Читать книгу Trompie Omnibus 2 - Topsy Smith - Страница 13
5
Trompie die vink
ОглавлениеToe Trompie ná sy eerste dag op hoërskool by die huis kom, sit hy sy fiets langs die boom op die werf neer en klouter oudergewoonte sommer deur sy kamervenster.
Sy ma hoor hom in die kamer en roep: “Kom eet, my kind! Die kos is op die tafel.”
Mevrou Toerien is al besig om op te skep toe Trompie in die eetkamer kom. Hy is maar bly sy suster en pa is nie daar nie. Hy is tog nie lus vir almal se lastige vrae oor sy blouoog nie.
“En hoe hou jy van jou nuwe skool?” vra sy ma.
“Dis nogal nie te sleg nie, Ma,” mompel Trompie. Sy kyk op na hom en skrik wanneer sy sien hoe sy oog lyk.
“Genade, Trompie,” sê sy besorg, “wat het gebeur?”
“Ek’t maar net bietjie baklei, Ma.” Hy doen sy bes om te lyk of dit regtig niks ergs was nie.
Sy ma is egter hewig ontstel en vra die een vraag ná die ander. Trompie probeer so ontwykend moontlik antwoord.
Uiteindelik sê hy: “Ma weet, ek wou nie baklei nie, maar ek kon nie anders nie. Ek wou nie, maar ek moes. Ek kon mos nie sommer net staan en kyk hoe die ou vir Dawie verneder nie. Ek moes hom op sy plek sit, Ma weet. En daar is tye in die lewe wat niks anders help nie – dan moet mens maar met die vuis inklim.”
Die ma kyk verbaas na die sproetgesig wat so ernstig sit en praat. Dit is asof haar twaalfjarige seun besig is om ’n man te word. Sy besluit om hom nie verder oor die bakleiery uit te vra nie.
Die volgende twee weke gedra die Boksombende hulle besonder stil en gedwee by die skool. Maar dit is die stilte voor die storm! Hulle voel nog vreemd, of soos Trompie eenkeer gesê het: “Ons kyk dinge eers so bietjie deur.”
Feitlik al die leerders ken al vir Trompie. Hulle weet hoe hy vir Riet Swart, wat nog altyd ’n boelie was, ’n loesing gegee het. Al die graadnege-seuns en selfs die graadtiens wil graag met Trompie maats wees.
Die groot kêrels, die graadelfs en die matrikulante, steur hulle natuurlik nie veel aan die laer klasse se doen en late nie. Trompie gee nie om nie. Hy steur hom net so min aan hulle.
Dit is egter deur drie matriekseuns se toedoen dat Trompie vir die eerste keer in ernstige moeilikheid by die nuwe skool beland.
Een oggend sit hy in die klas en droom. Hulle is besig met wiskunde, een van Trompie se swak vakke. Hoewel sy punte in die laerskool altyd beroerd was, meen Trompie nogtans hy is slim met “somme en sulke klas goeters”.
Hy werk nie nou aan sy somme nie, want hy glo hy kan dit baie vinniger as die res van die klas doen. Hy sal later begin en hy gaan nog steeds voor hulle klaar wees!
Trompie kyk rond. Rooie swoeg hier langs hom. Sy tong steek uit soos hy sit en syfers optel. Trompie glimlag. Hy is seker al Rooie se somme gaan verkeerd wees.
Blikkies sit ook al kouende en syfers optel. Langs hom sit klein Dawie. Hy werk dat dit klap. Trompie kyk lank na Dawie. Hy besluit die ou sal een van die dae kortgevat moet word. Dawie word heeltemal te ernstig met sy skoolwerk en hy het boonop begin om hier by die hoërskool tennis te speel.
Trompie trek ’n suur gesig as hy hieraan dink. Tennis! Jig! Dawie sê sy ma sê dis ’n mooi spel wat vir kinders mooi maniere op die sportveld leer. En volgens haar is dit ook nie gevaarlik nie.
“Net meisies speel tennis,” brom Trompie verontwaardig by homself. Hy dink dit is ’n skande dat een van die Boksombende se lede tennis speel. Dawie gaan deesdae glad nie meer so baie saam met hulle drie in die kloof speel nie. Nee, hy trek ’n wit hemp, wit broek, wit kouse en wit seilskoene aan en dan gaan hy tennisbaan toe saam met ’n klomp papbroekseuns en meisies!
As Trompie nie nou in die klas gesit het nie, sou hy ’n boog gespoeg het om te wys hoe dit hom walg. Hy, Blikkies en Rooie sal iets moet doen om Dawie te oortuig tennis is tydmors en dit pas nie by die Boksombende nie.
Trompie word moeg om so te sit en niksdoen, maar hy is ook nie nou lus om met die somme te begin nie. Hy sal ’n bietjie gaan rondstap. Hy vra die onderwyser of hy kamer kan verlaat. Hy kry toestemming en stap uit.
As Trompie geweet het in watter verknorsing hy nou gaan beland, sou hy net daar in die klas gebly en met sy somme aangegaan het.
Die hoërskool is ’n groot gebou. Daar is drie verdiepings. Trompie-hulle se klaskamer is op die boonste verdieping. Bo-op die derde verdieping is daar solderkamers wat as pakplek gebruik word.
As gevolg van roosterprobleme het drie matriekseuns wat rekeningkunde neem elke dag ’n af-periode. Die hoof het vir hulle toestemming gegee om gedurende daardie periode in een van hierdie solderkamers te gaan sit en studeer.
Trompie stap met die gang af na die groot trap wat na die onderste verdiepings lei. Net langs die trap is ’n klein ystertrappie op solder toe. Hy brand al van die eerste dag af om daarbo te gaan ondersoek instel.
Die seun kyk nou weer na die draaiende ystertrap. Nee, hy sal dit maar liewer los. Hy en sy maats sal eendag nog saam gaan kyk wat daar onder die dak aangaan.
Net toe hy omdraai om by die trap af te stap, hoor Trompie iemand sê: “Hei, jy!”
Trompie kyk verbaas op. Daar staan ’n groot seun op die boonste trap.
“Kom hier,” sê hy. Trompie loop stadig by die ystertrap op.
Hy is langs die seun. Trompie ken hom nie, maar hy weet hy is in matriek en sy naam is Gert. Hy is glo ’n dekselse goeie rugbyspeler. Dís hoekom Trompie al van hom gehoor het.
“Is jy ’n bang ou?” vra Gert.
“Nee.” Trompie skud sy kop. Hy is beslis nie bang nie. Inteendeel … Hy wil nog vertel van die dapper dinge wat hy al in die verlede gedoen het, maar die frisgeboude matriekseun sê net kortaf: “Nou kom dan saam met my.”
Trompie volg hom. Hulle is nou onder die plafon. Dit is stikdonker. Gert moet gebukkend loop. Hy loop suutjies op sy tone. Trompie loop nou ook gebukkend, al is dit nie nodig nie.
Gert maak ’n deur oop en hulle stap by ’n klein kamertjie in wat helder verlig is. Trompie knik-knip sy oë om aan die lig gewoond te raak. Dan kyk hy rond.
Daar is twee ander matriekseuns in die kamer. Hulle sit by ’n tafel vol skoolboeke. Gert gaan sit langs hulle. Hy sê: “Hierdie outjie is net wat ons soek. Hy sal doen wat ons sê. Hy sê hy’s nie bang nie.”
Die drie seuns kyk na die sproetgesig met die ongekamde boskasie voor hulle.
“Wat’s jou naam?” vra die een seun.
“Trompie.”
“Is jy die ou wat sommer op die eerste dag al so woes baklei het?”
“Dis ek daai,” sê Trompie trots. Hy is aangenaam verras. Hy het nie besef die groot seuns weet ook van die geveg nie.
“Lyk my jy’t die perfekte ou gekry, Gert!” lag die een seun.
“Ja, dit was ’n gelukskoot.”
“Reg, luister nou mooi wat ons wil hê jy moet doen,” sê Gert streng.
Trompie spits sy ore. Daar is ’n voëlnes op ’n lysie tussen die tweede en derde verdieping. Die drie matriekseuns wat elke dag in hierdie solderkamer sit en studeer, weet daar is klein voëltjies in die nes. Nou het hulle besluit hulle wil die nes graag hier op die vensterbank by hulle hê sodat hulle kan sien hoe die kleintjies groei en sterker word.
Trompie verstaan. Maar wat moet hy doen?
Gert wys vir Trompie ’n stuk tou wat op die vloer lê. Dan sê hy: “Ons is te groot en swaar om deur hierdie klein venstertjie te kruip. Maar jy kan dit doen.”
Trompie voel effens ongemaklik. Hy kyk benoud na die ronde venstertjie.
“Ons bind die tou aan jou vas en druk jou deur die venstertjie,” verduidelik Gert verder. “Dan laat ons jou stadig afsak. Wanneer jy by die voëlnes is, pluk jy aan die tou en ons hou jou net mooi daar vas. Dan haal jy die nes vir ons af. Wanneer jy reg is, ruk jy net weer aan die tou en ons trek jou op. Dis so maklik soos dit.”
Trompie sluk. Hy loer deur die venstertjie. Hy kan nie regaf langs die muur sien nie, maar ’n entjie van die skool af gewaar hy die blomtuin en verder weg die speelgrond. Alles lyk klein en ver onder hom. As hy moet val, is hy so dood soos ’n klip!
“Bang?” vra Gert en daar is minagting in sy stem.
Trompie ontken dit natuurlik heftig. Nee, hy is miskien net ’n bietjie versigtig.
“Jy sal niks oorkom nie,” paai Gert. “Dit sal net ’n paar minute vat, dan is jy weer terug. Niemand sal jou sien nie. Niemand sal daarvan weet nie.”
“Oukei dan,” sê Trompie, nog steeds effens huiwerig, “maar julle moet gou maak, want ek het net gevra of ek kamer mag verlaat.”
Die drie seuns wens hom geluk dat hy so dapper is. Hulle bind die tou vinnig om sy middel vas. Hulle voel aan die knoop en maak seker dit is stewig. Dit sal vir jou ’n affêre afgee as die tou moet breek of die knoop gaan los. Hulle wil liewer nie aan so iets dink nie. Trompie ook nie!
Uiteindelik is hulle reg. Hulle vertel weer vir Trompie presies wat hy moet doen. Hy verstaan. Sy oë is groot. Hy sê skaars ’n woord.
Hulle help hom deur die ronde venstertjie. Sy voete gaan eerste, dan sy middellyf en net voor sy kop ook verdwyn, sê hy skor: “Julle ouens moenie laat los nie!”
Die groot seuns verseker hom alles is onder beheer. Hy sal binne ’n paar minute weer terug wees met die nessie en die voëltjies.
Trompie is nou buite. Sy volle gewig hang aan die tou. Die drie seuns hou styf vas. Dan laat hulle hom stadig sak.
Buite kyk Trompie teen die muur vas. Die tou is stewig om sy maag vasgebind, maar hy hou ook styf met sy hande daaraan vas.
Die hangende seun begin rondkyk. Hy kyk op na die blou lug bokant hom. Dan kyk hy af en knip sy oë. Die grond is deksels ver onder hom. As hy nou moet val, sal hy nie soos Dominee verlede jaar toe hy siek was gesê het, by die Poorte omdraai nie. Nee, hy sal sommer reguit ingaan.
Trompie word geleidelik rustiger en begin dit geniet om so tussen hemel en aarde te hang. Hy los selfs met sy een hand. Hy glimlag. Hy wens Rooie, Blikkies en Dawie kon sien hoe hy hier in die lug sweef.
Die matriekseuns laat hom stadig afsak. Hulle het egter een ding vergeet en dit is dat Trompie verby ’n klaskamervenster moet gaan. Sê nou een van die leerders in die klas sien hom?
Trompie is nou by die venster. Hy swaai effens van die muur af weg en loer vinnig in. Gelukkig is die venster darem toe. Dit is ’n graadnege-klaskamer.
In die klas sit daar ’n meisie langs die venster. Sy skryf ’n opstel oor die onderwerp “’n Spookstorie”. Sy is besig om ’n aaklige gedaante wat haar pa een nag op ’n verlate plaas gesien het, te beskryf.
Sy kyk op, reguit na die venster toe. Haar oë rek wyd en haar mond hang oop. Sy sien ’n paar skoene met kouse wat daarop lê. Dan twee bene en twee vuil knieknoppe. Sy is so verskrik dat sy nie ’n woord kan uitkry nie. Dan verskyn daar ’n vuil seunsgesig.
Die meisie gaap Trompie aan. Sy gesig is nou regoor hare. Dan – hy kan die versoeking nie weerstaan nie – steek hy vir haar tong uit en trek ’n aaklige gesig. Omdat die seuns daarbo hom vinnig laat sak, lyk dit vir die meisie kompleet of hy sommer net in die niet verdwyn. Haar pen val uit haar hand, sy gee ’n angswekkende gil en val flou neer!
Trompie is nou naby die voëlnes. Hy kyk af. Hy sluk en knyp sy oë toe. Hy kan nie glo wat hy nou net gesien het nie. Toe hy sy oë weer oopmaak, is die toneeltjie wat hom so lelik laat skrik het, nog steeds daar.
Die skoolhoof staan onder op die grasperk. Hy staar die seun ’n oomblik oopmond aan en dan bulder hy: “Kom af daar!”
“Ek kan nie, Menee-, ag, ek bedoel Doktor!” skree Trompie. En dis mos waar. Hoe kan hy afkom?
Die drie seuns in die solderkamer weet van niks nie. Volgens hulle gaan alles nog voor die wind.
In die klaskamer waar die meisie flou geval het, heers daar chaos.
“Wat het haar so laat skrik?” gil die onderwyseres.
“Dit moes iets by die venster gewees het,” skree ’n ander meisie. Die juffrou pluk die venster oop. Trompie kyk op en glimlag pateties vir haar. Hy weet hy is nou in groot moeilikheid en hy wil hê die onderwyseres moet later kan sê die seun wat so geluidloos soos ’n spook langs die muur afgegly het, was darem vriendelik.
“Bly net waar jy is! Moenie roer nie!” bulder die hoof weer van onder af. Hy besef nou sy opdrag dat die seun moet afkom, was onsinnig, maar hy was só verbaas en geskok toe hy een van sy leerders daarbo in die lug sien hang dat hy nie helder kon dink nie.
Trompie kan ongelukkig nie bly waar hy is nie. Die niksvermoedende seuns in die solderkamer laat hom nog steeds sak. Hy kom tot sy sinne en besluit wyslik dat hulle maar van die voëlnes moet vergeet. Trompie pluk aan die tou. Hy kom tot stilstand. Die seuns meen seker hy is nou besig om die nes af te haal.
Daar hang nou by al die klaskamers se vensters kinders en onderwysers uit. Trompie pluk weer aan die tou en die seuns begin hom optrek, maar dit gaan stadig.
“Oppas!” sê Trompie, toe hy by die venster kom waar die meisie flou geval het. “Hier kom ek weer!”
Die hoof is bleek. Hy is bang Trompie gaan val. Hy skree vir die onderwyseres by die venster: “Vang hom as hy verbykom, Juffrou!”
Sy gryp na Trompie, maar dis mis.
“Hardloop op solder toe!” gil die hoof vir ’n onderwyser wat by ’n venster uitkyk.
Die drie matriekseuns in die solderkamer kan nie sien wat aangaan nie, maar hulle hoor nou die lawaai buite! Daar is iets verkeerd. Hulle trek so hard as wat hulle kan.
Skielik bars die deur oop. Hulle skrik so groot dat die tou vinnig deur hul hande gly.
Die twee onderwysers wat kom ondersoek instel, skrik hulle boeglam: “Hou vas die tou!” skree een en gryp die tou vas.
Trompie het só vinnig tot stilstand gekom dat hy hik. Nou word hy weer verder opgetrek.
Die klok het intussen vir speeltyd gelui en almal staan buite en kyk vir die swaaiende figuur teen die hoë muur. Trompie weet daar is niks wat hy nou aan die saak kan doen nie. Hy is in die moeilikheid en hy gaan waarskynlik gestraf word. Hy maak nou maar die beste van die saak.
Hy kyk af. Ver onder hom sien hy die gesigte wat na hom toe opkyk.
Blikkies, Rooie en Dawie staan tussen die kinders en staar Trompie oopmond aan. Niemand praat nie. As daardie tou moet breek! Die hoof en die personeellede lyk bleek.
“Hoe op aarde kom Trompie daar?” wonder Rooie. “Toe ek hom laas gesien het, het hy langs my opgestaan en gevra of hy kamer kan verlaat en nou hang hy daar in die lug soos ’n vink.”
Trompie is uiteindelik weer by die solder se ronde venstertjie. Hy word rof aan sy baadjie se kraag gepluk en deurgetrek. Die kinders ver onder sien hoe hy nog met sy voete skop asof hy vir hulle tot siens wil sê en dan verdwyn hy heeltemal …
Almal op die skoolterrein slaak ’n sug van verligting.
“Gaan speel!” beveel die hoof. “Wat staan julle so hier rond? Dis nie ’n sirkus nie.”
Die hoof het nog steeds ’n nare gevoel op die krop van sy maag. Hy stap vinnig kantoor toe.
Die twee onderwysers bo in die solder bewe. Hulle het groot geskrik! Die drie matriekseuns staar verslae voor hulle uit. Trompie kyk na sy ingeduikte skoenpunt asof dit iets te doen het met die verknorsing waarin hy nou weer beland het. Sy hart klop vinnig.
“Kom saam kantoor toe,” blaf die een onderwyser.
Die onderwysers stap voor. Die drie matriekseuns volg ’n paar treë agter hulle. Heel agter stap Trompie alleen. Niemand praat nie.
Toe die optog by die grondverdieping kom waar die hoof se kantoor is, glip Trompie by die oop portaal uit, weg na die spelende kinders toe.
“En waar dink jy gaan jy heen, mannetjie?” vra die een onderwyser kwaai. Hy het omgekyk net toe Trompie wegglip.
Die seun glimlag verleë en sê: “Ek het gedink net die groot ouens gaan kantoor toe, Meneer. Ek het nie geweet Meneer het bedoel ek moet ook kom nie.”
“Natuurlik moet jy!”
“Reg, Meneer.” Trompie sleep maar weer gedwee agter by die optog aan.
Toe hulle deur die eerste kantoor stap, sien Trompie hoe angstig die sekretaresse hom aankyk. Sy lyk asvaal, asof sy groot geskrik het. Trompie weet sommer sy gaan vir Anna van alles vertel en dan gaan sy familie van die petalje uitvind. Hy sug. Die lewe is en bly maar onregverdig. Hy is al weer in die moeilikheid, al het hy nie eintlik iets verkeerd gedoen nie.
Die twee onderwysers, die drie matriekseuns en die graadagt-leerder staan voor die hoof se lessenaar. Die hoof bedank die onderwysers vir hul hulp en hulle verlaat die kantoor. Net die vier seuns bly nou oor.
Trompie staan effens eenkant. Die skoolhoof se deurdringende oë rus op hom. Die seun se hart klop wild. Sy knieknoppe bewe. Die drie matriekseuns lyk ook maar bitter ongemaklik.
“Dit gaan vir ons almal pynlik wees,” sê die hoof. Trompie onthou hoe die laerskool se hoof ook altyd gesê het dit maak hóm net so seer soos vir die seun wat ’n loesing kry wanneer hy iemand ’n pak slae gee of wanneer hy gestraf word. Ja, dink die seun, maar dit maak die hoof nie op dieselfde manier seer nie – en ook nie op dieselfde plek nie! Dit voel vir Trompie of sy sitvlak al klaar begin brand.
“Dit gaan pynlik wees,” herhaal die hoof, “omdat ek nog nooit vantevore in my loopbaan as skoolhoof nodig gehad het om ’n matriekseun te straf nie.”
Die matrieks laat sak hul koppe skaam. Trompie dink daaraan dat hy hierdie storie en die drie groot ouens se verleentheid eintlik nogal baie sou geniet het as dit nie was vir die aaklige gedagte dat hy ook gaan deurloop nie.
“Gert,” sê die skoolhoof, “ek wil die hele storie hoor.”
Gert vertel hoe hulle die nessie daar in die solderkamer wou gehad het en hoe hulle die blink gedagte gekry het om een van die graadagts te kry om dit vir hulle te gaan kry. Hy vertel hoe hulle deeglike voorsorg getref het teen ongelukke.
Hier val die hoof hom in die rede: “Het julle gedink aan die moontlikheid dat die tou kon breek of die knoop kon lostrek?”
Die seuns antwoord nie.
“Julle gedrag was uiters laakbaar,” sê die hoof, “veral vir matrieks. Ek duld nie sulke onverantwoordelikheid by kêrels van julle ouderdom nie.”
Die hoof aarsel ’n oomblik en dan sê hy ferm: “En as julle gereken het julle is te groot of te oud om deeglik gestraf te word, was julle verkeerd.
“Wil julle ’n pak slae hê of moet ek ’n ander straf bedink?”
“’n Pak slae,” mompel Gert.
“Julle kry elkeen vier van die beste!”
Dan draai hy na Trompie. “En jy?” vra hy kwaai. “Het jy iets te sê?”
Die seun wil vir die vale begin protesteer. Hy wil vertel hoe onskuldig hy daar in die gang af gestap het, hoe Gert hom toe geroep het, hoe hulle hom oorreed het om met die tou af te sak en hoe … maar hy besluit om niks te sê nie.
“Nee, Doktor,” sê Trompie gedwee. “Ek het niks te sê nie.”
“Jy moet ook gestraf word.”
“Ja, Doktor.” Trompie se stem is klein.
“Aangesien ek nie meer lyfstraf mag toedien nie, gaan ek jou ’n keuse gee. Jy gaan self besluit op ’n gepaste straf. Saterdagdetensie tot die einde van die kwartaal, ’n oproep na julle ouers of ’n deeglike loesing.”
Trompie dink hard. Al drie opsies klink maar vir hom goor. Miskien moet hy maar die pak vat. Dit is dan immers gou verby.
“So wat sê jy?” vra die hoof.
“Ek kies ’n deeglike loesing, Doktor,” mompel hy.
Die hoof staan op. Agter hom op ’n tafel lê daar ’n bamboeslat. Hy tel dit op en slaan ’n paar keer deur die lug om dit te toets. Trompie staar met groot oë na hom. Dit lyk of hierdie hoof sommer baie hard kan slaan! Die seun wonder hoeveel houe hy gaan kry. Die ander drie gaan elkeen vier kry, maar die hoof het nie gesê hoeveel hý te wagte moet wees nie. Miskien moes hy maar die detensie gevat het.
Gert maak effens keel skoon en toe sê hy: “Doktor, mag ek asseblief iets sê?”
“Ja, maar maak gou.”
“Ons drie besef ons was onverantwoordelik en ons moet daarvoor gestraf word, maar hierdie outjie …” Gert kyk na Trompie. Trompie staan nou met ’n sedige gesig. Dit lyk asof botter nie in sy mond kan smelt nie.
“Ja, Gert?” vra die hoof en sy stem klink nogal simpatiek.
“Hy is onskuldig, Doktor.”
“Hy het ingestem om met die tou afgelaat te word.”
“Ja, Doktor,” sê Gert vinnig, “maar hy het nie eintlik ’n keuse gehad nie. Hy was so verskrik tussen ons drie daarbo in die solderkamer dat hy tot feitlik enigiets sou ingestem het. Ons het hom boonop laat verstaan hy sal ’n bangbroek wees as hy dit nie doen nie. Ons het hom oorreed om dit te doen, soos enige drie matrieks ’n graadaggie kan ompraat om te doen wat hulle wil hê. Ons drie moet boet vir wat gebeur het, Doktor, maar Trompie is heeltemal onskuldig.”
Die hoof staan en dink. Hy speel met die lat tussen sy vingers. Hy meen Gert is reg. Dit is maklik vir ’n matriekseun om ’n outjie in graad agt te oorreed om iets te doen, veral as die matrikulant boonop nog die jonger seun se rugbyheld is.
Trompie se oë is strak op die lat gevestig, maar hy kyk op toe die hoof met hom praat.
“Ek sal jou dié keer laat gaan,” sê die hoof, “maar bewaar jou siel as jy weer hier kom oor jy jou wangedra het.”
“Ek sal sorg dat dit nooit gebeur nie, Doktor,” sê Trompie ernstig. “Dokter sal sien – ek belowe.”
Vir die eerste keer vandat die seuns by die kantoor ingekom het, speel daar ’n effense glimlag om die skoolhoof se mondhoeke.
“Jou naam is Trompie Toerien, nie waar nie?”
“Ja, Me-, ek bedoel Doktor,” sê hy. “Dis my naam – Trompie.”
“Nou goed, Trompie, ek hou jou dop. Onthou dit. Jy kan maar gaan.”
Met ’n “Dankie, Doktor,” is Trompie by die kantoor uit.
Hierdie insident maak die seun nog meer gewild in die skool. Almal ken hom nou. Elke kind en elke personeellid weet wie hy is en almal lag lekker wanneer hulle terugdink aan die koddige, astrante figuurtjie wat so daar teen die muur gehang het.
Toe die hoof daardie aand vir sy vrou van die petalje vertel, bars selfs hý ook uit van die lag.
“Die knaap is ’n lewenslustige klein karnallie en ek dink hy gaan eendag nog ’n groot aanwins vir ons skool wees.”
“Hoe so?”
“Wel, toe ek hom vra of hy enigiets te sê het voor ek hom straf, het hy net ’n oomblik geaarsel en toe sê hy hy het nie, al kon hy vir my gesê het die drie matrieks het hom gedwing om dit te doen.”
Die hoof glimlag nadenkend. “Ek het ’n vermoede ek en Trompie Toerien gaan nog goed oor die weg kom.”