Читать книгу Gesonde seks - Timothy Kieswetter - Страница 5

Оглавление

’n Gesonde-seks-perspektief

My gesonde-seks-reis het begin die dag toe ek my vrou ontmoet. Kom ek verduidelik …

Ek was vas oortuig daarvan dat almal soos ek dink. Natuurlik nie die goddelose mense nie (duidelik dink hulle anders), maar ten minste al die gelowiges. Hulle dink sekerlik almal dieselfde as ek. (Glo ons tog nie almal so nie? En wanneer ons ’n medegelowige met ’n ander perspektief raakloop, glo ons dit is ons Goddelike plig om te sorg dat hierdie persoon sy of haar denke stelselmatig vernuwe.)

Ek het dus maar geglo my siening oor seks is ook ’n algemeen aanvaarde siening onder gelowiges. Wanneer ek terugdink, besef ek: As negentienjarige oningelyfde in die kuns van seks (oftewel ’n maagd) was my siening oor seks glad nie so goed ontwikkel soos ek gedink het nie.

Nietemin, hier ontmoet ek die liefde van my lewe. Dit was regtig liefde met die eerste oogopslag. (Oukei, dalk nou nie liéfde met die eerste oogopslag nie, maar dit was vir seker iéts met die eerste oogopslag.) Sy het vertel hoe sy haar Christen-sielkundestudie geniet, pas ’n taak oor liefde klaargemaak het en baie trots daarop was.

Sy het die bekende vier Griekse woorde vir liefde, naamlik agape, storge, philia en eros, gebruik om die struktuur van ’n Goddelike en gelukkige huwelik uit te beeld:

• Agape: Onvoorwaardelike, opofferende liefde: “‘God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê’” (Joh 3:16).

• Storge: Familieliefde (waarvan gesinsliefde deel is), byvoorbeeld die liefde wat ’n ouer vir sy kinders het.

• Philia: Vriendskapsliefde: “As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer” (Rom 12:10, NLV).

• Eros: Erotiese en seksuele liefde tussen ’n paartjie.

Sy het die huwelik vergelyk met die beeld van ’n kruis. (My vrou was in daardie stadium baie geestelik. Nie dat sy nou baie vleeslik is nie.) In haar beeld was die balk wat hemelwaarts gewys het, God se liefde vir ons wat die agape-liefde in die huwelik verteenwoordig. (Ek vermoed dit is die onvoorwaardelike liefde in die huwelik.)

Die een dwarsbalk was die balk waarop Jesus uitgereik het na die man wat langs hom gekruisig is en gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:43, NLV). Dit het na die vriendskapsliefde verwys. (Wanneer jy en jou maat mekaar se beste vriende is, voel dit asof jy in die paradys leef.)

Die ander dwarsbalk verteenwoordig die familieliefde, want Jesus het na Johannes gedraai en gesê: “Daar is jou moeder” (Joh 19:27). Daarna het Hy na Maria gedraai en gesê: “Daar is u seun.” (Ek vermoed hierdie liefde is veral belangrik om jou skoonma te oorleef.)

Dan is daar die laaste van die vier soorte liefde, nie omdat sy die beste vir laaste wou hou nie, maar eerder omdat die seksuele liefde vanselfsprekend ook deel van die huwelik moet wees. Hierdie liefde, eros-liefde, het sy voorgestel as die onderste balk van die kruis wat in die grond geslaan was.

Sien, die seksperspektief waarmee sy grootgeword het, was een waarin seks ’n vanselfsprekende deel van enige huwelik was, maar nie ’n groot of belangrike deel daarvan nie. Dit was die deel wat gebêre en selfs in die grond weggesteek moes word, wat vleeslik en vuil is – slegs daar om eendag Godgegewe kinders in die lewe te bring en jou man te keer om nie rond te loop nie.

Ná hierdie verduideliking kon ek vir haar maar net reguit en met groot oortuiging sê: “Ek kry jou arme man eendag baie jammer!” As dit is hoe sy oor seks dink, siestog! Die arme ou, hy gaan seker met ’n hele spul kinders eindig.

My vrou beweer dit was op hierdie oomblik dat sy geweet het ek is dié een. Ek kan jou belowe, ek was nog salig onbewus van my toekomstige trouplanne.

Sy kon egter nie verstaan hoekom ek haar man eendag sou jammer kry nie. Daar is dan seks in die huwelik, wat meer wil ek van haar hê? Gelukkig het ek in daardie stadium ’n liefdesteorie gehad wat ook gegrond was op dieselfde vier soorte liefde. Die enigste verskil was my perspektief wat die seksuele dimensie betref.

Ek het die huwelik vergelyk met die bou van ’n huis – een waarin man en vrou eendag graag sou wou woon en saam oud kon word. Soos met enige huis het ek begin met die fondament, naamlik die familieliefde (waarby gesinsliefde ingesluit is). Die soort liefde wat ons in ons eie ouerhuis ontvang en sien is die soort liefde wat ons eendag in ons huwelik gaan naboots.

Daarna word die mure van die huis gebou. Dit verteenwoordig die tyd wat die twee neem om mekaar te leer ken en ’n vriendskap te vorm voordat dinge te ernstig word. As dit God se goedkeuring wegdra, kan ons ’n dak op die huisie plaas. Dit stel God se beskerming oor die verhouding of huwelik voor.

Ek het ook eros-liefde, die seksuele liefde, vir laaste gelos. Let wel, nie omdat dit vir my vanselfsprekend was – iets waaroor ek skaam gevoel of as vuil, vleeslik en slegs daar vir voortplanting beskou het – nie. Ek het die beste vir laaste gelos. Die seksuele liefde is my skoorsteen wat bo-op die dak uitsteek en met trots verkondig dat daar ’n vuurtjie in die huis brand.

Sien, waar die familieliefde die liefdespatrone neerlê, die vriendskapsliefde ruimte vir mekaar skep en agape-liefde as God se beskerming dien, is eros-liefde juis verantwoordelik vir die warm atmosfeer in die huis.

In my weergawe van die vier soorte liefde is die seksuele sy nie ’n neweproduk van die huwelik nie, maar die hoofgereg. Dit is nie ’n nagedagte van getroudes nie, maar ’n lewenslange wittebrood.

My vrou het toe saam met my in my liefdeshuisie ingetrek. Ons het saam aan ons gesonde seks gebou. Ons eros-liefde-kaggel is iets wat ons huwelik die gemaklike, warm atmosfeer in plaas van die koue skouer gee. (En indien jy gewonder het, ek kry nie meer my vrou se man jammer nie.)

In hierdie boek gaan ek vir jou presies uitspel hoe jy ook gesonde seks in jou huwelik kan geniet. En dit alles begin deur jou perspektief oor seksualiteit te verander.

Gesonde seks

Подняться наверх