Читать книгу Trompie Omnibus 5 - Topsy Smith - Страница 12
4
ОглавлениеDie geveg duisend! (2)
Trompie is dié middag en aand besonder stil by die huis.
Hy trek sy bokshandskoene aan en gaan oefen by die groot slaansak wat hy en sy vriende aan ’n boom agter in die hoek van die erf opgehang het. Hy moet fiks wees vir die groot geveg en sy reguit linker en voetwerk ’n bietjie opknap.
Trompie staan reg om die slaansak te moker. Hy kyk eers rond om te sien of niemand hom dophou nie, dan begin hy liggies voor die sak ronddans. Hy oefen nou sy voetwerk. Hy moet vinnig kan beweeg as hy Jorrie se groot, gevaarlike vuiste wil ontduik.
Ná ’n hele rukkie van koes en wegskram, besluit Trompie dat Jorrie nou al moeg is van gate in die lug slaan. Dit is tyd vir Trompie om aan te val. Hy moet Jorrie nou goed op sy plek sit.
In ’n geboë vegtershouding beweeg Trompie skuiwend nader aan die slaansak. Hy verbeel hom dit is Jorrie wat stilstaan om ’n bietjie asem te skep.
Wanneer hy binne trefafstand van die sak is, kom Trompie effens op sy tone en vlieg dan vorentoe. Hy moker die sak vinnig en hard. “Vat so!” sê hy elke keer wanneer sy vuiste in die sak wegsink.
Dit is heerlik om die slaansak so aanhoudend te peper terwyl jy jou verbeel dit is die boelie, Jorrie. Trompie mik sy houe laag op die sak – dit is mos waar Jorrie se maag is. Hy moet op die maag konsentreër. Dan sal Jorrie gou moeg raak.
Hygend en uitasem hou Trompie later op slaan. As hy Jorrie só vinnig en só hard in die maag kan aanhou slaan, gaan die ou nie lank staande bly nie.
Maar Trompie wonder skielik of hy dit met Jorrie sal regkry. Dit is maklik om ’n sak te moker wat nie terugslaan nie. Dit sal nie dieselfde wees as hy Jorrie takel nie. Jorrie gaan nie stilstaan nie. Hy sal hard terugslaan, én boonop kwaai aanval ook.
Trompie besluit hy moet maar eenvoudig net deurdruk en vir die beste hoop. Hy sal in die proses natuurlik ook ’n paar houe moet verduur, maar dit is onvermydelik. Hy moet met vinnige voetwerk van Jorrie se swaaiende vuiste wegbly. En wanneer Jorrie later moeg is (Trompie het eenkeer in ’n boksboek gelees ’n mens word moeër as jy gedurig misslaan as wanneer dit elke keer raak is), gaan hy hom takel, en die houe op sy maag laat neerreën.
Die Boksombende se Grootkaptein besluit hy gaan nie ophou baklei voor die toeskouers vir hom of Jorrie daar moet wegdra nie. Een ding is seker – hy gaan nie kopgee nie, al moet hulle hom ook met ’n ambulans daar kom haal!
Trompie voel effens beter. Hy het darem nou vir hom ’n taktiek uitgewerk. Voor hy terug huis toe gaan, voer hy eers gou weer ’n paar danspassies uit. Sy oë bly die hele tyd stip op sy pragtige boksskoene. Dis darem maar vir jou voetwerk duisend, dink hy selfvoldaan.
Dié aand sukkel Trompie om aan die slaap te raak. Sy geweldige verbeeldingskrag werk oortyd. Die een oomblik sien hy hoe stap hy as oorwinnaar uit die kring wat die seuns gevorm het, maar die volgende oomblik sien hy weer hoe hulle hom wegdra na die ambulans toe, terwyl almal kop skud en fluister: “Arme Trompie …”
Maar sê nou net – en by hierdie gedagte glimlag Trompie soet, al is sy oë styf toe soos hy probeer slaap – sê nou net Jorrie is ’n lafaard en sê hy wil nie baklei nie wanneer hy die uitdagingsbrief kry? Sê nou hy vra voor almal vir Trompie en Dawie om verskoning?
Dan sal Trompie sê: “Goed, ek vergewe jou, maar oppas as dit weer gebeur, hoor!” Dit sal mos vir almal wys hy wat Trompie is, is nie net ’n dapper vegter nie, maar ook ’n groot gees. Hy vergewe Jorrie sommer net so, en waarsku hom maar net om dit nie weer te doen nie.
Ag, as dit tog maar net kan waar word – as Jorrie tog maar net nie wil baklei nie. Dit sal wonderlik wees.
En met hierdie salige gedagte raak die bekommerde Trompie uiteindelik sag aan die slaap.
Die volgende oggend ry hy met ’n knop in sy keel skool toe. Hoe nader hy aan die skool kom, hoe vinniger klop sy hart. Rooie, Blikkies en Dawie is by hom. Hulle glimlag van oor tot oor. Vandag is die dag wat almal ’n ding gaan sien!
Daar is nie meer kougom in Dawie se hare nie, maar hy het ’n pragtige blouoog. Hy gee egter nie om nie. Vandag gaan Trompie daai Vrystater op sy plek sit! Vandag gaan Jorrie boet vir wat hy gedoen het!
Trompie wens hy kan so optimisties soos sy drie vriende wees. Hy lyk bleek en is baie bekommerd. Hy wens die geveg is al oor en verby.
By die skool praat almal van Dawie se blouoog. Die ouens (behalwe ’n paar van Jorrie se trawante) is almal vies vir Jorrie. Hy is ’n boelie. Dawie is mos baie kleiner as hy. Almal wonder wat Trompie gaan doen. Dawie is ’n lid van die Boksombende, en Trompie is mos die Grootkaptein. Hy moet Jorrie op sy plek sit!
Trompie praat nie veel nie.
Die kinders pols Rooie, Blikkies en Dawie. Hulle fluister net dat Kwaggaberg vandag vir jou ’n ding sal sien – dan knipoog hulle en grinnik.
Almal weet sommer dadelik: Trompie gaan vir Jorrie uitdaag! Die twee word noukeurig in die klas dopgehou. Niemand wil iets mis nie. Hulle wil almal uitvind waar en hoe laat die botsing – die titaniese stryd, soos een seun dit noem – gaan plaasvind.
Dit is vandag besonder stil in die klas. Almal voel die spanning aan.
Trompie kyk ’n keer op en sien hoe Katrien hom aandagtig sit en aanstaar. Sy glimlag vriendelik. Sy het duidelik van die geveg gehoor, en wil Trompie nou aanmoedig. Hy weet nie of hy hom dit verbeel nie, maar dit lyk of haar oë blink. Miskien kry sy hom jammer.
Hy trek sy skouers op en gaan weer aan met sy werk. Hy wil dit gou klaarkry, sodat hy die brief vir Jorrie kan skryf.
Die kinders loer kort-kort vlugtig na Trompie en Jorrie, maar eienaardig genoeg kyk hulle twee nie een keer na mekaar nie. Dit is asof hulle aanvoel vandag is die dag van die groot botsing, en nou vermy hulle mekaar totdat die geveg begin.
Trompie se Engelse opstel is uiteindelik klaar. Hy skeur ’n vel papier uit ’n ou oefeningboek en loer gou wat die onderwyseres doen. Sy sit by die tafel en sien ’n ander klas se opstelle na. Sy is verdiep in haar werk en kyk glad nie op nie. Die klas is mos stil.
Dit is net die kans waarvoor Trompie wag. Nou kan hy die belangrike brief skryf. Hy moet sy potlood net eers skerp maak. Hy doen dit stadig totdat die potlood ’n pragtige punt het.
Dan sit hy reg om te skryf. Rooie is ook klaar met sy opstel en loer belangstellend na die vel papier voor Trompie. Hy kan nie verstaan hoekom Trompie so lank neem om te dink nie. Dit hoef mos net ’n kort en kragtige briefie te wees. Rooie besluit om Trompie te help.
“Skryf net waar en wanneer,” fluister hy. “Jorrie sal weet wat dit beteken.”
Trompie gee Rooie ’n vies kyk.
“Skryf jý die brief, of ék?” vra hy kwaai en wikkel sy neus om te wys hy is omgekrap.
“Orraait, klim af van jou perdjie,” sê Rooie. Hy sit terug in hul skoolbank, maar darem só dat hy kan sien wat Trompie gaan skryf. Hy brand van nuuskierigheid.
Trompie lek-lek met die punt van sy tong aan die skerp potlood. Hy dink nou ernstig. Dit moet ’n streng brief wees. Hy begin skryf:
Beste Jorrie
Met sy kop effens skeef kyk hy aandagtig na hierdie begin. Hy voel Rooie se elmboog in sy ribbes stamp. Hy draai na sy vriend toe. Daar is ’n suur uitdrukking op Rooie se gesig en hy skud sy kop om sy afkeuring te kenne te gee. Dit lyk vir hom of Trompie vir Jorrie ’n vriendelike brief gaan skryf.
Trompie sug. Hy is ook nie gelukkig met hierdie aanhef nie. Hy trek ’n dik streep deur die “Beste”. Net die naam “Jorrie” bly oor.
Trompie kyk na Rooie. Sy vriend glimlag breed. Dis beter, ja.
Skielik besef Trompie hy het in sy onderbewussyn gedink as hy die brief mooi en selfs so effens vriendelik skryf, sal Jorrie miskien nie die uitdaging aanvaar nie. Hy besef egter nou hy moenie eers aan so iets dink nie. Jorrie sál die uitdaging aanvaar. Hy soek mos al lankal daarna. En nog ’n ding – Trompie klem die potlood styf vas – dink net wat hy aan Dawie gedoen het! Nee, hulle moet die saak uitspook. ’n Vriendelike brief is buite die kwessie.
Trompie begin nou vinnig skryf. Rooie lê eintlik half oor hom om te sien wat daar staan, maar Trompie se linkerhand rus op die papier soos hy dit vashou en Rooie kan omtrent niks lees nie.
Trompie maak klaar en skuif die papier oor na Rooie toe.
“Lees!” sê hy tevrede. Hy is seker dit sal sy vriend se goedkeuring wegdra.
Rooie lees en glimlag van oor tot oor. Hy gee die brief vinnig oor sy skouer vir Dawie en Blikkies aan. Hulle moet ook mos op hoogte van sake bly.
Blikkies en Dawie – veral Dawie – is ook hoogs tevrede. Trompie het kort, saaklik en op die man af geskryf.
Toe Trompie die brief terugkry, lees hy dit weer deur:
Jorrie
Jy’s ’n boelie!
Jy soek my al lank – en nou gaan jy my kry! Jy moes nie gister vir Dawie seergemaak het nie. Jy gaan daarvoor betaal! Jy sê altyd jy het al die kinders op daai Vrystaatse dorpie van jou gefoeter – hulle was seker almal so klein soos Dawie. Kom ons kyk bietjie of jy ’n MAN kan foeter! EK DAAG JOU UIT! As jy nie ’n lafaard en ’n papbroek is nie – aanvaar my uitdaging!
Laat my weet HOE LAAT vandag en WAAR – as jy nie te BANG is nie! Ek is reg – enige tyd!
Vandag is die dag!
TROMPIE TOERIEN
Trompie glimlag tevrede. Hy hou van sy brief, veral van al die hoofletters. Dit lyk nogal indrukwekkend. Jorrie sal die uitdaging eenvoudig móét aanvaar. Dis tyd dat hulle dinge uitspook. Dit help nie om langer uit te stel nie.
Trompie gee die brief vir ’n ou in die ry langs hom aan en fluister: “Dis vir Jorrie.”
Dan sit Trompie terug in sy bank. So ja, die koeël is nou deur die kerk.
Die ou in wie se hand Trompie die brief gestop het, gee dit gretig aan. Hy weet dit moet die uitdaging wees.
Die hele klas hou die brief dop terwyl dit vinnig van een leerder na die ander aangegee word. Elkeen wat die brief kry, kyk eers gou of die juffrou nog so druk besig is en gee dit dan weer verder aan. Hulle wil nie hê die brief moet onderskep word nie. Hulle wil almal die botsing sien. “Dit gaan ’n geveg duisend wees,” fluister meer as een opgewonde.
Uiteindelik kom die brief by sy bestemming aan. Jorrie vou dit oop. Die hele klas hou hom dop. Trompie maak of hy sy Engelse opstel weer deurlees, maar loer onderlangs om te sien watter uitwerking die brief op Jorrie gaan hê. Hy wens die ou wil bleek word van die skrik!
Maar Jorrie word nie bleek nie. Inteendeel, hy begin lag. Hy lag só hard dat sy hele lyf skud.
“And pray, what is the matter with you?” vra die juffrou in onberispelike Engels.
“Me? Sorry, Miss … Me just laugh about a joke, Miss.”
Trompie-hulle kan ook nie so goed Engels praat nie, maar die Vrystater se Engels is duidelik heelwat swakker as hulle s’n. Die klas grinnik agter hul hande.
“Stop your senseless laughter and carry on with your work,” sê die onderwyseres geïrriteerd.
“Jis, Miss.” Jorrie sluk sy lag en maak of hy werk.
Trompie is diep gekrenk. Hy het geweet hy hoop verniet dat Jorrie bleek sal word, maar hy het darem nie verwag die ou sal uitbars van die lag nie! Dit wys Jorrie is glad nie bang nie – en dít laat Trompie nou nog meer skrikkerig voel.
Maar toemaar, dink Trompie en kners op sy tande en bal sy vuiste, die Vrystater gaan nog vir die vernedering van daardie simpel gelag ook betaal.
Baie kinders wonder wat Trompie geskryf het wat so snaaks was. Ander besef weer dit is omdat Jorrie Trompie se uitdaging so belaglik vind, dat hy sy lag nie kon inhou nie. Dit wys net hoe seker is hy van sy vermoë om enige geveg te wen.
Die klas werk aan hul opstelle, maar loer kort-kort na Jorrie. Hulle sien hy is nou besig om op ’n los vel papier te skryf. Dis seker die antwoord op Trompie se brief.
Wanneer Jorrie klaar is, vou hy die papier op en gee dit oor sy skouer aan. “Gee vir Trompie,” fluister hy vir die seun agter hom.
Die brief trek vinnig deur die klas terwyl die niksvermoedende onderwyseres sit en boeke nasien.
Trompie het die brief. Hy maak dit oop en lees vinnig:
Trompie
Ek skrik nie vir ’n askoek soos jy nie!
Sien jou vanmiddag drie–uur by die dam in die kloof. Moenie bang word en wegbly nie!
Bring jou doodskis saam.
Jorrie
Trompie sluk swaar. Dit sal hom nie verbaas as hý nou bleek is nie.
“La’k sien,” sê Rooie en Trompie gee die brief vir hom. Rooie lees dit en glimlag tevrede. So ja, die uitdaging is aanvaar. Vanmiddag gaan die poppe dans!
Rooie gee die brief vir Dawie en Blikkies aan, en die twee lees dit ook vinnig. Hulle is hoog in hul skik. Trompie gaan daardie boelie goed op sy plek sit! Die Boksombende het die wêreld se vertroue in hul Kaptein.
Trompie skeur die brief ingedagte in klein stukkies. Hy gooi die flenters in die oop laai onder sy bank. Noudat hy dit gedoen het, voel hy vreemd genoeg beter. Die koeël is deur die kerk. Hy móét nou baklei – daar is geen ander uitweg nie. Hy berus hom nou in hierdie feit.
Trompie beskou die hele affêre as iets onaangenaams, maar iets wat nogtans gedoen moet word – en gou ook – sodat dit agter die rug kan kom.
Pouse sê Dawie vir een van die seuns in hul klas: “Vanmiddag drie-uur by die dam in die kloof” en dit versprei soos ’n veldbrand deur die skool.
Binne vyf minute hoor feitlik die hele skool nou die refrein – “Vanmiddag drie-uur by die dam in die kloof” – en die leerders weet wat dit beteken. Dit lyk of almal daar gaan wees. Selfs die meisies bespreek die saak en beraam planne om die geveg op ’n afstand dop te hou.
Trompie gedra hom die hele oggend stil en voorbeeldig. Hy praat glad nie saam met die opgewonde kinders wat die geveg so driftig bespreek nie. Hy voel iemand wat aan so ’n groot geveg gaan deelneem, moet hom voor die tyd nederig, stil en stigtelik gedra. Hy is koel, kalm en besadig – net sy hart bons geweldig en hy moet sy kniekoppe styf teen mekaar druk sodat die ander nie kan hoor hoe hulle klap nie.
Wanneer die laaste klok van die skooldag lui, is die kinders vinnig huis toe. Hulle wil almal teen drie-uur by die dam in die kloof wees.
Ná ete gaan Trompie in sy kamer op sy bed lê om ’n bietjie te rus. Hy het net gelê, toe Rooie, Blikkies en Dawie daar opdaag. Hulle kom om sy spiere los te kry vir die groot geveg.
Trompie sit op die punt van die bed. Rooie kry sy regterbeen beet en vryf die kuit. Blikkies doen dieselfde met die linkerbeen. Dawie masseer Trompie se skouers.
Trompie se drie manskappe praat opgewonde en aanhoudend. Elkeen gee vir hom raad oor hoe hy te werk moet gaan om Jorrie sommer binne die eerste minuut katswink te slaan.
Maar die Grootkaptein luister nie. Hy het sy taktiek mos al klaar fyn uitgewerk. Hy weet hy is vinniger as die swaarder Jorrie, al kan hy nie so hard soos die Vrystater slaan nie. Hy wat Trompie is, gaan ligvoets voor hom ronddans … en uit sy pad bly … totdat … totdat Jorrie moeg is – en dan gaan hy inspring en hom takel.
Trompie kyk kort-kort na die wekker op sy tafel. Die wysers loop vandag ekstra vinnig. Dit is amper tyd om kloof toe te gaan.
Die seuns het Trompie klaar gemasseer.
“Ek dra jou baadjie,” sê Rooie.
“Ek vat nie ’n baadjie nie.”
“Ek staan in jou hoek, Trompie,” sê Blikkies sag en hou vir ’n oomblik op met kou.
“Daar’s nie ’n bokskryt nie,” sê Trompie, “so daar’s nie ’n hoek nie.”
Trompie glimlag effens. Dié manne van hom darem! Hulle wil so graag iets doen om te wys hoe hulle by hom staan.
“Ek … ek hou duim vas,” sê Dawie, en sy oog (nie die toegeswelde blou een nie) glinster. Hy wys hoe hy albei sy duime styf in sy vuiste toeknyp.
Trompie kyk na die wekker. Dit is twintig voor drie.
“Komaan,” sê hy en is vies vir homself toe hy hoor sy stem bewe effens. Dan voeg hy harder by: “Laat ons weg wees.”
Die vier vriende klim deur die venster en stap met die tuinpaadjie af hekkie toe. Hulle loop agter mekaar aan omdat die paadjie nou is.
Trompie loop voor. Sy hande is diep in sy broeksakke, sy pet sit skeef op sy kop, sy kouse lê op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit.
Net agter Trompie kom Rooie. Hy is soos gewoonlik kaalvoet. Hy hou van die gevoel van die grys klippies op die tuinpaadjie. Dit kielie hom.
Agter Rooie stap Blikkies. Hy buk elke slag so in die stap en gryp na polletjies gras om ’n ordentlike grashalmpie te kry om te kou.
Dawie loop heel agter. Sy hande is in sy baadjiesakke. Net sy vriende weet hoekom. Hy hou die hele tyd styf duim vas vir Trompie.
Naby die hekkie hoor die seuns iemand groet en kyk op. Katrien leun oor die tuinmuur.
“Sterkte,” sê sy. Haar stem is sag en haar oë glinster.
Trompie knik met sy kop, en sê ernstig soos hy voel dit ’n groot vegter betaam: “Dankie, Katrien.”
Dan stap die seuns weer verder, elkeen besig met sy eie gedagtes.
Toe hulle weg is, vat Katrien ook die pad. Sy gaan twee van haar vriendinne haal om saam met haar kloof toe te gaan. Hulle gaan die geveg op ’n afstand dophou. Dit is ’n vry land, so die seuns kan hulle nie daar wegjaag nie. Die dam behoort mos nie aan hulle nie.
Katrien hoop van harte Trompie gaan vir Jorrie die boelie op sy plek sit. Maar al doen hy dit ook nie, maak dit nie saak nie. Sy sal hom nog steeds as ’n held beskou. Trompie is die eerste en enigste seun hier op Kwaggaberg wat die moed het om daardie vent aan te durf!
By die dam is daar al klaar ’n swetterjoel kinders, en nog baie kom van alle kante af aangestroom. Die nare eksamen lê nog voor, maar hulle is almal in ’n vakansiestemming. Vanmiddag gaan die poppe dans!
Trompie, Kwaggaberg se kampioen-bokser, kom te staan teen Jorrie Jordaan, wat amper elke kind op ’n dorpie in die Vrystaat platgeslaan het! Dit gaan baie beter as die beste cowboy-fliek wees. Feitlik almal gaan vir Trompie skree. Jorrie is te vol van homself en hulle sal ook nie gou vergeet wat hy aan Dawie gedoen het nie.
Die seuns sit en bespreek die geveg op die groot grasperk naby die damwal. ’n Hele paar meisies dwaal ’n entjie van die dam af en hou die seuns dop.
Wanneer Trompie en sy drie manskappe aankom, is Jorrie en sy trawante van die koshuis al daar.
“Trompie!” skree almal opgewonde toe hulle hom met die paadjie langs deur die veld sien aangestap kom. Hy loop fronsend na graspolle en skop.
“Dons hom goed op, Trompie!” skree ’n paar seuns, maar kyk dan vinnig na Jorrie en koes weg. Hulle wil nie hê hy moet hulle herken en weet dit was hulle wat dit geskree het nie, anders dons hy húlle miskien op!
Trompie stap reguit na Jorrie toe. Hy lyk koel en kalm. Hy is bly die kinders wat nou almal naderstaan, kan nie hoor hoe sy hart klop nie. Rooie, Blikkies en Dawie is langs hom.
Jorrie wag Trompie met ’n grynslag in. Omtrent twee treë voor hom gaan staan Trompie stil.
“Het jy jou doodskis saamgebring, askoek?” vra Jorrie. Hy en sy trawante skater soos hulle lag.
Die ander kinders is almal stil. Die Boksombende se Grootkaptein lyk bleek. Hulle kry hom jammer.
Trompie voel dit is gepas om nou, voor die groot geveg begin, ’n toespraak af te steek. Hy wil sy sê eers sê voor hulle mekaar takel.
“Jorrie,” begin hy met ’n bewerige stem. Dan hoes hy, maak keel skoon en begin weer: “Jorrie, ek wil net iets sê …”
“Nou sê en kry klaar dat ek jou kan pap slaan!” Jorrie staan met gebalde vuiste.
Trompie het nou beheer oor sy stem en val weg. “Toe jy hier aankom, het ons almal gedink hier’s ’n groot, sterk ou wat baie vir ons skool se rugby gaan beteken. Maar toe leer ons jou ken, en ons vind uit jy’s sommer net ’n wintie en ’n boelie.”
Trompie druk sy wysvinger amper onder Jorrie se neus en sê: “’n Wintie en ’n boelie … in hoofletters!”
’n Hele klomp kinders skree: “Mooi so, Trompie! Sê hom!”
Jorrie lyk verbaas. Hy het nie verwag dat Trompie so astrant sou wees nie. Hy begin vir die eerste keer effens twyfel. Daar is ’n frons op sy voorkop. Het hy dié ou wat so gewild hier op Kwaggaberg is, miskien verkeerd opgesom?
“En toe ons sien jy gaan niks vir ons skool se rugby beteken nie, het ons jou vermy,” gaan Trompie doodluiters voort (niemand kan mos hoor hoe sy hart klop nie, en hy hoop maar net hulle sien nie sy kniekoppe bewe nie). “Maar jy het dit verkeerd verstaan en gedink ons is bang vir jou, soos die ouens daar in die Vrystaat. En toe begin jy hier ook met jou nonsens en knou die kleiner outjies af. En toe,” sê Trompie en tik-tik met sy wysvinger op Jorrie se bors, “begin jy selfs met my ook – en dit is waar jy ’n groot fout gemaak het.”
Dit is so stil dat ’n mens ’n speld kan hoor val. Die meisies is ’n hele ent van die seuns af weg, maar kan elke woord van Trompie duidelik hoor. Hulle glimlag almal en Katrien lyk baie trots.
“Dis waar jy ’n baie groot fout gemaak het, Jorrie,” sê Trompie weer. “Jy het my eendag met ’n kettie in die sangklas agter die oor geskiet. En ’n ander keer het jy my gepootjie. En toe’t jy my fiets se wiele afgeblaas. En toe’t jy daai simpel storie versprei dat Orgina my meisie is. Maar dit was alles nog niks nie,” sê Trompie en sy wysvinger speel weer onder Jorrie se neus, “want toe kom die ding wat my laat besef het dis tyd dat ek jou ’n les leer. ’n Les wat jy tot in lengte van dae sal onthou!”
Trompie hou só van die frase “in lengte van dae” dat hy voel hy moet dit weer gebruik. Hy is nou behoorlik op dreef met sy toespraak.
“Ja, jou boelie van die Vrystaat, jy moet ’n les geleer word wat jy tot in lengte van dae sal onthou. Ek het só besluit ná jy met Dawie rondgemors het. Jy het ’n arme, onskuldige ou wat baie kleiner as jy is, met die vuis geslaan. Hy kan glad nie uit sy een oog sien nie – en jy moet daarvoor boet!”
Trompie wens hy kan nog langer praat om die geveg langer uit te stel, maar hy weet nie wat om verder te sê nie. Hy sluit af met: “En nou gaan ek jou ’n les leer – ’n les wat jy tot in lengte van dae nooit sal vergeet nie.”
So ja, Trompie is tevrede. Hy het nou sy sê gesê.
Jorrie kyk verbaas na hom. Trompie kan nogal vir jou goed praat, hoor. Hy hoop maar net die Kwaggaberger baklei nie ook so goed soos hy “spiets” nie!
“Het jy klaar gegorrel?” bulder Jorrie.
“Ja,” sê Trompie.
“Nou kom, laat ek jou moker dat jy jou ouma vir ’n eendvoël aansien.” Trompie wil eers sê hy het nie ’n ouma nie, en kán haar daarom nie vir ’n eendvoël aansien nie, maar besluit dan die tyd van praat is verby. Hulle moet nou oorgaan tot aksie.
Maar dit is moeilik. Hy kan nie nou sommer net ligvoets begin ronddans nie. Daar is mos ’n sekere prosedure wat gevolg moet word, veral met hierdie soort geveg – ’n geveg wat tot die bitter einde gaan aanhou.
Trompie stap vorentoe, tik met sy vuis teen Jorrie se gespierde arm en sê: “Daar’s jou kesj!”
Die Vrystater laat nie op hom wag nie.
Hy gee ook ’n treë vorentoe, boks Trompie se arm met sy groot, gebalde vuis en sê: “En daar’s jóú kesj!”
Kwaggaberg se kinders staan die toneeltjie met groot oë en dophou. So ja, nou het die twee mekaar die kesj gegee.
Trompie trek met sy ingeduikte skoenpunt ’n streep voor hom op die grond. Dit is die volgende stap.
“Waag dit net om oor daai streep te trap,” sê hy vir Jorrie. Trompie haal sy pet af en gee dit vir Rooie.
Jorrie ken die regte prosedure en vra die verwagte vraag: “Wat as ek daaroor trap?”
Trompie beëindig die formaliteite nou streng volgens prosedure: “As jy oor die streep trap, moker ek jou!”
So ja, sug die kinders. Alles het volgens die korrekte prosedure geskied – nou kan die geveg begin.
Jorrie hou sy gebalde vuiste voor hom en trap oor die streep.
“Nou toe, hier is ek!” sê hy.
Trompie kyk net vlugtig of Jorrie behoorlik oor die streep getrap het, dan lig hy sý vuiste ook op.
Die groot geveg – die geveg duisend – begin!
Trompie begin liggies ronddans. Jorrie staan rotsvas en hou sy oë stip op sy trippelende teenstander.
’n Paar seuns begin lag. Dit is ’n snaakse toneeltjie: Trompie wat soos ’n fladderende skoenlapper ronddans en Jorrie wat bewegingloos staan en sy kop net so effens draai soos hy Trompie dophou wanneer hy na die kante toe beweeg.
Skielik besef Trompie hy is die een wat gaan moeg word en Jorrie nie. Hy dans aanhoudend in die rondte en Jorrie beweeg nie. Hy het nog nie een hou geslaan nie. Trompie besluit hy moet sy taktiek verander. Hy moet ook staan en wag tot Jorrie slaan.
Trompie wil net gaan staan toe Jorrie bulder: “Hou op ronddans soos ’n meisie! Staan stil sodat ek jou kan bykom!”
Trompie besluit nou om dit nie te doen nie. Jorrie is besig om die joos in te raak en dis presies wat Trompie wil hê. Jorrie moet storm en gate in die lug slaan. Dít sal hom moeg maak.
“Hoekom slaan jy nie, jou papbroek?” tart Trompie die Vrystater uit. Dit het die gewenste uitwerking. Jorrie storm met ’n gebrul vorentoe en slaan. Hy wil die dansende vuurvliegie hier voor hom verpletter.
Jorrie se vuiste fluit deur die lug. Die kinders skree. As hierdie houe Trompie tref, sal dit klaarpraat met hom wees. Hy sal binnekort bekend staan as “oorlede Trompie”.
Maar die houe is almal mis. Trompie retireer en koes liggies elke keer wanneer Jorrie slaan. Die Vrystater hou aan gate in die lug slaan, maar Trompie hou aan om die houe te ontwyk.
Wanneer Jorrie uiteindelik ophou slaan en tot stilstand kom, hyg hy na asem. Skielik skiet Trompie soos blits vorentoe en tref hom met ’n pragtige reguit linker vol in die gesig.
“Eina!” skree Jorrie. Dit was ’n geniepsige hou wat seergemaak het. Hy bestook die Kwaggaberger weer met ’n sarsie, maar Trompie dans vinnig buite bereik van sy swaaiende houe.
“Mooi so, Trompie!” skree die kinders.
“Wys hom, Trompie!” styg Dawie se skril stem bo die ander s’n uit.
En Trompie wys hom! Jorrie blaas nou hard. Dit lyk of die teorie dat ’n mens moeër word wanneer jy mis slaan as wanneer jy iemand tref, heeltemal reg is. Elke keer as Jorrie sy aanval staak om ’n bietjie blaaskans te kry, vlieg Trompie soos blits in, piets hom een of twee keer en dans dan weer buite bereik van sy gevaarlike vuiste.
Trompie loods nog nie sy aanval nie. Hy wag dat Jorrie nóg moeër moet word.
Ná ’n rukkie begin Jorrie se neus bloei en hy hyg al hoe meer na asem. Trompie besluit die tyd het aangebreek om nou tot die eerste gedeelte van sy aanvalsplan oor te gaan. Hy moet Jorrie in die maag moker om hom nog verder uit te put.
Trompie buk laag en skiet vinnig in – maar dit is net die verkeerde oomblik om so iets te doen! Jorrie gee terselfdertyd ’n geweldige regterhou en Trompie vlieg reguit daarin. Hy sien net sterretjies. Hy struikel en val. Die hou het hom só onverwags getref dat hy heeltemal deur die wind is.
Daar is ’n doodse stilte. Trompie lê op die grond. Met ’n grynslag op sy bakkies staan Jorrie nou weer vol selfvertroue oor hom en skree: “Staan op, jou askoek! Jy wou my ’n les geleer het, maar nou leer ek jóú een.”
Trompie skud sy kop om van die sterretjies ontslae te raak.
“Jissie,” sê hy, nog steeds half duiselig. Hy skud sy kop en kners op sy tande. Sy kakebeen voel seer waar Jorrie se vuis hom getref het. Hy moenie weer so agtelosig wees nie.
“Staan op!” skree Jorrie weer. “Of het jy genoeg gehad? Gee jy oor?”
“Nooit!” Trompie spring vinnig op. Hy word hard toegejuig deur die seuns wat in die kring om die twee vegters staan. Die meisies juig van ’n entjie verder af ook – veral Katrien.
Trompie begin weer ronddans. Hy moet nou versigtiger wees. Jorrie skiet vorentoe. Hy gaan hierdie vermetele ventjie nou verpletter! Die Vrystater slaan woes, maar Trompie bly buite bereik van sy vuiste. Trompie sien ’n gaping, duik rats onder Jorrie se swaaiende arms in en tref hom met een, twee, drie harde houe op die krop van sy maag. Die groot kêrel kreun en Trompie beweeg weer vinnig weg.
Jorrie staan nou en blaas. Daardie houe in sy maag het seergemaak. Trompie klim weer soos blits in en voor Jorrie nog kan slaan om hom af te weer, plant hy nóg twee harde houe in die Vrystater se maag. Dan dans hy weer vinnig weg. Jorrie snak na sy asem.
“Vlieg weer in, Trompie!” skree Blikkies opgewonde.
En dit is presies wat Trompie doen. Die houe reën nou op die verbysterde boelie neer. Voor Jorrie kan terugslaan, is Trompie al weer buite bereik van hom af.
Jorrie skud sy kop. Hy verstaan hierdie soort boksery nie. Hy is daaraan gewoond om woes te baklei – om sommer blindweg te staan en slaan. Maar hy kry hierdie Trompie net nie onder skoot nie en hy word al hoe moeër!
Jorrie beweeg weer vorentoe met sy vuiste gereed. Hy wag dat Trompie hom weer moet invlieg sodat hy die Kwaggaberger weer op die kakebeen kan klits.
Trompie voel Jorrie se plan instinktief aan en uitoorlê hom uitstekend. Hy maak of hy vinnig inskiet en Jorrie trek weer los – maar dis mis! Hy is effens van balans af en dan vlieg Trompie eers regtig in. Die houe reën op Jorrie neer.
Trompie slaan hard en vinnig. Jorrie slaan terug. Trompie vergeet nou skoon van sy taktiek. Hy staan botstil en wissel verbete houe met Jorrie.
Die kinders skree histeries van opgewondenheid. Dit is ’n geveg duisend! Nie een van die twee vegters gee op nie. ’n Mens sien net ’n warrelwind van houe.
Maar die twee kan nie vir ewig só aanhou nie. Een moet terugval – en dis Jorrie! Hy is nie so fiks soos Trompie nie en kan nie langer byhou nie.
Jorrie hou sy hande nie meer so hoog soos eers nie. Hy laat hulle sak. Hy lyk baie moeër as Trompie. Daardie grynslag is ook nie meer op sy gesig nie. Hy word nou skrikkerig.
Hy het nog nooit vantevore iemand teëgekom wat soos ’n verwoestende orkaan aanval nie. Jorrie begin nou wonder oor die uitslag van die geveg en retireer wanneer Trompie skielik weer gebukkend vorentoe beweeg.
Trompie kom effens op sy tone.
“Hier kom dit, ouens!” sê Dawie hees. Hulle ken mos vir Trompie. As hy so op sy tone kom, gaan hy sy opponent lelik invlieg.
En dan kom dit ook! Trompie skiet soos ’n pyl uit ’n boog op Jorrie af. Hy slaan vinnig en hard. Jorrie moker woes terug, maar sy houe is nie naastenby so sekuur soos Trompie s’n nie.
Ná hierdie sarsie is dit weer eens Jorrie wat moet retireer. Trompie gee hom nou nie blaaskans nie. Hy bly op die aanval en mik sy houe nog steeds net na Jorrie se maag. Trompie kry ’n paar houe teen sy kop, maar hy ignoreer dit. Hy peper Jorrie in sy maag asof dit ’n slaansak is – en dan sak die Vrystater kreunend inmekaar!
“Trompie! Trompie!” skree sy ondersteuners in die kring. Jorrie se trawante is tjoepstil. Jorrie het miskien almal in daardie Vrystaatse skool gelooi, maar hy gaan sowaar vandag hier op Kwaggaberg ’n loesing kry!
“Staan op, Jorrie!” sê Trompie ferm. Sy hart klop nie meer bang nie en sy kniekoppe bewe nie meer nie. Sy kakebeen is seer en sy neus bloei en hy voel moeg, maar nie naastenby so gedaan soos Jorrie nie! Trompie is nou vol selfvertroue.
Jorrie moet eers op sy knieë rus voor hy kan opkom. Hy haal hard en vinnig asem.
Trompie besluit om Jorrie nog moeër te maak voordat hy weer aanval. Hy maak nou elke keer asof hy gaan inskiet en dan slaan Jorrie mis. Al die misslanery put hom net nog meer uit.
Dan kom Trompie skielik weer op sy tone.
“Hier kom dit weer, ouens!” roep Dawie skril.
En dan gebeur dit ook. Trompie val wild aan. Dit moet die laaste sarsie wees. Die houe reën onophoudelik op Jorrie neer. Hy is heeltemal verbysterd en slaan net floutjies terug.
Jorrie retireer, maar Trompie bly op hom. Hy gee hom nie ’n blaaskans nie. Ten spyte van al sy kastige gevegte het die boelie nog nooit in sy lewe so ’n tornado van ’n vegter teëgekom nie!
Die toeskouers juig en skree. Trompie se vuiste swaai nou nie meer so woes nie. Hy plant sy houe met ’n plan en elkeen van hulle maak seer. Jorrie verdedig feitlik glad nie meer nie. Hy probeer floutjies om die aanval af te weer, maar steier al hoe meer onder die verbete aanslag.
Trompie voel jammer vir Jorrie, maar hou aan slaan. Hy gaan nie ophou voor die boelie omkap nie. Dit moet mos ’n les wees wat Jorrie nooit sal vergeet nie. Hy moet hom nie nou genadig wees nie.
Dan begin dink Trompie aan alles wat Jorrie gedoen het.
“Vat so!” sê hy en plant ’n harde hou in die Vrystater se maag. “Dis vir die keer toe jy my agter die oor geskiet het.” Trompie dans om hom rond.
“Vat so!” sê Trompie weer en tref Jorrie se oog. “Dis vir die keer toe jy my fiets se bande afgeblaas het.”
Trompie dans ’n bietjie weg van die flou houtjies wat Jorrie steierend na hom mik. Hy wil in ’n beter posisie kom vir sy volgende hou. Hy trek los en tref Jorrie met ’n geniepsige hou op die neus. “Dis vir die keer toe jy my gepootjie het!” Dan plant hy ’n harde hou in die groot seun se maag. “En dis vir die leuen wat jy vertel het van my wat ’n meisie het.”
Trompie trippel weer so effens. Dit lyk of Jorrie nou enige oomblik gaan omkantel. Nou vir die laaste “Vat so!” Dit moet die einde van hierdie geveg wees.
Trompie vlieg in.
“Vat so!” sê hy en plant ’n mokerhou op Jorrie se ken. “Dis vir jou wat Dawie so geboelie het.”
Jorrie steier terug en val. Vir ’n oomblik is daar ’n doodse stilte, dan kom Blikkies se lui stem: “Die ou se gô is nou propperlies uit.”
“Mooi so, Trompie!” skree ’n klomp kinders. Die geveg is oor. Jorrie het duidelik genoeg gehad.
Trompie is verlig. Alles het goed afgeloop. Nou moet hy net wys hy het ’n groot gees.
Hy stap na Jorrie toe, steek sy hand na hom uit en help hom op.
“Genoeg gehad?” vra Trompie.
Jorrie knik. Ja-nee, dit was beslis genoeg.
“Het jy nou jou les geleer?”
Jorrie kyk na Trompie. Hy wonder of die Kwaggaberger hom weer gaan takel as hy sê hy het nog nie sy les geleer nie, maar besluit om liewer nie ’n kans te waag nie. Dit lyk of Trompie hom sowaar weer te lyf sal gaan. Die boelie knik vinnig en verseker Trompie hy het wel sy les geleer.
“Ek is bereid om van die verlede te vergeet en jou as my vriend te beskou,” sê Trompie en hou sy seer kakebeen vas. “Wat sê jy?” Trompie hou sy hand voor hom uit om met Jorrie blad te skud.
Die Vrystater aarsel net ’n oomblik, dan vat hy die hand. Hy glimlag skeef en loer uit twee geswelde oë na Trompie. Jorrie skud blad met Trompie en sê sag: “Jy het my ’n les geleer, Trompie. Ons is van nou af vriende.”
Om vir almal te wys hulle het vrede gemaak, stap die twee hand om die nek tussen die klomp juigende kinders deur. Almal is bly dinge het só beskaafd ten einde geloop.
Trompie-hulle neem Jorrie na Rooie se buitekamer en dokter hom eers voor hy terug koshuis toe gaan.
Die Boksombende se Grootkaptein word darem ook so ’n bietjie gedokter.