Читать книгу Gesonde seks - Timothy Kieswetter - Страница 3
ОглавлениеVoorwoord
Wat is ’n seksueel gesonde huwelik? Is dit ’n huwelik wat gesonde seks geniet? Maar is dit nodig om dit te noem? Is dit nie vanselfsprekend dat elke huwelik seksueel van aard is nie? Almal weet tog dat ’n getroude paartjie seks het, ons hoef dit sekerlik nie uit te basuin nie? Waarom fokus ons dan op iets wat net tussen man en vrou plaasvind? Is dit dan nie waar dat seks vanself gebeur wanneer dit in die huwelik goed gaan nie? Ons almal weet mos wat om te doen wanneer die ligte afgaan. Dit is tog vanselfsprekend.
As Bybel- en seksualiteitskenner wat elke dag met seksuele vrae gekonfronteer word, kan ek jou met redelike sekerheid sê: Gesonde seks in die huwelik is nié vanselfsprekend nie. As dit was, sou ek werkloos gewees het. Pornografie sou nie ’n verslawing gewees het nie. Egskeidings sou nie so gewild gewees het nie en cheating (om te verneuk) sou verwys na die skelm sjokolade wat jy tussendeur jou streng dieet en ewe streng oefenplan inglip.
Eintlik ontvang ons in ons Christelike grootwordstyl geen merkwaardige seksopvoeding nie. Dit sluit nou nie daardie deurgetrapte algemene enkelsinspreuke in nie. Jy weet mos: “Moenie vat nie, dit gaan afval!”; “Bewaar jou siel as jy seks voor die huwelik durf hê!”; “Alle mans soek net een ding!” En dies meer …
As jy gelukkig was, het jy hopelik nie net waarskuwings nie maar darem ook meer oor die positiewe en mooi aspekte van seks gehoor: “Die huwelik is wonderlik.”; “Die huwelik is ’n Goddelike en heilige instelling!”; “Wag tot die huwelik.” Die huwelik, die huwelik, die huwelik …
Dus, slegs wanneer ons gewaarsku word oor seks, is ons bereid om daarna te verwys al wil ons dit nie eintlik op die naam noem nie. Die gevoel dat dit iets vuils, leliks en sondigs is, kom duidelik oor. Maar wanneer ons die positiewe en gesonde kant van seks wil beklemtoon, gebruik ons “die huwelik” as sinoniem van alles wat vir ons te ongemaklik is om oor te praat. Amper asof almal, wanneer ons oor “die huwelik” praat, presies moet weet dit behels seks en sommer ook hoe om daardie seks gesond, gereeld en genotvol te kan geniet.
Ek het niks teen die huwelik nie. Ek is self getroud – al elf jaar lank – met dieselfde vrou (’n mens moet dit deesdae darem ook byvoeg). Maar die huwelik is nie dieselfde as seks nie. Seks is nie die huwelik nie. Ek stem saam dat die twee soos vinkel en koljander pasmaats is, maar ons kan nie verwag dat ’n gesonde en vervulde sekslewe sommer net vanself in ons skoot gaan val deur bloot te “huwelik dit” en “huwelik dat” nie.
As ons gesonde seks in ons huwelik wil geniet, gaan ons oor seks móét begin praat. Nie as ’n nagedagte, ’n voetnota of ’n afgerammelde onderwerp nie, maar as ’n hoofpunt van bespreking. Seks moet amper so belangrik vir ons word soos wat dit vir God is. Hoe nou? Sê gou weer, ek het sekerlik nie reg gelees nie! Hoekom anders sou God ’n hele hoofstuk in sy Woord afstaan aan die onderwerp van die seksuele liefde?
Seks is belangrik, want God het dit belangrik gemaak. (Glo jy my nie? Hou maar net aan lees.)
Ek wil jou graag uitnooi om deel te raak van die gesonde-seks-rewolusie waar ons ’n platform skep om vrylik oor seks te praat.
Help om die taboe van seks te breek. Elke keer wanneer jy iets waarvan jy hou in hierdie boek lees, of jy nou op Twitter of Facebook is, #GesondeSeksBoek dit.
God se seën en gesonde seks