Читать книгу Trompie Omnibus 5 - Topsy Smith - Страница 10

3

Оглавление

Die geveg duisend! (1)

Dié aand leer Trompie so ’n bietjie, maar nie veel nie. Hy kan nie konsentreër nie. Hy dink aan Jorrie Jordaan.

Hy sit met sy skoolboeke voor hom omdat sy pa gesê het hy moet sy skoolwerk doen en nie soos ’n siek hoender deur die huis ronddwaal nie.

Trompie besluit vasberade hy gaan môre by die skool reguit na Jorrie toe loop, hom aan die bors pluk, ’n paar keer hard skud sodat sy tande klap en hom dan bars toesnou: “Trek terug wat jy van my gesê het! Erken voor almal dis ’n leuen!”

Trompie hou van hierdie toneeltjie. Hy sien in sy verbeelding hoe Jorrie bleek word van die skrik en stamel: “Asseblief, Trompie. Ek vra om verskoning. Ek sal nooit weer so iets sê nie.”

En dan – Trompie glimlag tevrede by hierdie gedagte – sal hy Jorrie stamp dat hy val en sarkasties vir almal wat om hulle staan, sê: “Daar lê die Vrystaat se kastige wonderlike bakleier! Kyk watse papbroek is hy!”

Die kinders sal hom met heldeverering in hul oë aanstaar en meer as een sal hardop en vol bewondering sê: “Sjoe, Trompie darem …”

Trompie is nou in so ’n goeie bui dat hy besluit hy sal dan vir almal wys hoe edel hy is. Hy sal die bang en verskrikte Jorrie aan sy kraag optel en hard en streng sê sodat almal hom duidelik kan hoor: “Jorrie, jy het nou om verskoning gevra en belowe jy sal nooit weer so gemeen en agteraf wees nie. Ek vergewe jou. Hier’s my hand.”

Dan sal Jorrie sy hand gryp en Trompie bedank. Hy sal ook ewige vriendskap aan die Boksombende se Groot-kaptein sweer. Ja-nee, hy het sy les geleer. Hy sal nooit weer ’n boelie wees nie.

Trompie steek sy hand nou hier in sy kamer ook voor hom uit, al is Jorrie nie hier om dit te vat en te skud nie. Hy is so droomverlore, dat hy nie eens agterkom hoe verbaas sy pa en ma hom aankyk nie.

“Wat’s dit met jou, seun?” vra sy pa skielik.

“Hè, Pa?” Trompie keer terug van sy verbeeldingsvlug.

“Hoekom is daar so ’n snaakse glimlag op jou gesig en hoekom hou jy jou hand so voor jou?”

Trompie kyk verbaas na sy uitgestrekte hand. Hy gee ’n verleë laggie en wikkel sy vingers. Toe hy sien hoe vuil hulle is, laat hy sy hand vinnig sak en steek dit onder die tafel weg.

“Ek’t sommer ’n bietjie gesit en dink, Pa weet,” probeer hy ongemaklik verduidelik.

“Beslis nie oor skoolwerk nie,” sê sy ma glimlaggend. Sy ken haar seun. Hy het natuurlik oor iets aangenaams gesit en droom.

“Nee, nie eintlik nie, Ma,” sê Trompie en glimlag droogweg.

Hy wens tog so die toneeltjie wat hy in sy verbeelding gesien het, kan waar word!

Maar hy is bevrees dit sal nie gebeur nie. As hy Jorrie aan die kraag pak, sal die ou waarskynlik sommer net begin slaan. Hy is mos ’n bobaasbakleier. En dit lyk deesdae of hy Trompie opsetlik uittart – asof hy graag teen Trompie wil baklei.

Trompie besef dit is natuurlik omdat Jorrie dink hy sal hom wat Trompie is, maklik kan klop. Maar daai Vrystater moet oppas! Trompie bal sy vuiste.

Nogtans, hy wil nie eintlik baklei nie. Dis nie omdat hy voel dit is verkeerd om te baklei nie. Dit is omdat hy skrikkerig is. Nie bang nie, net skrikkerig.

Later die aand besluit Trompie hy gaan niks doen in verband met Jorrie se storie dat Orgina sy meisie is nie. Hy sal die ou nog ’n kans gee, maar as Jorrie weer iets doen wat sy naam sleg maak, sal hy hom …

Trompie sug swaar. Hy hoop maar Jorrie hou op met sy nonsens.

Trompie sal dit natuurlik nooit erken nie, maar hy is nie skrikkerig nie. Hy is bang, sommer baie bang. Die toekoms en die noodlot sal maar moet besluit of hy en Jorrie mekaar gaan takel, of nie.

En dit gebeur toe baie gouer as wat Trompie verwag – sommer die volgende dag al!

Hy sit in die klas en kom agter meer as een van die kinders kyk skelm na hom en begin dan grinnik, maar hy ignoreer dit eers. Dis mos wat hy besluit het om te doen.

Rooie sit langs Trompie, en Dawie en Blikkies sit net agter hulle. In die ander ry oorkant Trompie sit Katrien en ’n vriendin van haar. Drie banke voor Katrien sit Orgina, die meisie wat volgens Jorrie kastig Trompie se meisie is.

Trompie se volle aandag is vandag by sy werk. Hy hoop daar gaan niks gebeur wat hom en Jorrie mekaar laat takel nie. Hy wil vandag mooi lewe.

Trompie doen sy bes met die wiskunde wat hulle moet doen, maar dit is ’n ingewikkelde probleem. Hy moet uitwerk hoe lank dit sal neem om ’n groot bad vol water te tap. Water uit twee krane loop gelyktydig in die bad. Die een kraan is egter groter as die ander een oopgedraai. Om dinge nog moeiliker te maak, is daar nie ’n prop in die bad nie, en die water stroom amper net so vinnig uit as wat dit inkom.

“Dis simpelgeit. Sommer ’n mors van water,” mompel Trompie by homself. Hy dink hard, maar kan nie kop of stert van die ingewikkelde som uitmaak nie.

Hy loer om te kyk hoe Rooie met die som vorder, maar sy vriend het die stryd lankal gewonne gegee. Hy sit en teken bobbejane in sy wiskunde-oefeningboek.

Trompie stamp aan Rooie.

“Hè?” fluister sy vriend.

“Hoekom doen jy nie die som nie?”

“Ek kan nie,” fluister Rooie en voeg by, “ek dink nie ons het al die gegewens nie.”

Trompie lees die som weer versigtig deur. Dit lyk vir hom ook of hulle nie al die gegewens het nie.

Rooie hou soveel van hierdie geleerde sin wat by hom uitgeglip het dat hy nou vir almal om hom vertel hulle sukkel met die som, want hulle het nie al die gegewens.

“Bly stil en gaan aan met jou werk!” sê die jong onderwyser en kyk kwaai na Rooie.

“Ja, Meneer,” sê Rooie en teken nog ’n bobbejaan.

Trompie het nie ’n benul hoe om die som te doen nie, maar hy wil nie so gou moed opgee nie. Hy wil vandag mos mooi lewe.

Hy lees die som weer aandagtig deur en is dan ook oortuig dat hulle nie al die gegewens het nie.

Trompie steek sy hand in die lug. Die onderwyser sit by die tafel voor in die klas en doen nasienwerk. Hy kyk glad nie op nie. Trompie klap met sy vingers. Dit klink soos ’n sweepslag in die stil klas. Meer as een leerder ruk van die skrik. Trompie glimlag selfvoldaan. Jissie, wie sou nou kon dink die geluid gaan só hard wees?

Die onderwyser kyk kwaai na Trompie.

“Ek het al hoeveel keer gesê julle moenie julle vingers klap nie. As julle iets wil hê of vra, moet julle net julle hande opsteek.”

Trompie dink dit is darem sowaar onregverdig. As hy net sy hand opgesteek het, sou hy die hele periode só daarmee in die lug moes gesit het.

“Wat wil jy hê?”

“Meneer,” sê Trompie en staan op, “ek kan hierdie som nie doen nie.”

“Dit verbaas my nie,” sê die onderwyser smalend. “Jy let mos nooit op wanneer ek iets verduidelik nie.”

Trompie voel dit is ’n onregverdige aantyging. Hy let darem partykeer op. En vandag het hy beslis opgelet, want hy wil mos mooi lewe.

“Meneer, ek hét geluister – maar ek verstaan die som nie mooi nie.” Dan voeg Trompie iets by wat die onderwyser sommer baie kwaad maak: “Is Meneer seker Meneer het vir ons al die gegewens gegee?”

“Dis my sin daardie,” mompel Rooie trots vir die kinders om hom.

“Natuurlik het ek!” Dit lyk of die jong, onervare onderwyser sommer wil opspring en Trompie bydam. “Dink jy ek sal vir julle ’n som gee en dan nie al die gegewens verstrek nie?”

“Nee, Meneer,” sê Trompie vinnig. “Ek het maar net gedag daar is miskien ’n foutjie in die gegewens. Dis maar al, Meneer weet.”

“Ek maak nie sulke onnosel foute nie!” blaf die onderwyser.

Trompie voel ’n krieweling langs sy ruggraat. Hy wil vandag mooi lewe, maar hierdie nuwe onderwyser maak dit amper onmoontlik.

Hy kan die versoeking nie weerstaan nie en vra met ’n onskuldige gesig: “Is daar niemand in die bad nie, Meneer?”

“Nee, hoekom sou daar wees?”

Die jong onderwyser kyk nou aandagtig na Trompie. Hy wonder of hierdie sproetgesig met die ongekamde boskasie en die kouse wat so op sy skoene lê, besig is om met hom die gek te skeer.

“Wel, gewoonlik ís daar mos iemand in die bad wanneer daar water in is,” verduidelik Trompie.

“In hierdie geval is daar nié!”

“Reg, Meneer.” Trompie lyk so vroom en soet asof ’n suikerklontjie nie in sy mond sal smelt nie.

“Ek het maar net gewonder, Meneer, want as daar iemand in die bad was, kon die iemand mos die prop ingesit het. Dan sou die water nie so gemors word nie, Meneer weet.”

Die klas grinnik. Party kinders lag hardop.

“Stilte!”

Almal is tjoepstil.

“Dit het niks met jou te doen of die water gemors word of nie. Sit en gaan aan met jou werk!”

“Ja, Meneer,” sê Trompie. Hy voel nou nie meer so gekrenk dat die onderwyser hom onregverdig behandel het nie. Hy het darem ook sy sê gesê en so ’n bietjie pret gemaak.

Trompie sug. Die feit bly staan – hy het nie die vaagste benul hoe om die som te doen nie. Hy begin nou maar ook teken. Hy sal vir Rooie wys hy kan mooier bobbejane as hy teken.

Wanneer Trompie moeg is om bobbejane te teken, sit hy en kyk na Orgina wat skuins voor hom sit. Hy wonder hoe enigiemand kan glo hy sou haar gevra het om sy meisie te wees. Sy werk aan die som en glimlag selfvoldaan. Sy is die enigste een in die klas wat hierdie probleem kan oplos!

“Klikbek en inkruiper,” brom Trompie. En om te dink Jorrie koppel haar naam aan hom!

Trompie draai sy kop verder links en kyk na waar Jorrie sit.

Die Vrystaatse seun het lankal opgehou probeer om die som te doen. Hy skryf of teken nou op stukkies papier wat hy dan vinnig oor sy skouer vir die kinders agter hom aangee. Hulle giggel met hul hande voor hul monde wanneer hulle daarna kyk. Dan loer hulle vlugtig na Trompie en Orgina en proes weer van die lag.

Trompie weet Jorrie is besig om iets oor hom en Orgina te skryf of te teken. Hy maak maar asof hy nie daarvan weet nie, want hy kan nou niks aan die saak doen nie, al wil hy ook.

Maar hy wil nie. Hy het mos besluit as Jorrie weer ’n ding probeer, gaan daar moeilikheid wees. Hierdie besigheid van hom en Orgina is iets wat Jorrie vantevore al gedoen het, so dit tel nie.

Pouse wys ’n paar kinders vir Dawie, Rooie en Blikkies die tekeninge wat Jorrie van Trompie en Orgina gemaak het.

Daar is een met twee harte wat deur ’n pyl deurboor word. Onder die een hart is geskryf: Hart nommer 1 – Trompie s’n en onder die ander een: Hart nommer 2 – Orgina s’n.

“Maar wat dit so erg maak,” vertel Dawie later ontsteld, “is wat Jorrie reg onderaan geskryf het: “Hart nommer 1 is maar ’n bang hart!”

“Hy sê jy’s bang, Trompie – bang om teen hom te baklei!” sê Rooie.

“Ek is nie bang nie,” sê Trompie. “Ek het julle mos vanoggend gesê: laat hom net met iets nuuts begin, dan sal julle ’n ding sien. Hierdie Orgina-stories is nou al ’n ou ding.”

Rooie, Dawie en Blikkies kyk skepties na Trompie. Dit lyk sowaar vir hulle of hy regtig bang is.

Daardie selfde middag ná skool gebeur die “iets nuuts” waarvoor Trompie gewag het!

Trompie, Rooie en Blikkies ry op hul rooi fietse huis toe. Dawie is nie by hulle nie. Hy moet eers by die koshuis langs gaan om vir die matrone ’n boodskap van sy ma te gee.

Trompie gesels oor alles onder die son. Hy probeer maak of hy nie opmerk hoe die ander skoolkinders lag wanneer hulle hom sien nie, maar Rooie en Blikkies gluur die spul vies aan.

By die straathoek waar die drie in verskillende rigtings moet afdraai, spreek hulle af om ná ete in Rooie se buitekamer te ontmoet. Hulle sal dan besluit wat hulle vanmiddag gaan doen. Hulle gaan sommer vir Dawie ook haal. Dis belaglik om nou al vir die eksamen te begin leer en hoe gouer Dawie dit besef, hoe beter vir hom. Anders gaan hy mos alles vergeet het teen die tyd dat die eksamen begin.

’n Rukkie ná ete sit Trompie af na Rooie se huis toe. Dit is ’n pragtige, wolklose middag. Hy wil voorstel dat hulle die grotte in die kloof gaan verken. Dalk kry hulle verborge skatte of sulke goed daar. Niemand het dit nog gewaag om diep by die grotte in te kruip nie.

Trompie fluit toe hy naby Rooie se buitekamer kom. Hy hoor Rooie se fluit, dan Blikkies s’n, en dan ook Dawie se fyn piepfluitjie. Trompie frons. Dawie s’n klink nog meer pateties as gewoonlik. Hulle sal hom moet leer om ordentlik te fluit soos dit ’n lid van die Boksombende betaam.

Trompie is bly Dawie is darem ook hier. Dit beteken hopelik hy glo nou sy Grootkaptein se teorie dat ’n mens nie te vroeg vir die eksamen moet begin leer nie.

Trompie klouter deur die buitekamer se venster.

“Haai,” sê hy sonder om vir sy vriende te kyk. Sy aandag is by die stoel wat hy omswaai sodat hy agterstevoor daarop kan gaan sit.

“Haai,” kom Rooie se growwe stem. Hy klink vies.

“Haai,” hoor Trompie Blikkies se lui stem. Hy klink ook vies.

“Haai,” kom ’n piepstem en daar is duidelik ’n snik in, asof Dawie huil of gehuil het.

Trompie kyk om vanwaar hy die stoel regsit en sien nou eers wat aangaan. Rooie is besig om Dawie se oog versigtig met ’n nat waslap af te vee. Blikkies hou sy hand op Dawie se hare en maak aanhoudend simpatieke geluide.

Trompie voel hoe sy bene lam onder hom word. Hy sak verdwaas op die stoel neer. Hy kan sy oë nie glo nie. Dawie se een oog is amper toegeswel – dit gaan binne ’n uur of twee ’n prag van ’n blouoog wees – en sy hare is vol kougom gesmeer.

“Wat … wat het gebeur?” vra Trompie. Toe hy die vraag vra, weet hy sommer wat die antwoord gaan wees. Dawie het mos eers by die koshuis langs gegaan.

“Jy vra nog?” sê Rooie en kyk kwaai na Trompie. “Kan jy nie sien wat gebeur het nie?”

“Is jy blind?” mompel Blikkies en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog by die venster uit.

Rooie en Blikkies lyk briesend kwaad vir Trompie. As hy ferm opgetreë het, sou Dawie nie so ’n opstopper gekry het nie, en sou sy hare nie so met kougom betakel gewees het nie.

“Hoe het dit gebeur?” vra Trompie simpatiek. Hy kom sit langs Dawie op die bed.

Dawie kyk na Trompie. Hy snik nog so effens. Daar swem trane in die oog wat nie toe is nie.

“Dit was daai boelie van ’n Jorrie,” sê Dawie in ’n klein stemmetjie. Dit lyk of hy weer wil begin huil.

“Ek het so gedink,” sê Trompie sag. “Ek wil weet wat presies gebeur het.”

Dawie begin snikkend vertel. Hy het by die koshuis se gronde ingery om sy ma se boodskap vir die matrone te gee. ’n Klomp seuns het daar rondgedrentel en toe Dawie sy fiets neersit, het hulle nader gestaan. Jorrie Jordaan was heel voor en sê toe: “Dis die lelikste fiets wat ek nog ooit gesien het.”

Dawie vertel hy het probeer om nie notisie van Jorrie en die ander ouens te neem nie, want hy was maar skrikkerig.

Toe vertel een seun vir Jorrie die vier lede van die Boksombende se fietse is almal só rooi geverf, en Trompie is hul kaptein.

“Daai askoek wat so verlief op Orgina is!” het Jorrie smalend gesê.

Dawie was teen daardie tyd al by die koshuis se ingang, maar hy het gevoel hy moet Jorrie antwoord. Hy kon nie anders nie. Hy het omgedraai en vies gesê: “Trompie is nie ’n askoek nie, en hy is nie verlief op Orgina nie. Dis iets wat jy uit jou duim gesuig het, Jorrie.”

Toe gaan Dawie met ’n astrante wipstappie by die koshuis in. Hy het sy sê gesê, maar sy hart het wild geklop. Hy was baie bang.

Trompie is bleek. Hy sit met gebalde vuiste. Hy kyk ingedagte na sy ingeduikte skoenpunt. Hy voel die tyd het aangebreek – die tyd vir die geveg duisend.

“En toe, Dawie?” vra hy sag.

“Ek het vir die matrone die boodskap gegee en is toe weer uit. Maar toe sak my hart in my skoene. Jorrie en ’n paar van sy trawante het nog steeds daar by my fiets gestaan. Ek het gehoop hulle sou weg wees wanneer ek uitkom, maar hulle het vir my gewag. Ek het sommer geweet Jorrie gaan met my sukkel.”

Dawie aarsel ’n oomblik. Die trane blink weer in sy een oog. Die ander een is nou feitlik heeltemal toegeswel.

“Ek het hom en die ander ouens geïgnoreer, en was verlig toe ek sien hulle neem ook nie juis notisie van my nie. Dis eers toe ek op my fiets wou klim dat ek sien daar’s fout. Al twee my bande was pap – en julle weet natuurlik wie dit gedoen het!”

Trompie, Rooie en Blikkies knik. Ja-nee, dit kos nie veel verbeeldingskrag om dit uit te werk nie.

“Toe kyk ek reguit na Jorrie en sê vir hom: ‘Het jy my wiele afgeblaas?’ Toe kyk hy met ’n grynslag op sy bakkies na my en sê: ‘Ja, en wat daarvan?’”

Dawie snik. Dit is stil in die buitekamer, behalwe vir die gedempte snikgeluide. Trompie, Rooie en Blikkies is al drie bleek. Rooie hou die nat waslap weer op Dawie se seer oog en Blikkies probeer van die kougom uit sy hare kry.

“Wat het jy toe gesê, Dawie?” vra Trompie. Sy hart bons. Vandag is die dag.

“Ek het net ‘O’ gesê,” antwoord Dawie. “Wat anders kon ek sê? Hy is mos heeltemal te groot en sterk vir my om hom te probeer pak.”

Trompie-hulle ril by die gedagte aan Dawie wat vir Jorrie te lyf gaan – maar op die ou end is dit presies wat hy gedoen het!

Dawie vertel nou hy het sy fiets se pomp toe maar gevat en die bande begin oppomp. Die spul seuns het hom laggend staan en dophou. Hy was net mooi klaar met die tweede band en wou sy pomp wegsit, toe sê Jorrie: “Haai, jy! Japsnoet!”

Dawie het kil na Jorrie gekyk en gesê: “Ja?”

“Verbeel ek my, of het jy my netnou ’n leuenaar genoem?”

Dawie het Jorrie dadelik geantwoord dat hy hom dit moes verbeel het. Hy kan nie onthou dat hy enigiemand ’n leuenaar genoem het nie.

Maar toe wys Jorrie met ’n groot, growwe hand na die ander ouens en sê: “Hulle’s my getuies” en die seuns het almal soos een man kop geknik.

Jorrie het verduidelik dat Dawie hom indirek ’n leuenaar genoem het, toe hy gesê het Jorrie suig dit uit sy duim dat Trompie en Orgina kêrel en meisie is.

Dawie wou verduidelik dat hy dit nie só bedoel het nie, maar dit is tevergeefs. Jorrie wou hom só uittart dat hy later uit skone frustrasie sy hande teen die groot seun sou lig.

Party van die ander het Dawie jammer gekry en gesê Jorrie moet die outjie uitlos, maar hy wou nie hoor nie.

“Hy’t my ’n leuenaar genoem,” het hy bars gesê, “en niemand noem Jorrie Jordaan so iets nie.” Hy het woes na die klomp gegluur en bygevoeg: “Julle beter nou stilbly. Of as een van julle wil uitstaan – kom dan!”

Dawie het vol hoop na die seuns gekyk, maar niemand wou uitstaan nie. Inteendeel, hulle het almal effens teruggestaan en gesorg dat hulle nie Jorrie se oë vang nie.

“Los jou fiets en kom hier!” het Jorrie toe skielik beveel.

Die arme Dawie het maar so gemaak en met bewende kniekoppe nader gestaan.

“Wil jy baklei?”

Dawie het Jorrie verseker dat hy nie wil nie. Dit was die laaste ding waarvoor hy nou lus was.

“Jy is net so ’n lafaard soos jou papbroek van ’n vriend, Trompie!” het Jorrie smalend gesê.

“En toe?” vra Trompie, Blikkies en Rooie byna gelyk.

Dawie byt op sy onderlip hier waar hy in Rooie se buitekamer sit.

“Toe sien ek rooi en skree hard vir hom …”

Dawie bly stil. Die stilte in die kamer is intens.

“Wat … wat het jy geskree?” vra Trompie.

“Staan agter jou appels, jou boelie!”

“Rêrig?” vra Trompie verstom.

“Rêrig,” sê Dawie trots.

Trompie-hulle kyk glimlaggend na hul vriend. Dat Dawie nou só dapper kon wees! Hy het mos nie ’n kat se kans teen die Vrystaat se bobaasvegter nie.

Dawie vertel hoe Jorrie eers effens verbaas was, en toe laggend sy groot vuiste voor hom uitgesteek het.

“En toe bevlieg ek hom,” sê Dawie opgewonde. “Ek het woes en hard geslaan.”

Trompie-hulle sit gretig en luister. Dawie sê liewer niks van die feit dat hy skoon mis geslaan het nie.

“En toe sien ek skielik net sterretjies,” gaan hy voort. “Jorrie se groot vuis het my op die oog getref en ek het geval. Ek het miljoene sterretjies gesien.”

Dan vertel Dawie sag en verneder hoe Jorrie hom weer terug op sy voete gepluk, en die kougom toe oral aan sy hare vasgeplak het.

Party van die seuns het gesê dis lelik om Dawie so te behandel, maar Jorrie het hulle net ’n vuil kyk gegee en toe bly hulle tjoepstil.

“En toe stamp hy my dat ek oor my fiets val,” vertel Dawie verder. “En toe sê Jorrie: ‘Gaan sê vir jou vriend, Trompie, ek is reg vir hom, maar ek weet hy’s te bang om my aan te vat’. Toe gryp ek my fiets en laat spat – en hier sit ek nou met ’n toegeswelde oog en kougom in my hare.”

Die vier seuns is stil. Elkeen sit met sy eie gedagtes.

Rooie wag vir Trompie om eerste te praat. Hy besluit egter as Trompie – die beste bakleier onder hulle vier, en ook die Boksombende se Grootkaptein – nog steeds niks gaan doen nie, sal hy wat Rooie is self vir Jorrie uitdaag, al slaan die vent hom ook dood.

Blikkies sit dieselfde en dink. As Trompie nie iets doen nie, gaan hy! Hy is nie ’n ou wat eintlik kan baklei nie, maar hy sal Jorrie aandurf. Hy moet terugbetaal word vir hoe hy die arme klein Dawie mishandel het!

Trompie besluit die tyd het nou aangebreek om Jorrie aan te vat. Hy het nie meer ’n keuse nie. Hy moet dit nou doen. Hy het mos gesê hy wag net tot Jorrie weer begin moeilikheid soek – en nou hét hy mos. Hy het Dawie lelik seergemaak toe Dawie homself probeer verdedig het.

Trompie voel skrikkerig, maar tog ook vasberade! Hy weet nie wat die uiteinde van die geveg gaan wees nie, maar hy gaan sy bes doen om vir die boelie ’n loesing te gee wat hy nooit sal vergeet nie.

Dawie, Blikkies en Rooie kyk aandagtig na Trompie. Hy staar fronsend na sy ingeduikte skoenpunt. Dan sê hy skielik: “Kom, ouens!” en staan op.

Die drie kyk vlugtig na mekaar en glimlag.

“Waarheen gaan ons?” vra Blikkies net om seker te maak hulle raak nie verniet bly nie. Netnou wil Trompie net hê hulle moet almal kloof toe gaan.

“Ons gaan koshuis toe. Dis tyd om met Jorrie af te reken!”

“Mooi so, Trompie!” sê Rooie opgewonde en slaan hom hard op die skouer.

“Ditsem, Trompie!” sê Blikkies geesdriftig. “Jy gaan daai ou ’n lekker les leer!” Blikkies spring vinnig by die venster uit. Hy voel verlore sonder ’n grashalmpie in sy kieste. Hy gaan gou een haal.

“Ek het daai boelie gewaarsku toe ek daar wegry,” sê Dawie en sy een oog straal. “Ek het gesê: ‘Wag tot Trompie hiervan hoor, dan sal jy ’n ding sien!’ En nou gaan hy!”

Trompie is die Boksombende se held. Sy drie vriende verseker hom hy het nie ’n bang haar op sy kop nie. Blikkies moedig hom aan terwyl hy weer by die venster inklim. Wag maar tot hy vir Jorrie takel. Daai vent sal wens hy is weer terug in die Vrystaat.

Trompie kyk mismoedig by die venster uit. Hy wens hy kan ook so optimisties oor die geveg voel. Hy is nie lus vir die storie nie, maar dit móét gedoen word. Hy hoop maar vir die beste.

“Nou kom ons waai,” sê hy en is vies vir homself omdat sy stem effens bewe. Hy hoop maar net sy vriende het dit nie gehoor nie. Trompie probeer vasberade venster toe stap, maar hy voel soos ’n lam wat slagpale toe gelei word.

“Wag bietjie,” sê Dawie skielik.

Trompie is meer as bereid om te wag. Hy staan stil en kyk na Dawie. Rooie en Blikkies wat intussen opgestaan het om saam met Trompie koshuis toe te loop, gaan weer sit.

Dawie sê nou hy het daar by die koshuis gehoor die kinders gaan ná studietyd almal in ’n groep dorp toe stap om inkopies te doen. Dit beteken Jorrie sal nie by die koshuis wees nie – en Trompie sal hom nie in die dorp kan bykom nie, want daar sal mos ’n onderwyser by die koshuiskinders wees.

Hierdie nuus laat Trompie beter voel. Hy kom sit weer wydsbeen en agterstevoor op die stoel.

Die Boksombende besluit vinnig hoe en waar Trompie die boelie gaan uitdaag. Aangesien dit nie vandag kan nie, moet dit môre gebeur. Môre is die groot dag!

“Stuur vir hom ’n briefie in die klas waarin jy hom uitdaag,” stel Blikkies vir Trompie voor. “Dan spreek julle af oor ’n tyd en ’n plek vir môremiddag.”

Dawie en Rooie dink dit is ’n goeie voorstel.

Trompie knik net met sy kop om te wys hy stem saam. Hy praat nou nie veel nie.

Dié middag gaan verken die vier vriende nie die grotte in die kloof nie. Dawie gaan huis toe sodat sy ma sy oog kan dokter en hom kan help om sy kop te was. Sy sal probeer om soveel moontlik van die kougom af te kry.

Hy vertel vir die ander hy gaan nie vir sy ma sê wie hom so verniel het nie. Dis onnodig. Trompie gaan die ou mos goed op sy plek sit. Trompie sluk swaar toe hy hierdie woorde hoor. Hy hoop maar net hy sal dit regkry.

Trompie is skielik haastig. Hy moet by die huis kom sodat hy sy taktiek vir die geveg fyn kan beplan. En dan wil hy nog gaan oefen ook – voetwerk en al sulke soort dinge.

Trompie Omnibus 5

Подняться наверх