Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 2 - Susanna M Lingua - Страница 7
Оглавление3
Na die aandete gaan Lecia sonder versuim na haar kamer toe. Sy voel glad nie lus vir geselskap nie. Tant Elsa se geselskap, wat oor niks anders as die boerdery en die huishouding gaan nie, verveel haar net, en Wouter en sy perde verwens sy tot aan die ander kant van die aardbol.
Daardie nag slaap sy baie min. Sy het die een nagmerrie ná die ander, en as gevolg daarvan voel sy die volgende oggend bitter omgekrap en uit haar element. Terwyl sy bad, verwens sy wyle oom Isak, tant Emma en Wouter soos net ’n Brank van Blouberg dit kan doen. Daarna trek sy ’n donkerblou langbroek, rooi bloesie en swart laehakskoene aan. Sy kam haar hare, grimeer haar gesig en gaan dan eetkamer toe. Miskien het Wouter sy dreigement, dat sy vanoggend moet leer perdry, vergeet. Sy hoop van harte so, want sy voel al weer so benoud asof die doodsvonnis aanstons oor haar voltrek gaan word.
“Het jy darem goed geslaap, Lesie?” wil tant Elsa vriendelik weet nadat Wouter die seën oor die kos gevra het.
“Redelik, dankie, tante,” jok sy, te trots om reguit te sê dat sy die ganse nag van wilde perde gedroom het wat verwoed op haar afstorm en dat sy dus baie min geslaap het.
“Waarom sê jy redelik, Lecia?” hoor sy Wouter met iets soos besorgdheid in sy stem vra. “Het jy nie goed gevoel nie, of was die bed nie gerieflik nie?”
“O, die bed was heeltemal gerieflik, dankie,” antwoord sy effens kil, sonder om na hom te kyk. “Dis net jammer dat ’n mens nie hier in rus en vrede gelaat kan word nie. Ek dink dis verregaande om iemand teen haar sin te dwing om iets te doen waarin sy nie belangstel nie.”
’n Sagte laggie ontglip Wouter se lippe. Hy kyk Lecia vriendelik dog ondersoekend aan.
“Jy verwys nou natuurlik na jou rylesse,” sê hy. “In elk geval, jy hoef nie bang te wees nie, ek is nogal ’n bekwame instrukteur. Jy sal nog dankbaar wees dat ek jou geleer het om perd te ry, want die grootste gedeelte van die plaas se landerye en weivelde lê agter die berg. Jy sal nog self sien dat ’n goeie ryperd die beste en vinnigste vervoermiddel hier op Blouberg is . . . Ek sal jou na die ete aan Lady gaan voorstel.”
Sy wens uit haar hart dat Wouter ’n kramp moet kry, want sy het geen sinnigheid om met Lady, of enige ander perd, kennis te maak nie. Al wat sy vra, is om in vrede gelaat te word as sy dan nou móét boer . . . Sy is seker dat sy die landerye en weivelde agter die berg met haar motor sal kan bereik.
Al haar wensdenkery baat haar egter niks, want na die ete moet sy Wouter, ofskoon teen haar sin, na die stalle vergesel.
Dis ’n sonnige lentedag. Buite sing die voëls lustig in die hoë seringbome en van die rivier se kant af kom die veraf, weemoedige geroep van ’n bosduif. ’n Vreedsame rustigheid hang oor die werf.
Hierdie rustige atmosfeer laat Lecia se senuwees stadig ontspan, maar die volgende oomblik kom ’n skril gerunnik van die stalle se kant af, en sy voel hoe haar hart skielik weer in haar keel begin klop.
Hulle bereik die stalle, maar van Arrie en Lady is daar geen teken nie.
“Arrie, jou lunsriem, waar is jy?” roep Wouter ongeduldig uit.
“Hier, meneer, hier’s ek!” ’n Kort, skraal bruin man maak sy verskyning om die hoek van die stalle. “Môresê vir die juffie,” groet Arrie die meisie beleef.
“Ja, môre, Arrie.”
Wouter meet die jong man met ’n skerp blik en vra streng: “Het jy al weer agter die stalle in die son gelê en slaap?”
“Nee, meneer, ek doen nie sulke lui dinge nie, meneer,” skerm hy haastig. “Die meneer het dan nog gister gesê ek moet die swart merrietjie vir die juffie opsaal. Ek sal mos nooit in die sonnetjie lê en slaap nie!”
“Moenie vir my staan en lieg nie, Arrie. Ek ken jou asof ek jou gemaak het,” wys Wouter hom streng tereg. “Het jy al vir Lady opgesaal?”
“Kant en klaar, kant en klaar. Die juffie kan net opklim,” verseker hy Wouter haastig en met groot erns. Hy ken Wouter al jare lank en weet dat hierdie boer nie met hom laat speel nie. Ja, almal het sommer baie ontsag vir dié fors man.
“Nou goed, bring vir Lady uit, Arrie,” beveel Wouter nou minder skerp.
Met ’n hart wat benoud klop, hoor Lecia hoe die staldeur kraak toe Arrie dit oopstoot. Ná ’n paar tellings verskyn hy en Lady in die staldeur. Daar is ’n breë glimlag op Arrie se gesig toe hy die mooi swart merrie tot voor Lecia en Wouter lei.
Terwyl Wouter die rooikop se gespanne gesiggie dophou, skuif haar blik behoedsaam van Lady se slanke bene af op na die dier se ewe slanke nek. Die volgende oomblik kyk sy reg in Lady se gitswart oë, en Lady kyk, sonder om ’n oog te knip, in hare. Lecia kry ’n eienaardige gevoel. As sy nie so trots was nie, sou sy daar en dan voet in die wind geslaan het, maar selfs haar Brank-trots kan haar nie daarvan weerhou om ’n paar treë agteruit te staan nie.
Wouter lag saggies, en Lecia kyk hom kil aan.
“Kyk hoe staar Lady jou aan, Lecia,” sê hy goedig. “Sy weet jy is doodbang vir haar.”
Lecia frons gevaarlik. Sy kyk Wouter skerp aan, maar vra onseker: “So, en wat gaan sy daaromtrent doen?”
“My liewe mens,” glimlag hy geamuseer, “die vraag is nie wat Lady daaromtrent gaan doen nie, die vraag is wat jý daaromtrent gaan doen!”
“Moenie verspot wees nie, Wouter!” snou sy hom vererg toe. “Wat kan ek daaraan doen as die ellendige perd my gedagtes hier staan en lees?”
’n Hartlike lagbui oorval Wouter meteens, ’n lagbui wat Lecia se bloeddruk dadelik laat styg.
“Ek weet werklik nie wat jy so snaaks vind nie,” raps sy hom met die tong. “Ek sien geen grap in die situasie nie.”
“Nee, natuurlik nie,” laat hy met ’n gedempte laggie hoor. “Die grap is dat geen perd op aarde ’n mens se gedagtes kan lees nie. Diere voel sulke dinge aan. Selfs ’n hond weet wanneer iemand vir hom bang is. Kom, streel nou met jou hand oor Lady se nek, en wys vir haar dat jy nie vir haar bang is nie.”
“Maar ek ís vir haar bang,” erken sy nou ruiterlik. As die perd dit reeds weet, meen sy, kan Wouter dit ook maar weet. “Dis daardie groot, swart oë en gevaarlike tande van haar wat my die koue rillings gee,” gaan sy voort. “Elke beskaafde mens sal vir haar bang wees.”
Wouter kyk haar simpatiek aan. “Ek weet jy is vir haar bang, maar dis net omdat jy nog nooit so naby aan ’n perd was nie. As jy eers aan haar gevat het, sal jou vrees geleidelik verdwyn,” sê hy gerusstellend. “Lady sal jou ook nie byt nie, al het sy so ’n groot bek. Sy is ’n vriendelike perdjie, glad nie temperamenteel nie . . . Kom, streel haar nek, dan sal jy sien.” Hy trek sy hand liefkosend oor die dier se nek. “Sien jy hoe vriendelik skuur sy haar neus teen my arm? Probeer dit gerus, sy hou daarvan.”
“Nou goed, ek sal probeer,” stem Lecia eindelik benoud in, “maar as sy my met daardie gevaarlike tande van haar byt, vergewe ek jou dit nooit nie, Wouter. Ek gaan ook nie so naby haar staan soos jy nie. Netnou trap sy op my tone, en dan skop ek haar ou dun beentjies morsaf.”
Hy kyk Lecia met ’n geamuseerde glimlag aan. “Lady is ’n mooi, fyn perdjie,” sê hy, “maar jy weet nog nie hoe vinnig daardie dun beentjies kan draf nie.”
“Wat!” roep Lecia doodsbenoud uit. “As sy so vinnig kan hardloop, sal sy mos met my weghardloop!”
Wouter voel lus om te lag, maar hy bedwing hom en stel haar dadelik gerus.
“Ek verseker jou dat jy niks te vrees het nie. Ek sal jou nie alleen laat solank jy nog nie goed kan ry nie, en Lady is ook nie ’n ongeleerde perd wat met jou op loop sal sit nie. Die oomblik dat jy die toom in die hand het, is sy volkome in jou beheer . . .net soos daardie geel motor van jou. Sy sal elke bevel van jou stiptelik uitvoer. Toe, streel haar nek, en wys haar dat jy graag met haar wil vriende maak.”
Lecia kyk die swart perd behoedsaam aan.
Ag tog, dink sy benoud, het my laaste oomblik hier op aarde nou aangebreek? Ek sal maar maak soos Wouter sê, al voel dit of my hart wil gaan staan. Dit sal in elk geval net sy skuld wees as sy my byt of iets. Nou ja, ek sal haar maar seker moet streel, maar waarom moet die dierasie my tog so aankyk met daardie onheilspellende oë? Sy gee my skoon die bewerasie. Kan sy dan nie vervlaks anderpad kyk nie, waarom nou juis vir my? En die ellendige Wouter staan daar en grinnik asof hy ’n groot grap in lewende lywe aanskou. Ek sal maar my hand uitsteek en haar saggies aanraak, maar ek weet ek sal nie lewe om daarvan te kan praat nie.
Die hand wat Lecia na die perd toe uitsteek, bewe sigbaar. Sy voel ook ’n bietjie siek toe haar hand die perd se nek aanraak.
Lady, wat hierdie petalje met sedige oë aanskou, besluit meteens dat sy ook nader kennis behoort te maak. Die volgende oomblik begin sy liggies met haar neus in die rooikop se hare vroetel. Lecia se groen oë dop byna wit om van vrees, maar uit die hoek van haar oog sien sy hoe Wouter met ’n ligte handgebaar beduie dat sy moet staan.
“A, dis beter,” sê hy tevrede. “Sien jy nou? Sy byt nie. Dis ’n vriendelike gebaar, soos ’n hond wat jou hand uit dankbaarheid lek –”
“Wouter,” val sy hom benoud in die rede, “haar . . . haar asem kielie my nek. Ek gaan nou padgee . . .”
“Nee, man, moenie bang wees nie,” keer hy. “Streel nou haar kop, dan moet jy sien hoe maak sy haar oë toe van pure genoegdoening.”
Net Lecia weet hoeveel moed en durf dit van haar verg om hierdie laaste bevel van Wouter uit te voer.
Ag, dank die hemel, flits dit deur haar gedagtes, die dierasie het darem nou haar neus uit my nek verwyder. Sowaar, ek was nog nooit so na aan my dood soos vandag nie. Maar as die ellendige perd nou ’n geluid of ’n verdagte beweging maak, slaan ek morsdood neer. En om te dink ek moet aanstons op haar rug klim . . .
“Man, jy vorder pragtig met Lady,” hoor sy Wouter ingenome sê. “Liefkoos haar maar nog so ’n rukkie, dan help ek jou in die saal. Ek sien julle twee gaan nog groot maats word. Lady hou van jou.”
Hm, so nooit as te nimmer nie, dink Lecia. Ek maak nie maats met diere wat my met sulke onheilspellende oë aankyk nie. Hierdie ou perdjie hou haar verniet so aan die slaap, ek sien hoe haar ooghare roer en . . . Ja, daar knip sy haar oë. Sy gaan my nou natuurlik weer bekyk asof sy nog nooit ’n mens gesien het nie.
“Gee hierdie suikerklontjie vir haar, Lecia,” sê Wouter. “Jy moet altyd sorg dat daar iets in jou sak vir haar is. Sy is besonder lief vir appels –”
“Is jy laf, Wouter?” val sy hom verontwaardig in die rede. “Wil jy hê die perd moet nou nog my vingers ook afbyt?”
“My liewe mens,” sê hy dik van die lag, “Lady het tot dusver nog nie ’n haar op jou hoof beskadig nie, waarom sal sy nou jou vingers wil afbyt? Sit die suikerklontjie in die palm van jou hand en hou dit voor haar neus. Sy sal dit met haar lippe uit jou hand neem, nie met haar tande nie.”
Lecia se humeur begin nou vinnig vlam vat, want elke keer kom Wouter met iets nuuts vorendag om haar senuwees meer uit te rafel. Dit voel asof sy nie meer ’n flenter senuwees oorhet nie, en nou moet sy die perd weer suiker uit haar hand voer.
“Nou goed, gee die vervlakste suikerklont dat ek dit vir die ellendige perd gee,” snou sy hom onthuts toe. “Ek hoop sy stik daaraan. Verduiwels, as ek die perd nou al suiker moet voer, weet nugter alleen waar alles gaan eindig. Toe, gee die suiker aan sodat ek dit in die ellendige perd se bek kan stop. En laat sy haar net halsstarrig hou, dan klap ek haar dat sy sterre sien.”
Wouter bars onbedaarlik uit van die lag.
“O, Lecia,” kry hy dit hortend tussen lagbuie uit, “jou klein vuurvreter! Jy is op die oomblik so ontstoke dat jy sowaar hand om die nek met Lady staan sonder dat jy dit eens agterkom, en moenie praat van hoe sy dit geniet nie. Sy knabbel behoorlik aan jou hare van lekkerkry . . .”
“Wouter, ek het gesê gee daardie suiker aan, en moenie my nog meer die herrie in maak nie.”
Lecia voel werklik verlig toe sy opmerk dat die perd darem nie haar hand gebyt het nie. Sy besef nou dat Lady glad nie so gevaarlik is soos sy lyk nie.
Nadat Wouter die belangrikste feite in verband met die rykuns aan haar verduidelik het, help hy haar in die saal. Toe versoek hy Arrie om sy eie ryperd uit die stal te bring.
Na ’n rukkie lei Arrie ’n groot, gespierde wit hings uit een van die stalle. Selfs vir ’n leek soos Lecia is dit by die eerste aanblik duidelik dat Blits ’n opreg geteelde dier is, maar sy hou nie van die manier waarop hy sy groot kop in die lug ruk en die wilde uitdrukking in sy swart oë nie. Sy weet ook dat sy dit nooit sal waag om op Blits te ry nie, al kan sy ook hoe goed perdry.
Wouter neem Blits se toom en hou Lady se toom na Arrie toe uit. “Lei die juffrou se perd ’n paar keer om die stalle,” versoek hy. “Ek wil eers Blits se buikgord nagaan en my hoed gaan haal. Let op dat die juffrou reg sit en nie afval nie. Ek hang jou aan ’n bloudraad op as sy iets oorkom.”
“Seker, meneer, ek sal kyk na die juffrou, meneer,” verseker Arrie hom.
Hierna lei Arrie die swart perd op ’n stappie al om die stalle. Hy voel trots daarop dat hy ook deel het aan die juffrou se opleiding in die rykuns. Hy het by Katrien gehoor dat Lecia die dogter van sy oorlede meneer Isak se broer is en dat die helfte van Blouberg nou aan haar behoort. Dit val hom skielik by dat Wouter en Blits aanstons saam met Lecia gaan ry. Dit is sekerlik sy plig om haar teen daardie beduiwelde wit hings te waarsku.
“Juffrou,” sê hy na ’n rukkie, “die juffrou moet maar versigtig wees as die juffrou saam met die meneer op daai wit duiwel ry. Die juffrou moet maar liewer Lady se briek aanhou, laat sy nie gaan staan en weghol nie. Maar as die juffie voel sy gaan val, moet sy liewer haar voete uit die stiebeuels skop. Val dan weg van die perdjie af. Daai wit duiwel gaan maak dat Lady die juffrou afgooi.”
“Dankie, Arrie, ek sal dit onthou,” sê sy sag – onheilspellend sag.
Na hierdie vriendelike waarskuwing oor die onheil wat op haar wag, begin Lecia se humeur weer vinnig vlam vat. As Wouter lus voel vir ’n grap, gaan hy dit baie beslis nie ten koste van haar geniet nie. Sy sal Arrie se waarskuwing onthou en sorg dat sy Lady nie ’n oomblik vrye teuels gee nie.
Op die oomblik voel Lecia so bitter gebelg teenoor Wouter dat sy heeltemal van haar vrees vir Lady en die ryles vergeet. Dis nou een ding van die Branks: as hulle kwaad is, stuit hulle nie vir die duiwel en sy trawante nie. En dit is presies hoe Lecia op die oomblik voel – roekeloos en uitdagend.
Nadat Arrie vir Lady ’n hele paar keer om die stalle gelei het, voel Lecia al in ’n mate op haar gemak in die saal. Ja, sy begin hierdie perdryery nogal geniet. Sy pas Wouter se instruksies in verband met die rykuns toe, en sy vind dat Lady soos ’n marionet daarop reageer. Sy is nou vol selfvertroue en besluit dat Arrie ’n hindernis geword het, aangesien sy Lady vinniger wil laat draf.
Intussen hou Wouter en tant Elsa haar vordering met groot belangstelling deur die kombuisvenster dop.
“Arrie,” sê Lecia, “ek dink dis tyd dat ek so ’n paar keer alleen om die stalle ry. Ek begin nou op my gemak voel in die saal.”
“Ja, juffrou kan maar probeer, maar moet net nie die briek vergeet nie. Lady is ’n lekker perdjie, sy sal die juffrou nie sommer afgooi nie.”
Ná hierdie versekering voel Lecia sommer heelwat geruster.
“Nou goed, staan eenkant toe, Arrie. Jy kan solank voor die stalle gaan wag.”
Met heelwat selfvertroue laat sy Lady nou ietwat vinniger draf, tot groot ontsteltenis van Wouter wat haar nog steeds deur die kombuisvenster dophou.
“My kragtie, tant Elsa!” roep hy ontsteld uit. “Kyk wat vang die meisiekind nou aan. Sy het Arrie sowaar weggestuur en nou ry sy alleen om die stalle. Daar laat versnel sy nou Lady se pas. Verduiwels, dis nou doelbewus moeilikheid soek.”
Tant Elsa glimlag stilweg. “Lesie is ’n Brank, Wouter, moet dit nooit vergeet nie,” sê sy en kom langs hom voor die venster staan. Sy skud haar kop en vervolg: “Jy ken die Branks van Blouberg, dink jy Lesie gaan anders wees? Nee, Wouter, sy aard te veel na oorle’ Isak. Raai, as haar groen oë my so reguit aankyk, sien ek oorle’ Isak mos publiek voor my staan. Ag, ja, die arme man kon tog so vreeslik kwaad word. G’n wonder sy hart kon dit nie staan nie. Ons moet tog probeer om Lesie se humeur te tem, anders gee die stomme kind se hart ook een van die dae in.”
“Wat, daardie klein vuurvreter se humeur tem?” Hy lag kortaf. “Vergeet dit, tant Elsa. Niemand op aarde sal haar vurige humeur kan tem nie. Sy is, soos tante flussies gesê het, ’n Brank, en aan hulle is daar geen salf te smeer nie. Hulle word vurig, eiewys en koppig gebore. Dis nie iets wat ’n mens hulle kan afleer nie; ’n mens moet hulle maar net so aanvaar. Vervlaks, daar vaar sy nou die vlaktes in met Lady. Is die meisiekind beduiweld, of wat? Tante, ek sal haar dadelik moet agternasit, anders breek sy vandag nog daardie trotse nekkie van haar.”
Nadat Lecia ’n paar keer alleen om die stalle gery het, het haar selfvertroue so toegeneem dat sy besluit het om ’n entjie in die veld te gaan ry waar dit wyd en oop is. Hierdie eentonige rit al om die stalle begin haar hartlik irriteer, en sy is ’n mens wat gou skoonskip maak met dinge wat haar irriteer en verveel.
Lady gedra haar baie mooi, gevolglik begin Lecia die perdry terdeë geniet. Sy hou daarvan dat die wind so liggies met haar hare speel, en sy geniet ook die stilte wat oor hierdie wye, sonnige wêreld hang. Hier in die oop veld voel dit vir haar kompleet asof sy en Lady alleen op die wêreld is, asof die hele wêreld net aan hulle twee behoort. Dis ’n vreemde gevoel, maar nietemin ’n gevoel waarvan sy hou.
Dié vreedsame stilte duur egter nie lank nie, toe hoor sy die donderende hoefslae van ’n kragtige perd wat vinnig op haar afgesnel kom. Die volgende oomblik trek Wouter sy groot, vurige wit hings langs Lady in.
Dit is vir die jong meisie baie duidelik dat hy op die oomblik in ’n dwars luim is, maar waarom hy so ontstoke is, kan sy nie raai nie. Sy begroet hom met ’n gemoedelike glimlaggie, maar Wouter is in geen luim vir ’n glimlag nie.
“Wat de duiwel makeer jou, Lecia? Is jy van jou verstand af om alleen hier in die veld te kom ry, of wil jy graag jou nek breek?” vra hy bars, en oombliklik vererg sy haar vir die man se onvriendelikheid.
Lecia is ’n gawe meisie, maar as mense haar so onvriendelik aanspreek, maak hulle ’n slapende duiwel in haar wakker, en as dié eers wakker is, spat die vonke gewoonlik.
Sy werp hom ’n ysige blik toe, en ook haar stem is kil toe sy uit die hoogte sê: “Hoor hier! Wie de drommel dink jy is jy om hier op my te kom skree, Wouter Fouché? Ek sal ry waar ek wil – met of sonder jou toestemming. Verstaan jy? Ek laat my ook nie rondbeveel nie, dus moet jy dit nie eens probeer nie.”
“Jou parmantigheid met my sal jou hoegenaamd niks baat nie, meisiekind,” spreek hy haar streng aan. “Ek laat geen vroumens toe om op my kop te sit nie, allermins ’n klein vuurvreter soos jy. As jy na goeie raad wil luister, sal jy my vermanings in ag neem en daarvolgens handel. Maar ek waarsku jou – jou koppigheid en eiesinnigheid gaan jou nog duur te staan kom. Julle Branks luister nooit voordat julle eers seergekry het nie. Waarteen ek wel beswaar maak, is die feit dat jy jou nek wil breek terwyl jy in my sorg is, en dit gaan ek nie toelaat nie.”
“In jóú sorg?” Sy ruk haar kop so gevaarlik agteroor dat sy byna uit die saal val.
“Ja, in my sorg,” herhaal hy onverbiddelik. “Solank jy hier op Blouberg woon, is ek verantwoordelik vir jou veiligheid. So, hou asseblief daardie nekkie van jou heel en in een stuk, anders gaan die duiwel jou haal. Ek het nie tyd om met eiewyse en onverantwoordelike vroumense te sukkel nie, daarvoor het ek gans te veel pligte en verantwoordelikhede om na te kom. Ek dink ook dis tyd dat ons teruggaan. Jy het nou ver genoeg gery vir een dag.”
“O, jy kan teruggaan as jy wil, ek keer jou nie,” sê sy ongeërg. “Ek sal teruggaan wanneer dit my pas . . . Jy kyk my verniet so kwaai aan, Wouter, ek bedoel dit.”
Wouter slaan sy blik op na die hemel toe, maar Lecia merk dit nie eens op nie, want sy is op die oomblik te ingenome met die vordering wat sy reeds met haar eerste ryles gemaak het.
“Weet jy, Lecia, jy is nie net eiewys nie, jy is nou sommer onnosel en hardkoppig ook,” sê Wouter geduldig. “Dis die eerste keer in jou lewe dat jy perdry, en jy is reeds te lank in die saal. Besef jy dat jy ’n dag of wat baie moeilik gaan sit as jy langer in die saal bly? Maar miskien sal dit jou goed doen om op die harde manier te leer perdry. Moontlik sal jy dan besef dat dit jou sal baat om na my te luister en te doen wat ek sê.”
“Nou reken, ek het nooit geweet jy is ’n predikant nie, Wouter,” sê sy ondeund. “Jy hoort op ’n preekstoel, jong, nie hier op Blouberg nie. Maar onthou dit: ek hou nie van ontydige preke nie. As ek na ’n preek wil luister, sal ek kerk toe gaan. Hou dus jou predikasie vir dié wat daarna wil luister. Sê liewer vir my, dink jy nie ek vorder goed met Lady nie?”
Wouter lag kortaf en kyk haar met nougetrekte oë aan. Sy is inderdaad deur en deur ’n Brank.
“O, beslis,” antwoord hy bedaard, “jy vorder bo verwagting goed. In elk geval, Lady is van vandag af jou ryperd. Sodra jy goed kan ry, sal jy vind dat sy ’n vinnige perdjie is . . . sonder jul vroulike giere en nukke.”
“Gaan blaas doppies, Wouter Fouché,” maak sy hom dadelik stil. “Ek is nie vol giere en nukke nie, ek is ’n beskaafde mens en boonop ’n Christen. Trouens, ek was die afgelope ses maande orreliste van ons kerk . . .”
“Wat!” roep Wouter verbaas uit. “Jy ’n kerkorreliste? Moenie dat ek lag nie, netnou skrik Blits en dan is die duiwel los.” Hy kyk haar skepties aan. “Lecia, wil jy my vertel dat jy, met jou skerp tong en Brank-humeur, so wraggies ’n kerkorreliste was?”
“Maar natuurlik was ek!” antwoord sy geraak. “Ek is nie so ’n heiden soos oom Isak en al die ander Branks wat nooit ’n voet in die kerk gesit het nie. My ma het my geleer dat ’n ordentlike mens elke Sondag kerk toe gaan.”
Wouter begin saggies lag. “Wel, die afgelope driehonderd jaar was die Branks van Blouberg nog nooit voorbeeldige Christene nie,” sê hy dik van die lag. “Ek waarsku jou dus vroegtydig – die gemeente van Dennevlei gaan hulle lam skrik as jy, ’n Brank, die kerk binnegestap kom. Van die leraar praat ek nie eens nie. Hulle sal dink dis ’n baie snaakse verskynsel.”
“Gaan jý ooit kerk toe, Wouter?” vra sy nou met groot erns. “Of is jy ook so ’n heiden soos daardie ou skelm van ’n oom Isak?”
“Ja, ek gaan so af en toe,” antwoord hy bedaard. “Gedurende die drie jaar dat ek in die landbou gestudeer het, het ek gereeld elke Sondagoggend gegaan.”
“Wat, het jy ’n landbougraad?” Sy kyk hom verbaas aan. Dit is inderdaad die laaste ding wat sy verwag het om te hoor. Daardie olierige hoed en uitgetrapte velskoene is beslis nie dié van ’n man wat oor ’n landbougraad beskik nie. Sy glo dit nie.
“Ja, ek het,” hoor sy hom sê, “maar waarom lyk jy so verbaas?”
“Wel . . . e . . . ek het gedink jy is ’n ongeletterde plaasjapie,” bieg sy met ’n sfinksagtige glimlaggie.
“So, en gee dit jou nou ’n hoër dunk van my – die feit dat ek nie ’n ongeletterde plaasjapie is nie?” vra hy spottend.
Sy haal haar skouers ongeërg op terwyl haar oë daar in die verte staar asof sy dinge sien wat hy nooit sal kan raai nie. Maar dan draai sy na hom en antwoord bedaard: “Nie juis nie. Dit laat my net op ’n manier beter voel, noudat ek weet dat jy darem nie ’n ongeletterde barbaar is nie.”
Hy kyk haar spottend aan. “Jy verkies dus intelligente geselskap. Wel, daar is nie nou tyd vir intelligente geselskap nie, meisietjie. Ons sal moet teruggaan voordat tant Elsa haar oor jou begin bekommer.”
“Moenie jok nie, Wouter,” kap sy dadelik terug. “Dis glad nie oor tant Elsa se sogenaamde bekommernis dat jy haastig is om terug te gaan nie. Ek begin die rit nou eers werklik geniet, en nou wil jy al weer teruggaan.”
“Môre is nog ’n dag,” herinner hy haar. “ ’n Mens moenie hierdie soort ding op een dag oordryf nie. Ek is darem bly om te sien dat jy nie meer vir Lady bang is nie. Ons kan die perde se pas effens versnel as jy daarvoor kans sien.”
“Wel, ek het darem nog nie een keer afgeval nie, dus kan ons die pas maar ’n bietjie versnel,” stem sy geredelik in.
Lecia voel nou heeltemal op haar gemak in die saal. Trouens, sy is nou glad nie spyt dat Wouter haar gedwing het om te leer perdry nie. Dis heerlik om die veld so oop en wyd om jou te sien.
“Lady is ’n mak perdjie,” sê Wouter. “Sy sal jou nooit afgooi nie, behalwe as sy skrik, natuurlik. Maar dan sal jy sommer self afval as jy jou sit nie ken nie. In elk geval, ry voor, ek wil kyk of jy darem al jou sit ken.”
Hm, hy moet seker dink ek is ’n bobbejaan, dink sy gesteurd, maar voldoen nietemin aan sy versoek.
Daar is goedkeuring in Wouter se blik toe hy haar agterna staar. Sy sit nie sleg nie, gesels hy in sy gedagtes met homself. Sy het net oefening nodig. Ja-nee, die klein rissie van ’n Brank sit glad nie sleg nie . . .
Wouter sit nog ewe ingenome met homself en gesels, toe sien hy hoe ’n swerm tarentale lawaaierig vlak voor Lady opvlieg en die swart perd verskrik agteruit laat steier. Hy versnel dadelik Blits se pas, want dit is vir hom baie duidelik dat Lady nou senuweeagtig is, en dit met die ongeskoolde Lecia op haar rug. Maar voordat hy Lady kan bereik, val Lecia van die perd af en rol eenkant toe, weg van die verbouereerde dier af.
Nou gaan die duiwel los wees, dink hy. Hy ken mos die klomp Branks – hierdie een het net so ’n slegte humeur soos al die ander. Hy hoop net Lecia is nie ernstig beseer nie, maar so op die oog af lyk dit darem nie of sy haar bewusteloos geval het nie, en dis al ’n seën op sigself.
Blits het nog nie eens behoorlik tot stilstand gekom nie, toe is Wouter al uit die saal. Hy bind die toom haastig aan die naaste bos vas en gaan kniel besorg langs die rooikop wat nou stadig regop sit. Haar gesig is opmerklik bleek, met ’n yslike stofstreep oor die een wang.
Wouter bedwing ’n glimlag met groot moeite. Lecia lyk vir hom op die oomblik soos ’n verwaarloosde meisietjie wat lanklaas met water en seep kennis gemaak het, maar haar twee opstandige groen oë, wat soos smaragde blink, is beslis nie dié van ’n weerlose weeskindjie nie. Sy lyk inderdaad omgekrap en uit haar humeur.
“Het jy seergekry?” vra hy besorg, sy blik ondersoekend op haar bleek gesig.
“Natuurlik het ek seergekry!” antwoord sy ongeduldig. “Of dink jy ek het op ’n verebed geval?”
“Ek praat nie van daardie soort seer nie,” help hy haar geduldig reg. “Ek wil weet of jy ’n arm of ’n been gebreek of dalk ’n enkel of ’n gewrig verstuit het.”
Sy kyk hom ietwat beteuterd aan. “Ek weet nie, Wouter,” antwoord sy gelate. “Dit voel asof alles gebreek is, behalwe my nek. Maar dis mos al waaroor jy besorg is . . . ek bedoel nou, dat my nek heel en in een stuk moet bly.”
Wouter voel nou werklik bekommerd. Miskien is dit omdat sy so beteuterd lyk en haar stem so gelate klink. Hy ken haar nie so nie.
“Kan jy darem jou arms en bene beweeg?” vra hy onrustig.
“Ja, man, ek kan alles beweeg,” kom dit nou weer effens ongeduldig, “maar ek sê jou, ek is verbaas dat ek my nie stukkend geval en bene gebreek het nie. Ek kon dood gewees het! Ek het my skoon bepieries geskrik toe Lady so gevaarlik agteruit steier en . . . Waar is sy, Wouter?”
“Hier staan sy agter jou, maar sy is baie senuweeagtig en verbouereerd. Ek sal haar eers moet kalmeer voordat jy weer in die saal kan klim.”
“Wouter,” vra sy na ’n rukkie, nou blykbaar oor die ergste skok van haar val, “watse ellendige voëls is dit wat Lady so laat skrik het?”
Lecia se skerp, reguit blik wat nou op Wouter rus, lewer duidelik bewys dat sy al weer haar val vergeet het, of altans, dat dit momenteel van minder belang is. Sy stel nou in die voëls belang, en is wyle oom Isak in lewende lywe. Dié was net so. Hy het altyd met ’n doel in ’n ding belanggestel.
“Dit was tarentale,” antwoord hy. “Die goed is vervuil hier in die veld.”
“Wel, hulle gaan nie meer lank vervuil wees nie, dit verseker ek jou,” kom dit ernstig en vasberade van Lecia waar sy sit met haar arms gemaklik om haar knieë gevou en Wouter met die blik van ’n diep denker beskou. “Ek gaan vir my ’n vuurwapen koop, Wouter, en jy gaan my leer om te skiet. Ek wil al hierdie ellendige voëls kom uitroei.”
Wouter kyk haar aan en glimlag verlig. Hy is bly dat sy nie baie seergekry het nie. Hy het verwag dat sy hom van ’n kant af sou uittrap omdat hy haar feitlik gedwing het om te leer perdry. Maar weer eens het sy bewys dat sy ’n volbloed-Brank is en haar nie maklik laat afskrik nie. Oom Isak het haar beslis nie verkeerd opgesom nie.
“Dis nie nodig om ’n vuurwapen te koop nie, kleinding. Ek het ’n ligte haelgeweertjie by die huis waarmee ek jou sal leer skiet,” bied hy aan.
“Sal ek die tarentale daarmee kan uitroei?” Sy kyk hom met ’n ernstige gesiggie aan.
“Met daardie geweertjie sal jy skoonskip maak van die hele tarentaalgeslag, my hartjie,” verseker hy haar, maar dan frons hy meteens. “Sê nou eers vir my waarom jy so maklik van jou perd afgeval het. As jy stewig in die stiebeuels vasgetrap en jou behoorlik gebalanseer het, sou jy nie afgeval het nie, weet jy?”
“O, dis daardie vervlakste Arrie se skuld,” sê sy, nou weer duidelik onthuts. “Maar sy velle gaan waai sodra ek tuis kom. As ek nie na hom geluister het nie, sou ek miskien nie eens afgeval het nie –”
“Wat bedoel jy, as jy nie na hom geluister het nie?” val Wouter haar in die rede. Sy stem is sag, maar daar is ’n gevaarlike uitdrukking in sy blou oë.
“Nee,” sê sy, “hy het geweet te vertel dat ek my voete uit die stiebeuels moet skop sodra dit voel asof ek wil val. Nou ja, toe Lady so agteruit steier, skop ek mos my voete uit die stiebeuels. En dis net waar ek die fout gemaak het, want toe sy na links swenk, het ek geen vastrapplek gehad om my te balanseer nie. Dis dié dat ek aan die ander kant afgetuimel het. Arrie gaan verjaar sodra ek tuis kom en dis nie altemit nie.”
“Nee, los hom maar vir my. Ek sal sy sake vir hom werk,” keer Wouter. Hy kyk Lecia besorg aan en vra sag: “Hoe lyk dit, sien jy kans om huis toe te ry, of voel jy nou skrikkerig vir Lady?”
Lecia lag saggies terwyl sy hom ondeund aankyk.
“Al voel ek ook hóé skrikkerig,” sê sy na ’n rukkie, “sal jy my tog op die ou end in die saal dwing, Wouter. Jy kla oor my humeur, maar jý is ’n eiegeregtige, oorheersende vent en soms absoluut ondraaglik.”
Hierdie eerlike beskrywing van hom laat Wouter geamuseer glimlag.
“Ons twee is nogal nie ’n slegte kombinasie nie,” sê hy. “Ons sal Blouberg met ’n ysterhand regeer.”
“Jy bedoel, jy sal regeer en ek sal maar op alles ja en amen moet sê,” merk sy ondeund op. “Ek ken jou soort.”
“Rissie,” sê hy met ’n skewe glimlag en kom sonder meer orent. “Kom, laat ek jou ophelp. Dis tyd dat ek aandag aan Lady gee.”
“Sê eers vir my, Wouter, sal jy my môre al leer skiet?” vra sy met ’n verleidelike glimlaggie en ’n stroopsoet stem. Dis ’n kunsie wat sy kleintyd al geleer het en dikwels op haar pa toegepas het, veral as sy hom ’n groot guns wou vra.
Ook Wouter is op die oomblik vatbaar vir hierdie beproefde tegniek van haar. Miskien is dit haar vuil gesiggie wat so ’n teer snaar in hom roer en hom laat voel dat hy haar altyd naby aan hom wil hê om haar te beskerm.
Maar hy onderdruk hierdie gevoel van teerheid en beantwoord haar vraag op sy gewone kalm manier sonder om iets van sy gevoel te laat deurskemer.
“Ja, kleinding,” belowe hy plegtig, “ek sal jou môre leer skiet. Jy moet net nie mense gaan staan en doodskiet as hulle jou die duiwel in maak, of dalk jou skietkuns op tant Elsa se pluimvee en varke beoefen nie. Jy moet net die tarentale vir ons kom skiet.”
“Maar ek het mos gesê ek wil die ellendige tarentale kom uitroei, Wouter. Of het jy my nie mooi gehoor nie?”
“O, ek het jou gehoor. Gee my jou hand sodat ek jou op jou voete kan help. Ons het nou lank genoeg hier gesit en klets. Ek het nog baie werk wat vandag afgehandel moet word,” herinner hy haar.
Met die vaardigheid van ’n dierekenner neem dit Wouter nie lank om Lady te kalmeer nie. Intussen stof Lecia haar klere af. Dit lyk asof sy in ’n geveg betrokke was, maar sy is blykbaar onbewus daarvan dat haar gesig vuil is. Wouter haal sy sakdoek uit, lig haar gesig op en vee die stofstreep saggies van haar wang af.
Met haar fynbesnede gesiggie nog steeds in sy hand, kyk hulle etlike sekondes lank diep in mekaar se oë. Toe is dit meteens asof ’n elektriese stroom deur hulle spoel en hulle intens van mekaar bewus raak – nie soos ’n aangenome neef en niggie nie, maar soos twee mense wat diep tot mekaar aangetrokke voel.
Net soos Wouter, is Lecia bewus van iets vreemds wat in haar roer, iets wat sy nog nooit voorheen ervaar het en wat sy glad nie kan peil nie. Al wat sy weet, is dat sy van hierdie groot, bedaarde man hou en dat sy aanraking haar nie in die minste afstoot nie. Maar dan begin Blits skielik uitbundig runnik, en dis asof albei tot verhaal kom.
“So ja,” sê Wouter en steek sy sakdoek ongeërg in sy sak. “Jou gesig is nou weer skoon, dus kan ons maar gaan.”
Nadat hy Lecia in die saal gehelp het, klim hy op die wit hings se rug en neem die terugtog ’n aanvang.
Lecia voel aanvanklik skrikkerig vir Lady, maar toe sy sien dat die swart perd geen tekens van senuweeagtigheid toon nie, begin sy die rit weer terdeë geniet. Sy en Wouter gesels ewe gemeensaam. Hy vertel haar van sy kinderjare hier op Blouberg, en sy luister aandagtig en belangstellend. Daarna vertel sy hom van die twee jaar wat sy in die buiteland deurgebring het.