Читать книгу Gesonde seks - Timothy Kieswetter - Страница 7
ОглавлениеGod se Hooglied vir die mens
Op die sesde dag maak God die mens na sy beeld: manlik en vroulik. Hy staan terug om sy skepping een laaste keer te bekyk voordat hy dit die stempel van goedkeuring gee en met massaproduksie begin. God is tevrede met dit wat Hy gemaak het, en nes Hy sy finale goedkeuring uiter met “Dit is goed, dit is sommer baie goed”, hardloop die duiwel vinnig verby die mens en plak die penis en vagina op die man en vrou.
Die duiwel lag in die een hoek en God ween in die ander. Hy wou nie seksuele mense gemaak het nie. Hy het meer gedink aan ’n Barbie- en Ken-tipe – perfek maar plastiek! Die duiwel is in sy skik, want hy het die mens en hul God in ’n hoek.
Niemand van ons sal dít ooit hardop sê nie, maar soms wonder ek of ons nie tog so iets glo nie.
Moenie dat hierdie ligsinnige stukkie jou afsit van die belangrikheid van hierdie hoofstuk nie. Maar vir my as leketeoloog, jong Bybel- en seksualiteitskenner en amateur-komediant is dit die beste manier hoe ek my gesonde-seks-perspektief kan oordra. Daar is baie mense, almal baie slimmer as ek, wat al boeke der boeke geskryf het oor God se siening van seksualiteit. Hoe stry ’n mens teen God se siening van seksualiteit? En daarom gaan ek nie voorgee dat wat ek in hierdie boek skryf, my gesonde-seks-perspektief, ook is wat God sê nie.
Met hierdie boek, en in hierdie hoofstuk veral, gaan ek net fokus op my eie mening, waarnemings en persoonlike openbarings oor die gesonde seks wat ek in God se Hooglied vir die mens raaksien. En ek gaan dit vertel op ’n eenvoudige, nieteologiese manier sodat jy dit nie dalk kan verwar met iets wat God sê nie. Ek wil amper Paulus se voorbeeld hier gebruik: Ek het nie ’n direkte woord van God vir jou hieroor gekry nie, maar hierdie hoofstuk kom vanuit my eie pen (oftewel toetsbord).
In hierdie hoofstuk wil ek julle vertel van ’n toe-oë-afspraak, ’n warmbloedige prinses en ’n gelukkige einde.
Adam en Eva
As jy nie die storie van Adam en Eva ken nie, is dit dalk nou ’n goeie tyd om gou hierdie boek neer te sit, die Bybel op te tel en die eerste paar bladsye daarvan te lees … Welkom terug. Mooi storie, nè?
Adam en Eva het nie saam grootgeword of saam skoolgegaan nie. Hulle was nie Facebook-pêlle nie en hulle het nie met mekaar gemxit of getwiet nie.
Adam het deur ’n fase gegaan waartydens hy name vir al die diere gegee het, maar hy kon net nie een vind wat sy gelyke is nie. Toe reël God vir hom ’n toe-oë-afspraak. Hy stel hom bekend aan Eva.
Dit is baie duidelik dat Adam nie verlief geraak het op Eva se persoonlikheid of kosmaakvermoë nie. Hy het gehou van wat hy gesien het. Dit wat hy vir haar gevoel het, was ’n seksuele aantrekkingskrag. Die aantrekkingskrag was so sterk dat hy bereid was om alles wat hy ken agter te laat en een te word met haar. Ek kan my net indink dat die liedjie wat op daardie oomblik oor die radio gespeel het seker iets was soos “Let’s talk about sex, Baby. Let’s talk about you and me.”
Baie mense glo seks het eers ná die sondeval plaasgevind en vorm dus deel van die vloek en nie van God se perfekte plan nie. Dit is hierdie mense wat wil glo ons moet soos Barbie en Ken leef. Die redenasie is soos volg: Nadat Adam en Eva gesondig het, het hulle bewus geraak van hulle naaktheid en dit het hul met skaamte gevul.
So, vóór die sondeval was ons blind vir ons naaktheid (seksualiteit) en dus aseksueel en “perfek-maar-plastiek”, en met die oopmaak van die deur tot die sonde het die duiwel vir ons ’n penis of vagina gegee om ons met skaamte te vul.
Beantwoord dan hierdie vraag: Indien Adam en Eva ’n seksuele skaamte ervaar het, sou dit dan nie sin maak dat elkeen oor sy en haar kaal liggaam skaam sou voel en van mekaar sou wegkruip nie? Maar nêrens lees ons waar Adam en Eva verwys na ’n eie liggaamlike skaamte soos ons dit vandag ken nie. Nee, hulle het besef hulle het gesondig en het weggekruip van God. Dit was ’n geestelike naaktheid en ’n geestelike skaamheid. Hulle was nie skaam oor hul geslagsdele nie.
Ja, ons gebruik fisieke bedekking om ons liggaamlike foute weg te steek, maar ons gebruik ook fisieke bedekking om ons dieper emosies en gevoelens weg te steek. Dink terug aan ’n onderonsie tussen jou en jou maat net voor of tydens seks. Julle is halfkaal voor mekaar of selfs heeltemal kaal. Alles gaan goed maar skielik gebeur daar iets of jou maat sê iets, wat die atmosfeer van intimiteit tot skaamheid verander. Wat is die eerste ding wat jy dan doen? Jy bedek jou met die naaste kledingstuk of laken wat jy kan gryp. Het jou geslagsdele nou skielik lelik geword? Het jy skielik daarvan bewus geraak dat jy kaal was? Het jy skielik besef wat julle besig was om te doen? Nee, nee en nee!
Jy het jou innerlike kwesbaarheid probeer beskerm deur dit van jou maat weg te steek. Dit is ’n normale en natuurlike reaksie om jou te bedek as jy baie kwesbaar voel. As ons maar net kan verstaan dat Adam en Eva se skaamheid niks te doen gehad het met hul seksualiteit nie, maar eerder met die feit dat hulle kwesbaar gevoel het om in God se teenwoordigheid met hul foute en sonde te staan.
God het nie die mens met seks gestraf nie. Adam en Eva het nie skaam gevoel oor die liggaam nie. Hulle het glad nie na mekaar gekyk en gesê “Jig, sies!” nie. As ek die storie van die sondeval lees, is dit vir my duidelik dat die mens se seksualiteit nié gekoppel is aan sonde nie.
Die Here het dalk vir Adam en Eva op ’n toe-oë-afspraak laat ontmoet, maar Hy het hulle glad nie blind gehou vir hul Goddelike menswees nie. Die seksuele mens is dalk nie so perfek soos Ken en Barbie nie, maar ons is darem ook nie van plastiek gemaak nie.
Die Hooglied-vrou
Salomo het dalk verhoudings met tot duisend vroue gehad, maar hy het net vir een Hooglied geskryf. En dit is hierdie Hooglied-vrou op wie ek graag wil fokus om God se Hooglied vir die mens verder uit te wys.
Eerstens moet ons gaan kyk na die verskillende boeke in die Bybel. Altesaam 66 boeke vorm die Ou en Nuwe Testament. Maar wat interessant is, is dat net één van daardie boeke uitsluitlik toegewy is aan net één onderwerp. Dit is nie ’n gebedeboek, ’n geloofsboek of ’n wonderwerkboek nie. Almal is maar so ’n mengelmoes van ’n klomp verskillende beginsels en Goddelike temas. Buiten een tema. Een tema kry sy eie Bybelboek. Boonop sommerso in die middel van die Bybel.
Die tema is liefde – seksuele liefde tussen ’n man en sy beminde.
En dit is nie ’n boek wat ons waarsku teen seksuele gevare en sondes nie, maar een wat van begin tot einde die Hooglied van seksualiteit tussen man en vrou besing. Nou, indien seksualiteit nie vir God belangrik was nie, hoekom het Hy sy tyd gemors om vir ons Hooglied te gee?
Wat verder mooi is van die boek Hooglied, is dat dit die enigste boek in die Bybel is waar ’n vrou die medeskrywer was. Sjoe, dit is uitsonderlik, want destyds het die vrou nie veel openbare gesag gehad nie. Maar hier doen God en die Hooglied-vrou ’n baie sterk aankondiging: Seks is nie net ’n mansding nie. Dit is ’n mensding!
Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het seks drie funksies, naamlik voortplanting, verhouding en plesier. In die Bybelse tyd is die vrou se waarde gekoppel aan hoeveel kinders, spesifiek seuns, sy vir haar man kon baar (veral as jou man die koning is). Maar nêrens lees ons waar die Hooglied-vrou praat van haar begeerte om ’n seun vir Salomo te baar nie. Nêrens verwys sy na haar behoefte om vir hom kinders te gee nie. Nee, sy fokus op die verhoudingseksualiteit, asook op die plesier wat sy uit haar seksualiteit put.
Geskiedkundige teoloë vermoed hierdie Hooglied-vrou was die prinses van Egipte. Sy was nie net ’n gewone vrou nie. Sy het meer van haarself gedink as wat die samelewing van vroue in die algemeen gedink het. Die samelewing het vir haar gesê seks is ’n mansding, dat ’n goeie vrou se grootste begeerte moet wees om vir haar man seuns te baar, dat sy haar man hand en voet moet bedien. Maar nie hierdie warmbloedige prinses nie! O nee, sy het ’n goeie seksuele selfbeeld gehad en dit het haar in staat gestel om haar man te staan in haar man se teenwoordigheid.
Salomo het geweet hierdie een is nie dieselfde as die ander 999 vroue nie. Hierdie een is sy Hooglied-vrou. Nie omdat sy die mooiste of vrugbaarste was nie, maar omdat Salomo iets in haar raakgesien het wat Adam in Eva raakgesien het … ’n gelyke.
By die meerderheid vroue wat na my kom vir huweliks-berading moet ons eers die Hooglied-vrou wakker maak. Sonder daardie warmbloedige prinses in haar is sy maar net ’n slavin wat aan haar man onderdanig is. Indien haar man wonderlik is, word sy gekoester in sy genade en is sy gelukkig. Maar die oomblik wanneer die man iets verkeerds doen, skud dit haar wêreld so erg dat sy altyd die probleem by haarself soek: “Ek is nie mooi genoeg nie”; “Ek is nie seksueel genoeg nie”; “Ek is nie goed genoeg nie.”
Hierdie afleiding wat die vrou maak wanneer haar man haar nie reg behandel nie, breek haar selfbeeld verder af en verhoog hom net meer tot die “hoofmeneer” om gelukkig te hou. (Dit is natuurlik baie gevaarlik vir die vrou, want sodra daar ’n ander man op die toneel verskyn wat haar met respek behandel en mooi laat voel, is ’n oor-die-toutrappery nie so onmoontlik nie.)
Die warmbloedige vrou weet wie sy is uit eie reg. Sy is meer as net ’n vrou vir haar man. Sy is meer as net ’n ma vir haar kinders. Sy is meer as net ’n kok voor die stoof. Sy is meer as net ’n opblaaspop in die bed. Sy is ’n Hooglied-vrou, ’n seksuele individu wat haar toestemming gee om haar eie seksualiteit te geniet.
Deesdae se vroue sukkel egter om hulself as warmbloedige prinsesse te beskou en terselfdertyd aan hul Christenskap vas te hou. Die rede hiervoor is eenvoudig. Hulle is oor en oor laat verstaan dat goed opgevoede vroue nie goedkoop en seksueel is nie. Die hoofboodskap is: “Lê en laat toe dat jou man jou geniet en gee vir hom kinders.” Die vroue met wie ek werk, sê hulle dink soms aan kreatiewe seksidees, maar kan net nie daarop reageer nie, want dan voel hulle vuil en goedkoop en asof hulle iets verkeerds doen in die Here se oë.
As jy so ’n vrou is, hou dadelik net hier op met die boek. Gaan lees Hooglied, maar fokus spesifiek op die dele waar die Hooglied-vrou praat en besef dat God die vrou gemaak het om warmbloedig te wees en ook om haar seksualiteit te geniet. En dit is goed.
’n Joodse troue
Dit bring my by die gelukkige einde. Wat was Jesus se eerste wonderwerk? ’n Dooie lewend gemaak? ’n Kreupele laat loop? ’n Blinde laat sien? ’n Dowe laat hoor?
Nee, nie een van hierdie dinge nie. Sy heel eerste wonderwerk was om water in wyn te verander. Dit klink nie so geestelik soos die ander wonderwerke nie. As jy kon kies watter wonderwerke jy vandag in die kerk kon sien, sal jy seker ook een van die grotes kies. Vir seker nie water wat wyn word nie. Maar dit is net omdat ons dit nie verstaan nie. Dit gaan nie oor die alkohol nie; dit gaan oor die feesviering.
Jesus het meer waarde daaraan geheg om sy Goddelike krag te koppel aan ’n “water in wyn”-feesviering as om ’n “groot” genesingswonder te doen. Hoekom? Waar het Hy die water in wyn verander? By ’n troue.
Jesus se eerste wonderwerk is om die huwelik (en die seks in die huwelik) te vier. ’n Huwelik gevul met gesonde seks is vandag ’n wonderwerk en moet gevier word. Ons moet dalk meer vir sulke wonderwerke begin bid en daarna vir die dooies, blindes, dowes en kreupeles.
Maar om die mooi in hierdie eerste wonderwerk raak te sien moet ons na die konteks daarvan kyk. Jesus was nie by ’n gewone troue nie. Hy was by ’n Joodse troue en hul troues lyk ’n bietjie anders as dié wat ons vandag ken. Vandag se troues is ’n oggend-middag- of middag-aand-ding. Die Jode het sommer ’n week lank troue gehou en feesgevier en daarna vir ’n jaar op wittebrood gegaan, of so sê Deuteronomium 24:5 (NLV): “‘’n Pasgetroude man mag nie in die weermag opgeneem of enige ander spesiale verantwoordelikhede gegee word nie. Hy moet vry wees om vir ’n jaar lank by die huis te wees om die vrou met wie hy getroud is, gelukkig te maak.’”
Dit klink omtrent reg. Dit gaan ’n man se volle aandag ’n jaar lank verg om sy vrou gelukkig te maak.
Let daarop dat dit nie die vrou se werk is om in daardie eerste jaar haar man gelukkig te maak nie. Nee, dit is haar werk vir die res van haar lewe daarna.
Terug by die Joodse troue. Jy moet mooi verstaan: om en by halfpad deur die troue bereik die seremonie ’n punt waar die gepraat ophou en die seks moet begin. Die paartjie moet na ’n tent gaan wat opgerig is vir hierdie doel, waarin hulle hul huwelik nou moet voltrek deur seks te hê. Praat van prestasie-angs. Maar as jy dink dit was erg vir die man, moet jy weet: Sy angs het net so drie tot vyf minute gehou, maar wat van die bruid? Nadat hulle seks gehad het, moes die man uit die tent kom met die wit laken waarop hulle seks gehad het om vir al die gaste die bloedkol daarop te wys en daardeur te bewys sy bruid was ’n maagd.
As sy nie ’n maagd en daar nie bloed op die laken was nie, het die troue in ’n begrafnis verander en is sy gestenig. Sjoe!
Ek skat dit was op hierdie oomblik dat die wyn opgeraak het. Dalk het die persoon wat die troue gereël het nie genoeg geloof in die bruid se maagdelikheid gehad nie, en daarom nie genoeg wyn bestel vir die tweede helfte van die troue nie.
Wat ek van Jesus se eerste wonderwerk leer, is dat liefde, die huwelik en seks vir Hom belangrik genoeg is om daaraan sy goedkeuring en seën te gee. Ek glo vas Jesus se begeerte is om elke huwelik waarvan die sekslewe afgewater is, weer te verander tot die beste, soetste wyn. Dit is waar dat jy op water kan (oor)leef. Dit is wel só dat sommige huwelike kan oorleef sonder gesonde seks. Maar water sal jou nooit kan dronk maak van liefde en plesier nie. Hoekom moet jy net oorleef in jou huwelik as God se eerste wonderwerk ook vir jou kan wees, met ander woorde om jou afgewaterde huwelik te verander in een wat gevier kan word?
Die meeste huwelike begin goed. Die meeste van ons was in ’n stadium verlief. Daar was ’n tyd dat ons ook dronk was van liefde. Maar nou moet so baie huwelike net tevrede wees met water. Vervelig, alledaags, gewoon! Ek glo twee dinge is nodig om weer die wyn te laat vloei. Nommer 1: Glo dat God vir jou ’n seksgevulde huwelik soek. Nommer 2: Bekwaam jou daarin om ’n goeie minnaar te wees.
Maar voordat jy ’n slukkie wyn kan neem, moet jy eers glo God soek vir jou ’n gelukkige einde.