lecia en vervolg met ’n sagte laggie: “Juffrou Brank, ek dink Wouter gaan jou ophang as hierdie ram vrek.”
“Ek sal dit nie betwis nie, meneer Viljoen,” glimlag sy terug. “Hy het vanoggend al gedreig om my nek om te draai as sy hond vrek. En nou sê jy hierdie ellendige skaap is iets om mee rekening te hou . . . Ek dink daar gaan vandag oorlog wees op Blouberg.”
“Wel, ek moet sê jy lyk nie juis bang nie, juffrou,” terg die veearts terwyl hy die ram se beseerde blad met vaardige vingers ondersoek.
“Ons Branks van Blouberg is nie bang mense nie, dokter . . .Nee, ek is nie vir Wouter se gramskap bang nie. Ek weet hy gaan ’n oorval kry omdat ek sy skaap raak gery het, maar dis die skaap se eie skuld dat hy seergekry het.” Die geklap van ’n motordeur laat Lecia vinnig opkyk. “Praat van die duiwel, dan trap jy op sy stert,” glimlag sy vir Frans le Roux.
Lank, breed en netjies geklee kom Wouter na hulle toe aangestap. Daar is ’n stroewe trek om sy mond en sy gesigsuitdrukking verraai dat hy bitter ontstoke is.
Hy groet die ses mans met ’n kortaf: “Môre, mense,” en draai dan na Lecia. “Wat de duiwel het jy aangevang dat jy my stoetram raak gery het? Eers vermink jy my hond, en nou is dit weer my spogram. As jy so aangaan, sal jy my heeltemal uitroei –”
“Ek het nie jou ellendige skaap opsetlik raak gery nie, Wouter Fouché!” val sy hom driftig in die rede. “Ek weet ook nie waarom jy so ’n kabaal opskop oor so ’n liederlike dierasie nie. Die ding se neus is so verplooi, dit lyk kompleet of hy ’n honderd jaar oud is. ’n Skaap is ook glad nie so ’n vreeslike duur ding nie. As hierdie een die gees gee, sal ek vir jou ’n ander een in sy plek koop.”
“Vir daardie ram wat jy ’n liederlike dierasie noem, het ek ’n yslike klomp geld betaal . . .”
“Is dit my skuld dat jy so onnosel is om ’n yslike klomp geld vir ’n simpel skaap te betaal? Gits, in Johannesburg betaal ons glad nie so baie vir ’n halwe skaap nie . . .”
Die mans lag hartlik en Lecia swyg verleë, maar sy kyk hulle hooghartig aan. Sy sien geen grap in die hele onsmaaklike affêre nie.
“Hoe lyk dit, dokter?” vra Wouter.
“Die ram is gelukkig nie ernstig beseer nie, en daar is ook geen bene gebreek nie,” sê Frans le Roux. “Jy kan hom oor ’n dag of twee kom haal. Ek sal maar eers die hond binnetoe neem.”
Verligting spoel soos ’n golf oor Lecia. Sy kry dit selfs reg om te glimlag toe sy sê: “Wel, noudat Wouter se skapie nie meer op die gevaarlys is nie, gaan ek ’n restaurant soek wat ordentlike koffie –”
“Jy gaan nêrens heen nie, jou klein gifangel, jy bly net hier,” val Wouter haar streng in die rede. “As jy dink ek gaan jou toelaat om hier op die dorp moleste te maak, wag daar ’n groot ontnugtering op jou. Jy bly hier waar ek ’n oog oor jou kan hou.” Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg: “Kom, ek wil gaan kyk of die winkel hier langsaan al my ploegskare gekry het.”
“Wat, noem jy hierdie smouserasie ’n winkel?” Sy kyk Wouter verbaas aan.
“Ek glo nie meneer Lavinsky sal daarvan hou dat jy sy winkel ’n smouserasie noem nie,” tik Wouter haar streng op die vingers. “Dis die enigste winkel op Dennevlei waar ’n mens plaasbenodigdhede kan koop.”
“Wel, vir my lyk dit nie soos ’n winkel nie. Trouens, ek het nog nooit in Johannesburg so ’n . . . ’n winkel gesien nie. Al daardie droë velle op die stoep wat so opeengestapel is, sakke vol goed, hoenders in hokkies en die joos weet wat nog alles. Dis maar ’n bont spul . . .”
“Kom, jy is gans te puntenerig,” maak hy haar ongeërg stil. “As jy dors is, kan jy ’n koeldrank hier in die winkel drink.”
Lecia kyk hom onthuts aan en gee ’n tree van hom af weg. “Jy moet van jou wysie af wees as jy dink ek sal iets in daardie . . . daardie smerige plek drink. Ek gaan nou ’n koppie koffie in ’n ordentlike restaurant geniet, en jy kan na jou peetjie gaan as jy nie daarvan hou nie. Ek laat my nie van jou of enigiemand anders voorskryf nie –”
“Bly stil, rissie, hier kom dominee Snyders aan,” sê Wouter onderlangs met ’n kwaai frons.
Maar Lecia het nou heeltemal genoeg van Wouter se gramskap en oorheersing gehad.
“Na die duiwel met jou en die predikant,” snou sy hom onthuts toe. Sy draai om en stap met ’n hooghartige houding weg, onbewus daarvan dat die predikant haar kwaai woorde gehoor het.
Daar speel ’n geamuseerde glimlaggie om die ouerige man se mond toe hy die groep mans groet. Hy verneem belangstellend na almal se gesondheid en vervolg dan met ’n breë glimlag: “Wie is die dametjie wat jou en my so pas na die duiwel gestuur het, Wouter?”
“Dominee, ek is seker u kan raai wie sy is,” glimlag Wouter terug. “Herinner daardie rooi hare en groen oë u nie aan ’n baie bekende persoon nie?”
“Dis waar, sy lyk op ’n haar na wyle Isak Brank,” lag die ander man goedig. “Is sy . . .?”
“Sy lýk nie net soos oom Isak nie, dominee, sy áárd ook na hom,” lig Wouter hom met ’n ondeunde glimlaggie in. “Oom Isak was haar oom. Ek dink ek moet liewer nou gaan kyk waar daardie klein rooikop haar bevind en wat sy aanvang. Ek het al agtergekom: as sy nie moeilikheid soek nie, soek die moeilikheid háár. Dus sê ek dan maar tot siens, dominee.”
’n Kort stilte heers tussen die groepie daar op die sypaadjie, toe sê Ben Viljoen: “Ek dink Wouter gaan daardie rooikop tem.”
“Wat, ’n Brank tem?” kom dit van Kas Groenewald. “Nee, Ben, ek glo nie daar is ’n man wat daardie rooikop sal kan tem nie. Die Branks van Blouberg was nog altyd ontembaar.”
“Ek is geneig om met Ben saam te stem,” sê Andries Kleinhans. “Wouter is feitlik self ’n Brank, en net ’n Brank sal weet hoe om ’n ander Brank te tem . . . Nee, ek dink daardie rooikop gaan haar moses in Wouter teëkom.”
Onderwyl die groep mans oor die jongste en laaste lid van die Branks van Blouberg bespiegel, tref Wouter haar in die dorp se enigste restaurant aan. Hy kom langs haar staan en vra sag: “Het jy al vir jou iets te drinke bestel, kleinding?”
Sy kyk hom behoedsaam aan, maar merk dadelik op dat hy nou weer in ’n gemoedelike stemming verkeer.
“Nee,” sê sy vriendelik, “ek het nog geen kelner met ’n oog gesien nie. Die bediening in hierdie plek is maar swak . . .”
“Ek sal ons bestelling by die toonbank gaan plaas,” sê hy voordat sy nog meer kritiek oor die plek en sy bediening kan kwytraak. Hy ken die Branks as uitgesproke mense wat nie altyd omgee of hulle ander mense te na kom nie, en as hy dit kan verhelp, sal Lecia nie in die voetspoor van haar voorvaders volg nie. Sy is so ’n aantreklike en aangename meisie – hy sal graag wil hê dat sy deur die gemeenskap bemin word vir haarself en nie vir haar posisie as mede-eienaar van Blouberg nie.
Terwyl Wouter hul bestelling plaas, beskou Lecia hom met goedkeuring. Hy is vir haar die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Sy kyk na die keurige snit van die grys langbroek wat hy aanhet, die wit hemp, mooi das en netjiese swart skoene. Dan wonder sy waarom hy op vier en dertigjarige leeftyd nog ongetroud is. Hy is so vervlaks aantreklik . . . Sy wonder wie die meisie is wat sy hart in die holte van haar hand hou.
Toe Wouter van die toonbank af wegdraai, kyk Lecia haastig weg. Sy wil nie hê hy moet weet dat sy na hom gesit en kyk het nie. Hy is gans te skerpsinnig na haar sin.
Wouter neem teenoor haar plaas. Hy kyk haar ernstig aan en sê bedaard: “Jy het my nog nie vertel hoe die ongeluk plaasgevind het nie. Ek bedoel nou, toe jy daardie duur stoetram van my raak gery het.”
“Wouter, dit was regtig nie my skuld nie. Ek het dit ook nie opsetlik gedoen nie –”
“Jy het dit al gesê, en ek glo jou, Lecia,” val hy haar gerusstellend in die rede. “Ek glo dat jy my enigiets sal aandoen, maar ek glo nie dat jy vir my leuens sal vertel om jouself te regverdig nie.”
“Dankie, Wouter, dit is nie my gewoonte om agter leuens te skuil nie. Laat ek jou vertel wat gebeur het . . .” Sy vertel hom hoe die ongeluk plaasgevind het en sluit met ’n ongelukkige uitdrukking in haar oë af: “Ek weet werklik nie waarom hierdie dinge nou juis met my moet gebeur nie. Jy het gelyk – as dit so aangaan, sal ek jou heeltemal uitroei en . . . Wel, ek wil nie graag hê dat so iets met jou moet gebeur nie. Dan sal dit veel beter wees dat ek jou liewer in vrede laat en teruggaan Johannesburg toe.”
“Jy is ’n Brank, my hartjie, en jou plek is op Blouberg, nie in Johannesburg nie. Onthou dit altyd.”
“Maar wat van al die skade wat ek jou aandoen, Wouter?” hou sy ernstig vol. “Wie sê ek gaan jou nie nog meer skade berokken as daardie skaap waarvoor jy baie rande betaal het nie?”
“Van die ram kan jy maar vergeet,” troos hy sag. “Jy het self gehoor Frans sê die dier is nie ernstig beseer nie.”
“Die skaap kan dalk inwendig beseer wees,” hou sy vol. “Dokter Le Roux het hom met my aankoms net vlugtig ondersoek. As hy doodgaan, sal ek jou betaal sodat jy vir jou ’n ander een in sy plek kan koop.”
“Wel, ek moet sê dit klink of jy baie geld het, meisietjie,” terg hy met ’n sweem van ’n glimlag.
Sy skud haar kop. “Nee, ek het nie,” sê sy ernstig. “Ek glo nie ek het meer as ’n paar honderd rand in die bank nie, maar ek is bereid om my motor te verkoop om jou vir die verlies van die skaap te vergoed.”
“Lecia, dink jy ek sal toelaat dat jy jou motor verkoop om my vir die ram te vergoed? Dink jy regtig dat ek dit sal toelaat?” Sy blou oë kyk diep en ernstig in hare.
“Dis die enigste manier waarop ek jou sal kan vergoed –”
“Hier is die kelner nou met ons bestelling,” val hy haar sag in die rede. “Drink nou jou koffie en vergeet die ram. Hy sal nie doodgaan nie. Terloops, oom Ben Viljoen se dogter, Teresa, het vanoggend gebel en ons na haar verjaardagparty genooi. Sy verjaar Saterdag.”
“Hoe oud is sy?”
“Laat ek sien . . . Sy is sewe jaar jonger as ek, dus moet sy nou sewe en twintig wees. Sy gee onderwys hier aan Dennevlei se laerskool.”
Terwyl hulle koffie en botterbroodjies geniet, vertel Wouter haar van die Viljoens wie se plaas Goeiehoop langs Blouberg lê, en dat die party in die vorm van ’n vleisbraaiery sal wees. Hierna gaan hulle terug na Frans se huis toe om te verneem hoe dit met die beseerde diere gaan.
Die jong veearts se gesig helder merkbaar op toe hy Lecia sien. Nadat hy Wouter verseker het dat albei sy diere buite gevaar is en dat hy Boel oor ’n week kan kom haal, is Wouter meteens haastig om na Blouberg terug te keer sodat hy met sy werk kan aangaan.
“Ons sien jou seker Saterdag op Goeiehoop, Frans?” sê-vra hy.
“Wel, as juffrou Brank Teresa se party met haar teenwoordigheid gaan vereer, sal ek beslis daar wees,” glimlag die dokter.
“Laat staan maar die gejuffrou, Frans. Haar naam is Lecia,” sê Wouter. Hy kyk na Lecia en vervolg: “Jy kan ons vriend gerus maar Frans noem, my hartjie. In hierdie geweste noem ons mekaar op die naam. In elk geval, ons moet nou ry.”
Hulle groet vir Frans, en ’n rukkie later is albei op pad Blouberg toe.
Op die plaas wag tant Elsa in spanning op hul tuiskoms. Sy voel bekommerd oor Lecia, want Wouter is ’n dwars man as hy die slag kwaad is, en hy was juis vanoggend in ’n vreeslike onweersluim toe hy hier weg is dorp toe. Sy kan Wouter se kant van die saak insien. Watter boer sal nou nie omgekrap voel as sy diere iets oorkom nie? Tog is haar simpatie by Lecia, want die arme kind het nie op ’n plaas grootgeword nie.
Tant Elsa is aangenaam verras toe Wouter en Lecia pas voor middagete ewe vriendelik en gemeensaam die huis binnestap asof hulle nog nooit ’n woordewisseling gehad het nie.
“Gaan dit goed met die hond en die ram, Wouter?” vra sy belangstellend.
“Ja, dankie, tante. Die ram is gelukkig nie ernstig beseer nie, en ek kan Boel oor ’n week gaan haal.”
“Nou ja, dan sal ek maar gaan opskep,” sê tant Elsa. “Julle is seker al dood van die honger.”
“Ons kan eet sodra ek my verklee het, tante, tensy Lecia so honger is dat sy nie kan wag nie.” Hy kyk die rooikop vraend aan.
“Toemaar, gaan trek maar eers daardie ou groot doodtrappers van jou aan,” sê sy met ’n sweem van ’n glimlaggie. “Ek kan wag.”
Daar is ’n geamuseerde uitdrukking in Wouter se oë toe hy met ’n sagte laggie sê: “Ek weet my groot voete hinder jou, kleinding, maar ek het hulle nie so bestel nie. Ek is darem nogal tevrede met hulle, want hulle pas by my liggaamsbou. Ek hou ook daarvan om groot spore te trap. Sulke groot voete laat ’n mens ten minste stewig en vas op die aarde staan.”
Hm, dink sy, trap maar jou groot spore, my vriend, solank jy hulle nie oor my hart kom trap nie.
“Jou groot voete hinder my nie in die minste nie, Wouter,” sê sy. “Dis jy wat met hulle oor die weg moet kom, nie ek nie.”
“Verskoon my, meisie, sodat ek my doodtrappers kan gaan aantrek,” sê hy effens spottend en stap na sy kamer toe.
Na die ete gaan beoefen Lecia die skietkuns langs die kerkhof se muur, waar geen dier in die nabyheid is nie, maar om vieruur die middag voel sy heeltemal opgewasse vir die tarentale. Sy moet nou nog net leer om die rykuns te bemeester, dan kan sy met die tarentale gaan afreken.
Die volgende twee dae boer sy in die saal. Sy sou Saterdag ook die plaas platgery het as Wouter haar nie aan Teresa se party herinner het nie.
“Dan sal ek vandag maar tuis moet bly en my mooimaak vir vanaand se doenigheid,” sê sy toe hulle van die ontbyttafel af opstaan. “Aangesien dit ’n vleisbraaiery is, sal ek ’n broekpak aantrek –”
“O nee,” keer Wouter dadelik, “as jy saam met my gaan, dra jy asseblief ’n rok. Ek gee nie om dat jy hier op die plaas jou broekpakke dra nie, maar as ons iewers heen gaan, trek jy jou asseblief ordentlik aan.”
“Maar broekpakke is in die mode, Wouter. In Johannesburg dra almal –”
“My liewe mensie, jy is nie meer in Johannesburg nie, jy is nou op Blouberg, en ek herhaal: as jy saam met my gaan, trek jy jou aan soos wat dit ’n Brank betaam.” Hy val haar so kortaf in die rede dat haar humeur sommer weer opvlam.
“Na die hoenders met die klomp Branks, ek trek aan wat ek wil! Wie is jy miskien om vir my voor te skryf wat ek moet aantrek?” kap sy terug. “Is dit ’n klousule in oom Isak se testament dat my kleredrag ook jou goedkeuring moet wegdra?”
“Nee, die testament sê natuurlik niks in verband met jou kleredrag nie. Maak tog maar soos jy wil,” sê hy met ’n onverskillige houding en stap sonder meer uit die vertrek. Hy het nog nooit so ’n koppige meisiemens soos Lecia gesien nie. Hy neem hom nietemin voor om tydens haar verblyf hier op Blouberg van al haar nukke en eiesinnigheid skoonskip te maak . . . Ja, hy en Blouberg gaan haar nog tem.
Soos Lecia gesê het, is sy wel in haar wit broekpak en sandale geklee toe Wouter vir haar kom sê dat hulle moet ry. Hy het ’n liggrys broek, wit hemp en grys sportbaadjie aan. Sy donkerbruin hare is netjies gekam, en sy swart skoene blink soos spieëls.
Sedert vanoggend se woordewisseling oor Lecia se voorliefde vir broekpakke, behandel Wouter haar nog steeds koel en onverskillig. Selfs hier in sy motor, op pad na die Viljoens se plaas toe, is hy opmerklik stil en afsydig. Dit voel vir Lecia asof hy glad nie eens van haar teenwoordigheid bewus is nie. Sy was nou wel vanoggend vasberade om haar sin te kry, maar sy het nie bedoel dat dit onenigheid tussen hulle moes wek nie. Trouens, sy wil graag Wouter se vriendskap behou, want noudat sy hom beter ken, moet sy ruiterlik erken dat sy besonder baie van hom hou.
Toe die stilte in die motor later vir haar te neerdrukkend word, draai sy na Wouter en vra met ’n koketterige glimlaggie: “Is jy nog vir my kwaad oor vanoggend se argument?”
“Nee, ek is nie kwaad nie,” antwoord hy so onpersoonlik dat dit dadelik die glimlag van haar gesig afvee. “Ek is jammer dat ek my vanoggend met jou sake ingelaat het, maar ek het op daardie oomblik vergeet dat jy nie een van ons is nie. Ek kan jou die versekering gee dat dit nie weer sal gebeur nie. Ek sal my in die vervolg net by die taak bepaal wat oom Isak my opgelê het, naamlik om jou te leer boer. Om van jou ’n bekwame tuisteskepper te maak, is gelukkig tant Elsa se taak.”
Hierop antwoord Lecia nie. Trouens, sy het niks te sê nie, want sy besef dat dit deur haar eie toedoen is dat Wouter haar nou soos ’n buitestaander behandel.
Sy kry egter nie die geleentheid om langer oor hierdie toedrag van sake te peins nie, want hulle nader reeds Goeiehoop se plaashuis waar ’n twintigtal motors staan.
’n Lang, blonde meisie kom hulle tegemoet toe hulle uit die motor klim. Sy het ’n geblomde somerrok en wit sandale aan. Sy groet Wouter met ’n stralende glimlag terwyl haar oë elke lyn op sy gesig liefkoos.
“Dis nou Teresa Viljoen, oom Ben Viljoen se dogter,” sê Wouter. ’n Wedersydse aangename kennismaking volg. Teresa kyk Lecia ’n kort oomblik opsommend, byna vyandig aan. Toe haak sy by Wouter in en begin sonder meer met hom gesels asof sy hom jare laas gesien het.
Hierdie onverskillige ontvangs deur die gasvrou laat Lecia meteens ongemaklik en ontuis voel. Sy is nou bitter spyt dat sy ooit ingestem het om hierheen te kom. Het die meisie dan geen maniere nie, of weet sy maar net nie wat ’n gasvrou se pligte behels nie?
Die manier waarop Teresa by Wouter inhaak en met hom gesels, toon baie duidelik dat die twee intiem bevriend moet wees en dat Wouter ’n besonder welkome en spesiale gas is. Dit lyk asof hy nie eens van Teresa se onvriendelikheid teenoor haar bewus is nie.
Hulle stap om die huis na die agterplaas toe, waar oud en jonk skyn te wees en waar die vleisbraaivure reeds hoog brand. Op twee lang tafels is soutigheidjies, ’n verskeidenheid slaaie, keurige toebroodjies, terte, koeke, ’n stapel papierborde, messe, vurke, en ’n mag der menigte glase.
Met Teresa se arm nog steeds deur syne gehaak, stel Wouter vir Lecia aan al die mense voor wat sy nog nie ontmoet het nie. Die blonde veearts, dokter Frans le Roux, kom met lang treë na hulle toe en steek met ’n breë glimlag voor Lecia vas. Sy oë liefkoos haar fyn figuur, en uit die hoek van haar oog merk Lecia op dat daar nou ’n gesteurde uitdrukking in Wouter se oë en om sy mond is.
“Pragtig! Jy is vanaand die betowerendste onder al die skones, Lecia!” roep Frans met opregte warmte uit. “Jy lyk soos ’n roosknop, jy lyk –”
“Gits, Frans, ek het nie geweet jy kan ook liries raak nie,” val Wouter hom laggend in die rede. “Wees versigtig, vriend, selfs die mooiste roos het geniepsige dorings. Moet jou dus nie met hierdie . . . e . . . roosknoppie vergis nie. Haar dorings is nog geniepsiger, hulle is soos angels.”
Lecia kyk Wouter effens uit die hoogte aan en sê snipperig: “ ’n Roos se dorings vermink net dié wat dit met onverskillige hande aanraak en . . . e . . . olifante wat opsetlik teen die boompie kom staan en skuur.”
Frans bars hartlik uit van die lag, maar Wouter se donkerblou oë kyk stil en skerp in hare.
“Ek veronderstel ek is die olifant,” sê hy na ’n rukkie.
“As die skoen jou pas . . .”
“A, Wouter!” klink ’n vrolike manstem agter hulle op. “Jy is net die man wat ek graag wil sien.” ’n Skraal, donker man sluit hom by hulle aan. “Ek hoor oom Isak het uit die dode opgestaan en lewe nou weer in die vorm van ’n beeldskone jong dame.”
“Verskoon my, meneer,” antwoord Lecia voordat Wouter ’n woord kan inkry, “ek weet nie wie jy is en wie jou sulke onsin vertel het nie, maar as jy na my verwys het as die ‘beeldskone jong dame’ in wie oom Isak weer lewe, wil ek jou sê dat die skepsel wat jou dié onsin vertel het, van sy wysie af is. Ek het niks met oom Isak uit te waai nie. Ek aard ook nie eens na oom Isak nie. Ek aard na my pa, Gerrit Brank.”
“Juffrou Brank, het jou pa ook rooi hare en groen oë gehad?” wil die jong man met ’n geamuseerde glimlag weet, kompleet asof hy ’n grap geniet. Lecia voel baie lus en vee die grinnik met ’n warm klap van sy gesig af.
“Verskoon my, meneer . . .” begin sy, haar oë nou vlammend op hom gerig.
“Die naam is Deon Snyders,” stel hy homself voor. “My pa is die plaaslike leraar.”
“Ek gee nie ’n flenter om wie en wat jou pa is nie,” voeg sy Deon ergerlik toe. “Die antwoord is nee, my pa het donker hare en oë gehad. Die kleur van my hare en oë het ek van my voorvaders geërf, nie van oom Isak nie.” Sy draai na Frans le Roux, plaas haar hand liggies op sy arm en vervolg ietwat onthuts: “Kom ons loop liewer, Frans, want ek voel ek gaan my nou liederlik vererg, en netnou beledig ek hom.”
Lecia is nie bewus van Deon se breë glimlag en die vonkeling in sy oë toe sy en Frans in die rigting van die vleisbraaivure stap nie.
“Maggies, maar die meisiekind is mooi as sy ’n mens met sulke vlammende oë aankyk, Wouter,” laat Deon met openlike bewondering hoor. “Sy is net so vurig soos ’n ongetemde jong perd . . . Inderdaad ’n uitdaging vir ’n man. Ek sou haar graag wou tem totdat sy soos klei in my hande is . . .”
“My liewe vriend,” maak Wouter hom met ’n meerderwaardige glimlaggie stil, “Lecia is net so ontembaar soos al haar voorvaders. Volgens oom Rooi Gert van Diepvlei was Lecia se pa in sy jeugjare glo meer beduiweld as oom Isak. Wat het die ou mense nou weer gesê: aardjie na sy vaartjie?”
“Jy bedoel die jonge dame sal haar nie laat tem nie?” sê-vra Deon.
Wouter knik bevestigend. “Ek vrees julle sal haar moet aanvaar soos sy is. Sy is ’n Brank van Blouberg. Sy is net so koppig soos wat oom Isak was. Maar ek moet sê, sy is ’n besonder aangename meisie solank sy daardie vurige humeur van haar in toom hou.”
“En as sy haar humeur verloor, Wouter?” Teresa kyk hom met ’n afwagtende glimlaggie aan, maar wonder heimlik wat sy gevoel vir die rooikop werklik is, want dat Lecia besonder aantreklik is, kan niemand betwis nie.
“As sy haar humeur verloor, stuit sy nie vir die duiwel nie, laat staan nog ’n mens. Sy sal jou, sonder om ’n oog te knip, presies vertel wat sy van jou dink. Daarna sal sy jou padlangs na die warmplek toe stuur,” antwoord Wouter met ’n ondeunde trek in sy oë. Hy draai weer na Deon en vervolg ernstig: “Ek sou julle jong mans aanraai om lig te loop vir daardie rooikop. Sy laat nie met haar speel nie.”
Nes Wouter dwaal ook Deon se blik in die rigting van die vure waar ’n aantal jong mense nou begin aanstaltes maak om die vleis te braai. Lecia en Frans is tussen die groep, en dis duidelik dat sy die aand geniet, want haar klokhelder laggie klink telkens duidelik tussen die ander s’n op.
Intussen hang Teresa nog steeds aan Wouter se arm asof hy haar eksklusiewe eiendom is, asof sy vrees dat ’n ander meisie hom straks van haar kan weglok. Sy voel nie juis lugtig vir die plaaslike meisies se aantreklikheid nie, maar met Lecia op Blouberg vertrou sy die vrede glad nie. Sy het mos duidelik gesien hoe die ouens mekaar verdring om met haar kennis te maak, hoe hulle elke beweging van haar dophou en . . . nou ja, Wouter is ook maar net ’n man, en hulle twee is nie eens verlangs familie van mekaar nie. Nee, daardie rooikop se teenwoordigheid op Blouberg gaan vir haar, Teresa, nog baie kommer en probleme skep.
“Ek dink ons kan ook maar na die vleisbraaivure se kant toe staan,” doen Wouter aan die hand. “Dit lyk my dit gaan sommer lekker daar.”
“Ja, laat ons gerus gaan,” stem Deon saam. “Ek wil graag saam met daardie rooikoppie gaan vleisbraai.”
“Ek dink jy is ’n bietjie laat,” help Wouter hom reg. “Ek sien die meisietjie is reeds besig om vir Frans te help. Ek hoop die man hou sy oog oor haar en kyk dat sy nie haar hande staan en verbrand nie.”
Nie een van die twee mans merk die frons tussen Teresa se oë op nie. Haar gesig is weggedraai, dus sien hulle nie hoe haar oë ’n oomblik op skrefies trek en haar lippe saamgepers word nie. Sy hou niks daarvan dat Wouter so begaan is oor Lecia nie. Hy was nog nooit oor háár hande begaan as sy hom met die vleisbraaiery gehelp het nie.
Sy doen haar bes om haar ergernis te verbloem, maar kan nie help nie om effens suur te sê: “Wel, ek moet sê jy klink baie begaan oor Lecia se hande, Wouter.”
“Lecia is ’n begaafde pianiste en orreliste,” antwoord hy bedaard. “Het jy nie geweet dat sy ’n musiekonderwyseres is nie, Teresa? Die klein gifangeltjie het twee jaar lank in Rome in die musiek gestudeer. Sy het maar eers nege maande gelede van die buiteland af teruggekeer.”
“Na twee jaar in die buiteland vind sy ons bepaald ouderwets en platvloers,” meen Teresa, maar Wouter tree dadelik vir die rooikop in die bresse.
“Nee, die buiteland het gelukkig nie van haar ’n uitheemse mens gemaak nie,” weerspreek hy Teresa. “Lecia is net ’n moderne stadsjuffertjie wat op Blouberg probeer rigting vind, maar sy sal nog regkom. Ek voorspel dat sy oor ’n jaar ’n uitmuntende boer en tuisteskepper sal wees.”
Hulle nader die vleisbraaivure en sluit hulle by die vrolike jongklomp aan. Tot Teresa se ergernis neem Wouter ’n plek langs Lecia in en begin sonder meer met die braaiery help. Sedert sy aankoms het sy geprobeer om hom net by haar te hou, maar nou het sy geen ander keuse as om hom met die jongklomp te deel nie.
So onder die grappies en gelag deur is die vleis eindelik gebraai en elkeen kan smul aan die geurige stukkies braaivleis, bier, soutigheidjies en versnaperinge wat op die tafels uitgestal is.
Nadat almal klaar geëet het en die vure reeds dood is, kondig oom Ben aan dat die jong mense op die voorstoep kan dans as hulle daarna voel. Hy is nou wel ’n ouderling, maar na sy mening kan jong mense erger dinge doen as dans.
’n Paar uitgelate jong mans skreeu hoera, en toe tou al wat jong mens is na die voorstoep, wat twee kante van die huis beslaan. Die luidsprekers word na die stoep toe gedra, en kort voor lank beweeg almal op die ritmiese maat van die musiek oor die breë stoep.
Dit gaan jolig. Een uitgelate ou los meteens sy dansmaat en maak ’n paar wilde ritteldanspassies soos ’n hoender waarvan die kop afgekap is. Toe gryp hy die meisie weer om die lyf en swaai haar dat haar voete net hier en daar grondvat.
“Hiert, jou lekker ding!” roep hy verspot uit en glimlag dat sy tande wit skitter.
Lecia, wat met Frans dans, skater soos sy lag vir die stuitige kêrel se manewales. Haar blik val op Wouter en Teresa wat styf teen mekaar dans. Dit tref haar meteens dat Wouter sedert hul aankoms hier op Goeiehoop nog die hele tyd in Teresa se geselskap verkeer.
Sý is natuurlik die meisie op wie hy verlief is, die meisie wat so skielik en onverwags in sy hart gekruip het, meen Lecia. Sy dink aan die lang, skraal en blonde Teresa met die groot, sielvolle blou oë, fynbesnede neus en mooi, ovaalvormige gesig. Sy is beeldskoon en . . . Wel, sy lyk so sag en minsaam, stu Lecia se gedagtes voort. Geen wonder dat Wouter op haar verlief is nie. En te oordeel na die manier waarop sy die hele middag aan sy arm gehang het, is sy bepaald ook smoorverlief op hom . . . Tog is daar iets aan haar gesig wat nie met haar minsaamheid strook nie. Dis haar mond. Daardie harde trek om haar mond getuig nie van minsaamheid nie . . .
“Waaraan dink jy so ernstig, meisietjie?” dring Frans se stem meteens deur haar gedagtes. “Ek het jou ’n vraag gevra, maar dit lyk my jy het my nie eens gehoor nie.”
Sy kyk hom aan en glimlag ondeund. “Vra maar weer, ek sal jou hierdie keer hoor,” kom haar antwoord duidelik tergerig.
“As jy my langer met daardie ondeunde oë aankyk . . .”
“Jy dwaal van die onderwerp af, Frans,” herinner sy hom. “Wat het jy flussies gevra?”
“Ek wil weet of jy elke tweede dans met my sal dans,” sê hy. “Ek besef natuurlik dat die ander kêrels my dit nooit sal vergewe as ek jou vir elke dans vra nie, dus vra ek jou maar vir elke tweede dans. Is dit in orde?”
Sy knik bevestigend. “Ek hou nogal daarvan om met jou te dans. Jy trap ten minste nie op my tone nie.”
’n Sagte laggie is al antwoord wat sy van Frans kry, maar na ’n rukkie vra hy weer: “Mag ek jou ná die party huis toe neem, of het jy met jou eie motor gekom?”
“Ek het saam met Wouter gekom,” antwoord sy, “en hy sal dit bepaald waardeer as jy my huis toe neem. Ons het vanoggend ietwat van ’n woordewisseling gehad, gevolglik verkeer ons nie juis op vriendskaplike voet nie . . . Ja, ek dink dit sal beter wees as jy my huis toe neem, Frans.”
Soos afgespreek, dans Lecia elke tweede dans met Frans. Sy merk op dat Wouter, wat haar nog nie een keer vir ’n dans gevra het nie, elke tweede dans met Teresa dans. Sy is trouens nie verbaas dat Wouter haar nog nie vir ’n dans gevra het nie. Hy het haar vanmiddag in die motor tog baie duidelik laat verstaan dat hy niks meer met haar te doen wil hê nie en in die vervolg net die opdrag uitvoer waarmee oom Isak hom belas het.
Vir Lecia is dit duidelik dat daar nou ’n kloof tussen haar en Wouter is, en sy kan nie juis sê dat sy daarvan hou nie. Sy het nog al die tyd, sonder dat sy eens daarvan bewus was, op sy vriendskap en bystand staatgemaak om haar deur die moeilike dae op Blouberg te onderskraag. Maar vanaand het hy baie duidelik getoon dat sy nie meer op sy vriendskap moet staatmaak nie. In die vervolg sal sy seker maar self moet sien kom klaar.
Toe Teresa ’n paar minute voor twaalfuur aankondig dat dit nou die laaste dans gaan wees, is Lecia skoon verbaas toe Wouter haar vir die dans vra. Sy is daarvan bewus dat hy haar nie so styf teen hom vashou soos wat hy Teresa vasgehou het nie – of was dit maar Teresa wat so styf teen hóm gedans het?
Dit is ’n stadige, dromerige wals. Lecia wonder of Wouter die dans so baie geniet soos sy. Hy het nog nie ’n woord gesê sedert hy haar vir die dans gevra het nie, en sy gesig lyk vir haar vreemd stil en geslote.
“Jy hoef nie vir my te wag wanneer jy gereed is om te ry nie, Wouter,” sê sy na ’n rukkie. “Frans het gevra of hy my huis toe mag neem. Ek sal dus saam met hom ry, want ek vermoed jy sal nog ’n rukkie met Teresa wil gesels.”
Voordat hy hierop kan antwoord, hou die musiek op. Noudat die party ten einde geloop het, is dit asof almal skielik besef dat dit middernag is en tyd om huis toe te gaan. Teresa word deur almal bedank vir die genoeglike aand, en na ’n rukkie begin die gaste groet en vertrek.
Lecia en Frans is van die eerstes wat vertrek. En nou, terwyl hulle op pad is na Blouberg, kom sy eers agter hoe moeg en vaak sy werklik is. Frans het haar ook net tuis besorg, toe sê sy dat sy doodmoeg is en maar liewer wil gaan slaap.
“Nou goed, ek sal jou nie langer uit die slaap hou nie, meisie. Ek sal môre bel om te hoor of jy darem van my gedroom het,” skerts Frans.
Hierna sê hy nag en vertrek.