Читать книгу Trompie Omnibus 2 - Topsy Smith - Страница 11

4
Trompie die hoërskoolseun

Оглавление

Trompie en sy maats baljaar na hartelus. Hulle swem by die dam in die kloof, speel in hul fort en ry die wêreld plat met hul fietse.

Maar die sorgelose vakansiedae loop ten einde. Dit is tyd vir die skole om te heropen.

Die Boksombende het al baie gedink en gesels oor hoe dit gaan voel om in die hoërskool te wees. Hoërskool Kwaggaberg is beroemd en het ’n groot seuns- en meisieskoshuis. Kinders van alle dele van die land kom hiernatoe. Trompie-hulle het al ’n paar keer verby die groot drieverdiepinggebou gery, maar hulle was nog nooit binne-in of op die skoolgrond nie.

Uiteindelik breek die dag ook aan.

Trompie, Rooie, Dawie en Blikkies ry stadig op hul fietse by hul nuwe skool se groot hekke in.

Oral op die terrein staan daar groepe seuns en gesels, en ander speel vinnig nog vir oulaas voor die klok lui. Maar skielik hou almal op met wat hulle doen. Hulle verkyk hulle aan die vier koddige figure op die rooi geverfde fietse. Trompie-hulle ry ongeërg oor die speelgrond.

Toe hulle verby die soveelste groep seuns ry, sê die een kêrel: “Haai, julle – kom hier!”

Trompie kyk na sy maats.

“Sal ons gaan?” vra hy.

“Ons sal moet,” sê Dawie. “Die ou lyk kwaai!”

Die vier draai om en hou langs die groep seuns stil.

Die kêrel wat hulle geroep het, is ’n bietjie groter as Trompie en dit lyk of hy die groep se leier is.

“Waar kry julle sulke simpel fietse?” vra hy. “En wie gee julle die reg om hier oor die speelgrond te ry?”

Niemand antwoord nie.

Die kêrel kyk Trompie op en af en toe sê hy: “Jy, sproetgevreet, ek praat met jou!” Trompie voel ’n krieweling langs sy ruggraat af.

Die Grootkaptein antwoord nie.

“Is jy doof, dorpsjapie?”

Trompie weet dit nog nie, maar die koshuiskinders noem die ouens wat op die dorp woon altyd spottenderwys dorpsjapies. Die klomp seuns lag en staan nader.

Hulle kom staan in ’n kring om Trompie, Dawie, Blikkies en Rooie. Almal lag en maak smalende aanmerkings. Die kêrel wat die leier is, staan nóg nader. Hy is nou langs Dawie.

“Kan jy nie jou pet behoorlik op jou kop sit nie?” Hy klap Dawie se pet wat soos gewoonlik skeef op sy kop sit dat dit deur die lug trek. Die seuns skater soos hulle lag.

“Mooi so, Riet!” sê ’n paar. “Dit sal hulle leer!”

Klein Dawie is asvaal; die trane blink in sy oë. Hy kyk na Trompie. Trompie is ook maar valerig. Hy byt op sy onderlip. Hy is bly sy stem bewe nie toe hy sê: “Rooie, hou bietjie my fiets vas.”

Rooie vat die fiets. Die kinders is nou stil. Trompie haal sy leë boeksak stadig van sy rug af en gee dit vir Blikkies. Hy voel sy broekspype bewe. Hy hoop maar net niemand kom dit agter nie.

Trompie staan voor die kêrel wat Dawie se pet afgeklap het. Hy kyk die ou reguit in die oë. Dan sê hy: “Tel op sy pet. Dis nie ’n kuns om ’n ou wat kleiner as jy is se pet van sy kop af te klap nie.”

Riet se oë is op skrefies getrek.

“Moes ek joune dan afgeklap het?”

“Jy sal dit nie waag nie,” sê Trompie en sluk die knop in sy keel weg. “Jy’s te bang om dit te doen!” gaan hy moedig aan.

Die hoërskoolseuns kyk Trompie verbaas aan. Een sê: “Riet, die klein wintie sê jy’s ’n bangbroek.”

Riet aarsel net ’n oomblik. Dan klap hy Trompie se pet dat dit doer deur die lug trek.

“En toe – wie’s nou bang? Wat gaan jy daaraan doen?” Riet kom staan met gebalde vuiste voor Trompie.

En net daar word hy bevlieg!

Riet was gereed om Trompie te takel, maar hy het nooit verwag só ’n orkaan gaan hom tref nie. Die houe reën op hom neer.

“Mooi so, Trompie! Slaat hom!” skree die Boksombende opgewonde. Die ander seuns skree weer vir Riet om die dorpsjapie op sy plek te sit.

’n Wilde swaaihou tref Trompie op sy oog. Hy sien net sterretjies en steier effens terug. Hygend na asem staan die twee seuns mekaar en dophou.

Trompie dink daaraan dat hy sy ma gister belowe het hy sal hom goed gedra by die hoërskool en hard werk, en hier is hy sommer binne die eerste paar minute al in ’n geveg betrokke. Maar hy het mos nie hierna gesoek nie!

“Het … het jy genoeg gehad?” hyg Riet.

“Nee, het jy?”

“Moenie net so daar staan nie!” skree die klomp rondom die twee bakleiers. “Klim mekaar in!”

Trompie kners op sy tande. Hy weet onbewustelik hierdie bullebak gaan sy lewe op hoërskool ondraaglik maak as hy wat Trompie is hom nie nou hier voor almal behoorlik op sy plek sit nie.

Riet slaan na Trompie. Trompie koes onder sy arms in en skiet soos ’n pyl uit ’n boog vorentoe. Hy slaan aanhoudend … harde houe, seermaakhoue. Sy vuiste speel tamboer op Riet se ribbekas. Die groter seun probeer wegkom, maar hy kan nie. Trompie bly roekeloos aanval … Twee harde regters vang Riet op die krop van sy maag. Hy sak met ’n kreun op sy knieë neer. Sy wind is uit. Die kêrel hou sy maag vas en sukkel om asem te haal.

“Het jy nou genoeg gehad?” vra Trompie bars.

Riet knik. Ja, dit was meer as genoeg.

Trompie staan met sy vuiste gereed om verder te baklei. Toe Riet se asemhaling reëlmatiger kom, sê hy streng: “Tel Dawie se pet op en gee dit vir hom – en dan myne.”

Die kêrel kyk na Trompie. Hy het nie ’n keuse nie. Hy sal moet doen wat hierdie nuwe outjie vir hom sê. Riet kom kreunend regop, gaan tel die twee pette op en gee hulle vir Dawie en Trompie terug.

Die seuns in die kring kyk met ontsag in hul oë na Trompie.

Dawie, Blikkies en Rooie staan trots langs hom. Hulle glimlag breed. Hy is mos hul vriend.

Trompie kyk na Riet. Die seun hou nog steeds sy maag vas. Trompie steek sy hand uit en sê: “Ek’s bereid om alles te vergeet – en maats te wees.”

Riet aarsel net ’n oomblik. Dan vat hy Trompie se hand en mompel: “Ek ook. Wat’s jou naam?”

“Trompie – Trompie Toerien.”

Baie seuns het hierdie naam al gehoor. Een ou sê: “Trompie het al in ’n regte kryt geboks.”

Die klok lui vir die skool om te begin. Die leerders laat spaander oor die terrein. Riet wys vir Trompie-hulle waar om hul fietse neer te sit.

In die groot saal laat die onderwysers al die nuwe leerders teen die muur staan. Die ou leerders staan in rye. Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie staan gemaklik teen die muur en rus. Net voor hulle staan die ry graadneges, met onder andere Riet en sy trawante. Hulle kyk elke slag na Trompie en sy maats – en glimlag dan vriendelik. Trompie voel die geveg was die moeite werd. Hy wens net hy het eers kans gehad om homself ’n bietjie netjies te maak. Hy hou nie van die geamuseerde manier waarop een van die onderwysers na hom kyk nie.

Sy kouse lê op sy skoene. Sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy hare is nog meer deurmekaar as gewoonlik – en hy kan voel sy een oog swel kwaai en is seker aan die blou word. Maar daar is niks wat hy nou daaraan kan doen nie. Hy probeer maar ongeërg staan en rondkyk en so intelligent as moontlik lyk.

Die skoolhoof, die dominee en ’n paar skoolkomiteelede sit op die verhoog saam met die personeellede.

Ná ’n paar toesprake sing almal ’n gesangeversie en dan sluit die dominee die verrigtinge met ’n gebed af. Die hoof staan weer op en sê die leerders moet na hul klaskamers toe gaan. Die nuwelinge moet teen die mure bly staan waar hulle is.

Terwyl die hoof praat, kyk die dominee na die kinders teen die muur. Hy gewaar Trompie en sy drie maats en glimlag toe hy sien in watter gehawende toestand Trompie is. Die meneertjie was seker al weer in die moeilikheid. Dominee onthou nog hoe die vier rakkers eenkeer sy bobbejaan in die pastorie se tuin kom gaps het. En nou is hulle sowaar al op hoërskool. Hy hou van hulle. Hulle is vier lewendige seuns, miskien stout, ja, maar nooit lelik stout nie.

Toe die kinders almal na hul klasse toe is en die dominee en die skoolkomiteelede ook weg is, kom praat die hoof met die nuwelinge.

Die seuns en meisies staan nou in rye voor hom. Hulle is almal in graad agt. Trompie kruip effens agter Rooie weg. Hy kyk ook nie veel op nie. Hy wil tog nie hê die hoof moet sy blouoog sien nie.

Die skoolhoof verwelkom hulle in ’n vriendelike stem. Hy vertel vir hulle van die skool se trotse tradisies en sê hulle moet die skool se naam altyd hoog hou. Hy verseker hulle dit is iets om op trots te wees – die feit dat jy ’n leerder aan die Hoërskool Kwaggaberg is.

Hy sê hulle moet nooit skroom om enige probleme met die personeellede te bespreek nie en: “Hoewel ek die hoof is en julle my Doktor noem, wil ek nie hê julle moet my vermy en vir my bang wees nie. Ek is wel baie besig, maar my eerste plig is teenoor julle, ons leerders. As julle probleme het, is julle welkom om dit met my te kom bespreek. Ek sal altyd met ’n simpatieke oor luister.” Dan voeg hy glimlaggend by: “Dit is beter as julle sommer uit julle eie na my toe kom om oor ’n probleem te gesels as wat ’n onderwyser julle kantoor toe bring.”

Trompie lag nie. Hy beskou dit as ’n flou grappie.

Hy weet mos as ’n onderwyser ’n seun kantoor toe neem, beteken dit gewoonlik net moeilikheid. Wat is nou so snaaks daaraan?

Die hoof draai na die onderwyser wat met ’n vel papier langs hom staan en sê: “Meneer Brink, sorteer hulle nou maar en laat hulle na hul klaskamers toe gaan, asseblief.”

“Seker, Doktor.”

Trompie verstaan hierdie “dokter”-affêre glad nie. As die hoof ’n dokter is, wat doen hy dan hier? Hoekom gaan maak hy nie die siek mense gesond nie? Hy besluit hy sal sy pa of ma vanmiddag ’n bietjie hieroor uitvra.

Die graadagts luister aandagtig na meneer Brink. Hy is ’n kort, gesette man met ’n bril wat op die punt van sy neus sit. Dit laat Trompie besluit hy is sommer baie geleerd. Die seun wonder watter vak hierdie onderwyser vir hulle gaan gee.

Meneer Brink verduidelik dat daar vanjaar genoeg kinders vir vier graadagt-klasse is. Die klasse sal A, B, C en D wees. Hy sê: “Hierdie indeling geskied nie op meriete nie.” Toe hy sien hoe verbaas die klomp hom aangaap, glimlag hy. Hy vergeet altyd dat die nuwelinge nou net uit die laerskool kom en dan gebruik hy soms ingewikkelde woorde wat hulle nie verstaan nie.

“Ek bedoel dié wat in 8A geplaas word, is nie noodwendig die slimste nie en dié wat in 8D is, is nie die domste nie. Ek het die indeling só gedoen dat daar naastenby ewe veel meisies as seuns in elke klas is.”

Trompie, Dawie, Blikkies en Rooie kyk met groot oë na mekaar. Sê nou hulle kom nie in dieselfde klas nie? Hulle wil liewer nie eens daaraan dink nie!

Meneer Brink beduie waar die verskillende groepe moet staan en dan begin hy die name uitlees.

Blikkies is die eerste lid van die Boksombende wie se naam gelees word. Hy is in 8B. Die onderwyser lees om die beurt ’n seun en dan ’n meisie se naam. Blikkies is baie benoud. Sy drie maats moet in dieselfde klas as hy wees!

Klein Dawie se naam word gelees. Hy is ook in die B-klas! Nou is dit nog net Trompie en Rooie. Dan word Rooie se naam gelees. Hy is ook in 8B!

Met ’n amper smekende uitdrukking op sy gesig kyk Trompie na die onderwyser wat hom nie eens raaksien nie. Een naam na die ander word gelees met die klasindeling daarby.

Rooie, Dawie en Blikkies hou vir Trompie plek oop in hul ry. Hulle kan hulle nie voorstel hoe dit sal wees om skool te gaan as hy nie by hulle in die klas is nie.

“Toerien!” kom die onderwyser se stem skielik.

“Ja, Meneer?” Trompie kyk hoopvol na hom. Blikkies, Rooie en Dawie hou asem op. Meneer Brink het sy plek op die vel papier verloor. Hy soek met sy vinger. Dan sê hy: “Toerien … B!”

Trompie slaak ’n sug van verligting. Hy kom staan by sy drie maats. Hy word op die rug geslaan en van harte gelukgewens. Die vier lede van die Boksombende se gesigte straal.

“Stil!” sê die onderwyser. Hulle is dadelik tjoepstil.

Al die name is nou afgelees. Maar toe kom die ramp! ’n Rietskraal seun stap na meneer Brink toe. In ’n klein stemmetjie sê hy: “Meneer, ek en Johan kom van dieselfde dorp in die Vrystaat af. Ons is in die koshuis en my ma het gevra hy moet na my kyk en ons moet in dieselfde klas wees …”

“Waar is Johan?” vra meneer Brink kortaf.

“Daar, Meneer, in die B-klas.” Die seun wys na iemand in Trompie-hulle se groep.

“Reg, gaan jy ook soontoe. Wat is jou naam?”

Die seun gee sy naam. Die onderwyser krap dit uit en skryf dit by klas B in.

Trompie-hulle hou hierdie toneeltjie niksvermoedend dop. Dan strek meneer Brink sy arm uit na die naaste seun in die B-klas … en dit is Trompie.

“Wat is jou naam?”

“Trompie. Trompie Toerien, Meneer!” sê hy.

“Gaan jy na C toe,” sê die onderwyser.

Trompie gaap hom oopmond aan asof hy nie verstaan nie. Maar toe dit tot hom deurdring dat die maer seun sy plek in klas B inneem en hy na klas C toe moet gaan, sê hy vinnig: “Asseblief, Meneer, laat iemand anders gaan …”

“Basta teëpraat. Ek het nie tyd om te mors nie. Gaan staan by die C-klas!”

“Meneer,” stamel Trompie verbysterd, “dis … dis onregverdig … my vriende …”

“Bly stil!” sê die onderwyser hard. “Of ek trek jou vel van jou lyf af!”

“Ekskuus, Meneer,” mompel Trompie. Dit is nou so stil in die saal dat ’n mens ’n speld kan hoor val. Die kinders het hulle boeglam geskrik. Hierdie meneer Brink is vir jou kwaai, hoor!

Die onderwyser maak nog ’n verandering op die lyste.

Met medelye in hul oë kyk Dawie, Blikkies en Rooie na hul vriend in die ander klasgroep. Trompie byt hard op sy onderlip. Die trane is naby. Die onderwyser maak nie reg met hom nie! Hy was mos klaar vir klas B gekies. Hoekom moet hy nou na C geskuif word?

Maar Trompie kan niks sê nie. As hy sy mond oopmaak, sal die onderwyser hom waarskynlik sommer ’n oorveeg gee. Almal het geskrik. Niemand praat nie. Net Rooie fluister in Dawie se oor: “Dis die onregverdigste ding wat ek nog ooit gesien het.”

Trompie sit in graad 8C. Hy voel alleen en verlate. Daar is wel ’n paar kinders wat saam met hom op laerskool was, maar sy drie maats is nie by hom nie. Hy lyk tog te koddig met sy ongekamde hare en geswelde blouoog. Die ander kinders loer kort-kort na hom waar hy eenkant alleen in ’n bank sit. Dit lyk asof hy die hele wêreld se probleme op sy skouers dra.

Die Boksombende se Grootkaptein is geskok en diep teleurgesteld. Hy voel sommer lus om sy boeksak te vat en huis toe te hardloop. Hy is nie gewoonlik iemand wat dikmond raak nie, maar hy sit die hele eerste periode lank net ingedagte en nors voor hom en uitstaar.

Die onderwyseres praat oor die geskiedenis wat hulle die jaar gaan behandel. Sy sien die seun met die blouoog wat so verstote eenkant sit en elke nou en dan diep sug. Hy lyk baie ongelukkig. Sy besluit om liewer nie met hom te praat omdat hy nie oplet nie. Hy is seker een van die koshuiskinders wat vir die eerste keer van sy ouers af weg is en nou na hulle verlang.

Meneer Brink stap by die vertrek in. Die klas staan op. Trompie ook.

“Ek kom gee net gou vir julle hierdie boeke,” sê meneer Brink. “Sit maar.”

Die klas sit. Trompie kyk na die onderwyser. Kan hierdie meneer Brink nie besef hoe onregverdig hy hom behandel het nie?

Toe die onderwyser naby sy bank kom, besluit Trompie om hom te vra – om nóg ’n poging aan te wend.

Die onderwyser sit ’n boek voor hom op sy bank neer. Trompie staan vinnig op en sê beleefd: “Meneer?”

“Ja?”

“Meneer, mag ek asseblief na die B-klas toe gaan? Al my vriende …”

Maar die onderwyser val die seun bars in die rede: “Man, ek het mos gesê ek maak nie meer veranderings nie. Jy bly hier, en klaar!” Hy gaan aan om boeke uit te deel.

Met ’n swaar hart gaan sit Trompie. Sy oë blink. Hy was seker nog nooit so na aan huil nie. Hy sit en staar by die venster en uit.

Die hele oggend groei die gevoel in hom dat hy lelik onreverdig behandel is.

Uiteindelik lui die klok vir pouse. Trompie en sy maats staan eenkant in die een hoek van die skoolterrein. Toe hulle hierheen gestap het, het baie vreemde kinders vir hom gesê: “Hallo, Trompie!” Dit lyk of die hele skool hom al ken. Almal weet van die geveg en hoe hy vir Riet op sy plek gesit het.

Die Boksombende bespreek die ongelukkige klasverdeling.

“Hoekom moes die ou nou juis vir jou gegryp het?” sê Blikkies vir die soveelste keer kopskuddend vir Trompie. Hy kan nie verstaan hoe die noodlot hulle só ’n streep kon getrek het nie.

Rooie sê: “Ek kan nie konsentreer met dié goed aan nie,” en hy trek sy skoene uit. Rooie se pa is ’n skoenmaker, maar hy haat skoene aan sy voete.

“So ja,” sê hy verlig. “Nou kan ek mos dink.”

“Waaroor wil jy dink?” vra Blikkies wat aan ’n grashalmpie kou.

“Oor wat om te doen, natuurlik!” sê Rooie kwaai. “Dink jy ons gaan dinge sommer so los – sommer net soos papbroeke tevrede wees dat Trompie nie meer in ons klas is nie?”

“Ons voel almal sleg daaroor,” sê Blikkies, “maar wat kan ons doen?”

“Ons kan ’n plan maak.”

“Watse plan?”

Nee, dit weet Rooie nie. Maar dis mos hoekom hy sy skoene uitgetrek het, sodat hy aan iets kan dink.

Mismoedig staar die seuns voor hulle uit.

Uiteindelik sê Dawie: “Weet julle wat moet ons doen, ouens?”

“Wat?” vra almal gelyk.

“Ons moet verdamp!” sê Dawie en sy ondeunde oë vonkel. “Ons hardloop kloof toe en gaan swem!”

“En as hulle ons vang?” keer Blikkies. “Wat dan?”

“Dan sê ons vir hulle hoekom ons weggehardloop het. Miskien sit hulle Trompie dán in ons klas.”

Die seuns dink met verlange aan die kloof se koel damwater.

“Hoe kom ons hier weg?” wil Blikkies weet.

“Ons gaan almal terug klas toe,” sê Dawie. “En ná so vyf minute vra ons of ons kamer kan verlaat. Dan ontmoet ons mekaar by die afskortinkie – daar waar die fietse is – en ons jaag vir die vale.”

Terwyl die vier ernstig oor hierdie plan staan en dink, kom Riet en twee van sy maats daar aan.

“Wil julle ouens nie saam met ons kom speel nie?” vra hy. Riet glimlag toe hy Trompie se prag van ’n blouoog sien en stoot sy bors effens uit. Hy het die geveg verloor, maar hy het nie ’n blouoog nie.

Trompie vertel hom hoekom hulle nie nou wil speel nie. Hulle probeer uitwerk wat om te doen sodat hy in dieselfde klas as sy maats kan wees.

“Waaroor sal Ou Haantjie nou so gemeen wees?” wonder Riet verbaas.

“Wie is Ou Haantjie?” vra Trompie.

“Meneer Brink. Hy is klein, maar kwaai … nes ’n kapokhaantjie. Maar hy’s gewoonlik nie eintlik ’n slegte ou nie. Ek wonder hoekom was hy vanoggend so befoeterd?”

Die vier ouens skud hul koppe. Nee, hulle sal nie weet hoekom nie. Maar hy was lelik onregverdig! Hulle vertel vir die seun van hul plan om weg te glip kloof toe.

“Dit gaan nie werk nie,” sê Riet. Dan voeg hy uit die hoogte by asof hy al jare op hoërskool is, pleks van net een jaar: “Julle moet weet, dis nie die laerskool dié nie. Die onderwysers sal julle nie sommer vyf minute ná pouse al laat kamer verlaat nie. En in elk geval, mens kry net een op ’n slag verlof om uit te gaan, so julle kan maar van dié plan vergeet.”

Trompie was ook nie eintlik beïndruk met die plan nie. Hy kan nie sien hoekom Rooie, Dawie en Blikkies oor hom in die moeilikheid moet beland nie.

“As ek julle kan raad gee,” sê Riet, “moet Trompie met die hoof gaan praat. Hy is ’n gawe ou en ’n regverdige man. Vertel vir hom alles wat gebeur het: Hoe jy eers in die B-klas was en toe sommer daar uitgepluk en in C gesit is.”

Toe Riet en sy twee vriende weg is, sê Blikkies nadenkend terwyl sy kakebeen ritmies op en af beweeg: “Dis miskien nie ’n slegte plan nie.”

“Weet julle ouens wat?” vra Dawie skielik en hy loer oor sy skouer om te sien of daar niemand is nie.

“Ek dink ons moenie sommer alles wat Riet ons vertel vir soetkoek opeet nie,” fluister hy. “Sê nou net hy wil hê Trompie moet na die hoof toe gaan met die hele petalje sodat die ou Trompie kan foeter? Sê nou hy gee aspris vir ons verkeerde raad?”

“Maar hoekom sal hy dit doen?” vra Trompie verbaas.

“Oor jy hom vanoggend so goed opgedons het!”

Trompie kyk hom vraend aan.

“Miskien wil hy nou wraak op jou neem,” verduidelik Dawie.

“Jy praat nonsens,” sê Blikkies.

“Ek dink ook so,” sê Trompie.

“Nou goed dan,” sê Dawie gekrenk. “Maar as jy na die hoof toe gaan en hy looi jou sonder om eers na jou te luister, moet jy nie sê ek het jou nie gewaarsku nie, hoor!”

“Wie sê ek gaan na die hoof toe?” vra Trompie. “Ek is nie iemand wat daarvan hou om stories aan te dra nie.”

Toe die klok lui, het die seuns nog nie ’n plan nie. Hulle besluit hulle gaan voorlopig niks doen voor die volgende pouse nie. Almal sal intussen dink aan maniere om Trompie in die B-klas te kry.

Toe Rooie sy skoene aangetrek het, stap die seuns na waar die leerders langs die skool in rye inval.

Trompie se hart is seer wanneer hy alleen na sy ry toe stap. Hy voel heeltemal verlore in hierdie nuwe skool sonder sy drie maats.

Die seun sit weer alleen in sy bank. Hy gee nie juis aandag aan die Engelse leesles nie. Hy dink aan wat die hoof die oggend gesê het. Hy het hulle genooi om hom in sy kantoor te kom spreek as hulle probleme het. Hy het gesê hy sal met ’n simpatieke oor na hulle luister.

En net daar besluit Trompie hy gaan met die hoof praat! Hy sal vir hom alles vertel en vra of hy nie asseblief maar terug na die B-klas kan gaan nie. Trompie voel dis nie stories aandra nie. As hy nie aanvanklik in daardie klas was nie sou hy nie so sleg gevoel het nie, maar hy was mos eers saam met sy drie maats. As Ou … Ou Haantjie ’n verandering wou maak, hoekom moes hy hom wat Trompie is, gekies het? Hoekom het hy nie ’n ander seun na die C-klas toe gestuur nie?

Ja-nee, Trompie glo hy is onregverdig behandel en hy gaan die hoof spreek!

Hy staan vinnig op. Die Engelse onderwyseres kyk na hom. Trompie sê: “Juffrou, mag ek asseblief met die hoof gaan praat? Dis dringend.”

Die onderwyseres glimlag effens. Dan sê sy: “I beg your pardon?”

Die seun is skoon dronkgeslaan. Toe onthou hy, hoewel hy nie juis geluister het nie, dat sy aan die begin van die les gesê het die leerders moet altyd gedurende die Engelse periodes met haar Engels praat. Dis nou ’n lollery, dink Trompie.

Hy maak keel skoon. Dan sê hy: “The … the head – big chief, you know – I must see, terrible hurry, man.”

Die juffrou kan haar lag nie bedwing nie en sê: “Yes, you may go.”

Die klas lag ook, maar die seuns raak tjoepstil toe hulle sien hoe gluur Trompie hulle aan met die oog wat nie blou en geswel is nie. Hulle het nog nie vergeet hoe hy vir Riet van graad nege ’n opstopper gegee het nie.

Trompie stap tot onder in die lang gang en dan met die trap af. Hy het gesien die hoof se kantoor is op die onderste verdieping.

Die seun lyk klein en alleen in die groot, verlate gang. Hy voel diep ongelukkig. Hy wens hy kan van die skool af wegloop.

Voor die kantoor aarsel hy. Hy trek sy kouse op. Dan klop hy aan die deur.

Die deur gaan oop. Voor hom staan ’n aantreklike jong vrou. Sy lyk effens verbaas toe sy Trompie sien. Hy staan eerbiedig met sy pet in sy hand.

“Ja?” vra sy en glimlag vriendelik.

“Ek wil graag die hoof sien, asseblief.”

“Hy is baie besig,” sê die meisie. “Waaroor wil jy hom spreek?”

Trompie is heeltemal van stryk af. Hy het die hoof hier verwag, nie so ’n mooi jong dame nie.

“Dis groot en ernstige dinge …”

Sy kyk skepties na hom. Die seun aarsel effens en dan sê hy: “Die hoof het gesê as ons probleme het, moet ons na hom toe kom. Wel, ek het ’n probleem – ’n baie grote!”

Die jong vrou glimlag en sê vriendelik: “Kom binne. Ek sal hom vra of hy jou nou kan spreek.”

Sy klop aan die deur aan die binnekant van haar kantoor. Kort daarna is sy weer terug en sê: “Jy kan maar ingaan. Wat is jou naam?”

“Trompie Toerien.”

“Is jy tog nie Anna Toerien se boetie nie? Ek ken haar goed.”

Trompie is nie nou lus om oor sy familie te gesels nie.

“Moet ek klop of sommer net instap, Juffrou?”

“Stap maar in,” sê sy.

Die seun maak so.

Die hoof sit agter ’n groot lessenaar en skryf. Hy kyk op en glimlag vriendelik toe hy die koddige figuurtjie by die deur sien.

“Kom staan hier voor my,” sê hy. Trompie sluk en stap nader.

“Wat is jou naam?”

“Trompie Toerien, Meneer – ag, ek bedoel Doktor.”

’n Glimlag speel om die hoof se mondhoeke. Hy kyk na Trompie se blouoog. Dan sê hy laggend: “En wie het vir jou daardie pragtige blouoog gegee?”

Trompie mompel terwyl hy aandagtig na sy ingeduikte skoenpunt kyk: “’n Seun hier by die skool.”

Maar dis nie waaroor hy wil gesels nie.

“Wanneer het dit gebeur?”

“Vanoggend, Men-… Doktor.”

“So?”

Trompie sien hoe skerp en deurdringend is die prinsipaal se oë. Hy sluk en sê: “Maar Doktor, dis nie hoekom ek hier is nie.”

“Waaroor het jy my dan kom spreek, Trompie?”

Die seun lek sy lippe effens nat en dan begin hy praat … vinnig praat.

Hy vertel van sy vriendskap met Rooie, Blikkies en Dawie, van hoe hulle nog altyd saam was, hoe hulle vanoggend ook saam gekies is om na graad agt se B-klas te gaan en hoe dit toe gekom het dat hy nou nie meer by hulle is nie, maar in die C-klas. Trompie stort sy hart by die hoof uit.

“Doktor,” sê hy sielsongelukkig, “as meneer Brink my naam van die begin af vir die C-klas uitgelees het, en hulle s’n vir die B-klas, sou ek teleurgesteld gewees het, maar ek sou dit so aanvaar het. Maar nou was ek eers saam met hulle en toe word ek weggevat. Dit maak dit baie erg vir my.”

Die hoof luister aandagtig en geduldig. Hy besef Trompie het rede om gegrief te voel.

Die seun weet dit nie, maar die skoolhoof weet al baie van hom en sy drie maats. Hy ken Trompie se pa goed. En die dominee het vanoggend op die verhoog vir hom vertel van die hegte vriendskap tussen die vier seuns.

“Reg, gaan maar terug na jou klas toe, Trompie,” sê die hoof uiteindelik. “Ek sal kyk wat ek vir jou kan doen.”

Die seun stap teleurgesteld terug. Hy het gedink die hoof sal dinge sommer daar en dan regmaak, maar nee.

Met ’n sug gaan sit Trompie weer in sy bank. Hy vra vir die ou voor hom waar hulle nou in die Engelse boek lees. Toe hy die plek het, begin hy die storie teësinnig volg.

Trompie het nie lank gesit nie, toe kom meneer Brink in.

“Trompie Toerien,” sê hy. Die seun is dadelik op die been.

“Ja, Meneer?” Hy kyk hoopvol na die onderwyser. Meneer Brink glimlag en sê: “Bring jou boeke en kom saam met my na klas B toe.”

Die seun raap sy boeke bymekaar en is in ’n kits langs die onderwyser.

“Ek’s reg, Meneer,” sê hy en glimlag van oor tot oor.

Trompie weet dit nie, maar die hoof is besonder gewild onder die personeel. Hy is taktvol en het mensekennis wat dit ’n plesier maak om onder hom te werk. Ná Trompie by die kantoor uit is, het hy meneer Brink laat roep en vir die onderwyser vertel wat die dominee vir hom van die vier seuns gesê het. Toe het hy taktvol voorgestel dat, as dit enigsins moontlik is, die vier in dieselfde klas moet wees.

Die onderwyser was heeltemal gewillig toe hy uitvind die een outjie, Trompie Toerien, is die sproetgesig wat hom die oggend twee keer lastig geval het. Hy het die hele tyd nog sleg gevoel oor wat in die saal gebeur het.

Van hierdie dinge weet Trompie natuurlik niks nie. Hy weet net hy gaan by Rooie, Blikkies en Dawie in die klas wees. Sy hart sing van blydskap. Hy stap trots en regop langs die onderwyser.

“Hier’s jou klas, Trompie,” sê meneer Brink. “Gaan maar in en sê die onderwyseres moet jou op die register plaas.”

Trompie kyk reguit na meneer Brink en sê: “Meneer …”

“Ja?”

“Baie, baie dankie, Meneer.”

Die seun stap by die klaskamer in. Rooie sit heel agter alleen in ’n bank teen die muur. Sonder om te dink waar hy is, skree hy: “Trompie, hier’s jou plek. Ek het dit vir jou gehou!”

Dawie en Blikkies lawaai ook van blydskap. Hulle sit net voor Rooie.

“Stil!” sê die onderwyseres streng.

Trompie gee vir haar al die nodige besonderhede vir die register. Dan stap hy tevrede met die gangetjie tussen die banke af en gaan sit langs Rooie.

Die leerders is besig met dieselfde Engelse leesles as Trompie se vorige klas. Hy kry die plek en volg die juffrou se voorlesing vir ’n tydjie.

Dan kyk hy op. Skuins voor hom sit Katrien, die meisie wat langs hulle woon. Sy kyk na hom. Haar gesig straal van blydskap.

Trompie wonder waaroor sy so bly is. Maar hy weet dis omdat hy weer in haar klas is en hy voel gevlei.

Hy knik vir Katrien. Hy hoop sy besef hy bewys haar ’n groot guns deur haar raak te sien en te groet.

Die onderwyseres se stem draal eentonig voort.

Dawie loer om na Trompie en knipoog vir hom.

Rooie kyk na Trompie hier langs hom in die bank. Hy glimlag en sê net: “Ou Trompie.”

Blikkies draai om na Trompie. Hy sit sy hand op sy maat se leesboek en toe hy dit weer vinnig wegvat, lê daar ’n stukkie kougom, nog toegedraai in die papiertjie.

Trompie glimlag. Sy oë blink. Hy weet Blikkies gee nooit kougom weg nie. Dit is ’n groot opoffering hierdie.

Die Boksombende se Grootkaptein sit die kougom in sy mond en begin kou. Dan tel hy die boek weer op en volg waar die juffrou lees.

Hy is salig gelukkig en tevrede.

Trompie Omnibus 2

Подняться наверх