Читать книгу Trompie Omnibus 5 - Topsy Smith - Страница 8

2

Оглавление

Wat die mense sê

In die vervalle ou waenhuis gaan sit die vier seuns op houtkissies. Trompie staar ingedagte voor hom uit. Dit is ’n amptelike vergadering van die Boksombende en hy hoop die ander drie besef hoe plegtig hierdie geleentheid is.

Trompie glo dit beïndruk sy vriende as hy so ingedagte voor hom sit en en uitstaar. Dit is egter glad nie die geval nie.

Dawie probeer om Boesman, wat naby sy kissie neergeplof het, met sy skoen te kielie. Rooie sit gemaklik en probeer weer sy tone wikkel. Blikkies sit-lê op sy kissie. Net sy sitvlak is op die kissie – sy bene is lank voor hom uitgestrek, sy voete rus op die grond terwyl sy skouers, nek en kop teen die muur leun. Sy oë is toe en sy bewegende kake is al wat wys hy slaap nie vas nie.

Trompie voel hy het nou lank genoeg stil gesit en hulle tyd gegee om diep onder die indruk van die plegtigheid van hierdie byeenkoms te kom. Hy gaan die amptelike vergadering nou amptelik open. Hy staan op.

“Manne van die Boksombende,” sê hy sedig. Dawie kielie Boesman nie meer nie. Blikkies hou aan kou, maar sit effens meer regop. Hy maak sy een oog oop en loer na Trompie. Rooie wikkel nie meer sy tone nie.

Trompie moet altyd eers tel of al die Boksombende se lede teenwoordig is.

Dit is natuurlik belaglik, want daar is maar net vier van hulle en hy kan mos sien al vier is daar, maar hy doen dit al jare lank by hul vergaderings en kan nie sien hoekom hy nou daarmee moet ophou nie. Nee, hy moet hulle tel.

Hy beduie met ’n vuil wysvinger na Blikkies, dan na Rooie, Dawie en laaste na homself. So ja, nou is hy tevrede. Al vier bendelede is teenwoordig.

“Ons is voltallig,” sê hy plegtig.

“Jissie, Trompie, jy kon dit mos gesien het sonder om ons te tel,” mompel Dawie.

“Ek het nie jou mening gevra nie!” snou Trompie hom toe. “En wat het jy my genoem?”

“Skuus, Kaptein,” mompel Dawie.

Trompie is altyd gesteld daarop dat hulle hom op ’n amptelike vergadering as Kaptein moet aanspreek. Hy het daardie eer en titel jare gelede verdien toe hulle nog maar in graad vier was en die Boksombende gestig het, deur te bewys hy hardloop die vinnigste, swem die beste, deps die meeste vrugte uit oom Stravrinos se vrugteboord, baklei die beste en spoeg die verste.

“Ons vergader vanmiddag hier,” begin Trompie dramaties, “hier onder die blou hemel, omdat een van ons glo iets op die hart het.”

Dawie dink dit is gepas om sy hand nou op sy hart te sit en hy doen dit. Hy staar strak voor hom uit.

“Probeer jy miskien snaaks wees?” vra Trompie kwaai toe hy die gebaar sien.

Nee, skud Dawie sy kop. Hy probeer nie snaaks wees nie. Hy lyk verbaas dat Trompie so iets kan vra. Hy het sy hand mos maar net op sy hart gesit. Dis al.

“Die een wat …” begin Trompie.

“Iets op die hart het,” maak Rooie sy sin klaar.

Trompie kyk agterdogtig na Rooie. Hy wonder of die ou miskien met hom – die Boksombende se Grootkaptein – probeer gekskeer, maar Rooie kyk met ’n onskuldige gesig na Trompie.

“Ja, die een wat iets op die hart het,” sê Trompie kwaai. “En ek soek nie nóg tussenwerpsels nie!”

“Watse goed?” vra Blikkies met ’n grinnik.

Trompie gluur woes na sy vriend met die kakebene wat so ritmies op en af beweeg.

Dan probeer Trompie weer. “Soos ek sê, ons vergader hier …”

“Onder die blou hemel,” maak Rooie weer sy sin klaar.

“Ja, onder die blou hemel, en sal julle nou stilbly!”

“Ek het nie ’n woord gesê nie, Kaptein,” kla Dawie gegrief.

Trompie besluit om liewer al die opmerkings te ignoreer. Hy wil nou uitvind wat die mense van hom sê.

“Ons vergader vandag hier,” sê hy en voor Rooie of een van die ander dit kan sê, voeg hy vinnig by, “onder die blou hemel. Ons is bymekaar om te hoor wat een van ons lede op die hart het. Hy beweer dis iets wat die mense van my sê. Die vergadering is nou oop en die lid mag sê wat die mense van my sê. Staan op, Dawie, en sê jou sê.”

Trompie gaan sit. Dawie is nie lus vir hierdie lawwe lollery met ’n amptelike vergadering nie. Hy wil nie opstaan nie. Hy wil sommer net sit en vertel wat hy gehoor het.

“Ek gaan nie staan nie,” sê hy saaklik. Trompie kyk hom vies aan.

Dawie ruk hom op en sê: “Noudat ek oor die hele ding dink, weet ek nie eers of ek moet sê wat ek gehoor het nie …”

“Wat jy van Trompie gehoor het?” vra Rooie.

“Ja.”

“Wat die mense van hom sê?” wil Blikkies weet.

“Ja.”

Trompie vergeet skoon om Dawie as Grootkaptein te beveel om op te staan. Hy vergeet heeltemal van die kastige amptelike vergadering. Hy wonder wat Dawie gehoor het, en hoekom hy nou skielik nie weet of hy moet sê wat dit is nie.

Rooie en Blikkies wonder ook. Die drie kyk aandagtig na Dawie. Hy staar fronsend voor hom uit, maar loer darem so af en toe vlugtig na hul kant toe om te sien watter indruk sy kastige diep dinkery op hulle maak.

“Hoekom wil jy nie sê wat jy van my gehoor het nie?” vra Trompie.

“Want ek’s ’n bietjie bang.”

“Hoekom is jy bang?”

Blikkies is nou wawyd wakker en loer nie meer net deur een oog vir sy vriende nie. Hy sit kiertsregop op die kissie. Trompie en Rooie stoot hul kissies effens nader aan Dawie.

“Sê nou vir ons hoekom is jy bang,” dring Trompie aan.

“Ek is bang omdat die ou so groot en sterk is – en oor hy so goed kan baklei.”

“Watter ou?” vra Trompie.

“Die ou wat iets van jou gesê het.”

“Is hy een van die mense?” wil Rooie nou weet.

“Een van die mense wat dinge van my sê?” vra Trompie en sy vuiste is gebal.

“Ja.”

Dawie geniet elke oomblik hiervan. Hy is nou behoorlik in die kollig. Trompie, Rooie en Blikkies skuif nog nader aan hom.

Trompie is moeg om alles so uit Dawie te moet trek. “Vertel ons nou reguit wat die ou van my gesê het en kry klaar!” sê hy en kyk kwaai na Dawie.

“En ook wat die ander mense sê,” voeg Rooie by.

“Maar ek sê julle mos – ek’s bang.”

“Vir wat? Ek sal jou mos beskerm.” Trompie stoot sy bors effens uit.

Dawie kyk peinsend na Trompie. Hy wonder of die uiteinde van hierdie hele affêre nie nog sal wees dat Trompie en die ou mekaar eendag met die vuiste gaan takel nie. As dit gebeur, sal dit ’n goeie ding wees, want die ou het nodig dat iemand hom op sy plek sit.

Dawie besluit om alles te vertel. Hy maak eers effens keel skoon. Sy drie vriende hou hom aandagtig dop.

“Julle ken mos vir Jorrie Jordaan, nè?” begin hy.

Die seuns knik. Hulle ken hom. Trompie se hart word koud. Hy bal sy vuiste nog stywer. Jorrie is ’n boelie wat ’n paar weke gelede na hul skool toe gekom het. Hy is hier in Kwaggaberg se koshuis, en kom glo van die Vrystaat af.

Jorrie is groot en fris. Hy en Trompie het sommer van die eerste dag af al niks van mekaar gehou nie. Hulle vermy mekaar. Dit is asof hulle aanvoel dat hulle uit mekaar se pad moet bly, anders gaan hulle bots.

Dawie vertel nou opgewonde dat Jorrie ’n storie versprei waaroor al die kinders lag en praat. Hy wat Dawie is, voel gekrenk daaroor en Rooie en Blikkies sal ook nie daarvan hou nie, want Trompie is mos hul vriend en iets wat hom raak, raak hulle ook.

“Waaroor lag en praat almal so?” vra Trompie.

“Oor wat Jorrie vir hulle vertel.”

“En wat is dit?” wil Trompie weet.

“Wat vertel hy?” brom Rooie.

“Sê jou sê en kom uit met die ding,” sê Blikkies en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog uit.

“Wat het Jorrie Jordaan van my gesê?” dring Trompie aan om te weet.

“Hy’t gesê …” Dawie verstaan die kuns om ’n storie te vertel en so lank moontlik uit te rek. Hy bly net op die regte oomblik stil.

“Ja? Wat het hy gesê?!”

Dawie besluit die tyd het nou aangebreek om met die vreeslike ding uit te kom. “Hy’t gesê … Trompie het ’n meisie!”

Dis uit. Trompie se eerste reaksie is een van verligting. Dit is darem nie so erg soos wat hy verwag het nie. Dis nie genoeg rede om teen Jorrie te baklei nie. Trompie wil dit nie graag doen nie, want daai ou is baie groot en sterk.

“Aag,” sê Trompie en gee ’n verleë laggie, “hy’s sommer simpel. Dis mos nie waar nie.”

“Dís wat dit so erg maak,” sê Dawie verontwaardig. “Jorrie vertel vir almal jy is so verlief soos ’n afkop hoender, en jy loop deesdae gedurig met ’n skaapgesig rond.”

“En wie’s die meisie op wie Trompie so verlie- … verdinges is?” Rooie weier om die woord “verlief” oor sy lippe te laat kom.

“Ja, dis wat ek ook wil weet,” sê Trompie. “Wie is kastig my meisie?”

Nou speel Dawie sy troefkaart. Hy sê in ’n swaar, hol stem: “Orgina Gous.”

Trompie kry eerste beheer oor sy stembande terug.

“Wá-át?”

“Ja, sien jy nou hoekom die affêre so ernstig is? Jorrie is besig om jou wat Trompie is vir die grootste gek op aarde uit te maak.”

Die Boksombende sit en dink aan Orgina Gous. Sy is nie net die lelikste meisie in hul klas nie, maar ook die lelikste in die hele skool. Hulle vier het lankal so besluit.

Die seuns in hul skool hou niks van Orgina nie. Nie omdat sy nie mooi of amper mooi genoem kan word nie, maar omdat sy ’n klikbek is en so by al die onderwysers probeer kruip.

En om te dink hierdie meisie se naam word nou aan Trompie s’n gekoppel! Hy is sommer lelik vies.

“Dis belaglik!”

“Natuurlik is dit!” stem Dawie saam. “Jy moet iets aan die saak doen. Onthou, dit raak ons ook. Ons is jou vriende.”

“Ja, en ons wil nie hê ons vriend moet ’n meisie hê nie,” ondersteun Rooie vir Dawie.

“Veral nie ’n meisie soos Orgina nie,” gooi Blikkies sy stuiwer in die armbeurs.

Trompie voel hy moet iets doen, maar hy is half skrikkerig. Hy het gehoor Jorrie Jordaan baklei baie goed. In die Vrystaatse dorpie waar hy vandaan kom, het hy feitlik elke dag met ouens baie groter en ouer as hy baklei. En hy het glo altyd gewen – sommer maklik gewen. Altans, dis wat Jorrie vir die ouens in die koshuis vertel. Hy het blykbaar later glad nie meer baklei nie, want daar was niemand in die skool oor wat dit wou waag om hom aan te durf nie – selfs die groot matriekseuns het vir hom geskrik.

Toe Trompie dié stories aan die begin van die kwartaal hoor, het hy sommer reguit vir sy drie vriende gesê hy glo dit nie.

Maar Trompie is nou nogtans bekommerd, want ’n mens weet nooit nie. Al is net die helfte van Jorrie se stories waar, is hy nog steeds ’n gevaarlike kalant. Trompie sug. Die ou wêreld is darem maar moeilik.

Dawie, Blikkies en Rooie hou hul Grootkaptein aandagtig dop. Hulle voel effens teleurgesteld. Dis mos ’n vreeslike belediging om te sê ’n ou het ’n meisie – en dan boonop nog ’n meisie soos Orgina Gous. Hulle het gedink Trompie sal sommer dadelik opvlieg en sê: “Kom, ouens, ek gaan daai Jorrie op sy plek sit!” Hoekom doen hy dit nie?

“Besef jy wat die mense sê?” vra Blikkies stadig en duidelik vir ingeval dit nog nie tot Trompie deurgedring het nie. “Orgina is jou meisie!”

“Ja, man,” snou Trompie hom toe. “Ek is mos nie doof of dom nie.”

“So wat gaan jy daaraan doen?” vra Dawie reguit.

“Aag wat,” sê Trompie en gee ’n verleë laggie, “Jorrie het dit seker nie ernstig bedoel nie. Hy’t sommer ’n grap gemaak.”

“’n Grap?” Dawie se skril stem is nog skriller. “Hy vertel hierdie nonsens vir die hele skool, en almal praat agter jou rug en lag vir jou! Noem jy dit ’n grap?”

Rooie en Blikkies sit reg om vir Trompie te sê hy is ’n bangbroek as hy dit nog steeds ’n grap noem.

“Ek sal hieroor moet nadink,” sê Trompie hooghartig. “Ek sal julle later meedeel wat ek besluit het om te doen.”

Die Grootkaptein se drie manskappe is ontevrede. Dit lyk mos of hy bang is vir die boelie van die Vrystaat.

“Maar jy gaan definitief iets doen?” vra Blikkies nou.

“Ja, ek gaan. Maar ek sal nog besluit wát,” sê Trompie sag. “Ek gaan Jorrie dophou en kyk of hy met my sukkel.”

“Hy het mos klaar met jou gesukkel,” sê Dawie.

“En hy’t ’n ander keer ook al met jou skoor gesoek,” sê Rooie. “Onthou jy?”

Trompie en die ander dink nou aan hoe Jorrie al met hom gesukkel het. Jorrie het die eerste paar weke uit Trompie se pad gebly, maar toe hy sien Trompie vermy hom, het hy al meer van ’n kaartmannetjie geword, want hy het geglo Trompie is bang vir hom.

Eendag in die sangles het iemand uit ’n ry agter Trompie s’n hom met ’n lemoenskil agter die oor gepiets. Trompie het hard “Eina!” geskree en vinnig omgeswaai. Die ouens agter hom het met onskuldige gesigte na hom gekyk – almal behalwe Jorrie. Daar was ’n uitdagende grynslag op sy gesig, amper of hy wou sê: “Ek het dit gedoen, en wat daarvan?”

Trompie het besluit om die voorval te ignoreer.

’n Rukkie later is Trompie se fietsbande eendag afgeblaas. Twee graadagts het fluisterend vir hom vertel hulle het Jorrie daar by sy fiets gesien. Trompie het besluit hulle kon miskien ’n fout gemaak het, en nie vir Jorrie oor sy twee pap bande gekonfronteer nie.

Toe word Trompie eendag op pad klas toe in die gang gepootjie. Hy het gestruikel, maar betyds omgeswaai om te sien wie dit gedoen het. Hy het in Jorrie se gesig vasgekyk.

“Amper stof gevreet, nè?” het Jorrie smalend gevra. Trompie het vinnig besluit dit was maar net ’n grap en verleë geglimlag en aangestap.

Hy was bly sy drie vriende was nie daar in die ry om te sien hoe hy gepootjie is nie. Hulle sou miskien gedink het hy is bang vir Jorrie.

Maar hier is die volgende ding nou: Jorrie vertel vir almal Orgina Gous is Trompie se meisie.

Die Boksombende se Grootkaptein bal sy vuiste. Hy moet iets aan die saak doen, maar wat? Jorrie is vervlaks groot en sterk, hoor!

“Ek sal nog sien wat ek sal sien,” sê Trompie. Hy probeer geheimsinnig lyk, asof hy groot planne het, planne wat hy nie nou hier wil uitblaker nie.

En met hierdie stelling moet Dawie, Rooie en Blikkies tevrede wees. Noudat hulle ernstig oor die saak nagedink het, neem hulle Trompie nie kwalik dat hy effens skrikkerig vir Jorrie is nie. Die ou het dan elke dag by die skool in die Vrystaat baklei, en élke slag gewen, totdat hy later niks meer teenstanders oorgehad het nie.

Die amptelike vergadering is verby. Die vier seuns stap tot by die dam in die kloof. Hulle voel nie meer so uitbundig nie. Dit is asof die swaar wolk in die lug oor hul harte ook hang. Hulle besef daar sal iets omtrent Jorrie gedoen moet word.

By die dam steek elkeen ’n voet in die water, maar dis yskoud. Dit laat hulle nog meer mismoedig voel. Hulle sal eers oor ’n hele paar weke kan begin swem.

Om sake te vererger, word die donker wolk in die lug al hoe swaarder en dan begin die druppels val. Die vier seuns en die hond reën papnat.

Trompie kom koud, nat en vies by die huis aan. Boesman draf stert tussen die bene reguit kombuis toe. Daar is mos ’n warm stoof.

Trompie gaan by die voordeur in. In die portaal is daar ’n kapstok. Trompie staan altyd in die voordeur en gooi sy pet dan dat dit netjies op een van die penne val. Hy gooi nooit mis nie.

Hy maak nou weer so – maar dis mis! Die pet swaai een keer om die pen en val dan op die vloer.

“Heng, dit ook nog,” sê Trompie mismoedig. Alles loop vanmiddag verkeerd. Hy was vanoggend net een keer in die moeilikheid by die skool, maar vanmiddag, vandat Dawie hulle van Jorrie se stories oor hom en Orgina vertel het, loop alles sommer net skeef. Die water is nog te koud om te swem, hulle het natgereën, en nou kan hy nie eens sy pet oor die kapstok gooi nie. Boonop gaan sy ma seker ook nog met hom lol omdat hy so nat is.

“Trompie!”

Hy sug. Hy dink skaars aan haar, dan roep sy hom.

“Ja, Ma, ek kom.”

Trompie hang sy pet aan die kapstok op. Hy wil dit nie weer probeer gooi nie, want dit sal tog net weer mis wees. Ja-nee, die ou wêreld bly maar moeilik.

Hy stap sitkamer toe waar hy sy ma met iemand hoor praat.

Hul buurvrou, mevrou Gerritse, kuier by sy ma. Die twee vroue kyk verbaas na Trompie wat papnat is. Daar vorm ’n poeletjie water om hom op die vloer.

“Middag, Tannie,” groet Trompie die buurvrou, kyk dan na sy ma en vra: “Ma het geroep?”

“Ja, maar wat makeer jou?”

“Niks nie, Ma.”

“Hoekom is jy so nat?”

“Ons was in die kloof, toe vang die reën ons op pad terug.”

“Jy sal koue vat, Trompie. Gaan droog jou af en trek ander klere aan. Dan kan jy Katrien ’n bietjie gaan geselskap hou. Sy sit en lees in die studeerkamer.”

“Ja, Ma,” sê Trompie sugtend. Hy is nie juis lus vir Katrien nie, maar wat kan hy nou doen?

Katrien is ’n sproetgesigmeisie met twee lang vlegsels. Op laerskool het sy net voor Trompie gesit en dit was altyd vir hom groot pret om haar vlegsels te trek. Katrien-hulle woon al jare lank langs die Toeriens, en sy kom eintlik goed met Trompie en sy vriende oor die weg.

Sy was eens op ’n tyd selfs ’n halwe lid van die Boksom-bende, maar daardie twyfelagtige voorreg het haar ’n klomp geld gekos. Die seuns het vir hulle lekkers daarmee gaan koop en haar nooit eens na een van hul vergaderings toe genooi nie. Katrien was ook ’n keer Trompie se meisie … maar net vir ’n paar uur. Dit was sodat hy vir sy vriende kon wys hy kan ’n meisie kry as hy een wil hê.

Trompie het lankal besef dit strek tot sy voordeel om in Katrien se goeie boekies te bly. Sy is saam met hom in die klas, en sy is besonder slim. Sy het hom al baie met sy skoolwerk gehelp.

Nogtans is hy nie nou lus om met Katrien te gesels nie. Hy sal liewer wil lees. Sy sit mos ook en lees en hul ma’s sal mos nie weet as hulle nie eintlik gesels nie. Dit maak tog nie saak of hulle net sit, of sit en lees, of sit en gesels nie. Sy ma het seker maar net gedink dis nie mooi om Katrien so alleen te laat sit nie.

Trompie haal ’n strokiesprent van Die Skim onder sy kopkussing uit. Hy moet sy strokiesprente altyd hier in sy kamer wegsteek omdat sy ma en pa nie daarvan hou dat hy die goed lees nie.

Trompie steek die strokiesprent onder sy hemp weg en stap studeerkamer toe. Katrien sit in ’n groot gemakstoel.

“Haai!” groet hy haar.

“Middag,” sê sy en klink maar kil. Sy glimlag nie so vriendelik soos gewoonlik nie. Trompie wonder wat oor haar lewer geloop het, maar vroumense is mos snaakse goed. Hy sal haar ignoreer. Hy is tog nie nou lus om te vra wat haar makeer nie. Hy wil sien hoe die Skim gaan loskom met ’n galgtou om sy nek en duisende lede van ’n bloeddorstige stam met skerp spiese om hom.

Trompie sit gemaklik op die rusbank, haal sy strokiesprent uit en begin aandagtig lees.

Katrien hou hom dop oor die dik boek wat sy in haar hande het. Sy wonder of die stories waar is. Dit klink vir haar amper onmoontlik, maar seuns is mos snaakse goed. Sy sal hom vandag moet vra. Katrien byt vasberade op haar onderlip. As dit waar is, praat sy sowaar nooit weer met hom nie!

Sy weet nie hoekom dit haar so ontstel nie. Die hele affêre het niks met haar te doen nie, maar as dit waar is, gaan sy beslis nooit weer met hom praat nie.

Katrien besluit om hom te vra en dit verby te kry. “Trompie?”

“Wag bietjie,” sê Trompie en lig sy hand vir stilte terwyl hy aanhou lees. Dan begin hy lag en sê: “Ek het dit geweet. Die Skim is te sterk en te slim vir daai spul.”

Katrien glimlag effens. Trompie gooi die strokiesprent langs hom neer en rek homself uit.

“Die stam wou hom ophang,” vertel hy, “omdat hul towenaar so gesê het, maar weet jy hoe kom die Skim toe los?”

“Nee.” Katrien skud haar kop. Sy stel nie in die minste belang om te weet nie. Sy wil hom mos nou die belangrike vraag vra – of dit wat sy gehoor het waar is.

Maar Trompie gee haar nie kans om te praat nie. Hy vertel opgewonde hoe die Skim ontsnap het.

Soos Katrien die ding verstaan, het die Skim op die regte oomblik – net toe hulle die tou wou styf trek sodat hy soos ’n spartelende vink in die lug moes hang –’n geweldige skop gegee.

“Hy het al sy krag in daai skop gesit,” sê Trompie en sy oë blink van genot, “en toe tref hy die towenaar vol in die pens …”

“In die wát?” Katrien kyk met geligte wenkbroue na hom.

“In die … die dinges, man, die maag. Hy het die towenaar vol in die maag getref.”

Trompie vertel entoesiasties verder. Die towenaar se wind was glo heeltemal uit en toe skiet die Skim soos ’n pyl uit ’n boog vorentoe en gryp die kreunende man en ruk sy masker af.

“En weet jy wat sien die stam toe?” vra Trompie met groot oë.

Katrien skud weer haar kop en sug.

“Die towenaar is ’n lid van ’n ander stam!” Trompie sê dit soos iemand wat ’n groot geheim verklap. “’n Ander stam wat hul vyand is. Hoe’s daai vir jou?”

Katrien probeer belangstel, maar dit klink vir haar maar na ’n lawwe strokiesprent. Trompie vertel nou hoe vies die stam was dat die towenaar hulle so gekul het. Hulle het die man voor jy nog mes kon sê, met hul skerp spiese van die gras af gemaak, en die Skim toe laat gaan.

“Dis wonderlik, nè?” sluit Trompie af.

“Ja, dit is.” Katrien sug swaar.

Trompie tel die strokiesprent weer op. Hy gaan nou die Skim se volgende verhaal lees. Dit behoort selfs nog interessanter te wees. Die Skim ontmoet mense van ’n vreemde planeet af, en hulle wil hom met geweld in hul vlieënde piering soontoe neem.

“Trompie,” sê Katrien vinnig voor hy in hierdie strokiesprent ook verdiep raak.

“Ja?” Trompie kyk op. Hy voel effens skuldig. Dis seker nie goeie maniere om net te praat oor wat hý lees nie.

“Wat lees jý, Katrien?” vra hy om te wys hy stel in haar ook belang.

“Ek lees nie. Ek het gesit en leer.”

“So?”

“Ja. Ken jy dan nie dié boek nie?” Sy lig die dik boek op en Trompie kyk daarna. Dit lyk vir hom nogal bekend.

“Dis ons natuurwetenskaphandboek, Trompie. Ek leer Boyle se Wet.”

Trompie wonder hoekom almal so Boyle-se-Wet verskrik is. Hy sal voor die eksamen moet uitvind hoe die ding nou eintlik werk.

“Trompie,” sê Katrien en kyk fronsend na hom, “ek wil jou iets vra.”

“Ja?” Maar Trompie loer met sy een oog na die prentjie waar die Skim versigtig om die ruimtetuig beweeg wat soos ’n omgekeerde piering tussen die bome lê. Niemand het nog uit die ding geklim nie.

“Sit daardie strokiesprent eers neer.”

Trompie doen dit vies. Wat wil die meisiekind hê? Hoekom leer sy nie Boyle se Wet en laat hom sy strokiesprent in rus en vrede lees nie?

“Ja, Katrien?”

“Is dit waar?” Sy kyk reguit na hom.

“Is wat waar?” Trompie kyk na sy regterskoen se punt wat so ingeduik is van al die blikke en klippe wat hy gedurig loop en skop.

“Dat jy ’n meisie het?”

Trompie voel ’n kriewelrige gevoel langs sy ruggraat. Hy bal sy vuiste. Katrien het so wraggies ook al die belaglike storie gehoor.

“Dit het natuurlik niks met my te doen nie,” sê sy verleë, “maar ek het net gewonder of dit waar is. Dis maar al. Al die kinders lag en praat daaroor. Hulle sê Orgina is jou meisie. Soos ek sê, dit het natuurlik niks op aarde met my te doen nie. Ek het maar net gewonder of jy nie iemand beter kon gekry het nie … Dis al. Ek het maar net gewonder …”

“Wie het dié storie begin?” vra Trompie vererg.

Hy weet wat die antwoord op die vraag is, maar hy wil net weer seker maak.

“Jorrie Jordaan,” antwoord Katrien. “Hy sê vir almal jy is dolverlief op Orgina, en hulle moet jou dophou wanneer jy na haar kyk. Jy lyk dan glo soos ’n verliefde makou.”

“Dis nie waar nie!” sê Trompie bars.

Katrien glimlag. Sy het geweet dit kan nie waar wees nie. Noudat Trompie ontken dat Orgina sy meisie is, voel Katrien sommer baie beter. Die son skyn sommer weer vir haar.

“Jy weet, Trompie,” sê Katrien skielik, “jy moet iets doen om Jorrie se mond te snoer.”

Trompie sug omdat hy weet dit gaan moeilik wees, maar dan sê hy vasberade: “Ja-nee, sy bek moet toegemaak word.”

“Ek het nie gesê … ‘dinges’ nie … Ek het ‘mond’ gesê,” keer Katrien preuts.

“Dis dieselfde ding,” brom Trompie en staar ingedagte voor hom uit.

Hy moet iets doen – en gou ook. Hy en Jorrie Jordaan moet hierdie ding uitbaklei. Dit is onvermydelik. Hy wens net die ou was nie so groot en sterk en so ’n goeie bakleier nie.

Maar daar is nie nou meer omdraaikans nie. Hulle gaan bots, en dit gaan ’n geveg duisend wees.

Trompie Omnibus 5

Подняться наверх