Читать книгу Gesonde seks - Timothy Kieswetter - Страница 6

Оглавление

Die ontwikkeling van seksetiek in die Christelike Kerk

Seks. Waaraan laat dit jou dink? Hoe laat dit jou voel? Watter soort prentjie skets jou brein vir jou?

Elkeen van ons kan seker ’n ander antwoord op hierdie vrae gee. Die rede hiervoor is omdat ons nooit regtig blootgestel is aan openlike gesprekke en onderrig oor seks nie. Seks was nog altyd ’n taboe-onderwerp. Ons word meestal maar net gelos om die wonder van seks op ons eie te ontdek.

Ek wonder of enige nugterdenkende die sleutels van sy of haar motor aan ’n tiener sal oorhandig sonder deeglike onderrig. Jy sal ten minste verduidelik hoe die motor werk, betaal vir professionele bestuurslesse, uitspel hoe die padreëls en bedagsaamheid teenoor ander motoriste werk, versekering uitneem en die leerlingbestuurder waarsku om nie ’n petroltenk met diesel vol te maak nie. Nee wat, ons heg darem heeltemal te veel waarde aan ons motors! Maar sodra dit by seks kom … sjuut, dit is mos vanselfsprekend.

Dit is dalk die rede hoekom daar meer gebroke huwelike as padongelukke is. Voordat ons ’n nuwe, gesonde perspektief oor seks kan ontwikkel, moet ons eers ’n punt bereik waar ons besef daar is ’n moontlikheid, al is dit ook hoe skraal, dat ons huidige siening oor seks nie die volle waarheid is nie. Die gedagtes, gevoelens en prentjies waarmee jy hierdie vrae beantwoord het, is nie noodwendig die enigste definisie en funksie van seks nie. Sodra ons ons oopstel vir die kompleksiteit van die seksuele dimensie, sal ons besef dit is ’n baie meer verweefde deel van ons huwelik en lewe as wat ons aanvanklik besef het.

Dit wat ons glo en uiteindelik doen, word alles beheer deur die etiek van ’n gegewe onderwerp binne die raamwerk van die individu se geloofsoortuigings. Met ander woorde, ’n Christenman of -vrou se seksuele siening en gedrag sal grootliks beïnvloed word deur die seksetiek in die Christelike geloof. Of ’n gelowige getroude paartjie al die fasette van seks gaan geniet, of selfs net daarmee gaan eksperimenteer, word grootliks bepaal deur die geloofsetiek daaroor. So, kom ons gaan kyk hoe die seksetiek binne die raamwerk van die Christelike geloof ontwikkel het.

Seksetiek in die kerk se geskiedenis

Die seksetiek in die kerk kom al ’n lang pad. Om dit te verstaan, moet ons so ’n bietjie terugstap op die spore van die verlede – tot by daardie tyd net ná Jesus se dood. Verstaan mooi: Hoewel die Joodse nasie ’n patriargale samelewing was, was hulle wat vroueregte betref ’n progressiewe nasie vir hul tyd. Seks het oor veel meer gegaan as net ’n vrou wat haar man gelukkig hou deur seuns vir hom te baar; dit was ’n liefdesdans tussen man en vrou. (Lees maar net Hooglied, wat die Joodse rabbi’s beskou het as ’n liefdesgedig tussen ’n man en sy beminde. Ongelukkig het die Christelike kerkvaders Hooglied eerder vertolk as beeldspraak tussen God en sy bruid, die kerk.)

Nadat Jesus gekruisig is, het dinge egter vir die gelowige verander. Skielik word Jesus se volgelinge as Christene beskou en hoewel hul geloofsoortuigings vanuit die Joodse godsdiens ontwikkel het, het Christenskap in sy eie rigting begin groei en daarmee saam ook sy eie seksetiek ontwikkel. Een van die verse in die Nuwe Testament, naamlik 1 Korintiërs 7:8, lig die oorgangsfase vanaf die Joodse seksetiek tot die eerste vorm van Christelike seksetiek uit. Hier raai Paulus die Korinte aan om eerder ongetroud te bly. Tog lig hy die mense in dat hierdie raad wat hy oor seks gee nie direk van die Here af kom nie, maar net goeie logiese sin maak. Dit gee ons ’n leidraad dat Paulus se raad om nie te trou nie eintlik situasiegebonde is eerder as ewigheidsgebonde. Want God het reeds daardie ewigheidswaarheid oor seks in Genesis geuiter toe Hy gesê het dit is nie goed vir die mens om alleen te wees nie.

Hoekom het Paulus dan daarteen gewaarsku? Wel, jy moet verstaan dat die Romeine in daardie tyd nie so gelukkig was met die Christene wat oral opgeduik het nie. Hulle het dit beskou as ’n groot bedreiging vir die Romeinse ryk. Hulle het Christene gevangene geneem, gemartel en doodgemaak. Paulus het verstaan dat die geloof nog jonk en kwesbaar was. Daarom het hy oor en oor vir almal aan wie hy briewe geskryf het, gewaarsku om hulle nuwe geloof te beskerm en goed op te pas. Wat hy nie wou sien gebeur nie, was dat die Romeine die liefde tussen ’n jonggetroude paartjie teen mekaar kon gebruik om een van hul uit die geloof te boelie (deur byvoorbeeld een van hulle te martel of dood te maak).

Christenskap het ondergronds beweeg om as’t ware weg te kruip vir die Romeinse onderdrukking. Hierdie soort omstandighede was vir seker nie die beste en veiligste omgewing om met ’n gesin te begin en kinders in groot te maak nie. Daarom Paulus se raad oor enkel en selibaat bly. Groei eerder in jou geloof. Wag en oorleef eerder net eers die vervolging.

Natuurlik is dit presies wat gebeur het. Die Christene het gefokus op oorlewing te midde van vervolging en die Romeinse Ryk was aan’t verbrokkel. Die Romeine het desperaat van strategie verander om hul ryk te beskerm en het oorgeskakel van ’n sterk weermag tot ’n sentrale geloof om die massa te regeer. En so het die Katolieke Kerk tot stand gekom.

Seks vir voortplanting

Aangesien Christene nie meer vervolg is nie en dit veilig was om ’n Christengesin te begin, het die fokus van Paulus se enkelskap-raad weggeval. Maar in plaas daarvan om terug te keer tot die Joodse seksetiek het Christenskap te ver in sy eie rigting begin ontwikkel, met meer nie-Jode in die geloofstroom as Jode. Om hierdie nuwe rigting van seksetiek in die Christendom te verstaan moet ons die agtergrond van die vroeë kerkvaders bekyk.

Niemand het die Christengeloof en veral die seksetiek daarin meer beïnvloed as St. Augustinus nie. Voordat hy die Christengeloof aangeneem het, het die manicheïstiese geloof hom sterk beïnvloed. ’n Ruk lank was manicheïsme die enigste “geloofskompetisie” vir Christenskap, maar dit het uiteindelik in die 13de eeu ’n antieke geloof geword. Manicheïsme het geglo aan ’n dualistiese wêreld wat die stryd tussen die goeie geestelike wêreld van lig en die slegte vleeslike wêreld van duister in alles raakgesien het. Alles in die lewe was verdeel tussen die goeie geestelike wêreld en die slegte vleeslike wêreld. Raai in watter wêreld het seks geval?

St. Augustinus het lank voordat hy ’n Christen geword het reeds vas geglo dat seks deel van die slegte vleeslike duisternis is – iets waarteen ons die “kinders van die lig” moet waarsku, waarvan hulle moet wegbly en bevry moet word. Seks is vuil, seks is sonde, seks is vleeslik, seks is duister – en bowenal is seks benede die geestelik verligte persoon.

Jy kan jou net indink watter innerlike stryd St. Augustinus gehad het toe hy Genesis 1:28 gelees het: “Toe het God hulle [die mens] geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.’” Hier lees hy nou waar God, wat duidelik aan die goeie geestelike kant van die dualistiese spektrum is, ’n direkte opdrag aan die mens gee om seks te hê. (Windbestuiwing was iets wat die mens nog nooit kon regkry nie.) Hoe op aarde kan God die mens seën om iets te doen wat so duidelik duister is? Hoe kan die God van lig en alles wat goed is sy kinders opdrag gee om iets te doen wat so vleeslik en vuil is? Dit is die soort vrae waarmee St. Augustinus moes geworstel het.

Die enigste antwoord waardeur hy tot berusting kon kom, was dat seks (wat steeds vuil, lelik en sondig is) bonatuurlik verander wanneer jy dit aanwend vir ’n geestelike Goddelike doel soos voortplanting. En so word die eerste seksetiek in die Christelike kerk geskryf. Seks is vuil, vleeslik en sondig, tensy (en uitsluitlik wanneer) dit voortplanting ten doel het.

Sien dit so: Seks kan met koffie vergelyk word. (Hoekom koffie? Want dit is die lekkerste vroeg in die oggend en het die vermoë om jou wakker te hou in die aand.) Maar koffie is sleg en bitter. Daarom het ons ’n skoon heilige beker nodig om hierdie vleeslike aktiwiteit in te stoor. Die beker verteenwoordig die hoër geestelike doel van voortplanting (Gen 1:28) en solank die koffie in die beker bly en jy die doel van voortplanting voor oë hou, sondig jy nie.

Dit kan dalk verklaar hoekom, volgens die Katolieke Kerk, dit steeds verbode is om kondome of enige vorm van geboortebeperking toe te pas want dan raak die daad weer sondig. Hulle fokus nog sterk op die “seks vir voortplanting”-seksetiek.

Hoekom word dit “seks vir voortplanting” genoem? Dit klink dan so outyds? Ons is mos nie Katolieke nie? Ons het geen probleem daarmee om op die pil te gebruik nie. Is hierdie “seks vir voortplanting”-etiek nie net van toepassing op baie konserwatiewe mense nie? Jy weet mos, daardie konserwatiewe persoon wat beslis nooit ’n boek oor seks sal optel en lees nie!

Dit kan dalk alles waar wees, maar hierdie “seks vir voortplanting”-etiek is so diep in ons Christelike menswees ingebrand dat ek dit steeds op ’n daaglikse grondslag sien. Die meeste paartjies wat na my toe kom vir berading kla dat hulle iewers hul lus vir seks verloor het. Ons trek dan ’n tydlyn om te probeer bepaal waar en wanneer seks die genot, plesier en aanloklikheid verloor het. En amper sonder uitsondering vind ons ’n afname in seks in die tydperk van swangerskap (veral met die laaste beplande kind).

Ek moet bieg dat daar in hierdie tydperk ’n magdom redes is wat die sekslus kan beïnvloed. Wat my egter altyd bybly, is dat bitter min paartjies se sekslewe ná die swangerskap (en selfs wanneer die kind al mooi op sy eie loop en leef) weer terugkeer na normaal.

Die rede? Want een van die doelwitte wat ons geestelik toelaat om seks te hê, is nou volbring.

Wanneer ek die paartjies begin uitvra oor hoekom hulle nie meer so seksueel is in hul huwelik nie, laat hulle antwoorde my altyd dink aan die koffie sonder ’n beker. Die voortplantingbeker is nou klaar en word gebêre. Nou is daar dus geen etiek meer wat die Christenpaartjie toelaat om seks sonder enige hoër rede te geniet nie.

Natuurlik is geen paartjie ooit bewus van hierdie rede nie. Dit is nie asof die vrou na haar man sal draai en sê: “Liefie, ek het die afgelope paar jaar se seks baie geniet, maar noudat ons twee kinders het, voel ek goedkoop en vuil wanneer ons intiem verkeer. As jy nou aan my vat, voel dit of jy net my liggaam soek en nie meer vir my as mens nie. Ek is steeds lief vir jou, maar ek kan nie meer die stil stemmetjie diep binne-in my ignoreer nie wat sê: “Dit waarmee julle besig is, is verkeerd, vuil, sondig en sonder rede.” Dit neem gewoonlik ’n hele paar beradingsessies om tot hierdie openbaring te kom.

Dit bring ons by seker ons grootste probleem om seks te verstaan: Ons dink dit is net ’n daad, ’n handeling. Ons dink dit is net ’n posisie, net gedrag.

Seks as daad is slegs die boonste deel van die seksuele ysberg. Heel onderaan vind ons die seksetiek wat in ons geloof gewortel is. Al is ons nie altyd kognitief bewus van die motivering wat ons lei tot seksuele begeertes en aksies nie, beteken dit nie dat ons bloot deur suiwer wilskrag enige faset van ons seksgedrag kan verander nie. Ons moet die hele ysberg in ag neem.

Seks vir die huwelik

Namate die Christengeloof gegroei het, het sy seksetiek ook ontwikkel. Ons aanvaar dit nou as vanselfsprekend dat seks in die huwelik hoort, maar hierdie etiek was nie die eerste seksetiek nie. Onder die “seks vir voortplanting”-vaandel was daar ’n menigte priesters en pouse (asook gewone mans) wat by verskeie vroue (aan wie hulle nie almal trou beloof het nie) kinders gehad het. Dit was nie beskou as sonde nie. Hoewel seks vuil, lelik en sondig is, kry jou optrede ’n geestelike doel sodra jy dit bloot vir voortplanting doen. Daarom word jy verskoon van enige ander komplikasies soos die vrou wat verkrag word of dat die seksmaat nie jou vrou is nie. Die seksetiek van daardie tyd het hoegenaamd nie die vrou se goedkeuring of plesier in ag geneem nie.

Die verligte denkers van daardie tyd kon sien dat “seks vir voortplanting” nie as enigste seksetiek kon bly staan nie. Hulle het toe so ’n paar veranderinge aangebring. Voortplanting het nie meer net beteken dat die man se sperm ongehinderd by die vrou se eiersel moes uitkom nie. “Seks vir voortplanting” het ook nou beteken jy moet sorg vir die kind wat jy verwek het en hom of haar grootmaak. En so het die kerngesin (en ook familie) ontstaan.

Tot dusver klink die seksetiek soos volg:

• Seks is vuil, vleeslik en sondig.

• Die ideaal is steeds om rein te bly wat beteken om geensins seks te hê sonder geldige redes nie, maar as jy absoluut seks móét hê, geld hierdie voorwaardes:

– Seks is slegs toelaatbaar en heilig as dit voortplanting ten doel het.

– Voortplanting behels ook dat jy jou kinders moet grootmaak.

In hierdie atmosfeer het die seksetiek ’n baie groot sprong vooruit gegee. Weer eens ontwikkel een etiek nie op sy eie nie, maar vorm deel van die ontwikkeling en situasie van die samelewing en wat algemeen gewild is. Martin Luther het sy bekende uitval met die Katolieke Kerk gehad en toe besluit om sy eie kerk te stig. (Ek laat dit alles baie maklik en eenvoudig klink, want hierdie boek is ’n seksboek en ons fokus op seksualiteit. Vir meer besonderhede oor Martin Luther, kyk gerus die film Luther.) Aangesien Martin Luther nou onder die Katolieke denksambreel uit is, begin hy alle leerstellings heroorweeg en van nuuts af ontleed. Een van hulle was die seksetiek.

Die fokus van seksuele reinheid het tot dusver gelê in die vermoë om selibaat te bly (soos Paulus destyds aanbeveel het), met sekere voorwaardes indien jy wel seks moes hê. In Martin Luther se heroorweging van die status quo lees hy iets in die Bybel raak wat hom in ’n nuwe denkrigting stuur.

Hy lees op verskeie plekke dat God sy verhouding met sy kerk vergelyk met dié van ’n bruidegom en sy bruid:

Openbaring 19:7 (NLV)

“‘Halleluja! … laat ons juig en jubel en aan Hom eer betoon, want die tyd het aangebreek vir die bruilof van die Lam, en sy bruid het haarself daarop voorberei.’”

Openbaring 21:9 (NLV)

“‘Kom, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.’”

Johannes 3:29 (NLV)

“‘Dit is die bruidegom aan wie die bruid behoort …’”

Efesiërs 5:25 (NLV)

“Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het.”

Jesaja 54:5 (NLV)

“‘Jou Skepper sal ook jou man wees. Die Here, die Almagtige, is sy Naam.’”

(Dit is maar net ’n paar voorbeelde. Hierdie onderwerp sal ’n goeie Bybelstudie uitmaak. Slaan gerus al die verse in die Bybel na waar die woorde “bruid” en “bruidegom” voorkom. Dis iets wat jy kan google wanneer jy verveeld is.)

Martin Luther het besef dat daar iets bonatuurlik mooi en geestelik moet wees tussen ’n man en sy vrou, want hoekom anders sal God bereid wees om hierdie liefde te gebruik om sy verhouding met sy kerk mee te vergelyk?

Hierdie openbaring het nie net die doel en funksie van seks vir die Christenpaartjie verander nie, maar ook die hele beskouing van hoe die mens sy geestelike hoogtepunt kan bereik. Die geestelike hoogtepunt is nie meer selibaatheid nie, maar wel om getroud te wees. Die sterk dryfveer om so lank moontlik enkellopend te bly, het nou verander na ’n sterk begeerte om so gou moontlik te trou. ’n Geestelike persoon was nie meer iemand wat hom of haar van liefde afgesonder het nie, maar iemand wat sy of haar lewensmaat gevind en trou beloof het “tot die dood ons skei”.

Martin Luther, ’n voormalige priester, trou met ’n voormalige non, nie omdat hy soseer lief was vir haar nie, maar omdat hy besef het dat hulle ’n goeie paartjie sou maak. Romantiese liefde was dus nie hier die motivering vir trou nie, maar wel dat die huwelik ’n geestelik profetiese betekenis inhou.

Seks bly vuil, vleeslik en sondig.

Om kinders te verwek en groot te maak is nou vanselfsprekend. En die geestelike hoogtepunt en die belangrikste van alles is die huwelik. (Nie die seks in die huwelik nie, maar die huweliksverbond.)

Seks vir plesier

Ongelukkig is dit hier waar die hoofstroom-seksetiek in die Christengeloof geëindig het. Seks bly vuil, vleeslik en sondig. Seks vir voortplanting is toelaatbaar, mits jy verantwoordelikheid aanvaar vir jou kind se grootmaakproses. Die huwelik is die nuwe geestelike hoogtepunt en die seks daarin is mos vanselfsprekend.

Dit maak nie saak in watter mate ons ons seksetiek verder ontwikkel nie, die vertrekpunt het nooit verander nie. Seks het nog altyd vuil, vleeslik en sondig gebly. En daarom sukkel ons nog steeds om seks bloot ter wille van die plesier wat ons daaruit put te geniet nie.

My vrou vertel my hierdie storie wat by haar vrouegroepie by die kerk gebeur het. Die vroue het beurte geneem om oor die pas afgelope langnaweek te gesels. Die een vrou vertel toe dat sy en haar man uiteindelik ’n naweek alleen weg gehad het. Die kinders het by Ouma en Oupa gebly en hulle het die plek vir hulself gehad. Dit was soos ’n tweede wittebrood, vertel sy. “’n Mens sou sweer ons is jong tieners – ons kon net nie ons hande van mekaar afhou nie. En my man se soene en stoute gefluister in my ore was fantasties. Ons het soos konyne te kere gegaan. Ons was die hele naweek in die slaapkamer.” Die vrou het so verlore geraak in die soete herinneringe van die naweek dat sy skoon vergeet het dat sy heeltemal te veel inligting vir haar kerkvriendinne gee. Toe sy haar weer kom kry, het sy reeds ’n hele paar hoofstukke van hul vuurwarm liefdesverhaal uitgeryg. Vir die ander vroue het dit soos ’n Mills & Boon-liefdesverhaal met ’n “Nie vir kinders bedoel nie”-stempel op die omslag geklink. Toe besef sy meteens dat ’n mens nie eintlik uit die slaapkamer mag praat nie. Dadelik bloos sy bloedrooi toe sy die uitdrukkings op die gesigte sien wat vir haar terugstaar.

En wat daarna gebeur het, som vir my alles so mooi op. Sy maak keel skoon, veg teen die gebloos en verduidelik: “Dit gaan darem nie net daaroor nie. Ons het darem ook baie lekker gesels en op ’n dieper vlak kontak gemaak. Die naweek het ons huwelik versterk.”

Hoekom het hierdie getroude Christenvrou gevoel sy moet haar wonderlike seksvervulde naweek regverdig sodat die “huwelik” uiteindelik kon seëvier? Hoekom is dit aanvaarbaar om die hele naweek te gesels en nader aan mekaar te groei, maar getroude paartjies moet skaam en ongemaklik voel net om te dink dat hulle feitlik heeltyd om geen hoër spesifieke rede as om die liggaam te geniet seksueel verkeer het nie? ’n Naweek gevul met seks voel soos ’n mors van tyd, banaal en goedkoop, terwyl ’n naweek weg om weer jou verhouding te herstel, mekaar te vind en op die hande te dra, alles so hemels klink! Hoe werk dit dan?

Die rede is eenvoudig: Die seksetiek laat ons voel enigiets waar “seks vir plesier” in oormaat gebruik word, is onnodig. Ons moet versigtig wees om nie vir die duiwel ’n deur oop te maak en vulgêr te raak nie. Volgens my is dit darem ’n fyn grens. Maar niemand het jou al ooit teen te veel kommunikasie gewaarsku nie, ook nie dat te veel vertroue en omgee vir mekaar gevaarlik is nie. Om swanger te raak met jou hoeveelste kind, sal jou altyd ’n warm gelukwensing besorg. Die viering van nóg ’n huweliksherdenking sal jou altyd tussen jou vriende bemind laat voel. Maar om aan jou vriendinne te erken watter orgasmiese naweek jy en jou man saam geniet het, sal jou altyd skaam en vuil laat voel.

Koffie sonder die beker van voortplanting en die verbond van die huwelik is onaanvaarbaar. Die fokus mag nie op die seksuele sy wees nie. Seks is mos slegs iets wat gebruik word om ’n hoër geestelike doel te volbring, soos om kinders te kry en ’n sterk huwelik te bou.

En dit is hier waar so baie huwelike skeefloop. Omdat daar nie op die seksuele sy gefokus word nie, gee ons bitter min aandag daaraan en kan ons nooit die kuns van goeie liefdemakery bemeester nie. Ons mag ons nooit oorgee aan die plesier van seks nie. Dit moet altyd in toom gehou word. Maak nie saak of ons ou getroudes is nie, die fokus mag nooit net op die seksuele dimensie val nie, want dit is darem net nié geestelik nie.

Dit is juis hier waar ek wil verskil van die manicheïsme se vertrekpunt oor seks, soos St. Augustinus dit beïnvloed het.

Christenskap is nie hierdie dualistiese wêreld waar alles goed of sleg, reg of verkeerd, geestelik of vleeslik is nie. Nee, wanneer ek die skeppingsverhaal lees, lees ek waar God alles gemaak het en nadat Hy alles gemaak het, het God gesê dit is goed. (Let op: Die Bybel verwys nêrens na iets wat die duiwel gemaak het nie.) En vir my sluit alles wat goed is, seks ook, in. Seks het nie ’n hoër funksie nodig om dit goddelik te maak nie, want dit was God wat in sy wysheid seks vir die mens plesierig gemaak het en gesê het dit is goed.

Die drie pilare van seks

Om ’n gesonde-seks-huwelik te geniet het jy al drie pilare van seks nodig:

• seks vir voortplanting

• seks vir die huwelik

• seks vir plesier.

Die eerste twee is nie goed genoeg om ’n sterk huwelik te verseker nie. Die probleem wat voorkom as ’n mens nie die laaste pilaar van “seks vir plesier” in jou huwelik inbou nie, is dat jou huwelik baie vinnig kan verval in die stereotiepe ball and chain-huwelik wat soos ’n tronk kan voel. Die plesier wat die seksuele sy bied, gee die huwelikspaar kans om ná tien, twintig of selfs dertig jaar steeds op mekaar verlief te bly.

Maar solank “seks vir plesier” in die Christenpaartjie se seksetiek ontbreek, vind ons ’n weerstand teen enige nuwe seksuele ontdekking en spontane avontuurlikheid. (’n Bietjie later in die boek verduidelik ek hoekom spontane en avontuurlustige seks so belangrik is in jou huwelik.)

Kom ek gee ’n voorbeeld hoe nuwe seksuele eksperimentering afgeskiet word wanneer “seks vir plesier” nie deel is van die seksetiek nie.

Masturbasie, orale seks en seksspeelgoed (myns insiens klink sex toys beter, want seksspeelgoed klink soos kinder-boublokkies met kaal figure daarop geverf) is seker van dié mees kontroversiële gesprekspunte onder Christene. En ek praat nou nie van jare gelede nie.

Daar is baie sterk standpunte onder Christengelowiges om hierdie drie seksaktiwiteite vuil, lelik en sondig te laat klink, ondanks die feit dat daar nêrens in die Bybel daarteen gewaarsku word nie. Daar is inteendeel ’n paar plekke in Hooglied wat moontlik na orale seks as ’n “seks vir plesier”-daad verwys. (Lees maar net aan, ek sal later vir jou die verse gee … Oukei, as jy moet, gaan na die hoofstuk oor orale seks, maar kom dadelik weer terug.)

Die vraag wat ek my dus afvra, is: As God dit nie belangrik genoeg ag om ons te waarsku teen hierdie drie seksaktiwiteite nie, waarom voel ons dan dit is noodsaaklik om so sterk teen masturbasie, orale seks en seksspeelgoed te preek? Ek vermoed dit het alles te doen met die ontwikkeling van die seksetiek in ons geloof. Dit is dus die bewys dat hierdie onbewuste seksetiek ons gevoelens oor seks beïnvloed sonder enige goeie kognitiewe of Skriftuurlike rede.

Kom ons doen almal die seksetiek-toets. As jou seksetiek slegs bestaan uit “seks vir voortplanting” en “seks vir die huwelik” sal hierdie drie seksaktiwiteite nie volgens jou iets wees wat ’n Christen mag doen of geniet nie. Masturbasie is nie vir voortplanting nie en kan ook alleen beoefen word. Orale seks is nie vir voortplanting nie en sommige mense voel dit is nie opbouend vir die huwelik nie, want dit is mos wat pornosterre doen. Seksspeelgoed is ook nie vir voortplanting nie. Sommige mense voel dit is nie opbouend vir die huwelik nie, want dit gaan die man vervang.

Die punt hier is dat hierdie drie seksaktiwiteite nie voldoen aan die seksetiek-voorwaardes wat dit moontlik maak om dit sonder skuldgevoelens as ’n Christen te geniet nie, want dit steun swaar op die derde pilaar van die seksetiek “seks vir plesier”.

As “seks vir plesier” nie deel is van jou seksetiek nie, sal jy elke keer skuldig voel oor iets nuuts, spontaans of selfs net met die ligte aan. Die tradisionele siening is dat seks vir plesier selfsugtig en daarom verkeerd is.

Hierdie manier om na seks te kyk is diep geanker in die “seks vir die huwelik”-etiek en het die grondslag van ons seksetiek geword. (Soos ek reeds genoem het, was dit nie altyd so nie. Voorheen was selibaatheid die grondslag van ons seksetiek.)

(Dit laat my dink aan ’n storie van ’n jong monnik wat genooi is om te help om die antieke teks oor te skryf om dit te help bewaar. Maar hy kom toe agter hulle skryf die teks oor van ander eksemplare wat reeds van die antieke teks gemaak is. Hy raadpleeg die hoofmonnik daaroor. Hy verduidelik toe mooi: As hulle oorgeskrewe teks van reeds oorgeskrewe teks gaan maak, en daar was ’n fout in die eerste oorskryf van die teks, sal daardie fout met elke nuwe “vertaling” herhaal word. Die hoofmonnik stel die jong monnik gerus dat hulle dit nog altyd so gedoen het, maar dank hom vir sy logiese bekommernis. Die jong monnik se vraag het egter die hoofmonnik geprikkel en hy het een van die oorgeskrewe eksemplare geneem om in die kelder met die oorspronklike teks te vergelyk. ’n Hele paar uur later weet niemand waar die hoofmonnik is nie en die jong monnik word gevra om hom te gaan soek. Hy hoor ’n geween agter die kelder. Daar vind hy die hoofmonnik gebuk oor die antieke teks, besig om hardop te huil. Besorg vra die jong monnik wat makeer. “The word is celebrate not celibate,” verduidelik die hoofmonnik met trane in sy oë.)

“Seks vir plesier” pas net nie lekker in by hierdie twee sienswyses nie. Iemand wat selibaat is, kry nie baie plesier uit sy of haar sekslewe nie. En iemand wat ten gunste van “seks vir die huwelik” is, sal dit dalk beproef as dit plesier vir die maat verskaf, maar verkieslik moet albei gelyktydig plesier ervaar. Maar “seks vir plesier” wat gekoppel word aan die sienswyse dat seks ’n individuele ding (soos met masturbasie) kan wees, gaan ’n bietjie te ver.

Seksueel gebore – nie éérs op die troudag seksueel nie

Kom ek verduidelik. Ons gaan aan asof daar die een of ander chemiese reaksie is wanneer ons ’n ring oor die kneukel van die ringvinger aan die linkerhand skuif wat ons van ’n aseksuele persoon tot ’n seksuele persoon verander. Ons het hierdie onrealistiese verwagting dat ’n vrou ’n kloosterkoek moet bly en op haar huweliksnag ontpop sy in ’n ervare tert wat presies weet waar al haar man se aan- en af-knoppies sit.

Ek wil dit net hier duidelik stel dat ek nie aanbeveel dat mense seks moet hê om goed te word met seks nie. Glad nie. Dit is vir jou baie voordelig om as maagd te trou, maar jy kry twee verskillende soorte maagde: ’n gesonde, seksuele maagd en ’n naïewe, aseksuele maagd. Hierdie konsep is bitter moeilik om te verstaan vir iemand wat glo dat seks slegs tussen twee mense bestaan. Hoe kan jy seksueel wees sonder om seks te hê?

Weer eens kom dit neer op watter perspektief jy oor seks het. As seks net daar is vir voortplanting, het jy wel twee mense nodig. As seks net daar is om die huwelik te versterk, het jy twee mense nodig. As seks ook daar is vir plesier, het jy nie altyd twee mense nodig nie.

Dit is waar dat baie Christenpaartjies ’n baie goeie sekslewe het en baie plesier in hul huwelik geniet sonder om enigiets nuuts en avontuurlustigs te beproef. Die moeilikheid kom wanneer daar ’n probleempie by die sekslewe inglip, ’n onverwagse kinkel in die kabel. Die rede hiervoor is omdat die paartjie se seksetiek so sterk gefokus is op die huwelik dat hulle dan van die huwelik verwag om die seksprobleem reg te maak. As ons glo seks is bloot ’n vanselfsprekende neweproduk van ’n gesonde huwelik, moet ons maar net harder werk aan die huwelik wanneer die sekslewe ’n bietjie begin pla. My probleem met dié siening naamlik, “seks is net iets tussen twee mense”, is dat juis dié huwelik altyd daaronder gaan ly.

Sien dit so: Elkeen is sy of haar eie seksuele mens met sy of haar eie seksuele idees, vrese en fantasieë wat oor die jare ontwikkel, reeds van kinderdae af. Die manier hoe ek meer daaroor kan leer, is hoe my ouers my daaroor laat voel, wat ek in die kerk hoor, my eerste liefde, my eerste liefdesteleurstelling, die dinge waarvan ek eerder sal wil vergeet, asook die dinge waarvoor ek nog hoop. Dit alles is eie aan elke mens. Kom ons noem dit jou seksuele landskap en beeld dit uit as ’n rivier wat by ’n berg afvloei en uitmond in die see.

Die rivier wat by die berg afvloei, is jou libido of sekslus. (Sommige mense het net ’n stroompie, terwyl ander mense weer ’n waterval het.) Die see waarin die water loop en eindig, is die ruimte waarin jy intiem met jou huweliksmaat verkeer, want aan die ander kant van die see is sy berg, met sy rivier wat in dieselfde see vloei. Dit is dieselfde see, want julle het trou aan mekaar belowe. Julle het besluit om saam ’n toekoms te bou. Dit is waar julle jul huisie by die see gaan bou. Julle woon by die see. Julle swem en speel in die see. Julle leef van die see se spens. Die see is julle “seks vir die huwelik”.

Maar solank julle dink hierdie see is die oorsprong van die water, hierdie “seks vir die huwelik” is die bron van julle seksuele plesier, loop julle die gevaar om julle see in ’n dooie see te verander. Die see is waar die verskillende riviere bymekaar kan kom en ’n sterker krag vorm. Die huwelik is waar twee verskillende seksuele wesens aan mekaar kan trou beloof en ’n gesonde gesinseenheid bou.

Ongelukkig is ons nie karakters in ’n Disney-film waar ons almal “lank en gelukkig saamleef” nie. Soms droog die riviere op, die see trek terug en die water word laf. Om dan jou sekslewe te red moet jy die see verlaat, ’n bietjie selfondersoek doen en met die rivier optrek tot by die fontein op die bergkruin. Met so baie van die beradingsgevalle waar die huwelikspaartjie seksuele probleme ondervind, lê die wortel van die kwaad nie in die huwelik nie, maar iewers dieper in die individu se seksuele landskap. En solank ons seksetiek ons nie toelaat om seks ’n individuele ding te maak nie, gaan ons nooit selfondersoek kan doen om ons oop te stel om ’n gesonde seksuele individu te word nie.

Gesonde seks

Подняться наверх