Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 2 - Susanna M Lingua - Страница 8

Оглавление

4

In ’n gemoedelike stemming hou hulle later voor die agterdeur van Blouberg se woonhuis stil. Voordat Wouter haar kan bystaan, klim Lecia behendig van die perd af. ’n Opgeskote seuntjie is dadelik by om die teuels te neem.

“Ek sal Arrie aanstons onder hande gaan neem –” begin Wouter, maar Lecia skud haar kop heftig.

“Ek dink ons moet hom maar laat begaan, Wouter,” sê sy bedaard. “Hy het dit bepaald goed bedoel toe hy aanbeveel het dat ek my voete op ’n kritieke oomblik uit die stiebeuels moet skop. Ek dink die fout lê by my. Ek het my voete op die verkeerde oomblik uit die stiebeuels geskop.”

“Jy praat maklik, jy kon dood gewees het.”

“Vergeet dit, ek is nié dood nie. Trouens, ek het nog nooit meer lewe in my gehad as op hierdie oomblik nie. Kom, laat ons vir tant Elsa gaan sê ons is terug. Miskien kry ons koffie.”

Wouter glimlag net skeef, maar sê niks nie.

Tant Elsa is die ene besorgdheid toe sy hoor dat Lecia van die perd afgeval het.

“Ag, kind,” teem sy, “so kon jy ook vandag dood gewees het, en ons het maar nou die dag vir arme Isak aan die dood afgegee.” Sy sug soos iemand wat swaar laste dra. “Ja,” gaan sy temerig voort, “die grond op sy graf is nog klam, en amper moes ons al weer . . .”

“Ag, nee wat, tant Elsa, hoe is tante dan nou so swaarmoedig?” werp Lecia ernstig teë. ’n Honderd tergduiweltjies ver­skyn meteens in haar oë toe sy vervolg: “Lady sal my nie doodkry nie, tante. Vra gerus vir my tant Emma. Sy sal vir tante sê dat ek vir die galg gebore is . . .”

Wouter se hartlike lagbui maak ’n einde aan wat Lecia nog alles wou kwytraak.

“Sy sal dit nie vir mý sê nie, Lesie,” kom dit baie verontwaardig van tant Elsa. “Wat weet jou ta’ Emma tog van die Branks van Blouberg af? Ek ken die Branks al baie jare, van die tyd van die groot runnerpes af toe jou oupa so ’n wilde penkop was. Ag, kind, daar was met hom geen huis te hou nie. Hy het nie ’n bang haar op sy kop gehad nie . . .” Sy bly meteens stil asof sy totaal vergeet het wat die onderwerp van bespreking was en vervolg ewe bedagsaam: “Maar wag, laat ek eers vir julle koffie maak.”

Lecia bedwing die glimlag wat aan die een hoek van haar mond pluk, maar sy voel dat dit ’n sonde sal wees om vir tant Elsa te lag.

“Hierdie klein Lecia, tant Elsa . . .” sê Wouter terwyl hy sy pyp met groot konsentrasie stop. “Dit lyk my sy het óók nie ’n bang haar op haar kop nie. Sy wil mos nou leer skiet. O ja, ek moet haar môre leer skiet sodat sy die tarentale kan gaan uitroei.”

Hierteen het tant Elsa geen beswaar nie, want volgens haar behoort ’n boervrou ook ’n goeie skut te wees. Sy was trouens self ’n goeie skut op haar dag, en sy het dit nooit berou nie . . . Nee, dit is goed dat Lesie leer om met ’n geweer te skiet, meen sy.

Terwyl hulle in die kombuis sit en koffie drink, vra Lecia belangstellend: “Wouter, hoe ver is Dennevlei van Blouberg af? Is dit darem ’n behoorlike dorp?”

“Maar jy moet tog die plek gesien het – jy het dan gister deur die dorp gery!” antwoord hy.

“O,” sê sy, “dan is dit natuurlik daardie ou dorpie waar die joggie by die vulstasie vir my gesê het Blouberg is net hier agter die bult toe ek vir hom gevra het hoe ver Blouberg van daardie dooie plek af is.”

Wouter kan nie ’n glimlag bedwing nie. “Jou tong gaan jou nog baie vyande besorg. Glo my, die dorpenaars sal nie daarvan hou dat jy hul dorpie as ’n dooie plek bestempel nie.”

“Ek is altyd eerlik en reguit, Wouter, en as hulle nie daarvan hou nie, is dit hulle –”

“Luister hier, meisiekind,” val hy haar waarskuwend in die rede, “as ek een ongunstige woord oor jou gedrag hoor, looi ek jou.”

“Wat, my uitlooi? Jy is van jou sinne beroof, Wouter Fouché,” laat sy verontwaardig hoor. “Laat ek jou dit vertel – as ék een ongunstige woord oor my van die Dennevleiers hoor, sal die vonke spat.”

Die erns op haar gesig laat Wouter breed glimlag.

“Ek glo jou, kleinding, en ek bejammer die persoon wat so iets waag,” sê hy met ’n geamuseerde lig in sy oë. “Jy oortuig my elke keer meer en meer dat jy in elke opsig na wyle oom Isak aard. Ja-nee, jy is deur en deur ’n Brank, en as die mense so dom wil wees om nou, na al die jare, met ’n Brank te lol, moet hulle maar die gevolge dra. Ek sal hulle in elk geval vroegtydig in kennis stel dat oom Isak nog steeds lewe in die skone persoon van Lecia Brank en dat hulle vir haar maar baie lig moet loop.”

“Jy spot nou, Wouter, en ek is ernstig,” verwyt sy.

“Ek spot glad nie, my hartjie,” verseker hy haar met groot erns. “Ek is vasbeslote om ’n paar mense na die middagete te bel en te waarsku om liewer nie met jou oorhoops te lê nie. Dis mos waarom ek jou voog is – om na jou belange om te sien en jou te beskerm.”

So onder die gesels deur het tant Elsa vir Katrien aangesê om tafel te dek. Wouter het ook net sy koffie gedrink en toe gesê hy wil eers sy hande gaan was voordat hulle eet.

Lecia volg sy voorbeeld en verklee haar terselfdertyd in ’n vrolike somerrokkie en fyn laehaksandale. Sy borsel haar hare, knap haar grimering op, en nou lyk sy weer soos ’n egte stadsdametjie. Dat sy ’n besonder aanvallige meisie is, sien sy nie eens raak nie. Sy is gewoond aan haar eie beeld, wat vir haar maar doodgewoon en alledaags lyk.

Aan tafel spreek sy terloops die gedagte uit dat sy graag ’n musiekskool in Dennevlei wil open vir kinders wat klavier- of orrellesse wil neem. Sy is ook heeltemal bereid om gevorderde lesse te gee aan dié wat dit nie kan bekostig om elders verder te studeer nie.

Maar hiervoor is Wouter nie te vinde nie. Hy maak dit ook baie duidelik toe hy nadruklik sê: “Volstrek nie. Jy kan onmoontlik heeldag voor jou musiekinstrumente sit en dan nog leer om te boer ook. En wanneer, dink jy, sal tant Elsa die geleentheid kry om van jou ’n voorslag te maak? O nee, jou musiekinstrumente gaan jy vir eers links laat lê, totdat ek van jou die vrou gemaak het wat oom Isak beoog het toe hy sy testament opgestel het.”

“Vlieg maan toe met oom Isak se testament en al, Wouter, en bly daar!” is al wat Lecia hom in haar drif kan toevoeg. Sy kan nie begryp hoe dit moontlik is dat ’n geleerde man soos Wouter met tye so onnosel kan wees nie. Dit sal mos ’n groot bate vir Dennevlei wees as sy ’n paar kinders se musiektalent kan ontwikkel.

Maar sy het al agtergekom dat Wouter soms so steeks soos ’n donkie kan wees, en wanneer hy in so ’n steekse luim verkeer, baat dit ’n mens absoluut niks om met hom te redeneer nie. Derhalwe besluit sy om hierdie onderwerp liewer weer by ’n ander geleentheid aan te roer.

Na die ete gaan Lecia na haar musiekkamer toe, waar sy haar musiekboeke en ander goed uitpak. Daarna neem sy ’n tydskrif en gaan sit op die voorstoep. Sy sou graag voor die deur onder die seringboom op die tuinbankie wou gaan sit, maar sy voel nog te lugtig vir tant Elsa se ou bokram wat so vry op die werf rondloop.

Sy blaai stadig deur die tydskrif, maar haar gedagtes is glad nie by die inhoud daarvan nie. Sy dink aan haar val vanoggend en aan die tarentale wat sy wil gaan jag. Wouter moet haar net leer om sekuur te skiet.

Nou dink sy weer aan die bepalings van wyle oom Isak se testament, en die feit dat sy, ’n stadsmeisie, moet leer om te boer. Sy wonder hoe boer ’n mens. Sy weet dat ’n land eers omgeploeg moet word voordat ’n mens kan saai, maar dit is ’n kleinigheid, meen sy. As ’n mens ’n motor kan bestuur, sal ’n trekker sommer kinderspeletjies wees.

Nee wat, besluit sy, om te boer is bepaald nie die ergste wat met haar kan gebeur nie. Wat is nou daaraan om ’n ou land­jie met ’n trekker om te ploeg? Die trekker doen mos al die werk, nie sy nie. En wat die kookkuns betref . . . Nou ja, tant Emma het gesê ’n mens kan sonder moeite uit ’n resepteboek leer bak en brou. Dus sal die lewe hier op Blouberg tog nie so moeilik wees soos wat sy aanvanklik gedink het nie. Dit sal in elk geval net ’n jaar wees. Daarna sal sy haar deel van die plaas aan Wouter verkoop en kan sy weer na Johannesburg en die beskawing teruggaan.

So sit Lecia die res van die middag op die stoep en prakseer, totdat dit haas tyd is vir aandete. Hier op Blouberg word aandete gewoonlik vroeg opgedien.

Die donderende geklap van hoewe laat haar vlugtig opkyk, net betyds om Wouter en Blits in die rigting van die stalle te sien verdwyn.

“Kragtie, maar dis warm,” begroet hy haar ’n rukkie later toe hy binnekom en op ’n stoel regoor haar plaasneem. Hy vee die sweet met sy sakdoek van sy voorkop af en leun gemaklik terug in die rottangstoel. “Jy lyk net so koel soos ’n blom waarop die môredou nog blink,” glimlag hy haar toe. “Het jy geswem?”

“Nee, waar swem ’n mens in hierdie geweste?” Sy kyk hom vraend aan en wonder of hy verwag dat sy hier agter die huis in die eende se modderdam moet swem. Vir die rivier met sy krappe voel sy bra skrikkerig.

Wouter verras haar egter toe hy sê: “ ’n Mens swem hier bo in die bergpoel. Sodra jy goed kan perdry, sal ek jou gaan wys waar die plek is. Intussen moet jy maar hier onder in die rivier swem.”

“Nee, dankie,” sê sy vinnig, “ek is allergies vir Blouberg se krappe. Ek sal wag totdat jy my die bergpoel gaan wys.”

Terwyl Lecia praat, dwaal Wouter se blik na haar lang, ligpienk vingernaels en ewe pienk toonnaels wat guitig by die sandale uitloer. Die meisiekind is vir hom inderdaad oulik en fyntjies, met haar vroulike kurwes presies op die regte plekke. Sy blik dwaal na haar hartvormige gesiggie in ’n raamwerk van blink, rooibruin krulle. Stadig skuif sy blik na haar donker wenkbroue en lang wimpers, haar groot, smaraggroen oë waarvan die kleur verander na gelang van haar emosies, die fynbesnede neus, sensitiewe mond en parmantige ken.

“Waar is die familiekerkhof, Wouter?” vra sy.

“Wil jy na oom Isak se graf gaan kyk?”

Daar is ’n terglustige trek in sy oë en Lecia vererg haar oor sy onnodige vraag. Hy weet tog hoe sy oor wyle oom Isak voel.

“Ek stel nie in ’n mal Brank belang nie,” antwoord sy snedig. “Ek koester ook hoegenaamd geen planne om die ou skelm se graf te besoek nie. Ek het jou die vraag gestel omdat ek graag my voorouers se grafte wil sien.”

“Jy is ’n ondankbare mens, Lecia,” sê hy ernstig. “Nadat oom Isak die helfte van Blouberg aan jou bemaak het, skel jy hom uit vir ’n skelm en –”

“Dink jy miskien dat hy my ’n guns daardeur bewys het?” maak sy hom vinnig stil.

“Natuurlik het oom Isak jou ’n guns bewys. Hy het derduisende rande se waarde aan jou bemaak,” herinner hy haar.

“Derduisende . . . inderdaad! Jy yl, man. Laat ek jou dit vertel: oom Isak het dit nie uit die goedheid van sy hart gedoen nie, want daar wás nooit goedheid in sy hart nie. Die helfte van Blouberg het my pa toegekom, en die ou skelm van ’n oom Isak het dit al die jare geweet . . . Nee, moet jou nie met dié ou heiden vergis nie. Dis maar net my pa se erfdeel wat aan my bemaak is.”

Wouter skud sy kop en glimlag onderlangs. Hy ken die hele geskiedenis van die emosionele en roekelose Brank-geslag van Blouberg, vandat die eerste Brank hom driehonderd jaar gelede hier op Blouberg kom vestig het. Elkeen se geskiedenis is geboekstaaf, en oom Isak het hom, Wouter, die taak opgelê om met Lecia se geskiedenis voort te gaan van waar hy ’n paar dae voor sy dood opgehou het.

Hy wonder of Lecia ooit weet dat hul van oorspronklik Branco was en dat dit met die verloop van jare na Brank verander het. Hy wonder of sy weet dat hul stamvader van drie honderd jaar gelede, Isaco Branco, ’n Spaanse seerowerkaptein was wie se skip langs die suidkus gestrand het. Hy wonder ook of sy weet dat Isaco Branco se vrou ’n Franse edeldame was, wat hy ná sy laaste seegeveg as buit geneem het.

Dis waar, die Branks van Blouberg het slegte bloed sowel as adellike bloed in hul are. Hy moet Lecia tog aanmoedig om die geskiedenis van haar roekelose voorvaders te lees. Moontlik sal sy dan ook besef dat haar pa, nadat hy Blouberg vir goed verlaat het, sy erfdeel deur sy eie optrede verbeur het.

“Wanneer wil jy kerkhof toe gaan?” vra hy. Sy blou oë neem haar noukeurig waar. Al wat sy van haar voorvaders geërf het, is haar vurige temperament, haar rooibruin hare, groen oë en daardie skerp, reguit blik wanneer sy kwaad is. Haar fyn gelaatstrekke is nie dié van haar voorvaders nie.

“Aangesien jy my môreoggend moet leer om met ’n geweer te skiet, kan ons môreaand ’n draai by die begraafplaas maak,” sê Lecia. ’n Ondeunde uitdrukking verskyn meteens in haar oë toe sy vervolg: “Ek hoor Katrien sê dit spook in die kerkhof. Maar wie van die klomp Branks is nou eintlik die kêrel wat so gesellig daar spook, Wouter? Is dit oom Isak?”

Hy kyk haar met ’n geamuseerde glimlag aan. “Ek sal nie kan sê nie, kleinding. Die mense sê daar is baie spoke in Blouberg se kerkhof.”

“Wel, ’n mens kan eintlik niks beters van so ’n klomp verwag nie, nè?” Sy begin meteens saggies lag en kyk Wouter met blink oë aan. “Ek sou geen spook aanraai om hier in die huis te kom spook nie, want dan gaan hy met my te doen kry. Ek is nie bang vir spoke nie – allermins vir ’n Brank-spook. Ek sal sy fortuin vir hom so padlangs vertel, hy sal wens dat hy liewer elders gaan spook het. Maar sê my, wie is die ou klomp geraamde baardmanne wat die sitkamer se mure so kwistig versier?”

Wouter lag lank en lekker.

“Daardie geraamde baardmanne is almal jou voorvaders – behalwe oom Isak, natuurlik – en elkeen het diep spore hier op Blouberg getrap,” vertel hy nadat sy lagbui bedaar het. “Jul ou stamvader is ook tussen die indrukwekkende groep baardmanne.”

“Indrukwekkend!” Sy kyk hom snaaks aan, so asof daar iets met sy verstand skort. “Hm, hulle lyk vir my bra wild met daardie baarde en snorbaarde. As hulle nie so bebaard was nie, sou hulle stellig aantreklike mans gewees het soos my pappie. Maar wat ek eintlik wou sê, jy moet my tog wys wie die stamvader van die klomp is, Wouter. Ek vermoed dis die oubaas met die spits baard en weglêsnor, die een wie se hare in ’n vlegsel agter sy nek hang. ’n Mens kan sommer sien sy kleredrag dateer van die jaar nul.”

Wouter kom sonder meer orent, klop sy pyp teen die buitekant van die stoepmuurtjie uit en steek dit in sy hempsak.

“Kom, laat ek jou gaan wys wie jul stamvader was,” bied hy aan. “Elkeen van daardie baardmanne was in sy tyd ’n erfgenaam van Blouberg. Ons sal jou portret ook daar moet –”

“Moenie beongeluk wees nie, Wouter,” val sy hom goedig in die rede en kom self orent. “Hang liewer jou eie portret langs oom Isak s’n op.”

“Ek is nie ’n Brank nie,” help hy haar reg. “Jy is die laaste erfgenaam wat ooit Brank sal heet, dus moet jou portret by die ander s’n hang.”

“O, nou goed, moet my net nie langs oom Isak hang nie. Jy weet ons is allergies vir mekaar.”

“Maar, my liewe mens, oom Isak is dood, hoe kan julle allergies vir mekaar wees?”

“Wouter, moet asseblief nie met my oor hierdie dinge stry nie,” berispe sy hom ernstig. “Ek weet hoe ek voel, en ek is buitendien nie oom Isak se soort nie. Hy was ’n ou heiden en ’n skelm –”

“Toemaar, jong, daar is omtrent nie ’n oortreding op hierdie aarde waaraan jou voorvaders hulle nie skuldig gemaak het nie,” val hy haar met ’n breë glimlag in die rede. “Oom Isak was ’n engel in vergelyking met party van jou voorvaders.”

Hulle stap die sitkamer binne. Lecia se blik gly vlugtig oor die rye portrette.

“Dis die een met die wilde snorbaard waarvan ek gepraat het,” sê sy en wys met haar vinger na die bebaarde oubaas wat hulle uit die vergulde raam met ’n skerp, deurdringende blik aankyk.

“Jy het gelyk,” sê hy, “daardie oubaas is die stamvader van die Branks van Blouberg.”

Lecia staar lank in die man se skerp, deurdringende oë, kompleet asof sy oë haar hipnotiseer. ’n Ligte rilling kriewel soos koue water teen haar rug af. Sy kyk na Wouter wat haar stil dophou. Sy glimlag meewarig en sê half ongeërg: “Hierdie ou grootvader van my het ’n wrede streep gehad, Wouter. ’n Mens moet net lank genoeg in sy oë kyk om dit agter te kom. Ek dink ons moet hul portrette na ’n ander vertrek toe verskuif, na een van die kamers wat nie gebruik word nie. Ek hou niks van hierdie klomp baardmanne in die sitkamer nie. My ou stamvader se oë lyk so wesenlik . . . so lewend, dit laat my eintlik grillerig voel. Dis kompleet of sy deurpriemende blik elke beweging van my volg.”

“Ek vrees hier is nie ’n beskikbare vertrek nie, behalwe jou musiekkamer,” antwoord Wouter. “Wil jy hierdie familieportrette daar gaan ophang?”

“Ja, liewer daar as hier in die sitkamer. Ek sal vanaand vir tant Emma skryf en haar vra om my skilderye en ’n paar ander goed aan te stuur.”

Hulle gesels nog ’n rukkie oor die veranderinge wat sy in die sitkamer wil aanbring, toe kondig Wouter aan dat hy eers wil gaan bad en skeer voordat die klokkie vir aandete lui. Lecia gaan weer na die voorstoep, waar sy na die berg se skaduwee sit en staar wat al langer en langer rek. Sy hoor hoe die voëls voor die deur in die seringboom raas, blykbaar besig om hulle vir die nag in te rig.

Na ’n rukkie hoor sy die veraf gebulk van ’n kalf en die geblêr van skape wat van die krale se kant af op die aandbries na haar toe aangesweef kom. Van die rivier se kant af laat die paddas en krieke nou ook van hulle hoor. Dis die hele simfonie van plaasgeluide . . . ’n vreemde simfonie.

Diep ingedagte luister Lecia na die verskillende geluide wat haar omring. Dit klink vir haar vreemd dog rustig, so asof elke lewende kreatuur gretig uitsien na die oomblik wanneer die dag se bedrywighede tot stilstand sal kom en die nag sy vleuels oor Blouberg span.

Die gelui van die etensklokkie herinner haar meteens daaraan dat dit tyd is vir aandete. Sy wonder of Wouter al gereed is.

Dis waar, dink sy, ’n mens moet nooit iemand op sy baadjie takseer nie. Kyk nou maar vir Wouter. Met sy olierige hoed en groot, uitgetrapte velskoene lyk hy allermins na ’n man met ’n landbougraad. By die eerste aanblik het ek gedink hy is ’n werker hier op die plaas. En tog beskik hy oor ’n sterk persoonlikheid en . . . Ja, dis of hy ’n stille krag uitstraal. Vanoggend in die veld het ek die gevoel gekry dat ek altyd op hom sal kan staatmaak as die lewe hier op Blouberg my begin druk. Dit het gevoel of ek altyd op hom sal kan leun as ek morele ondersteuning nodig het . . .

“Slaap jy, of droom jy maar net, kleinding?” hoor sy Wouter onverwags agter haar praat. Sy kyk om en merk dat hy ’n grys broek, wit hemp en swart skoene aanhet. Sy gesig is gladgeskeer en sy donkerbruin hare netjies gekam.

Hy is inderdaad ’n aantreklike man, flits dit deur haar gedagtes, maar hardop sê sy: “Ek het na die plaasgeluide gesit en luister. Dis so stil hier op die plaas, ’n mens kan selfs die voëls en paddas daar onder langs die rivier hoor.”

“Jy sal gou aan hierdie rustige stilte gewoond raak,” glimlag hy. “Maar nou moet jy eers kom eet. Tant Elsa wag al vir ons.”

Aan tafel gesels Lecia opgewonde oor die tarentale wat sy wil gaan jag sodra Wouter haar geleer het om sekuur te skiet.

“Jy moet versigtig wees, Lesie,” maan tant Elsa besorg. “ ’n Roer is ’n gevaarlike ding. Baie mense het hulself al per ongeluk doodgeskiet.”

“Ek is gans te lief vir die lewe om myself dood te skiet, tante . . . selfs per ongeluk,” verseker sy die ouer vrou laggend. Sy knik onderlangs vir Wouter en vervolg tergerig: “Ek belowe tant Elsa dat ek net vir Wouter sal skiet as ek eendag die bevlieging sou kry om mense te skiet.”

“Haai, Lesie!” Die dierbare ou dame lyk ietwat geskok.

“Waarom lyk tante so geskok?” terg Lecia. “Die Branks van Blouberg is mos bekend vir hul roekeloosheid.”

“Ja, hulle is roekeloos,” erken tant Elsa, “maar hulle maak jare al nie meer mense dood nie.”

Hierdie ernstige verklaring van die ouer vrou laat Lecia verward frons. Dit tref haar nou eers dat sy feitlik niks van haar voorouers af weet nie.

“Het die Branks van Blouberg dan al mense om die lewe gebring, tante?” Alle spot en terglustigheid het nou die wyk geneem, en Lecia kyk die ouer vrou ernstig en deurdringend aan.

Dit is egter Wouter wat haar vraag beantwoord.

“Jul stamvader het op groot skaal gemoor, Lecia,” hoor sy hom bedaard sê asof hy die dag se werk met haar bespreek. Dis duidelik dat hy al gewoond is aan die Branks van Blouberg se geskiedenis, daarom dat hy oor die ou stamvader se gruweldade kan praat asof dit niks buitengewoons is nie.

“So ’n satanskind! Wie het hy vermoor, Wouter?” Daar is openlike afsku in haar oë vir haar ou voorvader se wrede dade.

“Wel, ek weet nie presies wie hy almal vermoor het nie, maar die Spaanse kaptein Isaco Branco was ’n berugte en gevreesde seerower –”

“Man, ek is nie geïnteresseerd in die gevreesde Spaanse kaptein nie. Vertel my eerder van my ou stamvader,” val sy hom half ongeduldig in die rede.

“Maar ek ís besig om jou van hom te vertel, meisiekind,” help hy haar met ’n goedige glimlag reg. “Isaco Branco was jou stamvader.”

Lecia kyk hom spottend aan en begin hartlik lag. “Jy verwag tog seker nie dat ek jou moet glo nie, Wouter,” sê sy nadat haar lagbui bedaar het.

“Wel, as jy my nie wil glo nie, moet jy maar self die geskiedenis van Blouberg se mense gaan lees,” stel hy voor. “Jy sal die geskrifte van elke Brank se lewensgeskiedenis in die studeer­kamer vind. Trouens, ek het reeds met jou geskiedenis begin waar oom Isak laas opgehou het.”

“My ou stamvader se naam was nie Isaco Branco nie, Wouter, sy naam was Isak Brank,” hou Lecia koppig vol. Sy weet dat nie een Brank nog ooit ’n engel was nie, maar sy verseg om te glo dat hul stamvader ’n berugte seerowerkaptein was.

“Jy maak ’n fout, meisie, jou stamvader se naam was nie Isak Brank nie, sy naam was Isaco Branco,” sê Wouter. “Een van sy agterkleinseuns het die naam en van na Isak Brank verander. Jul van was oorspronklik Branco. Daardie selfde ou seerowerkaptein het hierdie wilde, ongerepte stuk aarde in ’n plaas omskep.”

Lecia swyg etlike sekondes lank. Daar is ’n ligte frons op haar voorkop terwyl sy diep ingedagte haar koffie drink, maar na ’n rukkie stoot sy die leë koppie opsy en kyk Wouter reguit aan.

“Ek is bly dat ek die laaste lid van die Brank-geslag is,” sê sy sag dog ernstig. “Met so ’n wrede, bloeddorstige stamvader moes die geslag lankal uitgesterf het.”

“Jou kinders sal nog steeds Isaco Branco se bloed in hul are hê, my hartjie,” help Wouter haar glimlaggend reg. “Die van sal wel met jou uitsterf, maar nie die geslag nie.”

Sy trek haar skouers liggies op.

“Ek sal maar net moet sorg dat ek nooit ’n kind het nie,” sê sy. “Isaco Branco is beslis nie ’n stamvader om op trots te wees nie . . . Nee, dis beter dat sy geslag uitsterf.” Sy kyk hom ernstig aan. “Hoe het die ou vrybuiter destyds hier beland, Wouter? Wat het van sy roofskip geword?”

“Sy skip, die See-Arend, het naby Algoabaai op die rotse geloop nadat hy in ’n hewige seegeveg betrokke was met twee Britse handelskepe. Net Isaco en vier van sy bemanningslede het die skipbreuk oorleef . . . en jou stammoeder, natuurlik.”

“Wat, was die ou satanskind tóé al getroud?”

“Nee, hy was nie,” glimlag Wouter geamuseer. “Jou stammoeder was ’n Franse edeldame wat op een van die Britse handelskepe gereis het. Sy was deel van die buit wat hy van die handelskepe geneem het voordat hy albei skepe gekelder het. Hy het dus vir hom ’n vrou geskaak!”

“So ’n ou skelm en moordenaar!” roep sy verontwaardig uit. “Ek had dus heeltemal reg toe ek vanmiddag gesê het die ou baardman had ’n wrede streep. Hy was ’n moordenaar en ’n barbaar . . .”

“Hy is jou stamvader, kleinding, en hierdie dinge het driehonderd jaar gelede gebeur,” probeer Wouter vir die afgestorwene in die bresse tree. “Volgens die geskiedenis was hy glo ’n besonder aantreklike man, altyd netjies op sy persoon en ook baie hoflik teenoor die skoner geslag.”

“Dit sê niks nie,” hou sy ergerlik vol. “Hy was ’n wrede moordenaar en ek het geen respek vir hom nie. Ek wil hom ook nie eens meer in my musiekkamer hê nie. Jy kan maar daardie portret op die vullishoop gooi, Wouter.”

“Gits, nee, jy kan dit nooit doen nie, meisiekind,” keer Wouter ernstig. “Daardie oubaas is ’n geskiedkundige figuur. As jy hom nie in jou musiekkamer wil hê nie, bly hulle almal hier in die sitkamer.”

“O nee, hulle trap almal uit die sitkamer uit. Ek wil nie een van hulle daar sien nie,” hou sy beslis vol.

“Dan moet jy hulle na jou musiekkamer toe skuif,” kom dit ferm van Wouter, en Lecia besef dat hy nou die laaste woorde daaroor gesê het.

“O, nou goed,” stem sy onwillig in, “laat die ou hekseketel dan maar in my musiekkamer hang. Maar die duiwel haal hom as sy arendsoë my weer oral in die vertrek volg. Regtig, Wouter, ek hou niks van die blik in sy oë nie. Hulle lyk so koud en deurdringend.”

“Toemaar, moet jou nie aan sy oë steur nie, jong,” glimlag hy gerusstellend. “Daardie ou is meer as twee eeue gelede al dood en vergaan, en al het hy ook gelewe, sou hy jou geen leed aangedoen het nie. Hy sou te trots op jou gewees het, en op die feit dat jou hare en oë na al die eeue nog lyk soos wat syne gelyk het.”

Hulle gesels nog ’n rukkie oor Isaco Branco se aankoms in die Kaap, toe kondig tant Elsa aan dat Katrien die tafel wil afdek.

“Ja, dit begin al donker word en die arme vrou moet by die kerkhof verbyloop,” sê Lecia ondeund. “Vanaand jaag ou Isaco haar met ’n kapmes. Ek dink ek en jy moet liewer saam met haar loop, Wouter.”

“Is jy nie bang vir ou Isaco se spook nie?” terg Wouter.

“Ek glo nie aan spoke nie. Sodra ek self een gesien het, sal ek weet of ek bang is of nie . . . nie dat ek weet waarom ek vir die ou klomp Branks bang moet wees nie. Ek sou ou Isaco en oom Isak graag voor stok wou kry oor baie dinge . . .”

Wouter se hartlike lagbui maak terstond ’n einde aan Lecia se relaas. Hulle staan van die tafel af op en gaan sit op die voorstoep, waar Wouter sy pyp tydsaam stop en aansteek.

“Wil jy regtig hê ons moet Katrien verby die kerkhof vergesel, kleinding?” vra hy toe sy pyp eindelik goed brand.

“Ja, ek het dit bedoel,” antwoord sy. “Die arme mens is so bang, en dis ons geselsery aan tafel wat haar opgehou het. As ek die pad geken het, sou ek haar met my motor tot by haar huis geneem het.”

“Dis nie nodig nie. Ons kan saam met haar stap tot anderkant die kerkhof. Gaan sê net vir haar, anders bekommer sy haar siek,” doen Wouter aan die hand.

“Nou goed, ek sal haar gaan gerusstel. Rook solank jou pyp, ek sal jou kom sê wanneer sy gereed is om te loop.”

Later, toe hulle saam met Katrien stap, haak Lecia ewe gemeensaam by Wouter in. Dis ’n warm aand, die sterre skitter blink aan die swart hemelruim en die maan hang soos ’n groot vuurbal bokant die oosterkim. Ook die gesang van die paddas en die krieke duur nog steeds voort. Die paadjie waarin hulle loop, was jare gelede ’n wapad, maar nou is dit vol slote en gate waarin Lecia telkens struikel.

“Jy moet kyk waar jy loop, kleinding,” vermaan Wouter haar besorg. “Netnou breek jy ’n been of ’n enkel, en hoe gaan jy dan die tarentale jag?”

“Waarom dink jy hang ek so aan jou? Beslis nie uit liefde nie, maar wel om te verhoed dat ek ’n been of ’n enkel breek,” terg sy lighartig.

“Toemaar, ek weet jy doen dit nie uit liefde nie, my hartjie,” glimlag Wouter in die flou lig van die maan. “Ek wonder of jy al ooit ’n man liefgehad het.”

“Ag, baiekeer al,” antwoord sy goedig. “Ek was al op die tere ouderdom van ses jaar met ons bure se sewejarige seuntjie gekys, maar na ’n paar dae het hy my gelos. Ek het hom glo te veel afgeknou. Daarna het ek baie outjies gehad, maar daar was net een wat ek so op ’n manier liewer gehad het.”

“En wat het van hom geword?” wil Wouter belangstellend weet.

“Ag, hy het iemand anders liefgehad en my nie eens raakgesien nie,” vertel sy. “Dis toe dat ek besluit het om al my tyd en aandag aan my musiek te bestee en my nie meer aan ouens te steur nie.”

“Hoe oud was jy toe, kleinding?”

“Ek was twaalf jaar oud,” antwoord sy, “en sedertdien het ek my nog nie weer deur die liefde laat vang nie . . . nie dat ek hom nou nog liefhet nie. Ek het later besef dat dit kalwerliefde was, maar ek gaan nog steeds nie toelaat dat die noodlot my weer so ’n streep trek nie.”

“O, jy sal weer verlief raak,” voorspel hy, “en hierdie keer sal dit op die regte man wees . . . Toemaar, jy skud verniet jou kop. Liefde is ’n emosie waaroor ’n mens geen beheer het nie. Dit oorwin jou nog voordat jy weet jy word aangeval.”

“Praat jy nou uit eie ondervinding, Wouter?” Sy kyk hom met groen, ondeunde oë aan.

“Maar natuurlik praat ek uit eie ondervinding, my hartjie. Ek gee nooit raad tensy ek ’n grondige kennis van die onderwerp het nie, en ek herhaal: jy sal weer verlief raak.”

“Het die liefde jou bekruip en oorwin nog voordat jy van sy aanval bewus was, Wouter?” vra sy met iets soos onsekerheid in haar stem. Hy lyk vir haar so sterk en standvastig, so asof hy te alle tye meester van elke situasie is. Hy lyk nie vir haar na ’n man wat sal toelaat dat die liefde sy lewe beheer nie.

Maar dan hoor sy hom sag en bedaard sê: “Dit is presies hoe die liefde my oorval het – ongevraag en onverwags.”

Hulle gesels so ernstig oor die liefde dat hulle by die kerkhof verbystap sonder om dit eens op te merk. Eers toe hulle die werkers se huise nader, tref dit Wouter dat hulle verder gestap het as wat hy aanvanklik bedoel het. Katrien loop ’n paar treë agter hulle. Sy het ’n kombers oor haar kop en net haar neus en oë steek uit.

“Ons draai hier om,” voeg Wouter die huishulp toe. “Jy behoort nou alleen reg te kom.”

“Ja, hier is nie spoke wat jou lastig sal val nie. Ten minste, ek het nie een gesien nie,” werp Lecia ook haar stuiwer in die armbeurs.

Die vrou bedank hulle verlig, sê nag en verdwyn vinnig in die rigting van die huise.

Terwyl hulle terugstap, dink Lecia aan hul gesprek van flussies. Sy wonder wie die meisie is aan wie Wouter se liefde behoort en wanneer die huwelik gaan plaasvind. Snaaks, sy hou nie van die gedagte dat ’n ander vrou die septer in Blouberg se woonhuis moet swaai nie.

Ek dink ek is besig om van my wysie af te raak, dink sy vererg. Ek wil self nie hier woon nie, en tog wil ek ook nie iemand anders as meesteres in die huis sien nie. Dis ’n onbillike houding, want Wouter kan tog nie vir altyd ongetroud bly nie. Die een of ander tyd moet hy vir hom ’n vrou huis toe bring, ’n lewensmaat wat hom kan bystaan en sy lewe kan deel . . .

“Waarom is jy skielik so stil, kleinding?” dring Wouter se stem ineens tot haar deur.

“Ek dink sommer aan die ellendige tarentale wat my vandag so hard laat val het,” jok sy gladweg.

“Toemaar, ek sal jou môre leer skiet,” troos hy en gee haar arm ’n bemoedigende drukkie. “Daarna kan jy met die tarentale gaan afreken – veral daardie spul wat jou vandag laat val het.”

“Wouter,” vra sy na ’n rukkie, “hierdie muur hier langs my . . .is dit die kerkhof se muur?”

Hy antwoord bevestigend, en dan vervolg sy half teleurgesteld: “Maar ek sien dan geen spook of iets wat naastenby soos ’n spook lyk nie.”

“Wel, jy het self vanaand gesê dat daar nie so ’n ding soos ’n spook bestaan nie. Wat het jy verwag om te sien?”

“Miskien iets wat mense vir ’n spook aansien – ’n lang, wit grafsteen of ’n ding. Maar hier is regtig niks nie, buiten natuurlik ’n mens se eie skaduwee. Ek sal môreaand alleen saam met Katrien loop en haar wys dat hier niks is om voor bang te wees nie.”

“Nee, dit laat ek volstrek nie toe nie,” keer hy haastig. “ ’n Kwaaddoener kan jou maklik hier voorlê. Laat staan vir Katrien, my hartjie. As sy wil bang wees, laat haar bang wees. Jy gaan nie alleen in die donker rondloop nie.”

Susanna M Lingua Gunstelinge 2

Подняться наверх