Читать книгу Trompie Omnibus 5 - Topsy Smith - Страница 6

l

Оглавление

Hier’s ons weer

Die dorpie Kwaggaberg is sowat veertig kilometer van Krugersdorp af. Dit is ’n pragtige, boomryke plekkie wat aan die voet van ’n bergreeks lê.

Die dorp is die afgelope paar dae nog stiller as gewoonlik, want die kinders is almal besig om vir die eksamen te leer. Dit is byna die einde van die derde kwartaal.

In sy kamer is selfs Trompie ook stil. Sy boeke lê voor hom oop. Dit lyk of hy leer. Hy dink diep na – maar nie oor skoolwerk nie! Nee, hy dink aan die maan. Sy hele sproetgesig is op ’n frons soos hy sit en peins.

Trompie het die oggend in die skool (dit was in die Engelse stillees-periode) ’n artikel in ’n tydskrif gelees, wat beskryf hoe die eerste mense oor ’n paar jaar op die maan sal gaan vakansie hou.

Die artikel was vir Trompie besonder interessant. Dit was die eerste keer in ’n lang tyd dat hy so stil soos ’n muis in ’n Engels-leesperiode was. Hy was nogal jammer toe die onderwyseres die tydskrifte en boeke wat sy vir die kinders uitgedeel het aan die einde van die periode weer inneem.

Hy sit nou oor hierdie artikel en peins. Hy weet hy moet eintlik vir die eksamen leer, maar hy sus sy gewete by die gedagte dat hy die artikel mos in die skool gelees het, so dit is so half en half skoolwerk. En buitendien – daar is mos hier in sy aardrykskundeboek ’n tekening van die aarde en ’n klomp mane daar rondom.

Trompie wonder lank hoekom daar so baie mane om die aarde is en hoekom party aan die een kant swart is, en ander weer aan die ander kant. Uiteindelik kom hy agter die tekening stel net een maan voor – die maan in die verskillende fases. Dit sal darem lekker wees, dink Trompie nou weer en staar droomverlore by die venster uit, om daar doer op die maan te gaan vakansie hou!

Trompie het ’n geweldige verbeeldingskrag en hy gee nou vrye teuels daaraan. Hy sien hoe die ruimtevaarders hom in sy ruimtepak in die reusevuurpyl vasgespe en hom dan vra of alles in orde is. Hy sien hoe hy dapper knik en op sy tande kners. Trompie kners nou ook onwillekeurig op sy tande soos hy hier op sy stoel in sy kamer sit en leer.

Dan voel hy hoe skiet hulle die hemelruim in. Trompie lig homself effens uit sy stoel. Hy kyk af om te sien hoe die aarde al hoe kleiner en kleiner word. Hy kyk sy hond, Boesman, wat heerlik op die vloer lê en slaap, aspris mis.

Uiteindelik sien hy hoe hulle op die maan land. Daar is niks. Net koue, kaal, verlate vlaktes. Trompie skree ’n paar keer: “Haai! Is daar nie ander ouens hier nie?” maar al wat hy hoor, is die dowwe eggo van sy eie stem. Die ruimtevaarders skud kop.

Trompie weet skielik nie hoe hy hier moet vakansie hou nie. Hy besluit hierdie wêreld is te koud en verlate – en hy is nou nogal honger. Hy tel net ’n paar ysterklippe op om vir sy vriende op aarde te wys hy was regtig op die maan en dan klim hy terug in die ruimtetuig en sê hulle moet hom terug huis toe vat.

Nie lank nie of hy is weer op pad terug na die blou planeet toe.

Trompie glimlag tevrede. Hy sien hoe hy op die aarde land – die eerste mens wat op die maan gaan vakansie hou het, al was dit net vir tien minute. Almal praat oor hom en sy foto is in koerante regoor die wêreld. Trompie Toerien van Kwaggaberg, Suid-Afrika!

Hy sien hoe sy boesemvriende, Rooie, Blikkies en Dawie, ook van oor tot oor glimlag. Dit is vir hulle ’n besondere eer om met só ’n beroemde man bevriend te wees.

In sy verbeelding sien Trompie hoe hy met ’n oop motor deur groot wêreldstede se hoofstrate ry, terwyl miljoene mense hulde aan hom bring. Almal skree sy naam uit. Soos dit ’n beroemde held betaam, staan hy regop in die gepantserde motor en buig van kant tot kant en waai en glimlag (baie nederig) vir die juigende massas.

Trompie staan nou hier in sy kamer van sy stoel af op en maak elegante buiginkies na die kante toe terwyl hy wuif. Wanneer die motor deur die hoofstraat is, is hy moeg vir die skare se huldebetuigings en gaan sit dankbaar – maar hy sit sy stoel skoon mis! Kadwar! Trompie se sitvlak maak hard met die vloer kennis.

“Jissou!” sê die sproetgesig verbaas en Boesman moet vinnig wegspring.

Trompie se dagdrome word wreed versteur. Hy kom regop en vryf sy agterstewe.

“Dis sommer nonsens om só te sit en droom,” mompel hy by homself. “Ek moet werk. Ek het baie om te doen.”

Trompie sit nou weer by die tafel waarop sy skoolboeke oop lê. Hy wonder wat hy eerste sal pak – wiskunde, geskiedenis, aardrykskunde of wat? Hy staar ’n hele paar minute lank met ’n suur gesig na die boeke voor hom.

Dan sien hy sy drie potlode is nog stomp. Hy haal sy skerpmaker uit die laai en maak die een potlood ná die ander sorgvuldig skerp. Wanneer al drie pragtige punte het, sit hy hulle netjies voor hom neer. So ja, nou kan ’n ou mos skryf.

Nou wonder hy oor sy pen waarvan die agterkant so gekou is. Dit lyk darem nie mooi nie. Trompie gooi die pen in sy snippermandjie en haal ’n nuwe een uit sy laai. Hy sit die pen netjies langs sy drie potlode neer.

Trompie kyk ingedagte op sy tafel rond. Hy wonder wat hy nóg kan doen voor hy nou ernstig aan die werk spring en ’n barshou vir die eksamen begin leer.

Hy is erg teleurgesteld. Daar is niks verder om te doen nie. Hy moet seker nou maar begin leer.

Trompie sug swaar en tel sy geskiedenisboek op. Maar voor hy begin leer, wonder hy of Rooie, Blikkies en Dawie nou ook sit en leer. Miskien is hulle in die kloof, of miskien het hulle gaan kyk of die water in die dam al warm genoeg is om in te swem, of miskien sit hulle daar in die Boksombende se fort en gesels – en dit terwyl hy wat Trompie is, hier sit en leer. Nee, dit sal mos glad nie werk nie. Voor hý begin leer, moet hy eers uitvind of hulle dit ook doen!

Skielik onthou Trompie die eksamen begin eers oor tien dae en hy voel sommer baie beter. Dis nog lank. As hy nou al so hard leer, sal hy teen daardie tyd alles vergeet het. Dan sal hy weer van voor af moet begin. Nee wat, dit sal mos nie werk nie.

Trompie se gewete is gesus. Hy glimlag breed, kom haastig op die been, sit sy pet windmakerig skeef op sy ongekamde boskasie en klouter deur die venster. Hy doen dit nie noodwendig net om sy ma te ontduik nie. ’n Lid van die Boksombende maak nooit van ’n deur gebruik om by ’n vertrek in of uit te kom as daar ’n venster is nie.

Trompie stap in die straat af. Hy gaan na Rooie toe, dan sal hulle vir Blikkies en Dawie gaan haal. Saam sal die vier iets kry om te doen. Trompie is moeg. Hy het gans te lank so stil by sy boeke daar in sy kamer gesit.

Die sproetgesig se kouse lê soos gewoonlik op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy hande is diep in sy broeksakke en hy loop en skop na blikke, graspolle en klippe. Sy regterskoen se punt is lankal ingeduik van al die skoppery.

Boesman, sy hond, draf lui ’n paar treë agter Trompie aan.

Elke keer as Trompie ’n leë blikkie sien, sê hy: “Vat so!” en skop dit dat dit doer deur die lug trek. Hy verkies blikke bo klippe en graspolle. ’n Blik trek makliker en verder.

Terwyl Trompie so loop en skop, dink hy aan die rugbyseisoen wat so pas verby is. Ja-nee, as kaptein van die onder-16-span, het hy weer groot roem vir Hoërskool Kwaggaberg verwerf. Hulle het skoonskip in hul afdeling gemaak en die beker gewen – danksy Trompie se pragtige skepskop in die eindwedstryd teen Hoërskool Saamwerk van Johannesburg.

In sy verbeelding sien Trompie weer hoe hy vastrap en die bal netjies tussen die pale deur klits. Dit was die laaste paar sekondes van die wedstryd en die telling was vyf elk toe hy oorskop.

’n Soet glimlag speel om Trompie se mondhoeke soos hy nou weer dink aan hoe almal hom toegejuig het. Sy spanmaats het hom selfs op hul skouers van die veld af gedra.

Trompie skop ingedagte na ’n konfytblik. Die ding trek pragtig deur die lug.

“Ek is ’n skopper duisend,” sê hy selfvoldaan vir homself. “Dis nou maar wors.”

Hy stap vinnig agter die konfytblik aan en gaan tel dit op. Hy wil nou ’n skepskop probeer – een soos daardie dag met die eindstryd. Trompie kyk rond. Voor hom – hoog in die lug – sien hy die kragdrade wat tussen twee lamppale loop. Hy wonder of hy die blik met ’n skepskop oor die drade sal kan lig. Dit sal darem vir jou ’n skop en ’n half wees, hoor!

Trompie druk sy pet stywer en skewer op sy kop. Sy linkerhand hou die blik aan die onderkant vas en sy regterhand rus liggies bo-op. Hy kyk na die drade – en dan draf hy vorentoe.

Net toe hy wil lostrek, brul iemand agter hom: “Haai!”

Trompie skrik hom boeglam en steek in sy spore vas. Hy ken daardie stem: daar is net een persoon op Kwaggaberg wat só kan bulder, en dit is die polisiesersant.

Omdat hy nie weet wat om te doen of sê nie, speel Trompie liggies met die konfytblik in sy hande. Dan besluit hy dit sal dalk beter wees om die ding maar te laat val. Hy maak so en die blik val op ’n groterige klip. Dit maak ’n harde tingeling-geluid, rol ’n entjie weg en kom dan tot stilstand.

Trompie draai om. Hy lig sy pet en sê beleefd: “Middag, Oom.”

Die sersant sit op sy fiets en gluur die seun kwaai aan. Hy is ’n groot, gesette man, en Trompie en sy vriende is baie bang vir hom. Wanneer hierdie geregsdienaar hulle sien, wys hy altyd kwaai vir hulle vinger – al doen hulle nie eers iets nie.

“Wat doen jy?” vra die man in ’n bars stem.

“Niks, Oom.” Trompie kyk met ’n onskuldige gesig na hom. “Ek het daai ou blikkie sommer so ’n bietjie geloop en skop, Oom weet.” Trompie wys na die blik wat nou eenkant lê.

“Bog,” brom die plaaslike hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy kyk kwaai na Trompie. “Jy wou die ding daar oor die kragdrade geskop het.”

Trompie erken of ontken dit nie. Hy staar net stip voor hom. Hy sien die groot, swart stewels. Die sersant se een groot voet rus op die pedaal. Sy uniform se broek is effens opgetrek soos hy op die fiets sit, en Trompie kyk na die spierwit been wat tussen die swart sokkie en die broek uitsteek.

“Ek praat met jou!”

“Ja, Oom,” sê Trompie en kyk op. “Ek … ek wou maar net probeer om die blikkie oor die drade te piets – met ’n skepskop. Oom weet, soos ek gedoen het in daai eindwedstryd teen Saamwerk.”

Die sersant wil nie nou weer van daardie skop hoor nie. Kwaggaberg se inwoners praat tot vervelens toe daarvan. Hy wys Trompie moet stilbly.

“Wat dink jy sou gebeur het as die ding daar tussen die kragdrade vasgesit het?”

Trompie kyk na die blik en dan weer na die drade. Hy skud sy kop. Nee, hy weet nie wat sou gebeur het nie.

“Wel, laat ek jou sê.” Die sersant se dik, waarskuwende vinger is nou feitlik onder Trompie se neus. “Jy sou feitlik die hele Kwaggaberg opgeblaas het! Dit sou net een blou, verterende vlam gewees het!”

Trompie se mond hang effens oop. Dit klink nogal indrukwekkend – én skrikwekkend!

“Jissie, Oom,” sê Trompie verbaas.

Die sersant voel hy het effens oordryf, maar dit is partykeer nodig om tot ’n stouterd soos Trompie deur te dring.

“Jy moet oppas,” sê hy nou vir die seun. “Ek hou jou en daai vriende van jou dop. Loop nou soos ’n ordentlike mens en moenie skop na alles wat jy sien nie.”

Die sersant trap sy fiets se pedaal en ry weg.

“Tot siens, Oom!” skree Trompie agterna en glimlag.

“Tot siens,” brom die sersant.

Trompie draai om en stap met sy hande diep in sy broeksakke weer aan na Rooie toe.

Toe hy by die ingeduikte konfytblik kom, gaan staan hy en kyk verlangend daarna. Dan kyk hy weer na die kragdrade. Hy wonder of hy dit sou reggekry het om die blikkie daaroor te klits. Maar hy kan nie nou meer probeer nie. Dis te gevaarlik. Hy wil mos nie hê die hele Kwaggaberg moet deur blou vlamme verteer word nie.

Hy gee die blik darem net vir oulaas ’n skoppie met die kant van sy voet. Dan stap Trompie vinnig verder.

Naby Rooie se huis fluit hy hard. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een. Dit is die Boksombende se sein.

Trompie draai sy kop effens sodat hy goed kan hoor. Boesman staan met gespitste ore en luister. Dan hoor hulle iemand op dieselfde manier terugfluit. Dit kom skerp en duidelik – ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een. Dit is Rooie. Hy is in sy kamer.

Trompie en Boesman stap by die hek in en om die huis na die buitekamer in die agterplaas.

Die seun klouter deur die venster en die hond spring deur.

“Haai,” sê Trompie.

“Haai,” groet Rooie.

Rooie sit op die bed en voor hom is ’n tafel waarop sy skoolboeke lê. Hy is bly om Trompie te sien. Hierdie leerdery vir die eksamen verveel hom.

Trompie swaai ’n stoel om en sit wydsbeen daarop. Hy leun met sy arms, skouers en kop gemaklik op die rugleuning. Hy het eendag in ’n fliek gesien die cowboys sit almal só. Dit het ’n diep indruk op hom gemaak. Van toe af sit hy ook altyd só op ’n stoel, behalwe wanneer sy ma of pa by is.

“Hoe vorder jy?” vra Trompie en wys na die oop boeke.

“Sleg.” Rooie sug swaar. “Ek kry die goed nie in my kop nie.”

“Ek het nie eens probeer nie,” sê Trompie rustig.

Rooie staar ingedagte na sy tone. Hy probeer hulle roer sonder dat sy groottoon beweeg. Dit is nogal moeilik. Uiteindelik sê hy: “Hoekom het jy nie probeer leer nie? Jy weet mos ons skryf oor tien dae eksamen.”

“Dis juis die ding,” sê Trompie terwyl hy vlugtig in die groot spieël teen die kas loer om te sien hoe hy lyk wanneer hy so wydsbeen agterstevoor op die stoel sit.

Hy is in sy skik. Hy lyk nes sy cowboy-held in daardie fliek.

Rooie dink ernstig oor Trompie se opmerking na. Dan vra hy: “Hoe bedoel jy?”

“Hoe bedoel ek waarmee?”

“Met ‘dis die ding’.”

“Wel, dit ís mos die ding.”

“Wát is die ding?” Rooie kyk vies na Trompie. Hy sê dit nie, maar hy dink duidelik sy vriend hou hom net weer snaaks.

“Die ding is juis,” sê Trompie en sug swaar om te wys hoe moeilik dit is om so iets vir ’n swaap te verduidelik, “die eksamen is eers oor tien dae. Dis mos nog lank. As ’n mens nóú leer, vergeet jy weer alles. ’n Ou, ’n slim ou soos ek natuurlik,” Trompie stoot sy bors effens uit, “begin eers so drie dae voor die tyd leer. Dan kan ’n ou die goed mos nie vergeet nie.”

Hoe meer Rooie hieroor nadink, hoe meer hou hy van sy vriend se idee.

“Dis wyse woorde daai, Trompie,” sê hy uiteindelik.

“Natuurlik is dit! Net die dom ouens begin nou al leer.”

Rooie knik ingenome sy kop. Hy maak sy boeke met ’n breë glimlag toe en stoot hulle eenkant. Hy voel nou baie beter. Hy sal so ’n dag of drie voor die eksamen begin leer.

“So wat doen ons nou?” vra Rooie.

“Kom ons gaan vertel vir Blikkies en Dawie hoe belaglik dit is om nou al te begin leer en dan loop ons kloof toe.”

“Jissie, Trompie,” sê Rooie, “jy het nogal ’n slim kop aan jou.”

Die twee vriende pomp mekaar laggend in die ribbes, klouter deur die venster en verkas na Blikkies se huis toe.

Trompie dink daaraan dat dit miskien nie so maklik sal wees om Blikkies en Dawie – veral Dawie – te oorreed om hul boeke opsy te skuif en in die kloof te gaan speel nie.

Die opgeruimde twee seuns en die blaffende hond kom by Blikkies se huis aan. Sy ma sê hy is na Dawie toe om daar te leer.

Trompie is in sy noppies. Nou hoef hy sy teorie dat dit belaglik is om tien dae voor ’n eksamen al te begin leer, mos net een keer te verduidelik. Dit gaan nou sommer twee vlieë met een klap wees.

By Dawie se plek fluit Trompie en Rooie die Boksombende se sein. Dawie en Blikkies fluit van die kant van die huis af terug. Hulle sit in die tuinhuisie aan die onderkant van die grasperk op gemakstoele by ’n tafeltjie en leer.

“Haai,” groet Trompie en Rooie opgeruimd.

“Wat’s dit met julle?” vra Dawie.

“Hoekom lyk julle so vrolik?” wil Blikkies weet en versit ’n fyngekoude grashalmpie behendig van die een kies na die ander.

“Ons gaan kloof toe,” sê Trompie en kom sit wydsbeen oor ’n stoel met die rugkant voor hom. “Kom julle saam?”

Rooie maak hom op die grasperk tuis en begin sy tone wikkel. Dawie en Blikkies kyk verbaas na Trompie en Rooie. Dan sê Dawie smalend: “Dié twee weet seker nie ons skryf oor tien dae eksamen nie,” en skud sy kop asof hy hulle baie jammer kry.

“Of hulle wéét van die eksamen en probeer nou net snaaks wees,” sê Blikkies vies en spoeg die gekoude grashalmpie met ’n boog deur die lug. Dan staan hy op en gaan pluk ’n vars grashalmpie uit ’n graspol.

Trompie sit en glimlag. Rooie wikkel sy tone – hy probeer tevergeefs om almal te roer sonder dat sy groottoon ook beweeg.

Blikkies kou smaaklik aan sy nuwe grashalmpie terwyl hy hom weer lui op die gemakstoel uitstrek. Dit lyk of hy al moeg is vir die leerdery. Dawie sit met ’n frons op sy voorkop en lees sorgvuldig deur ’n eksperiment in sy handboek vir natuurwetenskap. Hy steur hom nie aan die ander nie. Hy leer hard.

Hier is die beroemde (of is dit miskien berugte?) lede van die Kwaggaberg se Boksombende nou bymekaar.

Trompie is hul leier, of Grootkaptein soos hy homself graag noem. Hy is al vyftien (Blikkies en Rooie ook) en hulle is almal leerders aan die beroemde Hoërskool Kwaggaberg.

Rooie is ’n sterk, frisgeboude knaap. Al is sy pa die dorp se skoenmaker, kan Rooie nie skoene aan sy voete verdra nie. Hy moet op hoërskool skoene dra, maar wanneer hy smiddae by die huis kom, is die goed vinnig van sy voete af.

Hierdie vier seuns is al van hul laerskooldae, toe hulle saam in graad vier was, vriende. Trompie en Rooie het een keer lelik vasgesit en mekaar getakel. Trompie het die geveg gewen en almal het Rooie se blouoog daarna vir dae lank bewonder. Van toe af is Rooie een van Trompie se vurigste ondersteuners.

Die lui, kouende Blikkies is langer as die ander en ook meer besadig. Hy is die een wat altyd eers (al is dit maar net effentjies) beswaar maak teen Trompie se voorstelle. Blikkies se kniekoppe klap altyd wanneer hy in die klas opstaan. Die kinders hou daarvan, en neul gedurig by hom om op te staan.

Blikkies se kakebene beweeg altyd. Dit is maklik om te weet hoe sy finansiële sake staan. As hy geld het, kou hy kougom – as hy platsak is, is dit ’n grashalmpie.

Die skrander Dawie is die laaste lid van die Boksombende. Hy is twee jaar jonger as die ander drie, maar in dieselfde klas as hulle. Dawie is tengerig gebou en het helderbruin oë. Hy volg Trompie blindelings nadat sy vriend sy lewe gered het toe hy amper in die kloof se dam verdrink het.

Hier sit die vier vriende nou in die tuinhuisie by Dawie se huis. Trompie sit sommer net. Rooie wikkel sy tone. Blikkies se kakebene beweeg ritmies op en af. Hy dink dis nogal ’n goeie idee van Trompie dat hulle kloof toe moet gaan. Die leerdery begin hom nou verveel. Dawie leer nog steeds. Hy dink hy begin nou hierdie moeilike eksperiment verstaan.

Boesman lê in die son en slaap. Sy stert beweeg net elke nou en dan lui wanneer daar ’n vlieg op hom kom sit.

Dawie maak sy natuurwetenskapboek toe by die plek waar die eksperiment is, maar hou een vinger by die bladsy. Hy prewel dan met toe oë iets van “konstant” en “volume” en “volume wat die gas inneem”.

“So ja,” sê hy skielik en stoot die boek weg. “Nou ken ek Boyle se Wet.”

Trompie en Rooie gaap hom oopmond aan.

Dan mompel Rooie: “Jy ken watse ding?”

“Boyle se Wet.”

Trompie en Rooie kyk na mekaar en dan vra Trompie die vraag wat in albei se oë te lees is: “En watse ding is dit?”

“Dit verduidelik en bewys dat die druk waaronder ’n hoeveelheid gas verkeer, altyd omgekeerd eweredig is aan die volume wat die gas inneem.”

Trompie en Rooie lyk nog meer dronkgeslaan.

“Jissie!” sê Trompie. “Jy praat nou Grieks.”

“Moet ons daai goed vir die eksamen ken?” wil Rooie baie bekommerd weet.

“Natuurlik moet ons dit ken. Ek kan julle wed Ou Bles gaan ’n vraag oor Boyle se Wet vra.”

Dawie glimlag selfvoldaan. Hy ken hierdie ingewikkelde storie nou, maar Trompie en Rooie het duidelik nog nooit eers daarvan gehoor nie.

Blikkies lyk ook nie te gelukkig oor Boyle se Wet nie. Hy het dit onder die knie probeer kry, maar tevergeefs.

“Ek verstaan die ding nog nie mooi nie,” sê Blikkies fronsend.

“Dis omdat jy te vroeg begin leer het,” sê Trompie.

“Hoe bedoel jy?”

Dawie luister nou ook.

Trompie verduidelik sy teorie dat ’n mens te vroeg kan begin leer. As jy dít doen, is jy volgens hom verlore, want jy vergeet alles wat jy geleer het. ’n Mens moet eers so drie dae voor die eksamen hard begin leer.

“Dis wat ek gaan doen,” sê Trompie om sy argument af te sluit.

“Dis wat ek ook gaan doen,” sê Rooie en glimlag selfvoldaan. Dit lyk amper of hy dit reggekry het om sy tone te wikkel sonder om die groottoon ook te beweeg.

Dawie glimlag net.

Blikkies se kakebene beweeg ritmies op en af en hy dink ernstig. Trompie se teorie klink vir hom nogal aanvaarbaar. Hy hou van die idee om vir minstens nog ’n week glad nie eens aan die eksamen te dink nie.

“Ek dink jy’s reg, Trompie,” sê Blikkies en versit sy grashalmpie behendig van die een kies na die ander. “As ’n mens te vroeg begin, kan jy jou maklik dóód leer.”

“Dis nou maar wors,” sê Trompie sedig. Hy probeer lyk soos ’n groot geleerde wat ná diepe bepeinsing ’n groot waarheid uitgespreek het.

“So dan gaan jy saam met ons kloof toe?” vra Rooie.

“Natuurlik,” sê Blikkies en stoot sy boeke weg. Trompie en Rooie klop hom op die rug om hom geluk te wens met sy wyse besluit.

Dawie sit met toe oë. Hy is weer besig om Boyle se Wet by homself te prewel.

“Is die ou mal?” mompel Rooie.

“Haai!” sê Trompie skielik hard.

“Ja?” Dawie maak sy oë oop.

“Kom jy saam kloof toe?”

Dawie stem nie saam met Trompie se teorie nie. Hy gaan van nou af elke dag hard leer, maar hy voel darem hy het vandag al genoeg gedoen.

Trompie, Rooie en Blikkies gluur woes na hul vriend. Dit lyk of hulle regsit om hom te karnuffel as hy te lafhartig is om saam met hulle te gaan.

“Wat is jou antwoord?” vra Trompie bars. Hy wikkel sy sproetneus op en af om Dawie goed te laat verstaan hy wat Trompie is, is nou moeilik.

“Ja.”

“Ja – wat?” Hierdie onverwagte antwoord het Trompie, Rooie en Blikkies skoon van stryk af.

“Ja, ek gaan saam kloof toe.”

“O, oukei dan,” mompel Trompie.

Rooie en Blikkies knik goedkeurend kop. Rooie brom iets van dat as Dawie nee gesê het, hy vandag iets sou gesien het wat hy nie graag sou wou sien nie.

Die vier vriende is vinnig by die tuin uit en stap kloof toe. Hulle gaan uitvind of die water in die kloof se dam al warm genoeg om te begin swem.

Trompie, Rooie en Blikkies stap voor. Hulle gesels en skerts met mekaar. Dawie is soos gewoonlik ’n paar treë agter. Hy hou homself besig deur klippe te gooi wat Boesman dan moet gaan haal.

Wanneer hy moeg hiervoor is, dink Dawie daaraan dat hy vir die ander moet vertel wat hy vandag by die skool gehoor het. Dit is iets wat Trompie raak – en daarom ook indirek die ander drie lede van die Boksombende.

Trompie, Rooie en Blikkies kyk om en loop stadiger. Dawie hardloop tot by hulle.

“Weet julle wat?” vra hy toe hy by hulle kom.

“Nee,” sê die drie tegelyk.

“Hoe moet ons weet?” vra Trompie en skud sy kop asof hy Dawie jammer kry dat hy so dom is.

“Ek het iets wat ek julle wil vertel. Dis iets oor jou, Trompie.”

Trompie se oë is op skrefies.

“So?” sê hy en sy stem klink agterdogtig. “Wat van my?”

Dawie is nie lus om sy nuus hier in die veld uit te blaker nie. Dit is ’n ernstige affêre. Hulle moet sit en die saak ordentlik bespreek.

“Kom ons gaan fort toe,” sê Dawie en begin sommer aanstap.

Die Boksombende se fort is ’n vervalle ou waenhuis in die veld, ’n entjie buite Kwaggaberg. Toe die seuns nog op laerskool was, het hulle elke dag soontoe gegaan en baie gelukkige en sorgelose ure daar deurgebring. Vandat hulle op hoërskool is, kom hulle nie meer so baie by die fort nie – net wanneer hulle voel hulle moet ’n amptelike vergadering hou.

Trompie is baie gesteld daarop dat alles by ’n amptelike vergadering “stiptelik en streng volgens die korrekte prosedure moet geskied”. Dit is ’n frase wat hy by sy pa gehoor het. Hy hou baie daarvan en gebruik dit nou weer.

“Alles moet stiptelik en volgens die korrekte prosedure geskied,” sê hy. “Ons gaan ’n amptelike vergadering hou. Dan kan Dawie vertel wat hy van my gehoor het.”

Trompie loop en wonder wat dit kan wees wat kastig so ernstig is.

“Waaroor wil jy praat?” vra Rooie vir Dawie.

“Wag tot ons in die fort is.”

“En amptelik vergadering hou,” sê Trompie streng.

“Dis reg,” sê Dawie, maar dan kyk hy na Trompie en vra: “Weet jy wat sê die mense van jou?”

Trompie skud effens uit die veld geslaan sy kop. Nee, hy weet nie wat hulle van hom sê nie, en hy sal baie graag wil weet.

“Geduld,” sê Dawie net. “Ek sal jou in die fort vertel.”

Die seuns stap nou vinniger. Hulle is nuuskierig om uit te vind wat die mense van Trompie sê.

Trompie voel ongemaklik. Hy wonder of dit iets slegs is. Hy wikkel sy neus vies op en af. Sy vuiste is gebal.

Trompie Omnibus 5

Подняться наверх