Читать книгу Trompie Omnibus 2 - Topsy Smith - Страница 9
3
Kwaggaberg se fietsryers
ОглавлениеTrompie se ma is weer in huis toe. Sy pa staan aan die onderpunt van die tuin en pyp rook. Hy kyk na al die kakiebos en onkruid wat hier groei.
Trompie gaan staan langs sy pa. Sy hande is in sy broeksakke. Sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy kouse lê op sy skoene. Sy pet sit skeef op sy kop. Hy staan op sy voete en wieg, net soos sy pa altyd doen.
“Dit gaan harde werk wees om dit behoorlik skoon te maak,” sê meneer Toerien en wys na die onkruid.
“Ek het uit my kamer gehoor Pa sê Pa sal iemand betaal om dit te doen.”
“Ek sal moet. Dit gaan harde werk wees.”
Trompie maak keel skoon. “Sê nou die grond is môremiddag wanneer Pa van die werk af kom skoon? Sal Pa my dan daarvoor betaal?”
Meneer Toerien grinnik. “Sukkel julle seuns nog steeds om geld bymekaar te maak vir Rooie se fiets?”
“Ja, Pa,” sug Trompie. “Dit gaan maar swaar.”
“Jou bedoelings is goed, seun, maar jy en jou maats sal hierdie stuk grond nie so gou skoonkry nie. Dit gaan julle dae neem.”
“Ons sal dit gedoen kry, Pa. As ons nie môremiddag klaar is nie en die werk is nie ordentlik gedoen nie, hoef Pa ons nie te betaal nie.”
“Nou goed dan,” sê meneer Toerien. “Spring môre aan die werk. Dan kyk ons wat julle kan uitrig.”
Trompie gaan terug kamer toe en doen ’n paar sommetjies. Hy is tevrede.
Dan jaag hy na Dawie en Blikkies toe. Hy vertel vir hulle van sy skitterende plan. Hulle luister oopmond na Trompie en die bewondering is duidelik in hulle oë te bespeur.
Vroeg die volgende oggend is Dawie en Blikkies by Trompie. Hulle gaan vandag die laaste bietjie geld wat hulle nog vir die deposito kortkom verdien sonder om ’n steek werk te doen.
Trompie beduie vir hulle wat hy wil hê. Die seuns stap deur die stuk grond met die onkruid en kakiebos. Hulle gebruik klippe as bakens en verdeel die area sorgvuldig in twintig ewe groot dele.
“Nou gaan ons die spul bobbejane haal,” lag Trompie. “Jy stap met die hoofstraat af, Dawie, ek vat die bodorp en jy, Blikkies, die onderdorp. Onthou – sê net hulle kan maklik geld verdien. Ons ontmoet mekaar oor ’n halfuur weer hier.”
Die drie spat uitmekaar. Dawie is eerste terug met drie seuns van sy ouderdom. Dan kom Blikkies daar aan met nog ses. Die meeste seuns is van die laerskool, maar daar is ook ’n paar van die hoërskool. Die ouens kyk agterdogtig na mekaar. Trompie kom aangery. Daar draf sewe seuns langs sy fiets.
Onder die groot peperboom tel Trompie almal nadat hy hulle eers besonder vriendelik gegroet het. Hierdie groetery maak die seuns nog meer agterdogtig. Hulle ken mos vir Trompie.
Behalwe Trompie, Dawie en Blikkies is daar sestien seuns. Trompie tel hulle drie nie by nie, want hulle gaan mos nie werk nie.
“Waar kry ons nog vier ouens?” vra Trompie.
Een ou sê hy het Gerhard Moerdyk en nog drie seuns kloof toe gesien stap om te gaan swem.
“Wag julle hier – ek’s nou terug,” sê Trompie. Hy spring op sy fiets en jaag weg.
Die seuns bestook Dawie en Blikkies met vrae oor wat hulle moet doen om die geld te verdien. Dawie se ondeunde oë vonkel en hy sê net: “Wag tot Trompie kom. Hy sal vir julle alles van hierdie lekker kompetisie vertel.”
Blikkies kou aan ’n grashalmpie en sê droog: “Dit sal die maklikste geld wees wat julle nog ooit verdien het.”
Trompie is vinnig terug met die vier seuns wat wou gaan swem het. Hy staan met sy rug teen die peperboom. Blikkies staan aan sy linkerkant en Dawie regs van hom.
“Luister nou mooi.” Trompie hou sy hand op as teken dat hulle moet stilbly. Die seuns word stil. Trompie geniet die aandag. Hy maak keel skoon. Dan begin hy: “Ons is vandag hier saam omdat … omdat ek julle gevra het om te kom.” Sóver gaan alles nog goed. Nou vir die lokaas.
Trompie bal sy regtervuis, slaan die lug voor hom en sê: “Vyftig rand is baie geld, nè?”
Ja-nee, die seuns stem saam met hom. Dit is baie.
“Wie van julle wil vyftig rand verdien? Steek op julle hande!”
Almal hou hul hande op, maar party brom: “Dit hang af wat ons moet doen.”
“Ek sal julle nou sê.” Trompie is tevrede met hoe sake vorder.
“Ek weet julle hou almal van resies jaag – van ’n kompetisie. Nou ja, sien julle hierdie stuk grond?” Trompie beduie na al die onkruid. Die seuns se koppe draai soontoe.
“Reg, hou my nou mooi dop,” sê Trompie en soos ’n towenaar wat hulle gaan verras, stap hy na die plek waar die eerste klip lê, net waar die onkruid begin. Dan stap hy na ’n volgende klip, daarna na ’n derde, dan ’n vierde en toe weer terug na die eerste klip. Dit is ’n oppervlak van tien vierkante meter.
Toe Trompie weer onder die boom voor die ander staan, sê hy: “Dis maar ’n klein stukkie grond, nè?” Hulle knik instemmend.
“Wel,” gaan hy voort, “luister nou mooi. Op hierdie hele stuk grond is daar twintig sulke klein stukkies afgemerk.” Hy swaai weer sy arm en almal se koppe draai weer. “En vyftig rand is goeie betaling as jy net die bossies op só ’n klein ou stukkie grond moet uitpluk, nè?”
Ja-nee, almal stem saam.
“Nou luister,” sê Trompie en hy laat sy stem effens tril. “Dié hele besigheid is ’n kompetisie. Ons wil sien wie van julle die vinnigste is. Dis hoe dit gaan werk: Elkeen van julle loop staan op ’n stukkie grond. Wanneer ek die teken gee, begin julle onkruid uittrek en die een wat eerste klaar is, wen en kry die vyftig rand! Dit is my aanbod.”
Trompie staan voor die seuns soos iemand wat hulle ’n groot guns bewys.
Daar is ’n gezoem van stemme soos wat sy aanbod bespreek word.
“Ek wil iets sê!” skree een ou.
Trompie hou sy hand op en sê: “Stil, vrinne!”
Hy het eenkeer by ’n openbare vergadering gesien hoe iemand só ’n gebaar maak en die mense “vrinne” noem. Dit het Trompie baie beïndruk.
Toe die klomp stil is, sê hy: “Daar is ’n vrind wat iets wil vra. Ek hou van vrae – ek wil nie hê julle moet my aanbod aanvaar as julle nie tevrede is nie. Maar ek sê vir julle dis die maklikste geld wat julle nog ooit verdien het …”
“Dís waaroor ek wil praat,” sê die ou van netnou. “Toe ons hiernatoe gekom het, het ons gedink ons gaan elkeen iets kry en nou lyk dit vir my of net een van ons geld gaan kry.”
“Dis onregverdig!”
“Ja – sê hom!” Daar kom nou van alle kante af aanmerkings.
Trompie hou sy hand weer op.
Hy glimlag vriendelik. Dit lyk of hy almal se beste vriend is.
“Vrinne,” sê hy, “julle moes ons seker verkeerd verstaan het. Wees nou redelik.” Hy vryf sy hande soos oom Jorrie altyd doen wanneer hy besigheid gesels: “Ek sê weer, wees redelik. Julle skrik mos nie vir kompetisie nie. Julle is mos nie bangbroeke nie, of hoe?”
Voordat hulle Trompie kan verseker hulle is nie, gaan hy voort: “Hierdie kompetisie is maar net ’n speletjie. Die een wat die vinnigste werk en eerste klaar is, kry die wengeld. Die ander wat dit nie maak nie, het mos probeer en hulle moet soos manne verloor. Dis maar al. En wie weet wie gaan wen? Dit kan enigeen wees – jý of jý of jý!” Trompie wys met sy vinger tussen hulle rond.
Elke seun reken duidelik nou hy het net so ’n goeie kans soos enigeen van die ander.
“Dink net wat julle met vyftig rand kan doen!” sê Trompie.
Elkeen sit en dink wat hy met die geld sal koop.
“Tree weer vir ons die grond af,” vra Trompie vir Blikkies. Terwyl hy dit doen, sê Trompie: “Kyk net hoe ’n klein stukkie is dit. Dit behoort nie langer as ’n halfuur te neem om dit skoon te maak nie. En elkeen het ’n kans om die geld te wen!”
Die seuns kyk mekaar nou deur. Hulle probeer sien wie is sterk gebou, wie lyk lui en wie lyk of hy vinnig kan werk …
Dan vra Gerhard Moerdyk agterdogtig: “Waar is die geld?”
Almal praat nou tegelyk. Hulle wil almal weet. Hulle wil die vyftig rand sien.
Trompie was dit te wagte. Hy steek sy hand in sy broeksak en sê ewe vroom: “Lyk my julle vertrou my nie?”
Hy wys die geld vir die seuns en sit dit dan op ’n boomstomp neer.
“Net die wenner mag daaraan vat,” sê Trompie streng en gluur die seuns aan.
“Is julle almal bereid om julle bes te doen om te wen? Of is julle bang?”
Nee, hulle is nie bang nie. Hulle wil definitief probeer.
Die klomp is inderhaas daar weg … elkeen na sy eie huis om gereedskap te gaan haal. Hulle kom terug met kruiwaens, skoffels, harke en vurke.
Wanneer almal weer onder die boom is, neem Trompie, Dawie en Blikkies elke seun na ’n stukkie grond toe. Nou staan almal gereed op hul vierkante. Wanneer Trompie sy sakdoek laat val en “Begin!” skree, moet hulle wegval.
Die klomp argumenteer ’n bietjie toe Trompie sê die ander moet nog aanhou en hulle vierkante klaarmaak wanneer die wenner se stuk skoon is, maar later willig hulle tog in.
Elkeen staan met sy gereedskap langs hom en kyk na die vuil sakdoek in Trompie se hand. Hy skree: “Is julle reg?”
Almal knik vasberade.
“Begin!”
Die klomp seuns val weg! Dis ’n gewerskaf soos wat daar seker nog nooit vantevore in die Toeriens of enige ander gesin in Kwaggaberg se tuin was nie.
Die seuns werk hard en vinnig. Elkeen dink aan die vyftig rand wat hy miskien kan wen.
In die skaduwee sit Trompie gemaklik met sy rug teen die peperboom se stam. Blikkies lê uitgestrek langs hom. Dawie sitlê en kyk hoe die twintig seuns swoeg. Die drie is hoog in hulle noppies.
“Ou Trompie,” sê Dawie en grinnik, “as jy so slim met jou skoolwerk is soos met al jou planne sal jy wraggies eerste in die klas staan, in plaas van amper laaste.”
“Ja-nee,” sê Trompie trots, “al sê ek dit nou ook self, ek glo nie iemand anders sou ooit aan so ’n skitterende plan gedink het nie.”
Die drie sit heerlik in die skaduwee en lag vir party van die seuns wat maar sukkel om die welige onkruid baas te raak.
“Kyk hoe sweet ou Gerhard al,” sê Trompie. “Dit sal hom goed doen om vir ’n verandering bietjie harde werk te doen.”
“Jy weet, Trompie,” sê Blikkies en pluk ’n grashalmpie uit ’n graspol en begin kou, “ek verstaan nog nie hoekom die wenner net vyftig rand kry nie. Jou pa gaan jou mos meer as dit betaal.”
“Ja, maar van dit gaan nog vir die deposito en van dit moet vir ons ook gaan,” sê Trompie ondeund.
“Hoe bedoel jy”
“Ons moet mos iets vir ons moeite kry. Ons het dan al die organiseerwerk gedoen.”
Blikkies en Dawie wens Trompie van harte geluk met sy wyse besluit. Ja-nee, sodra die seuns klaar gewerk het, gaan hulle drie sommer pakke lekkers koop.
Dit lyk of almal min of meer ewe vinnig werk. Nie meer lank nie, dan is die stuk grond skoon.
Ná omtrent ’n halfuur skree een ou opgewonde: “Ek’s klaar!”
Trompie en sy twee maats stap na hom toe. Hulle moet eers inspeksie doen en kyk of hy die werk ordentlik gedoen het.
Terwyl hulle na hom toe stap, skree twee ander amper gelyktydig dat hulle klaar is, en toe nóg een. Die hele klomp is omtrent gelyk klaar. Die bossies en onkruid is skoonveld!
Voor almal oorhandig Trompie die wengeld aan die glimlaggende ou wat eerste klaar was.
“Sien julle,” sê Trompie, “ek is nie ’n kroek nie.”
“Hei, Trompie,” sê Gerhard Moerdyk skielik.
“Ja?”
“Terwyl ek so hard gewerk het, het ek baie gedink …”
“So? Ek het nie geweet jy kan dink nie!”
“Ek het gedink – ek wonder hoeveel betaal jou pa jóú om hierdie grond skoon te maak.”
“Dit,” sê Trompie, “is mý besigheid.” Dan sê hy vir almal: “Baie dankie, ouens. Ek is jammer ek het nie genoeg geld om vir julle almal pryse te gee nie.” Hy swaai sy arm deur die lug soos ’n koning wat sy onderdane goedgunstiglik verlof gee om te gaan.
Meneer Toerien staan dié middag toe hy van die werk af kom verbaas na die skoon stuk grond en kyk. Hy kan dit nie glo nie.
Toe hy in die sitkamer kom, wag Trompie hom met ’n breë glimlag in.
“Hoe lyk dit, Pa – tevrede?”
“Ja, baie. Maar hoe op aarde kon julle drie so vinnig gewerk het?”
Trompie se ma en sy suster is nou ook in die sitkamer. Hy vertel opgewonde vir hulle van sy briljante plan – van hoe die klomp seuns geswoeg het en hoe hy en sy twee maats lekker in die skaduwee gesit het.
Meneer Toerien lag en oorhandig ’n paar note aan Trompie. Mevrou Toerien skud haar kop en sê: “Dit is seker in orde, maar ek voel tóg daar is iewers iets verkeerd … Ek weet net nie wát nie.”
“Niks is verkeerd nie, Ma,” sê Trompie. “Daar was mos nie ’n kullery nie. Die ou wat gewen het, het sy geld gekry.”
“Wat gaan jy maak met dit wat oorbly ná jy die vyftig rand afgetrek het, Trompie?” wil Anna weet. “Dis mos baie geld.”
Die seun kyk haar verbaas aan.
“Weet jy dan nie dis vir Rooie se fiets nie?”
Dié aand tel Trompie die geld in die blikkie. Daar is presies genoeg vir die deposito. Môreoggend wanneer oom Jorrie sy winkel oopmaak, gaan hy en Dawie en Blikkies daar wees!
En dit ís toe ook die volgende oggend so. Die oomblik wat meneer Jordaan sy winkeldeur oopsluit, stap die drie seuns in.
“Môre, Oom,” sê Trompie glimlaggend en speel met die geld in sy broeksak. Dawie en Blikkies groet ook vriendelik.
Die eienaar groet hulle effens nors. Hy het nie goed geslaap nie.
“Ons kom die fiets koop, oom Jorrie,” kondig Trompie opgewonde aan en hy haal die geld uit sy broeksak.
Die oubaas tel die geld versigtig. Dit is die regte bedrag.
Maar dan loer hy oor sy bril na die drie seuns wat hom so gretig staan en dophou en sê: “Voor ek die geld vat, moet jy eers hierdie vorm vir jou pa neem, Trompie. Hy moet dit invul en teken.”
Die seuns kyk verslae na die oubaas.
Trompie vat die vorm en sê half verbysterd: “Wat is dit nou, oom Jorrie?”
“Jou pa moet teken dat hy die fiets teen hierdie bedrag koop, dat hy ’n deposito betaal het en dat hy die balans oor ses maande sal afbetaal. Ek kan die fiets nie aan een van julle op skuld verkoop nie. Julle is minderjarig en julle het nog nie ’n vaste werk nie.”
Drie monde val oop. Trompie se hart klop vinnig. Hy sê met ’n bewende stem: “Maar oom Jorrie, hier het ons dan die … dep- … deposito? En ek belowe ons sal die res elke maand afbetaal.”
“Jammer,” sê meneer Jordaan en gee die geld vir Trompie terug, “jou pa moet die vorm teken as jy die fiets wil hê.” Die besliste manier waarop hy sy rug na die drie verslae seuns draai, wys duidelik hy gaan nie verder onderhandel voor die vorm geteken is nie.
Die drie is bitter teleurgesteld. Hulle kyk afgehaal na die fiets en loop druipstert by die winkel uit.
Buite praat die seuns nie veel nie. Dit is asof hulle skielik nie woorde het nie. Hulle kyk ook nie na mekaar nie. Trompie mompel net dat hy hulle later die oggend sal sien en ry dan stadig huis toe.
Hy sit sy fiets op die gebruiklike plek teen die boom op die werf neer en loop ingedagte na graspolle en skop terwyl hy in huis toe stap.
Sy hond kom na hom toe aangestorm. Hy spring teen die seun op.
“Wag, Boesman, ek is nie nou lus vir speel nie.” Trompie streel die hond.
In die eetkamer sit sy pa en Anna nog aan die ontbyttafel. Meneer Toerien is nog nie werk toe nie.
Trompie hang sy pet oor ’n stoel en gaan sit gedwee op die rusbank.
“Wil jy iets eet?” vra sy suster.
“Ek’s nie honger nie.”
“Môre, Trompie,” sê meneer Toerien streng.
“Môre, Pa,” sug die seun. “Ekskuus, Pa. Ek’s vandag so bietjie verstrooid.” Hy sug weer, hierdie keer nog swaarder. “Baie probleme, Pa weet.”
“Watse probleme het jý nogal?” vra Anna.
“Sommer baie – en dit laat my glad nie lekker voel nie.”
“Dit lyk nie vir my of daar iets met jou verkeerd is nie,” sê sy suster.
“Dit lyk dalk nie so nie, maar weet jy hoe voel ek binne – diep binne-in my?” Trompie kyk haar kwaai aan.
Meneer Toerien luister geamuseerd na die gesprek terwyl hy eet.
Trompie voel met sy hand in sy broeksak. Daar is die geld en die vorm wat oom Jorrie vir hom gegee het. Hy kyk moedeloos na sy pa. Hy wonder of ’n bankbestuurder so iets sal teken. Trompie besluit om hom te vra – en hom alles te vertel.
“Het jy nie werk nie, Anna?” vra hy.
Sy kyk hom verbaas aan en toe sê sy: “Al hét ek ook, wat het dit miskien met jou te doen?”
“Niks eintlik nie, maar ek wil graag alleen met Pa praat – oor groot sake.” Trompie wikkel sy neus en hoop dit laat hom belangrik lyk.
“So die meneertjie word groot en het skielik allerhande geheime!” Met hierdie smalende aanmerking loop sy suster vinnig by die vertrek uit, voor Trompie haar ook iets katterigs kan toesnou.
“Pa weet,” sê hy egter, “ek gaan Anna een van die dae nog op haar plek sit.”
“Waaroor wil jy my spreek, seun?” vra meneer Toerien. “Jy moet gou maak. Ek moet kantoor toe.”
Trompie oorhandig die vorm wat meneer Jordaan vir hom gegee het.
“Wat maak jy met ’n huurkoop-ooreenkoms?” vra sy pa.
Die seun skuif nader en begin verduidelik. Sy pa luister aandagtig.
Trompie vertel weer hoe hulle fietse het en Rooie nie, hoe hulle altyd stry oor wie Rooie gaan oplaai, hoe dit Rooie se gevoelens seermaak en hoe hulle besluit het om vir hom ook ’n fiets te koop.
Meneer Toerien steek sy pyp aan. Die seun praat vinnig. Hy vertel hoe hulle oom Jorrie gaan spreek het, hoe hulle gesukkel het om die deposito bymekaar te maak, hoe Rooie ook geld bygedra het wat hy by sy pa gekry het, hoe hard hulle almal gewerk het, hoe hulle feitlik elke sent in die blikkie gegooi het, hoeveel hulle al opgeoffer en ontbeer het.
Toe vertel Trompie van vanoggend by die fietswinkel, van wat oom Jorrie gesê het en van hoe ontsaglik graag hy wil hê sy pa moet die vorm teken.
Meneer Toerien glimlag. Hierdie seun van hom kan ’n storie goed vertel en hy beskik oor geweldige verbeeldingskrag.
“Ek gaan nie die vorm teken nie, Trompie. Julle kan die fiets nie op skuld koop nie.”
“Maar wat anders kan ons doen, Pa?”
Meneer Toerien dink eers, dan sê hy: “Die feit dat Rooie se pa vir hom iets gegee het om te bêre vir ’n fiets wys hy sal vir sy seun een koop as hy genoeg geld het.”
“Ja, Pa, maar Rooie sê sy pa is baie trots. Hy sal nooit geld van ander mense vat nie.”
“Nee,” sê meneer Toerien nadenkend, “maar miskien sal hy vir sy seun ’n fiets koop as daar sekere reëlings getref word.”
Meneer Toerien staan op en vat sy baadjie.
“Gee vir my die geld, Trompie. Ek sal vanoggend met Rooie se pa gaan gesels. Ek dink alles sal regkom. Moenie jou meer oor jou maat se fiets bekommer nie.”
Trompie se sproetgesig straal.
“Jissie, Pa,” sê hy opgewonde, “gaan alles rêrig regkom? Sal Rooie ’n fiets kry?”
“Ek dink so.”
“Ma!” skree die seun hard.
“Ja, Trompie?” kom haar stem uit die kombuis.
“Pa is die beste pa in die hele wêreld!”
Daardie selfde dag nog kry Rooie sy fiets. Die seuns weet nie watter reëlings meneer Toerien met Rooie se pa en meneer Jordaan getref het nie, maar Rooie het sy fiets!
Die Boksombende verf dit in Trompie-hulle se garage rooi.
Wanneer hulle klaar is, staan Rooie lank na die fiets en kyk. Sy oë blink en hy sê sag: “Dis darem vir jou ’n mooi ding – en hy’s myne. Dankie vir alles wat julle bere gedoen het.”
Trompie slaan hom op die rug dat hy so hik en sê: “Ons het niks gedoen nie, Rooie. Dis jou pa en my pa wat dinge reggekry het.”
’n Paar dae later kry Dawie sy fiets en dié word ook rooi geverf. Die vier maats jaag nou soos besetenes op Kwaggaberg rond.
Een middag jaag hulle reisies. Hulle wil sien wie eerste by die stasie kan kom. Hulle vlieg behoorlik met die hoofstraat af. Mense spring uit die pad en honde hardloop weg. Trompie is net-net voor.
Toe hy inswaai by die straat waarin die stasie is, gewaar hy die polisiesersant op sy swart fiets.
Trompie wil hom vinnig verbysteek, maar die sersant hou sy hand op. Die seun moet vervaard rem. Hy kom tot stilstand. Sy hart klop vinnig.
Een na die ander stop die ander drie ook. Die vier seuns hou hul fietse vas en kyk angstig na die forse figuur in blou wat voor hulle staan.
“Julle barbare!” vlieg die sersant hulle in. Trompie sluk. Blikkies hou op kou. Rooie kyk na sy skurwe voete. Dawie se oë is groot.
“Ek is sommer lus en gaan sluit julle op. Hoekom jaag julle so? Weet julle nie dis gevaarlik nie?”
Gedwee staan die vier voor die sersant.
“Ek het die reg om julle fietse af te vat! Besef julle dit?”
Die seuns het dit nie geweet nie. Wat ’n aaklige gedagte. Hulle is wasbleek.
“Het julle iets vir julself te sê?” bulder die sersant.
“Sersant …” Trompie se stem bewe. “Ons sal nooit weer so jaag nie …”
“Nooit weer nie, Oom, nooit weer so lank as wat ons lewe nie. Sowaar nie,” kom Dawie se piepstemmetjie.
“Skuus, Sersant,” mompel Rooie en Blikkies tegelyk.
“Jaag net weer so roekeloos deur die strate en ek konfiskeer julle fietse!” bulder die sersant en beveel hulle dan om koers te kry.
“Dankie,” sê Trompie en Dawie voeg piepend by: “Baie dankie, Oom. Ons sal nooit-ooit weer jaag nie, Oom.”
Hulle ry vinnig daar weg. Dan besef hulle skielik die sersant staan hulle en dophou, draai rem aan, en ry stadig en besadig verder.
Kwaggaberg se vier fietsryers met hul rooi blitse het so pas hul eerste waarskuwing by die gereg gekry.